12 Julie 2020: "Wat keer jou?" – Rom 8:1-11
Verwelkoming:
Mag een van die dinge waaroor jy eendag, as jy terugkyk op hierdie tyd in jou lewe, waarvoor jy vir God dankie sê, wees dat Hy jou gehelp het om vryer, in meer oorgawe, meer vertroue en meer liefde te leef.
Kom ons begin met ’n eenvoudige stilword:
– Rustige asemhaling
– “Die Gees van God is in my…”
Seëngroet:
Voel jy skuldig, skaam, teleurgesteld in jouself?
Onthou: “Daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.”
Gebed:
Here, hierdie tyd lê ons kwesbaarheid bloot – ons word gestroop van baie van ons sekuriteite en sekerheid. Dit lê ook bloot waar ons geloof, waar u liefde nie diep gewortel is in ons lewens nie.
Ons wil nie meer bang wees nie, Here, ons wil nie meer klou aan dinge wat nie ware vrede en vreugde kan bring nie. Ons wil van hart en siel, in volle oorgawe leef as u kinders, u verteenwoordigers in hierdie wêreld.
Skriflesing: Rom 8:1-11
Preek:
Deur ’n klomp geskiedkundige, kulturele en sielkundige faktore waarop ons nie nou sal ingaan nie – het ons begin om die evangelie te sien as ’n sekere idee waarop ons inkoop. En dan is dit iets buite onsself – iets wat ons moet leer reg formuleer en reg verstaan as ons by die waarheid wil hou. Ons moet reg oor God en oor Jesus praat en ons moet mooi weet wat is reg en verkeerd – wat is die reëls?
Maar, as ons (onbewustelik) so oor ons geloof dink, dan kom ons baie vinnig agter iets skort. Ons loop ons vas teen ’n gebrek aan motivering: ek weet wat die regte ding is om te doen, maar ek is nie lus nie – die inspirasie, die wil ontbreek. En baie vinnig kom ek agter die probleem lê selfs dieper; dit is ’n vraag na identiteit: wie is ek? Kapasiteit: hoe word ek gevorm om die soort mens te wees wat die dinge wat die Bybel van my vra (wat God/Jesus) van my vra wil en kan doen?
Dit is hierdie tipe dinge waarmee Paulus worstel in sy bekende kragtoer van ’n brief aan die Romeine. En hier, aan die einde van hoofstuk 7, net voor ons gedeelte van vandag, verwoord hy hierdie bekende ervaring van ons so goed: “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Paulus skets vir ons die realiteit van twee wêrelde en hoe ons kan weet dat ons in die een lewe en nie in die ander nie. Die een is die wêreld waarin mense onder beheer staan van die wet van die sonde en die dood. (Tussendeur praat Paulus ook nog van Moses se wet – so dit raak ’n bietjie verwarrend, maar ons kom later terug na die rol van hierdie wet). Mense wat onder beheer is van die wet van die sonde en die dood “laat hulle deur hulle sondige natuur beheers en hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur.” Hulle “kan nie die wil van God doen nie”. En hierdie dinge loop uit op mense se geestelike en uiteindelike fisiese dood.
Wat teenoor die wet van die sonde staan, is die wet van die Gees (met ’n hoofletter). Hierdie wet gee aan jou “in Christus Jesus die lewe” en maak jou vry van die ander wet. Mense wat onder hierdie wet lewe word deur die Gees beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees en dit loop uit op lewe en vrede. Hierdie mense word in staat gestel om wel die wil van God te doen.
Nou hoe gebeur dit? Onthou julle dat ons aan die begin gepraat het oor identiteit en motivering? Let nou op hoe hierdie aspekte aangespreek word in Paulus se beskrywing van wat met gelowiges gebeur. Die eerste belangrike ding om op te let, is dat dit “in Christus” gebeur. Die wet van die Gees gee aan jou “in Christus” die lewe en maak jou vry van die wet van die sonde en dood.
(En dit is presies wat die wet van Moses nie kon regkry nie. Want hierdie wet het geen inherente krag nie. Dit kan ons nie ’n ander identiteit en motivering gee nie. Dit kan ons wys hoe ons behoort te lyk – en iets in ons kan dalk selfs so wil lyk – maar ons gaan nie konsekwent gemotiveerd wees of die kapasiteit hê om so te wees nie. En dan kry die wet (godsdienstige reëls) niks reg as om ons nog meer skuldig en nog meer soos ’n mislukking te laat voel nie. En dan staan ons nog steeds onder beheer van die wet van die sonde en die dood – al mag ons dalk ’n godsdienstige buitekant vir ander mense wys).
Die tweede belangrike ding om op te let: God het dit gedoen. “Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mense te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.”
En dit bring ons by die derde belangrike ding: Ons word nie meer veroordeel nie. “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie.” Die sonde in ons sondige bestaan word wel veroordeel; ons sonde word uitgewys en aan die kaak gestel – maar die skuldbewys is vernietig om heeltemal met die invloed en die gevolge daarvan in ons lewe af te reken.
Omdat hierdie goed op hierdie diepste vlak van ons identiteit lê, moet ons ’n rukkie daarby stilstaan. Afhangende van hoe jy oor die verhouding tussen God die Vader en Jesus dink, mag jy dalk ’n prentjie in jou kop hê van ’n God wat so kwaad was oor sonde dat Hy net iemand daarvoor moes bykom, en gelukkig het Jesus die straf toe namens ons gedra.
Die wonder van die evangelie is dat God nog altyd soos Jesus was – ons het dit nie altyd geweet nie, maar nou weet ons dit. In Jesus se dood aan die kruis wys Hy vir ons die impak van ons sonde, maar Hy wys veral vir ons hoe lief Hy ons het; dat Hy bereid is om die volle impak van die wet van die sonde en dood op Homself te neem.
Hoekom is dit juis nou belangrik om weer oor hierdie basics van geloof te praat? Want as ons nie verstaan dat ons een wet, een werklikheid opgee en verruil vir ’n ander wet/werklikheid/lewe nie, dan kom ons geloof nêrens nie. Dan bly ons vir altyd vasgevang in hierdie siklus van probeer self en misluk. En miskien is dit juis nou wat ons die tipping point kan bereik in ons geloofsreis.
Ek en jy moet kom by die punt waar ons op ’n daaglikse basis die werk van die Drie–Enige God in ons lewens sien, ander leef ons ’n leuen. Verse 9-11 moet vanuit die ervaring van hierdie nuwe realiteit van die wet van die Gees beoordeel word; want ons sien dan hier die dans van die Drie-Eenheid – let op die beweging:
“Julle word nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.
As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort Hy nie aan Christus nie.
Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe…
Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
Ons lewe in ’n selfhelp-kultuur waar kitsoplossings ons lewens moet fix en ons so gemaklik as moontlik moet maak. Om regtig ’n nuwe lewe te ontvang, moet ons die dinge wat ons daarvan weerhou reg identifiseer: as jy dink die probleem is almal en alles wat teen jou is, dan gaan jy altyd vasgeval bly.
Maar as jy ontdek die probleem lê fundamenteel in jouself – die wet van die sonde en dood (o.a. soos dit uitgedruk word in jou selfsug) waarvan jy nie jouself kan bevry nie, dan gaan nuwe moontlikhede oop.
Ek weet nie hoe lank jy al ’n Christen is nie (en ek is saam met jou in hierdie bootjie). As ons nie die vrug van die Gees, die beeld van Christus in onsself sien nie, dan moet ons agterkom waar die fout lê. Oor die afgelope tyd het ons stilgestaan by die Jesus se woorde in Mat 9-11 wat ons help om te verstaan, die herskepping het nie net ons individuele lewens in gedagte nie, maar God se hele skepping en deur ons moet dit vloei na alles en almal- die oes is ryp op die land! Die tyd is nou!
Is jy bereid om weer Jesus se sagte juk op te neem en te trek in sy span: alles wat Hy in jou en deur jou wil doen is gemotiveerd deur liefde – die volheid van ons lewe en die volheid van die lewe vir almal is verweef.
Die Gees van God is in jou – herontdek dit as ’n werklikheid – ’n nuwe lewe waartoe jy geroep is en wat aan jou gegee is.
Dit is ook die Gees van Christus – die Gees van die Een wat sy lewe gegee het vir sy vriende – die Gees wat Jesus uit die dood opgewek het en vir jou nuwe, ewige lewe gee.
Jy het niks om aan vas te klou nie, niks om voor bang te wees nie. En jy het alles om voor te lewe. Amen.
Gebed:
Oomblik van stilte – wat wil jy nou vir God sê? Wat sê Hy vir jou?
Here, U is nou deur u Gees by elkeen van u kinders. U liefde strek wyer, verder en dieper as wat ons ooit kon dink. Ons verlang na U, na volle oorgawe en liefde, na ware vrede en vreugde. Om waarlik vrygemaak te word vir die lewe wat U vir ons elkeen ingedagte het.
Offergawes:
Ons gee geleentheid – kom ons bid ook vir ons geestelike familie; dat die Here vir elkeen hulle daaglikse brood sal voorsien.
