Jou ware self
Verwelkoming:
Wat glo ons – wat kom doen ons hier?
Ons kan verenig met Christus! (Nie net Jesus se van nie!) Gesalfde/Gestuurde/Messias – Woord wat van die begin af by God was – Volle wese in Hom woon en deur Hom alles in die hemel en op die aarde met Homself versoen…
Votum/seëngroet:
Rom 11:33-36
O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!
“Wie ken die bedoeling van die Here?
Wie gee Hom raad?
Wie bewys Hom ‘n guns,
sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
Doop:
(Kinders kan ook vorentoe… Het jy al gehoor dat iemand sê, ag wees net jouself… Wat beteken dit?
Jy kan mos voorgee – iets wat jy nie is nie. Jy maak of jy baie cool is, maar aan die binnekant is jy baie onseker/bang…
Ons kan selfs vir onsself jok…
Om voor te gee maak ons moeg en ongelukkig.
Waar kry ons die moed om “net onsself te wees”?
As ons regtig glo in ons doop.
Daar wys Jesus vir ons ons ware self wat Hy gemaak het en liefhet net soos ons is.
Ek is okay en jy is okay – daar is geen voorgee nodig nie!
Skriflesing:
Rom 9:30-10:13
Preek:
(1)Om ’n goeie aanvoeling vir die Romeine-brief te hê, is daar ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou. Ten spyte van die feit dat Israel as die verbondsvolk van die begin af gehoor het dat God se uitverkiesing van hulle nie net tot hulle eie voordeel nie, maar tot seën van alles nasies/mense moes wees, het hulle selfs in Jesus se tyd nie veel van of oor die heidene gedink nie. Hulle was besig met hulle eie dinge, hulle eie uitdagings, hulle eie politiek, hulle eie godsdiens – en al hierdie dinge was vir hulle vervleg. Jesus self was ’n Jood. Jesus self het meestal net onder Jode opgetree – hier en daar kontak met heidene as ’n vooruitwysing van wat sou kom.
(2)Toe dit begin duidelik word dat Israel se geloof nie eksklusief vir Jode meer is nie – dat heidene ook in Jesus glo, dat hulle ook God se Gees ontvang, het dit natuurlik allerhande probleme geskep – prakties en teologies.
- As Jode nie in Jesus glo nie, beteken dit God los hulle nou en kom nie sy beloftes teenoor hulle na nie? Eindig die verbond met hulle nou?
- As Grieke glo in Christus, moet hulle soos Jode word en ook die wet nakom?
- Hoe hou die era van voor Jesus verband met die era na Hom – en hoe is dit anders?
- Hoe akkomodeer Jode na al die jare van vyandskap nou Grieke?
(3)Ons hoor Paulus se hart in hierdie gedeelte. Die Jode is sy eie mense. Hy is hartseer oor hulle en lief vir hulle en wil so graag hê dat hulle gered moet word. Paulus, en dit is hoekom Romeine nogal lank en ingewikkeld oorkom – moet ’n verstaansraamwerk bou om perspektief te gee op al hierdie kwessies wat uitkom. En die hart van sy argument is dat dit nog áltyd oor geloof gegaan het; oor wat God doen en gee en oor hoe ons as mense dit ontvang – eerder as oor die mense se dade of prestasies.
(4)Regdeur die Bybel is die idee van God se geregtigheid ’n sentrale tema. In die NAV kom dit nie so duidelik na vore nie, maar kom ons lees gou die twee vertalings teenoor mekaar.
NAV 3Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word. | 2020 3 Omdat hulle die •geregtigheid wat van God af kom, nie begryp nie, en probeer om hulle eie geregtigheid tot stand te bring, het hulle hulle nie onderwerp aan die geregtigheid wat van God af kom nie. 4 Die einddoel van die wet is immers Christus, tot regverdiging van elkeen wat glo. |
(5)Die Bybelse idee van God se geregtigheid is ’n omvangryke ding. Dit is wanneer God se wil/heerskappy, genade en heerlikheid so erken en gevolg word dat alles in die regte verhouding is met mekaar, God, mens en skepping. Dit is harmonie, vrede, lewe, wysheid en vryheid – dit is iets van God waarin mense kan deel.
(6)’n Ander belangrike ding wat Paulus en die ander skrywers in die Nuwe Testament vir ons wys is dat Christus niks vervang of geskrap het in die OT nie – Hy het eerder die ware doel daarvan openbaar en vervul (einde vs einddoel!). Paulus haal ’n hele paar keer uit die OT hier aan om sy punt te maak. Die probleem is nie die wet nie. Dit kan wel so lyk asof Moses bedoel het dat nakoming van al die voorskrifte vir ons God se geregtigheid sal bring – dat dit gaan oor die doen en ons vermoë. Maar op ’n ander plek sê Moses self dat die gebod (wet) nie iets is wat jy iewers daar buite moet gaan haal met groot moeite nie, maar dat dit naby aan jou, in jou is – dit word vir jou gegee om uit te lewe.
(7)En dan verwys hy na hierdie verse uit Deut 30 wat klaarblyklik in Paululs/Jesus se tyd baie lugtyd gekry het onder Joodse Skrifgeleerdes om weer vir hulle volk hoop te gee in die moeilike tyd waarin hulle bevind het – ’n beter toekoms is nie buite hulle bereik nie!
Deut 30 11“Ja, hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is nie vir jou te moeilik nie en dit is nie ver weg nie. 12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons na die hemel opgaan, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ 13Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons oorgaan tot oorkant die see, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ 14Nee, die woord is baie naby jou – in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer. | Rom 10 6Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om •Christus af te bring – 7“of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. 8Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. |
(8)Maar dan vul Paulus met slim aanpassing die ou teks met nuwe betekenis. Die “woord” in Deut is “gebod”, maar Paulus maak die “woord” “Christus”. In Jesus kan ons maar al die eksterne goed laat gaan en God se geregtigheid ontvang/deelkry deur geloof.
(9)Om volgens God se gebooie te lewe is ’n goeie ding. Maar as ons daar begin ruil ons die volgorde om. Geloof is ’n innerlike oortuiging en houding; in die hart – die beheerkamer van ’n mens se lewe. Dit bepaal jou begeertes en jou wil. Dit is iets wat jy ontvang, iets waaraan jy jou oorgee. Geloof is in die Bybel nooit net feite wat jy onderskryf nie. Dit is ’n nuwe werklikheid waarop jy inkoop met radikale implikasies.
(10)So eenvoudig gestel: wat maak ek en jy anders: ons ingesteldheid, ons standpunte, ons gehalte van lewe, ons voorbeeld aan ander, die positiewe impak wat ons op die wêreld maak – omdat ons bely dat ons glo in Jesus wat deur God uit die dood opgewek is?
(11)Ek dink die volgende kan help om dit vir ons prakties te maak. Of ons bou op uiterlike valse geregtigheid van ons eie pogings – of ons bou op God se ware geregtigheid wat in geloof aan ons gegee word. Dit oorvleuel vir my met wat Richard Rohr sê oor die valse en ware self…
(12)Die vals self (klein/aparte self) is die dinge wat ons dink ons is en voorgee om te wees. Dit is ons rol, ons naam/titel, ons kostuum wat lei tot ons trots en ons arrogansie. Dit word deur ons kultuur, ons families en ons eie gedagtes geskep. Vir baie mense is dit al wat hulle het. As ons inkoop op die vals self en ooridentifiseer daarmee, dan moet ons aanhou om dit te doen; en om dit te verdedig en dit te verkoop as die beste. Voorbeelde? Ons Gimmie, of Boishaai vals self; ons Afrikaner, Afrikaanse en wit, vals self. Ons NGK of Christen vals self.
(13)Ons ware lewe is “saam met Christus verborge in God” (Kol 3:3). Christus is in ons hart en in ons mond. In Hom is ons ware geregtigheid, ons ware self. Ons verloor ons vals self om ons ware self terug te kry. Die vals self bring natuurlik al die valse skeidinge tussen mense – ras, klas, herkoms, julle ken die lysie – (Jood en Griek!). Ons vergelyk en kompeteer. Dit is vals om te dink dit is al wat daar is. Die hele wêreld is gevul met ontelbare beelde van God!
(14)Die vals self is nie inherent sleg nie. In hierdie wêreld het ons ’n paar tydelike kostuums nodig. Dit help ons om ons plek te vind in die wêreld. Dit is ons launching pad: liggaamsbeeld, werk, opvoeding, klere, geld ens. Dit gaan oor hoe ernstig ons dit opneem. Die probleem kom wanneer ons dink dit is al wat daar is – as dit voorgee om die volle waarheid te wees dit die struikelblok word om ons ware self, God se ware geregtigheid te vind. As’n persoon aanhou groei, begin die verskillende vals selwe gewoonlik sterf in die blootstelling aan groter lig.
(15)Ons ware self is egter ons plek van gemeenskap met God. Dit is ware geregtigheid. Dit is ewig. Dit versoen en connect ons in gemeenskap met God en deur Hom met alles en almal. Ons hoef nie meer so te skerm vir die valse, tydelike goed nie. Daar is eindelose liefde, lewe en vryheid in Christus. Almal wat die Naam van die Here aanroep sal gered word. Dit is vir almal daar. Hy maak nie onderskeid nie. Alle onderskeid is vals.
Raak stil by Jesus. Gaan dieper as die oppervlak, die valse oppervlak goed, dieper as jou doen en jou prestasies – en vind Christus in jou mond en in jou hart – in die kern van jou lewe – by jou, in jou, deur jou…Amen.
Nagmaal:
Ons gaan na ’n ander plek van aanbidding – na die dieper, liggaamlike ervaring van ons konneksie met Christus – en deur Hom met almal en alles wat ook met Hom versoen is. Ons raak deel van die groot waarheid, die groot geheel…