14 Februarie: Die Bybel as spieël – Jak 1:19-27
Votum/seëngroet:
Raak teenwoordig: waarmee kom jy vanoggend?
Nou kyk ons nog
in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
Nou ken ek net gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.
Jy is God se geliefde en Hy omsluit jou van alle kant – jy is veilig by Hom.
Skriflesing:
Jak 1:19-27
Preek:
As ons die NT lees, hoor ons gewoonlik Paulus se stem en argumente. In vanoggend se teksgedeelte ervaar mens dadelik ’n ander aanslag: dit voel meer prakties en duideliker so met die eerste lees. Die beeld van die spieël maak dadelik sin. As ons in die spieël kyk, is dit tog om te sien hoe ons lyk en om regstellings te maak as iets verkeerd is (klere, hare, tandepastestreep :-). Dit is onvoorstelbaar dat iemand sal kyk en dan niks sal doen om dit reg te stel nie.
Maar die “maklike” en duidelike aard van die beeld is dalk ook so ’n bietjie verleidelik. Om na jou uiterlike in ’n spieël te kyk is maklik en ooglopend (mits jou oë darem nog goed werk). Maar as ons na die Bybel as ’n spieël kom, dan soek ons na die beeld van hoe ons binnekant lyk, wat ons hart, gedagtes, gees en siel aangaan. Dit is ’n geestelike proses wat raaksien, erken, en regstel insluit. En nie een van hierdie dinge is vanselfsprekend nie.
“Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.”
Hoe kyk ’n mens diep in die volmaakte wet van vryheid? Want as dit kom by die Bybel as spieël dan “vergeet jy maklik hoe jy gelyk het” (of miskien sien jy dit net glad nie raak nie). As ons in die volgende paar weke met die Bybel op reis gaan om weer God se Woord met die gesag om my lewe te transformeer wil ontdek, dan sal ons moet seker maak ons verstaan hoe ons in hierdie spieël van die Bybel moet kyk en wat hierdie spieël is waarna ons kyk.
Want duidelik is die Bybel as ’n boek nie die antwoord nie. Daarmee bedoel ek, daar is mense wat baie van hierdie boek weet, maar min daarvan leef. Van die verskriklikste goed in die geskiedenis, volksmoorde, slawerny, die kruistogte en ja, ook apartheid is uit die Bybel regverdig. Mense lees dieselfde woord en verskil met mekaar nog steeds met mekaar oor omtrent alles onder die son – en dan gebruik ons dit nog om mekaar oor die kop te slaan en in my kamp te kry.
Die Bybel is nie magic nie. Die ware ken van God, die innerlike transformasie waarvan die Bybel praat, gebeur nie outomaties as jy die Bybel lees nie. Die Bybel is nie God nie. Die Bybel het net gesag omdat God dit aan die Bybel gee. Ons aanbid net vir God, nie die Bybel nie – en ’n verhouding met God is die enigste einddoel, nie die Bybel opsigself nie. As Jesus weer kom gaan ons geen Bybel meer nodig hê nie…
Ek noem dit, want daar is baie goedbedoelde misverstande daar buite. Ons het hierdie bumper-sticker tipe aanhalings oor die Bybel:
Ons moet net weer terugkeer na die Woord.
Die Woord het krag.
Die Bybel sê so.
Dit staan daar, ek glo dit.
Ons probeer van die Bybel iets maak wat dit nie is.
Die Westerse kultuur is gebou op rasionaliteit – m.a.w. dit is ’n viering van die vermoë van die mense se brein/verstand. En natuurlik voed dit lekker ons ego’s. Geleerheid is verskriklik belangrik. Kennis is mag. As ons verstaan het ons beheer – en die wetenskap, wat die produk is van die mens se wonderlik breinkrag, kan al die probleme van die mensdom oplos. (En ek is eintlik vreeslik pro-wetenskap, maar hier dink ons aan hoe dit ons geestelike ingesteldheid beïnvloed).
En as die Here vir ons hierdie wonderlik vermoë gegee het, dan moet ons dit mos ook toepas om die Bybel beter te verstaan – om die agtergrond te gaan navors; om te weet die Bybel is in verskillende tye geskryf, in verskillende style deur verskillende persone, kontekste en doelwitte. Ons moet weet wat die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament is.
Maar ons is nie net ’n brein op ’n stok nie. Ons is mense! Gemaak na God se beeld met sy eie asem in ons wat aan ons die lewe gegee het. Ons is ’n eindelose misterie. En uit die Bybel is dit duidelik – daar is verskillende vorme van kennis wat saakmaak – nie net kennis van ons fisiese wêreld wat met ons sintuie kan waarneem nie. Die dinge wat ons geestelike oë en ore voor nodig het – kennis van die siel, wysheid, “kennis van die volmaakte wet van vryheid” – is ons taal, van geloof, van verbeelding, van emosies, menswees, liefde.
As my ego nie in check is nie, is ek blind as die ek na die spieël van die Bybel kom. Ons leef in die wêreld van opgeblase ego’s. Almal sien hullself as stryders vir hulle weergawes van die waarheid. In die Afrikaanse gemeenskap klink dit baie keer soos sonskyn, rugby, braaivleis, my taal en my god. (En as ek God gebruik om my stamgrense te beskerm, dit god met ’n kleinletter.) Ons is basies presies die teenoorgestelde van Jakobus se aanbeveling:
“My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.”
Ons spiritualiteit, ons daaglikse ritmes van stilte, afsondering, van wag op die Here, van leer vertrou op die Gees van onderskeiding, kweek die ingesteldheid, die vrugbare grond waarin die Saad van die Woord kan val. Dit gee ons die geestelike oë wat dit vir ons moontlik maak om in die spieël van die Woord te kyk.
En om die Bybel te aanvaar as dié Woord wat God gekies het om vir ons te gee soos dit is, eerder as wat ons wil hê dat dit moet wees. Ons rasionele, ego-gesentreerde Westerlinge soek ’n reëlboek wat die grense duidelik maak: dit is hoe jy moet glo en hoe jy moet leef. Dit is waar en dit is onwaar. Die ding en mens is reg en die verkeerd. En ja, daar is wette en reëls in die Bybel, maar dit is ver in die minderheid! Maar dit keer ons nie om die Bybel in ons boksie te probeer indruk eerder as om in die wonderlike nuwe wêreld van God se versoenende heerskappy wat die Bybel aan ons bekend stel, te gaan lewe nie.
Die Bybel kom na ons toe meerendeels as stories – op die ou end as een groot storie. (Ek bedoel verhaal, en nie iets wat opgemaak is nie).
Stories se gesag werk anders as die van ’n reëlboek (dink maar net as jou baas een oggend sou wegval, eerder as met die syfers of die code of conduct, met “een dag, lank lank gelede” – totale ander atmosfeer, of hoe?). Die Bybel hét wat die wetenskap as “foute” sou beskryf. En as ons dit probeer wegpraat of toesmeer op oneerlike maniere bly ons geestelike blind en ondergrawe ons die geloofwaardigheid van ons geloof.
Die skrywers van Kronieke en Konings stem nie altyd saam nie, so watter een moet ons uitgooi as die Bybel 100% histories korrek moet wees en watter een van die 4 evangelies, met baie ooglopende verskille, behou ons? Maar as jy die Bybel aanvaar soos dit na ons toe kom, dan maak hierdie tipe verskille glad nie saak nie! Dan is die Bybel perfek. God is ’n God van verhouding wat persoonlik werk. Daarom is sy Woord ook so. Hy gee vir ons die vertellings, deur sy Gees geïnspireer, van sy mense se ervarings met Hom – en die hart van hierdie storie, word natuurlik uitgedruk in sy Seun.
Daarom het Jesus self ook gekies om mense (net!) in stories te leer. Want die aard van die waarheid van die volmaakte wet wat ’n mens vrymaak is net van so aard dat dit net met stories oorgedra kan word; want dit is nie twee-dimensionele teorie nie. Dit is ’n nuwe wêreld – God se nuwe skepping waarin ons leer leef. Dit kry op 1000 verskillende maniere weer lewe in God se mense, in verskillende omstandighede en tyd. Daar is nie ’n tydlose bloudruk vir gehoorsaamheid nie – daar is ’n tydlose storie.
Die storie van God se versoening, deur sy Seun met sy afgedwaalde mense en sy vervalle skepping. Die storie, die bediening van versoening wat ons nou dra, met alles wat ons doen. As jy ’n doener wil word van hierdie Woord, eerder as net ’n hoorder – as jy regtig wil sien wat hierdie spieël vir jou wys, kom met die regte ingesteldheid, en met die regte insig oor die aard van hierdie spieël. Miskien sal ons dan ook meer uitkom by wat Jakobus noem “egte en suiwer godsdiens”. Miskien sal ons anders as die wêreld lyk, minder stry, en meer sorg vir die wat op die rand van die samelewing uitroep vir hulp. Amen.
Kerkraadsbevestiging:
Chris en Christene – Ons is almal geroepenes; saam met die skare van geloofsgetuies is die bediening van die versoening aan ons opgedra.
Maar binne die verskeidenheid, gee Christus ook aan sy kerk spesifieke roepings – om in leierskapsposisies in die kerk te dien.
Leierskap word deesdae baie bespreek – by ons gaan dit nie oor aansien, status, of beheer nie, maar oor diens – om kreatief en met geloofsoonderskeiding ons gemeente voor te gaan en te lei om hulle eie roeping te vind en die koninkryk van God te laat kom.