Andersheid en eenheid

Votum/seëngroet:

“Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” Rom 12:1-2

Skriflesing:

Rom 14:1-12

Preek

Wat verg dit van ons om Jesus se ideaal vir sy gemeenskap te begin uitleef. Die eenheid wat Jesus vir sy liggaam in gedagte het, vra volwassenheid. Dit is die tipe eenheid wat nie eendersheid is nie – dit is maklik – selfs die wêreld kry dit baie goed reg. Dit is ’n eenheid wat nie net oor eenheid gaan nie, maar die tipe eenheid wat ’n getuienis is – wat ’n teken en ’n voorsmaak is van sy koninkryk – van sy groot toekomsplan. En die uitdaging aan ons is – wil ons maar net ’n aangename klub van eenderse mense in Jesus se Naam wees, of wil ons met net hoe ons met mekaar werk en omgaan, iets aan die wêreld verkondig van wat in Christus moontlik is?

Hoe lyk dit in praktyk as Christene mekaar aanvaar in Christus se liefde? Eugene Peterson in The Message het ’n wonderlike manier om die praktiese betekenis van gedeeltes soos hierdie duidelik te maak in sy vertaling. Hy vertaal die eerste twee verse van Rom 14 as volg: “Welcome with open arms fellow believers who don’t see things the way you do. And don’t jump all over them every time they do or say something you don’t agree with—even when it seems that they are strong on opinions but weak in the faith department. Remember, they have their own history to deal with. Treat them gently.”

So wat was die konteks van Rom 14? Joodse en heidense Christene was saam in die gemeente. Verskille het in die gemeente geleef oor wat vir ’n Christen aanvaarbaar is ten opsigte van wat jy mag en behoort te eet en watter feeste en spesiale dae uit die Joodse tradisie nog gevier moet word en hoe. Die Joodse wet asook die omstandighede waar vleis in die Romeinse ryk dikwels deel was van die seremonies wat afgode vereer, was deel van die prentjie.

Dit maak ons ’n bietjie ongemaklik as Paulus praat van die wat sterk en swak is in geloof. Wat Paulus doen is tog interessant. Ons is nogal geneig om te dink dat mense wat die strengste is in hulle eie geloofsreëls, die wat op allerhande maniere nougeset lewe – selfs die wat die sabbat vier volgens die ou Joodse gebruike, dalk die is wat ernstiger, sterker is in hulle geloof. Maar Paulus draai dit om. Die wat verstaan dat hulle vry is – die wat verstaan dat Christus die wet ten volle vervul het, dat geloof ons volle deelname aan God, sy verlossing, sy werk en sy Gees gee, dat hulle sterk is in geloof. Dit is tog waaroor die Rom brief gaan – die genoegsaamheid van geloof vir verlossing en heiligmaking – dat die wet tydelik was en eers na die verbond met Abraham gekom het – en dat hy ook alreeds deur geloof gered is.

Rom 12 dien as inleiding vir hierdie laaste gedeelte van die brief met die meer praktiese riglyne. Dink aan wat ons verduidelik het as jy nou weer hierdie woorde hoor: “Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” En dan gaan hy so aan: “Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie net so is ons, al is ons baie, een liggaam in Christus, en individueel lede van mekaar.”

Die wêreld se styl is nie hierdie wonderlike eenheid in diversiteit nie. Die wêreld het verdelings. Die wêreld het vlakke. Die wêreld ken nie genade nie. Die wat bo is glo hulle het dit verdien. En die wat onder is, ook. En dit is natuurlik nie die hele waarheid nie. Christene verstaan dat ons net het wat ons ontvang – dit wat God ons gee – ook die maat van geloof. Ons het geen rede om op onsself trots te wees nie. Ons het geen rede of reg om ander te oordeel nie. Ons het wel die verantwoordelikheid om na mekaar om te sien. Om so op te tree dat ander nie vervreem word nie, maar gedra en versterk word in hulle pad met Jesus.

Want dit is die belangrike punt wat Paulus maak deur die voorbeeld van ’n ander persoon se huisbediende. Daardie werkgewer het die reg om self te besluit wat goed en reg vir hulle werknemer is – hulle werk nie vir jou nie. En net so is jy nie die hoof (baas!) van ander gelowiges nie – jy is nie Christus nie! In kort, Christene leer om hulle mede-Christene se menswees en lewenspad wat hulle by hierdie punt in hulle lewe gebring het, te respekteer. Hulle het hulle persoonlikheid en storie, mense en gebeure wat hulle gevorm het, geloofservarings, swaarkry, ankerpunte en oortuigings wat vir hulle belangrik is. Om iemand anders te oordeel of voor te sê verander hulle in elk geval nie – dit dryf hulle net weg.

Ja, Jesus verwag ’n ruimhartigheid en aanvaarding van ons wat vir ons moeilik is. Dit is vir ons moeilik dat ander Christene nie met ons oor alles saamstem nie. Dinge raak in ons gemoed duidelik; ons voel ernstig oor sekere dinge – van geslagsrolle tot musiek en die sakramente – en ons wil graag hê dat almal met ons saamstem, want dan hoef ons nie meer te wonder nie. En hoogmoedigheid kan maklik daarmee saangaan – ek is verseker reg en die ander is verseker verkeerd!

In Rom 13 skryf Paulus: “of watter …gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.” Ons moet mekaar liefhê en nie fix nie. Ons moet Christus die Hoof vertrou. Veroordeling, selfs al oordeel ons iets as sonde, is nie Jesus, wat sy lewe vir sondaars gegee, het se pad nie.

Maar tot waar, sal jy dalk vra, strek hierdie aanvaarding? Ons kan tog seker nie sonde aanvaar nie. Kom ons herinner onsself weer aan die voorbeeld van Jesus. Hoe het Hy gemaak met sondaars? Met wie het Hy tyd spandeer? Wie het Hy aangeraak. Na wie het Hy uitgereik? En vir wie het Hy sy krasste woorde gehad? (As jy sukkel met lg. die was die godsdienstiges wat gedink het hulle is beter as ander). Waar trek Paulus en die res van die Nuwe Testament die streep? By losbandigheid, ja. Maar meer nog, by die afskeep van die armes en die weduwees (2000 verse oor die arme, die verontregte, die vreemdeling in die Bybel) – by die uitsluit van ander op menslike oorwegings, en laastens om God se liefde, genade en verlossing in Jesus te verraai.

Is my broer en suster eerlik op soek na God, na navolging van Jesus. Is dit hulle erns? Sien ek by hulle liefde en nederigheid, die vrug van die Gees? Wie is ek dan om hullle te oordeel? En as ek saam soek, luister en vashou, kan ons nie dalk saam leer en groei nie. En aan die wêreld iets wys van Christus se versoening wat groter is as die verdeling in die wêreld nie? Amen.

 

css.php