Rus vir alles en almal

Verwelkoming:

Ons behoefte aan rus, ware, sielerus – asemhaal… verstaan van interafhanklikheid… die geheel – en dit eintlik waaroor ekologie gaan…

Koos dup het gesing: 

elke nuwe plan lê hopeloos verfrommel

want iets se: “stomme drommel,

die ruimte lê vol rommel”

en ek begin verstaan:

daar is geen nuwe oord om heen te gaan

want kyk, daar lê reeds spore op die maan

waarheen sou ek gaan?

ontvlug is onbegonne

selfs droom is onbesonne

want die wereld is oorwonne

en ek begin verstaan:

daar’s geen nuwe paaie om te baan

want kyk, daar lê reeds spore op die maan

elke hektaar is verkoop

elke opstal le gesloop

en die wereld wag verwese, in die waan

dat ‘n wonder sal gebeur

om sy rusperleers te keer

maar kyk, daar lê reeds spore op die maan

iewers moet ‘n rusplek wees

vir die afgematte gees-

maar kyk, daar lê reeds spore op die maan

duisend donker spore op die maan

Ons eie Afrikaanse “Prediker”…

Is jou gees afgemat? Jy is by die regte plek…

Votum (Jes 11):

1’n Takkie sal uitspruit

uit die stomp van Isai,

‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

2Die Gees van die Here sal op hom rus:

die Gees wat wysheid en insig gee,

die Gees wat raad en sterkte gee,

die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.

3Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.

Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie

en nie oordeel volgens hoorsê nie.

4Hy sal die armes billik verhoor

en die ootmoediges in die land regverdig oordeel.

Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel,

met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.

5Hy sal regverdig en betroubaar regeer.

6Wolwe en skape sal dan saam bly,

luiperds sal tussen bokkies lê,

kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees

en klein seuntjies sal vir almal sorg.

7Koeie en bere sal saam wei,

hulle kleintjies sal bymekaar lê,

leeus sal gras eet soos beeste.

8Babatjies sal by die gate van adders speel,

klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.

9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

Seëngroet:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Skriflesing: 

Lev 25:1-12

Preek:

Die sabbat is ’n baie interessante gebod. Ek dink aan die een kant sou ’n mens ’n saak daarvoor kan uitmaak dat dit die dieptepunt van die tien gebooie is, soos ’n skarnier wat alles laat saamwerk of ’n deur na die nakoming van al die gebooie. En tog wonder ek of ons enigsins daarop ag slaan. Ons ma en pa’s of oupas en Oumas het dalk nog ’n paar reëls daaroor gehad (soos nie winkel toe gaan, kaartspeel, swem) nie, maar ons het eintlik alles maar laat vaar – ons shop, sport en werk nou maar heerlik aan; en meer nog, as jy daaraan dink, ons is eintlik nogal braggerig oor hoe goed ons is daarin geword het om workaholics te wees – oor die ander gebooie sal ons dalk nog skaam voel as ons dit breek (egbreuk en moord bv.) maar hieroor voel ons eintlik trots. 

Die sabbatsgebod het die langste omskrywing en motivering van al die gebooie (en dit kom so half in die middel; na die gebooie oor God en voor die oor ons naaste). Nog ’n interessante feit is dat die motiverings daaroor in die twee weergawes in Eks 20 en Deut 5 van mekaar verskil. In Eks 20 is die motivering dat ons moet rus omdat God gerus het. As God kan rus, kan terugsit, tyd maak vir waardeer en geniet (wees), dan kan ons ook, in vertroue op Hom en in aanbidding van Hom. In Deut 5 is die motivering dat die volk moet rus (en almal en alles om hulle moet laat rus) omdat hulle slawe was; en dus weet hoe dit jou menswees verniel om onder dwang net aan te hou en aan te hou. Hulle (ons!) Het die mense geword van die genadige God van verlossing wat nie soos die Farao ’n slawedrywer is nie. (Ek hoop julle sal sien hoe albei hierdie temas deurkom in die dinge wat ons verder aan gaan bespreek.)

Walter Brueggemann (wat beskou word as een van die beste lewende Bybelwetenskaplikes) het redelik onlangs (2014) ’n boek geskryf met die titel: “Sabbath as resistance: Saying no to the culture of now”. Hierin skryf hy onder andere:

“Thus I have come to think that the fourth commandment on sabbath is the most difficult and most urgent of the commandments in our society, because it summons us to intent and conduct that defies the most elemental requirements of a commodity-propelled society that specializes in control and entertainment … along with anxiety and violence.”

“In our own contemporary context of the rat race of anxiety, the celebration of Sabbath is an act of both resistance and alternative. It is resistance because it is a visible insistence that our lives are not defined by the production and consumption of commodity goods.”

 In die wonderlike gedeelte van vanoggend, sien ons dat nie net die mens ’n weeklikse rusdag nodig het nie, maar dat die land/grond dit ook nodig het – en dat dit op dieselfde ritme van 7 gebou word – nou net in jare; elke sewende jaar moet die grond rus “as ’n sabbatsjaar vir die Here”. En dan na ’n periode van 7X7 (49) jaar is die 50ste jaar ’n baie spesiale Jubeljaar. Dan moet mense na hul erfgrond kan terugkeer, en skuld moet afgeskryf word – dit is ’n wonderlike bevryding en regstelling. As jy die res van die hoofstuk sou lees, sal jy sien hoe baie daar geskryf word oor die gebruik dat jy jouself (en jou gesin) verkoop het as jy in armoede verval het – en in hierdie jubeljaar sou hierdie mense losgekoop word en vry kon weggaan. 

En die aankondiging van die jubeljaar sou juis op die dag van versoening wees (jom kippoer, soos die Jode juis nou vier) waarop die geestelike loskoop van die volk gevier word. Hierdie dag was ’n buitengewone sabbat waar die Hoëpriester een keer per jaar in die Allerheiligste ingegaan het om te offer by die verbondsark. Op die dag is die sondebok (waarop die sondes van die volk geplaas is) in die woestyn in geneem is om die volk te reinig. 

En dan sien ons in die res van die Bybel hoe die idee van die jubeljaar die ideaal word vir die tyd wat sal aanbreek wanneer die Here self oor die hele skepping sal regeer. Luister hoe dit weerklank vind in Jes 61: 1-2 

“Die Gees van my Heer,

die Here is op my,

omdat die Here my gesalf het.

Hy het my gestuur

om ‘n goeie boodskap te bring

aan magteloses,

om dié met gebroke harte

se wonde te verbind,

om dié wat weggevoer is

se vrylating aan te kondig

en bevryding vir dié wat geboei is,

om die genadejaar

van die Here aan te kondig

En dan is dit ook presies hierdie gedeelte was Jesus in die sinagoge aangaal in Luk 4 wanneer Hy Homself en sy bediening bekend stel – die Jubeljaar het nou aangebreek na Hy vir hulle die verse gelees het, sê Hy:

“Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”

Die sabbat is aan die hart van God se wil, want dit verteenwoordig daardie mooi woord uit die Ou Testament, die omvattende vrede, die shalom. Waar alles in harmonie is, veilig en gesond is. 

Volkome rus is slegs moontlik as ons verstaan dat ons in interafhanklike verhoudinge met alles en almal in God se skepping geplaas is – en dat ons net waarlik kan rus as alles en almal sáám rus. So die rus is bedoel vir ons liggame, vir ons en ons medemense, vir die diere en vir die grond. Kom ons vat hulle in kort een op ’n slag:

As mense het ons nie net ’n verhouding met die natuur na buite nie, maar ook na binne met ons liggame. Ons is ook mos “natuur”! Ons het kontak verloor met hoe ons liggame, saam met God se hele skepping geprogrammeer is, tot sekere ritmes en siklusse: inasem en uitasem, werk en ontspan, warm kry en koud kry, gesondheid en siekte, geboorte en dood. Maar nou hardloop ons net agter die horlosie en ons persepsie dat tyd nooit stilstaan nie, aan. En nou praat ons al van die siektes van ons tyd (wat natuurlik saamgaan met hierdie verbruikers/welvaartskultuur). Stres, oorvol programme, oorbeklemtoning van prestasie en wins, oorbewustheid van ons fisiese voorkoms, depressie, uitbranding.… Die ekologiese krisis is in die eerste plek in ons liggame. 

Die mense wat saam met ons (as God se mense moet rus) word in detail uitgespel: werksmense, vreemdelinge, slawe, bywoners, dagloners. Daar is ’n klomp sosiale en ekonomiese goed hier. Weer ’n deur na die hart van die wet, na navolging van Jesus: die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie…. 

Hoe rig jy jou huishouding, jou werksplek, jou besigheid in; oor watter tipe wêreld droom ons, vir watter tipe wêreld werk en stem ons? Een waar wins en ekonomiese groei alles is? Een waar my belange altyd éérste is; waar almal wat anders is moet buite en wegbly en gesien word as kompetisie en ’n gevaar vir my? Rus vir alles en almal maak plek vir die kwesbares. Die opslag op die land is nou die armes s’n. Rus is ’n manier van genade deel, van mense laat floreer. Daarom sou Jesus duisende jare later mense gesond maak op die sabbat. 

En dan diere: oral waar die sabbat ter sprake kom hoor ons ook dat die diere moet rus. Werksdiere wat soos ons moeg word, is vanselfsprekend – maar ook die wilde diere kry deel van die genadige rus as hulle ook van die opslag op die lande kan kom eet in die sabbatsjaar. Ook ons verhouding met diere wys hoe ons moderne wêreld enige ware begrip vir die bedoeling van die sabbat by ons gesteel het. Ons sien diere oor die algemeen net om ons behoeftes te bevredig – as kos om te eet, as trekdiere, as troeteldiere, as besienswaardighede in wildparke vir ’n bietjie afleiding. Ons ondersteun die “red die renoster/walvis” bewegings en is geskok oor die mishandeling van troeteldiere. Maar andersins moet die diere, voëls en insekte van ons af weggehou word – met grensdrade, gewere of gif. 

En ons weet nou ook ironies hoe hierdie selfsug onsself bedreig; hoe belangrik biodiversiteit is omdat elke spesie aan mekaar skakel en mekaar nodig het. Rus is net rus as almal kan rus. Rus skep genadige ruimtes vir lewe. Rus maak ons en ons wêreld meer soos die God wat gerus het. 

Ook die grond self moet rus; elke 7 jaar moet die grond braak lê om te herstel. Selfs die grond, die land, moet die sabbat vier – tot eer van die Here! (Lev 25:2).Lev 26 noem die volgende as die seën wat die onderhouding van die sabbat sal meebring: goeie Oeste op die regte tyd; oorgenoeg om te eet; rustig slaap sonder enige bedreiging, ’n lewe van vrede in die Here. 

En die eeue-oue wysheid, die waarde van die sabbatsgebod hou stand vir die moderne landbou – ons sien dat kunsmis die grond net sover kan neem – grond moet rus om die natuurlike balans tussen al die organismes die grond weer kan herstelvolhoubaarheid, moes die wetenskap ons aan die beginsel van die sabbat herinner, kan net gebeur as daar rus is.

Ons het nie al die antwoorde op moeilike vra nie, maar ons weet, soos Jesus gesê het, die sabbat is vir die mens gemaak – ons smag na rus – en ons kan net rus as alles en almal rus. Rus is in die begin van die Bybel en dit is aan die einde, dit is ons begin en einde, ons doel (Op 14:13): “Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: Skryf op, geseënd is die wat van nou af in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het volg hulle.

Sabbat is nie ’n oulike voorstel nie. Dit is ’n radikale stap in navolging van Jesus. Dit is ’n ononderhandelbare skakel in ons verteenwoordiging van die God wat nie onderdruk nie, maar verlos. Dit integreer ons geloofslewe, ons aanbidding van God en is ’n teken van sy koninkryk. Amen.

Nagmaal:

Ons ruik, voel en proe – dit kom uit die aarde – koring en druiwe – gevorm deur die grond, die water, die sonskyn…

Jesus het mens geword, natuur soos ons, om ons te verlos, om shalom, vrede, harmonie, balans te herstel

Die genadejaar, die vrymaak, die jubeljaar – die rus…

Brood: Neem…. dink dat Jesus met sy liggaam alles en almal losgekoop het tot vryheid en blydskap…

Wyn: …dat Jesus met sy bloed alles en almal met God versoen het; vrede en heelheid gebring het

Soos wat die brood en wyn deel word van ons liggame word ons aan Christus verbind, en in Hom aan sy hele skepping, aan mekaar, aan die diere, die aarde…

Uitstap (band): Ons Koning kom

css.php