Erediens – 14 Junie: Die oes is groot – Mat 9:35-10:15

Verwelkoming:

My liewe geestelike familie – wat neem jy waar in jou liggaam die afgelope tyd… gevoelens, gedagtes, stresreaksies, jou slaap…

Stilword – haal asem – jou liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees, en saam is ons liggame aan mekaar verbind in die liggaam van Christus…

Ps 131: 1

‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. 2 Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. 3 Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Seëngroet uit Jes 40:31 

Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke. Hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Steeds naby is so wonderlike lied vir hierdie tyd. Kom ons sing dit saam met mekaar en vir mekaar..

Gebed:

Jesus Christus, lig vir die wêreld, kom skyn u lig in ons harte vanoggend deur u Woord en Gees.

Skyn u lig by elke gemeentelid, elke Paarliet, elke Suid-Afrikaner, vandag in hierdie tye.

Skyn u lig by die gesondheidswerkers wat baklei teen hierdie onsigbare vyand.

Wees naby aan ons.

Wees ons genadig.

Inleiding:

’n Amerikaanse dominee en skrywer, Brian Zahnd, skryf dat hy ’n probleem het met die Bybel. Want, hy is ’n antieke Egiptenaar, ’n gemaklike Babiloniër  en ’n Romein in sy villa. Wat bedoel hy?! Die gesegde sê mos dat die oorwinnaars die geskiedenis skryf, maar in die Bybel is dit anders. Dit is geskryf vanuit die posisie van die slawe in Egipte, van die bannelinge in Babel en van die onderdruktes in die tyd van die Romeinse ryk. Want die boodskap klink heel anders afhangende van waar jy jouself in die storie inlees of hoe; met wie jy identifiseer? Daarom moet ons eers ons posisie in die samelewing erken sodat ons die Bybel eerlik kan lees.

Op reis met die Bybel word dit vir ons as navolgers van Christus in hierdie wêreld, weer en weer die lewende Woord van God, soos dit deur die Gees na ons toe kom in nuwe omstandighede – ons is nou anders; ons het ander gevoelens, ons het ’n ander uitkyk, ons vra ander vrae as net ’n paar maande terug… en dít maak die Bybel tydloos – nie omdat die betekenis daarvan al vir eeue in steen gegiet is nie, maar omdat God weer en weer aan ons bekend gemaak word deur hierdie eeue-oue woorde…

Kom ons luister

Skriflesing: Mat 9:35 – 10:15

Preek:

Ons sien vandag baie skares op ons skerms op straat, in protes. Dit is moeilik om al die onderliggende faktore te verstaan wat soveel duisende mense strate toe kan dryf. Martin Luther King jnr se bekende woorde word nou gereeld aangehaal: “Riots is the language of the unheard.”  Regoor die wêreld, ook hier in SA, voel verskillende gemeenskappe dat hulle nie gehoor word nie, dat hulle ook eintlik Herderloos is, want die leiers het klaarblyklik kontak verloor met die mense wat hulle veronderstel is om te dien; hulle kan nie of wil nie hoor nie – of hulle hoor en sien en gee basies net nie om nie.

Ons hou dikwels nie van hierdie tipe skares nie. Dit maak ons bang. Die massa mense raak vir ons een onpersoonlike geheel – en as daar eers geweld en vernietiging uitbreek, dan is dit maklik om die hele skare mense oor die dieselfde kam te skeer – moeilikheidsmakers en boewe wat net wil afbreek, almal van hulle!

Maar niemand van ons wil tog maar net nog ’n gesig ’n onpersoonlike skare wees nie. So asof jy nie saakmaak nie; net nog niemand wat jou werk verloor, net nog iemand wat soek na geregtigheid maar hulle vasloop teen red tape, net nog iemand wie se kind nie goeie onderrig kry nie, net nog iemand wat deel geword het van die Covid statistieke. Ons wil raakgesien word, hê dat iemand ons behoeftes moet erken en ons nood moet aanspreek.

Hoe sou Jesus se reaksie vandag wees teenoor die skares? Ons weet nie. Ons almal sou natuurlik onsself wil verbeeld dat Jesus ondubbelsinnig aan ons kant sou wees. In ons teksgedeelte, as Hy die menigtes/skares sien, het Hy hulle innig jammer gekry. Ons weet dat hierdie griekse woord eintlik onvertaalbaar is, dat dit dui op sy binneste, sy maag, wat in beroering kom, omdraai – want hulle is moeg en hulpeloos, want hulle leiers, soos so baie kere ook in die OT, konings en profete, kom nie hulle Goddelike roeping na nie – daar is niemand wat opdaag om hierdie mense te lei na die lewe wat God vir hulle in gedagte het nie.

(En Jesus het hierdie mense se harte geken – Hy het geweet dat hulle almal se motiewe nie suiwer is nie – en dat baie van hulle ook sou skreeu “kruisig Hom” en steeds het Hy innige meegevoel gehad vir hulle.)

En dan draai Jesus na sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min; bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” Dit is die Here se oes, die Here se mense. Die nood is groot. Maar die beeld van die oes dui nie net op groot nood nie, maar op geleenthede om deel te wees van die koms van die koninkryk, die evangelie/goeie nuus. God se koninkryk gaan in eenvoudige taal oor dit wat mense vrymaak en nuwe lewe gee, daardie omvattende vrede, God se shalom; dit is God se hart vir mense wat alle dele van hulle menswees en lewe raak.

Ons sien dit natuurlik in Jesus se bediening: as Hy nie eer en rykdom nastreef nie, maar “al die dorpe en klein plekkies besoek”. As Hy mense oor God leer en die evangelie verkondig en natuurlik as hy mense aanraak en hulle gesond maak. En miskien is dit goed om op hierdie punt te onthou dat siekte in die antieke wêreld nie net ’n fisiese ding was nie – dit het sosiale en godsdienstige implikasies gehad- jy was onrein, jy was uitgewerp – so as Jesus jou gesond maak is die herstel veel dieper as net dat jou liggaam weer gesond is. Jesus spreek eintlik die hele sosio-politiese en godsdienstige stelsel aan wat hierdie mense se lewe uit hulle wurg.

En dan stuur Jesus sy dissipels uit – die eerste keer dra Hy sy bediening op aan hulle (al is dit in hierdie rondte net aan die verlore skape van Israel – om te wys dat God sy beloftes nakom en deur sy volk na die heidennasies beweeg – net in die volgende gedeelte praat Jesus oor die geleentheid wat vervolging sal bring om “voor die heidennasies van My te getuig” – en aan die einde van die boek is die opdrag: “Gaan dan na al die nasies…”).

Maar kom ons fokus vandag op die beginsels wat ons kan help om vandag, as Jesus se volgelinge, as sy kerk, uitgestuur te word as gesante van sy koninkryk as ons vandag weer opnuut die vraag vra – hoe lyk die kerk se rol in ‘n wêreld soos hierdie – ’n wêreld waar mense soek na geloofwaardige leiding, rigting en hoop?

Jesus rus sy dissipels toe met sy mag en gesag – hulle kan ook die bose oorwin, hulle kan ook genees, maar hulle besit dit nie – dit kom nie uit hulleself nie – “Julle het dit verniet ontvang, gaan gee dit ook verniet”.  En omdat die draer nooit belangriker as die boodskap mag wees nie (die kleipot en die skat aan die binnekant)  is daar sekere sekuriteite wat vrywillig afgelê moet word – (jy pak niks nie – nie geld of klere nie!)-  jy maak jouself volledig afhanklik van die mense aan wie jy die evangelie bring.

Hierdie tyd maak ons kwesbaar, en dit is nie lekker nie. Ons verlang na ons ou sekuriteite; na die wêreld soos dit was. Maar saam met Jesus, is daar altyd in die afsterwe van ou dinge die belofte van nuwe lewe – en tog, so beleef ek dit, is daar onder baie van die Here se kinders, ten spyte van die bekommernis en die verliese, ook ’n verwagting, ’n tinteling van opgewondenheid, en ’n bietjie meer waagmoed – ’n nuwe visie op hoe die koninkryk werk en lyk, oor die voorreg om daarheen deel te hê – op hoe ryp die oes op die lande sit.

Nuwe inspirasie om weer, soos Jesus, God se mense om ons te sien, in hulle volle menswees en nie net as gesigte in die skare nie – om die ware leiers in ons samelewing te word wat geroer word in ons binneste – wat bereid is om agter selfs die opstande en geweld die stemme van mense in nood te hoor – om die mense te raak wat bereid is om te luister – en om dan die mag van die bose raak te sien en te konfronteer – en om helend, in die volste sin van die woord in mense en gemeenskappe te werk.

Mag ons onsself nuut sien in hierdie tyd – alles wat ons so verniet ontvang – uit God se genade – dat ons sy geliefde kinders, sy uitverkorenes, sy begenadigdes en sy gestuurdes met volle gesag en mandaat kan wees!

En mag ons ander mense – ook dié wat hulle pyn met woede uitdruk – ook nuut sien en hoor. Die Here se oes, sy mense – die mense, die wêreld  waarvoor Jesus sy lewe gegee het.

En mag ons ons roeping, ons gestuurdheid, nuut sien – al die kreatiewe geleenthede wat nou oopgaan vir God se koninkryk en vir ons betrokkenheid in mense se lewens.

En mag dit nooit oor jou en my gaan nie. Mag ons nooit die evangelie probeer buig en kaap vir ons eie voordeel nie. Mag ons volkome vreugde vind in roekelose oorgawe om arbeiders in die oes te wees! Amen.

Geloofsbelydenis vir Pinkstertyd:

Ek glo in die Heilige Gees

die Wind van God

wat oor die leegheid van my lewe waai

en die koers bepaal

weg van myself, weg van Tarsis

na die nood in Ninevé.

Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei

tot nuwe skeppingswerk;

om alle mense

met geloof, hoop en liefde te verbind

aan die Koninkryk van God se Kind

Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars

wat kniel voor die Heiligheid van God.

Ek glo aan die vergifnis

dat Genade altyd groter is

as my sonde en geskiedenis.

Ek glo aan die heropstanding van die liggaam

want ek glo in Christus.

Ek glo in die ewige lewe

wat hier begin

en ná die dood

die blydenuus bly sing.

– Wilhelm Jordaan

Oomblik van stilte: praat met die Here oor wat nou op jou hart is

Dankoffers:

’n mosie van vertroue in die Here – dat dit Hy is wat vir ons sorg en sal aanhou sorg, sodat ons kan aanhou gee (ook wyer as net bydraes vir die kerk).

css.php