Alles is anders

Kers aansteek:

Lied 163 (Soos ’n wildsbok) – Wat ons liefhet bepaal ons identiteit…

Votum/seëngroet:

Kol 1
Die Seun is die beeld van God,
van God wat self nie gesien kan word nie.
Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
16God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.
19God het besluit
om met sy volle wese in Hom te woon
20en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel met Homself versoen.

Skriflesing:

Hand 3:11-26

Preek:

As jy die preke in die boek Handelinge neem, dan sien jy die impak van Jesus se opstanding op Jesus se eerste volgelinge. Die preke is nie hierdie teoretiese verduidelikings van hoe Jesus verlos en hoekom Hy eers moes sterf nie – dit vertel net van hierdie kragtige werklikheid waarvan hulle ooggetuies kon wees; ’n gebeurtenis waaraan hulle liggaamlik kon deelneem. Iets wat met hulle, in hulle, deur hulle en in hulle wêreld gebeur het; eintlik soos ’n ontploffing wat alles geruk het – en al wat hulle weet, nou is dit anders.

As Petrus hier aan die woord kom, dan maak hy eintlik net hierdie stellings/veklarings oor Jesus: Hy is die Een wat God se beloftes van verlossing in vervulling laat gaan; Hy is die Messias wat aan Israel belowe is; en sy opstanding is die rede vir ons hoop want dit sluit ’n nuwe wêreld vir ons oop.

As mense in Hand opstaan en gehore toespreek, soos Petrus hier, dan moedig hulle die mense aan om op ’n lewensreis te gaan wat dié van die heel eerste Jesus-volgelinge weerspieël:
Glo in Jesus, aanvaar Hom en belyn jou lewe met sy beweging – want Hy maak die God van Israel se verlossing ’n werklikheid.
Vertel vir ander daarvan.
Let mooi op wat volgende gebeur – God is deur Hom nog steeds aan die werk.
Bestudeer gereeld die Skrif, sodat jy nie vergeet van die ongelooflike beloftes van God wat nou in Jesus in vervulling gaan nie.
Bly oop vir die Heilige Gees en vertrou dat God meer en meer maniere aan jou sal wys waarop Hy besig is om ’n nuwe wêreld te skep.
En moet nooit vergeet dat dit alles deur Jesus kom nie. Raak deel van die Jesusbeweging – en dit begin deur jou geloof en vertroue in Hom.

Daarom begin Petrus se preek daar in die pilaargang van Salomo deur dadelik die mense daarop te wys dat hy en Johannes nie die eer moet kry nie, maar dat wat hulle gesien het, die werk van die God van Israel self is. Dit is hulle God, die God van Abraham, Isak en Jakob, wat sy Dienskneg Jesus verheerlik deur hierdie wonderwerk. Hierdie man, wat nou nog aan hulle vashou, se lewe het onherroeplik verander. Net ’n paar oomblikke terug was Hy nog verlam en afhanklik van mense se kleingeld, nou spring hy rond en loof die Here. Duidelik doen hulle ook wat Jesus self gedoen het.
Selfs die eerste vers van Handelinge maak dit al duidelik dat Jesus nie klaar is met sy werk nie – dat dit nog steeds Hy is wat verlossing en genesing bring deur sy volgelinge.
“Alles wat Jesus begin doen het…)

En Petrus maak dit nou vir die mense wat luister duidelik: hulle het nou ’n tweede kans. In die eerste rondte van Jesus se bediening het hulle al die tekens gesien dat Hy die Een is; die verlosser van die wêreld. Maar hulle het hulle laat mislei en hulle het Hom verwerp. Hy wat God se gestuurde was, die “Heilige en die Regverdige” het hulle verwerp. In sy groot raadsplan kon Hy wel hierdie fout van hulle gebruik en Hy kan hulle vroeër onkunde vergewe, maar nou moet hulle eens en vir altyd besluit: is jy vir of teen Hom? Jy sien dit nou weer duidelik en eerstehands: Hy is die Een!
“Geloof wat deur Jesus kom het in julle almal se teenwoordigheid hierdie volkome genesing aan hom gegee.”

En as jy tot bekering kom, as jy Hom aanvaar is daar ’n hele paar beloftes (wat deur die hele Skrif weerklink) wat vir jou in vervulling gaan. Julle sondes sal uitgewis word. “Vanaf die Here self sal tye van verkwikking aanbreek.” Seën wat tot iets vars en nuuts lei sal op jou uitgestort word. En uiteindelik sal Jesus weer as die Christus verskyn by sy wederkoms.

Hierdie tyd word selfs beskryf as die tyd van die herstel van alle dinge. In die Bybel word Jesus se koms (kruisiging en opstanding) met verskillende Bybelse beelde beskryf. Dit is nog ’n uittog/verlossing, hierdie keer uit sondeslawerny. Dit is die groot jaarlikse offer wat vergifnis bring vir die sonde van die mense. Dit is God wat weer Koning word in Israel. Maar dit is so groot, dit is selfs ’n nuwe skepping. Alles is onherroeplik anders. Vanaf Jesus se koms is ons in die laaste dae…

Die is die groot en finale manier hoe God se belofte aan Abraham ’n werklikheid laat word: (S16)“In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.” Besef jy vandag hoe jy van God se groot plan kan deelword. Besef jy wat dit behels en hoe groot die voorreg, die geleentheid is?

Bekeer julle, sê Petrus op Pinksterdag. Bekeer julle, sê hy nou weer. Hoe sal ek en jy, wat Jesus bely, vandag hierdie oproep moet hoor en daarop reageer?

Video:

Kom ons kyk gou hoe The Bible project ’n paar Bybelse lyne trek en die “andersheid” van God se koninkryk soos dit in Jesus gekom het verduidelik…

Israel se groot droom, en wat hulle gedink het belowe word in die Messias, is basies wat ons vandag sou noem, selfbeskikking. Hulle wou net weer onafhanklik wees, in beheer van hulle land en toekoms en natuurlik die vryheid om hulle geloof te beoefen. Want, dit was moeilik om te glo jy is die uitverkore nasie, as jy die heeltyd aan ander gedienstig moet wees (Egipte, Babilonië, Rome).

En ek dink dit is op hierdie tema wat ons as kerk van Jesus altyd, maar veral ook nou gereeld tot bekering moet kom. Ons hunker ook altyd terug na die tye toe dit kwansuis beter was. Die goeie ou dae toe ons nog meer Christelik was en ons waardes gehad het. En as dinge verander, kry ons ’n paar dinge wat ons dwars in die krop steek en maak daarvan die toets vir almal se ware Christenskap.

En dan soek ons alle vorme van mag om ander te dwing om daarby in te val. Oral in die wêreld is daar weer ’n opkoms van Christelike nasionalisme. Net soos dit in apartheid was hier by ons. ’n Christelike sousie word oorgegooi sodat sekere mense se kultuurvoorkeure deur wette en in die naam van Jesus afgedwing word.

Maar dit is ’n aaklige karikatuur van ons geloof. Hier by ons, wat my betref, val die kairos beweging en die dolerende gemeentes in daardie kategorie. Daar word na niemand geluister nie. Net hulle is reg. Verdagmakering en leuens is ok, want klaarblyklik heilig die doel die middele – maar die koninkryk van God kom nie met die werkswyses van die koninkryk van die wêreld nie. Aan ons vrug/liefde sal ons geken word.

Na die kruis van Jesus kan ons nooit weer twyfel nie. Ons God is ’n God van selfopofferende, gemeenskapsvormende liefde. Jesus het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Sy gesindheid van een van status weggee en kenosis – selfprysgawe/selfleegmaak. Daar is nie plek vir ego en selfbelang nie. Sy kinders word gekenmerk deur nederigheid en gasvryheid. Hulle weet en glo dat die grootste krag (verkwikking, nuutword, nuwe skepping) in liefde lê. Amen.

 

css.php