Preek – 13 September: "Die Plig om te Vergewe"– Matteus 18:21-35

 

Votum:

Psalm 25:11

Ter wille van u Naam, Here

Vergewe my sonde,

Want dit is groot.

Seëngroet:

Genade en Vrede vir elkeen van julle!

Skriflesing:

Matteus 18:21-35

Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. “Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het. “Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’ Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het. “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”
 
 

Preek:

In hierdie gelykenis kry ons weer te make met ’n Jesus wat meer neig na moeilike as liewe Jesus. Die manier waarop Hy Petrus se vraag oor vergifnis beantwoord, met ’n storie oor woede en marteling, klink dalk nie vir ons soos die rooskleurige agterdoek wat ons by ’n vraag oor vergifnis sou verkies nie.

Petrus vra vanuit die skoene van ’n mens “Here, hoeveel keer moet ek vergewe?” en miskien moet ons eers daar stilstaan en onsself ook herinner aan ons menslikheid, aan hoe gereeld ons deur naastes en medemense werklik diep seergemaak word – soms selfs deur dieselfde persoon op dieselfde manier. Here, hoeveel keer moet ek vergewe?

Ons seer raak later so deel van ons, dat dit ons totaal verhard en uiteindelik oortuig om verhoudings heeltemal af te sny, in plaas daarvan om versoening te leef. Wilhelm Verwoerd skryf in sy boek, Bloedbande, dat so ’n groot deel van vergifnis daarvan afhang dat ons ons vyande as volle mense moet beskou – is iemand wat my keer op keer met woorde of dade diep seermaak, wat van my steel, wat my geliefde se lewe neem, wat my kind seermaak, is selfs so iemand dan my medemens? ’n Volle mens?

Vir Jesus is die antwoord eenvoudig – en ons vergeet dikwels dat Jesus ook op Petrus se vraag antwoord vanuit die skoene van ’n mens: ja. Jou vyand is nie net ’n volwaardige mens nie, maar ook jou broer of suster en ’n geliefde kind van God.

Miskien is dit die rede waarom Jesus kies om so ’n uitdagende gelykenis te maak met die koninkryk van God. In hierdie storie word ’n onvergewige mens selfs oorgegee tot marteling. Miskien gee dit vir ons ’n blik op presies hoe ernstig Jesus vergifnis opneem. Dit is immers hierdie selfde Jesus wat sterwend van sy mensekruis af nog gesê het: “Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Ons vind onsself gereeld in Petrus se skoene: aan die kant van die een wat veronreg is en dan is dit vir ons bitter moeilik om Jesus se opdrag uit te voer – ons wil nie oor en oor vergewe nie, ons vergifnis raak op of dit het amper iets soos ’n vervaldatum.

Die ander kant van vergifnis is egter wanneer ons in die skoene van die amptenaar staan – die een wat geld skuld en voor die koning pleit dat ons skuld vergewe moet word. Wanneer ons in daardie menslike skoene staan, verander die prentjie en raak ons soms vraatsig vir die ontvangs van ander se vergifnis.

Ons is geneig om knaend daarop aan te dring dat ander mense ons moet jammer kry, moet verstaan wat ons situasie is (al is ons verkeerd) en dat hulle ons sonder huiwering moet vergewe. Dikwels kom ons dan ook in dieselfde situasie as die amptenaar en kom daar mense oor ons pad wat ons vergifnis vra, maar dan eerder ’n ongenadige, koue skouer ontvang.

Daarby vergeet ons dikwels, of kies ons om te ignoreer, dat God ook nog betrokke is in ons sake van vergifnis – dit is immers die koning by wie die amptenaar eerste skuldig was.

Wat is dit dan wat Jesus vir Petrus wou leer deur juis hierdie moeilike storie te vertel?

  1. God self stel die bepalings en voorwaardes vir vergifnis:

Jesus het dit baie ernstig bedoel toe Hy sy dissipels geleer het hoe om te bid: “vergeef ons ons sondes, soos ons dié vergewe wat teen ons sondig.” Vergifnis is nie ’n eenrigting straat waarop ons net kan aanspraak maak wanneer ons seer het nie – dit stel Jesus duidelik daarin dat die koning woedend raak wanneer hy hoor dat die amptenaar nie bereid was om iemand anders se skuld af te skryf nie.

  1. In die koninkryk waar God heers, is daar gevolge vir onvergewendheid:

Daar is ’n spreekwoord wat lui: “Om nie te vergewe nie, is soos om gif te drink en te hoop jou vyand gaan dood.” Die amptenaar wat ongenadig opgetree het, het in pyn en lyding geleef tot die dag wat hy sy skuld afbetaal het – dit is dieselfde skuld wat voorheen heeltemal afgeskryf sou word, voordat die amptenaar ’n mensepad van wraak en onvergifnis gekies het.

Nêrens in hierdie verhaal word vergifnis afgemaak as eenvoudig of iets waarvoor daar ’n 5-stapplan bestaan nie. Te dikwels wil mense vergifnis eenvoudig laat klink bloot omdat liewe Jesus daarop aandring en omdat dit die goeie Christen ding is om te doen, maar ons kan nie vergeet dat dieselfde Jesus wat vergifnis beliggaam en van ’n kruis af gewens het, steeds daarna die merke van sy seer in sy hande gedra het nie.

Die letsels van die dinge wat mense aan mekaar doen bly in ons velle en word deel van ons reis, maar dit bly ons plig om elkeen van daardie letsels een vir een aan te spreek en te laat heel deur mense (ons broers en susters) van harte te vergewe.

Ons bly egter net mens en, soos Petrus, wens ons dat ons eerder kan stop by ’n mooi ronde getal soos 7 en dat ons daarna kan getuig dat ons regtig probeer het. So ’n oortuiging oor vergifnis loop egter meeste van die tyd uit op ’n lang lewe met tonne seer en oop wonde wat ons tot die dood met ons saamdra.

Daarom is dit saam met ons plig om te vergewe, ook ons opdrag om onder leiding van die Heilige Gees te bly: vergifnis is nie iets wat ons opreg vanuit onsself kan kweek nie, want die mens se natuur is om wraak te koester, om vraatsig te wees vir ons eie verlossing maar suinig met die genade teenoor ander.

Ons leer ken egter ware vergifnis slegs deur die voorbeeld van Jesus Christus wat die hoogste offer kom maak: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.” (Efesiërs 2:8)

Soos wat ons nie weet wat liefde is totdat God dit gee nie, so ken ons ook nie genade en vergifnis sonder die leiding en vorming van God nie, en genade is dit ook dat God ons die kans gee om vergifnis aan te leer deur die krag van die Gees.

Laat ek afsluit met ’n metafoor: in antieke Rome is die slagoffers van moordenaars se lyke dikwels vasgemaak aan die moordenaar se rug. Die straf vir die moord was dus om met jou slagoffer op jou rug rond te loop terwyl sy liggaam ontbind – jou misdaad het jou gevolg waar jy gaan. Dit is ’n sterk beeld vir die manier waarop ons ons sondige natuur, dit wat lei tot die dood, saam met ons dra.

In hierdie gelykenis stel Jesus dit duidelik dat die een amptenaar se skuld nie groter is as die ander s’n nie – dat die een sonde wat God vergeef nie meer sondig is as die ander nie. Indien vergifnis ’n opdrag is, soos om nie moord te pleeg nie, is dit ons werk as gelowiges om ontslae te raak van die lyke wat aan ons vasgemaak is.

Laat ons dan onder leiding van die Heilige Gees gevorm word tot waar ons hierdie plig met oorgawe en van harte kan uitvoer.

Amen