Ons kan nie wag nie...

Ons kan nie wag nie…

Verwelkoming:

’n Aspek van aanbidding (in God se teenwoordigheid kom en erkenning gee aan wie Hy is – oorgawe) is elke keer bekering, suiwering, heroriëntasie

Die ou sondige mens sit nog in ons lyf, die Sorge van die lewe trek al ons aandag en fokus, die wêreld draai en ons voel ons byhou – deliver, voorsien ons waarde bewys.

So sonder dat ons dit agterkom word ons harte verlei om ons Eerste Liefde te verlaat…

Ons kom om Hom nou weer te vind…

Votum/seëngroet:

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here, meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here Israel, want by die Here is daar troue liefde. By Hom is die verlossing seker. (Ps 130)

Tyd vir stilte en oorgawe:

Wat laat jou tans wag?

Wie wat beproef jou geduld?

Waarna gryp jy in sulke oomblikke?

Wat wil jy van die Here vra?

Skriflesing: Eks 32:1-14

Preek:

Uiteindelik het die volk iets wat hulle kan sien en aanraak. ’n God wat hulle voor offers kan neersit en saam kan feesvier oor die verlossing uit Egipte. Toe Mardi met ons gesels het oor die water uit die rots, het sy ons spesifiek gewys op die woorde in Eks 17:7 toe die volk gevra het: “Is die Here by ons of nie?” Dit is moeilik as God se teenwoordigheid ontwykend is. Ons weet dat die wolk en die vuurkolom Israel gelei het in die woestyn. Maar ’n wolk maak juis dat jy nie lekker kan sien nie en aan ’n vuur durf jy nie raak nie.

Daar was die kwartels en die manna, die water uit die rots en natuurlik, die onstagwekkende ontmoeting by die berg Sinaï. Maar hulle kon nie God se gesig sien nie en ook nie sy stem hoor nie. Alles was “omstandigheidsgetuienis”. Moses was hulle tussenganger – by hom kon hulle hoor wat God sê; hy het namens hulle geluister. By die groot en wonderlike ontmoeting by die berg Sinaï was hulle soos toeskouers van ver af. Hulle moes ’n veilige afstand handhaaf, anders kon hulle sterf.

En nou is Moses ook weg. 40 Dae en nagte bly hy uiteindelik in God se teenwoordigheid op die berg. Kom ons oordeel nie te vinnig nie. Wat sou jy doen?  “Hierdie man Moses” noem die volk hom. Ons het hom vertrou. Maar as ons nou daaroor dink – het ons hom regtig geken? Onthou julle, hy het nie eers tussen ons grootgeword nie! Vir al wat ons weet is lê hy dood daar op die berg! Intense onsekerheid en angs – ’n volk in die woestyn sonder sekuriteit en sonder leiding.

Vrugbare teelaarde vir wat ons vandag sal noem populisme. Angs ontneem ons van ons vermoë om mooi nugter te dink. Die woord “saamdrom” het in sy Hebreeuse vorm het die ondertone van rebellie, van opstand. Ons angstigheid maak ons ook haastig – ons soek sterk leiding, ons soek aksie, ons soek resultate.

Dit is skokkend hoe vinnig Aäron instem. Dit verg baie om nie te swig onder die druk om kompromieë te maak in sulke omstandighede nie.

Wanneer ons die woestynverhale lees, moet ons onthou dat dit nie net ’n geskiedenis les is nie – die skrywers was reeds gevoelig vir die ryk simboliek – vir die geestelike lesse, die geestelike verwysingsraamwerk wat Israel in die woestyn moes leer en wat nog steeds so relevant is vir ons vandag – veral weer vandag as ’n mens die tekens van die tye probeer lees…

Die goue oorringe was deel van die buit wat Israel uit Egipte saamgebring het. As hulle dit maar iewers aan die voet van die berg afgehaal het en so aan die Here kon offer, dan kon hulle miskien vir Egipte iewers agter gelaat het, maar as hulle die rykdom van Egipte gebruik om God in ’n vorm te giet wat aan hulle behoeftes voldoen, is dit ’n tree agteruit.

’n Bul simboliseer krag en vrugbaarheid, oor baie kulture en godsdienste, tot nou toe. Die goue kalf/bul is nog letterlik en figuurlik met ons. Toe die Amerikaanse aandelebeurs ineenstort op Swart Maandag in 1987 het ’n kunstenaar ’n goue bul gemaak en dit in Wall street gaan neersit – nou nog een van NY se bekendste landmerke. Dit moes Amerikaners en veral New Yorkers herinner aan hulle krag en vermoë om terug te veg en welvaart te genereer.

Simbole maak saak. Dit stimuleer ons verbeelding, dit gee aan ons ’n sekere identiteit. Daarom dat die tweede gebod wat die eerste (waaroor Schalk laas sondag gepreek het – dat ons die Here alleen moet aanbid) aanvul so belangrik is – ons mag nooit vir ons afbeeldings van die Here probeer maak nie – dit is alles maniere hoe ons God probeer klein maak sodat ons Hom kan beheer/handvatsel gee.

En wanneer ons ons eie afbeeldings van God sy Naam gee – dan is ons juis op gevaarlike terrein waar goedgelowige en welmenende mense ook mislei word. Ons moet ons eie harte, ons strewes, ons simbole, ons kerke, ons besighede, ons huise, ons skole en ons politiek fynkam vir simboliek wat aan ons ons identiteit gee – dit vorm ons hart, denke en gedrag… Dit kruip oral weg. Dit sit in standbeelde, in Logo’s, in stadsbeplanning en argitektuur, in vlae, in kleredrag – dit sit in maniere van doen, in prioriteite, in kultuur. Dit is Egipte, die invloed van die empire, in ons.

Dit is die koninkryk van die donker wat voordoen as die koninkryk van die lig. Dit is al die maniere hoe ons God gebruik om vir ons en ons mense (ons tribe, wie hulle ook mag wees) se welvaart, suskes, dominansie en sekuriteit te verseker. Dit is wanneer my god net soos ek dink – van almal hou waarvan ek hou en almal haat wat ek haat.

Ons moet by die Here pleit vir wysheid en onderskeiding. Die woestyn is nie maklik nie, en in baie opsigte is sy mense nou weer in die woestyn. Ons moet die versoekings sien vir wat dit is. Ons moet die angstigheid in onsself raaksien en erken. Ons behoeftes om te gryp na valse vorme van sekuriteit: populistiese leiers vol beloftes, geweld as oplossing, stereotipering van sekere groepe mense, kitsgodsdiens. (Moet die gebeure in Senekal ons nie stilstand dwing nie!)

Ons hou nie van wag nie, maar dit is ’n sentrale geestelike beginsel, om te leer wag op die Here. (Wag op die Here beteken nie ek doen niks nie – dit is ’n ingesteldheid. Ek reageer net nie uit my eie ego uit nie). Sonder die wag kan ons nie leer vertrou nie. In die woestyn, so het so baie van ons voorvaders in die geloof getuig, kom suiwer die Here ons van vals beelde van Hom, van vertroue op Quick fixes. Want die goue kalwe in al hulle vorme is baie verleidelik en bied dikwels korstondige plesier. Maar dit is alles deel van die lewe van slawerny – die die taal van die NT – die ou, sondige lewe wat tot die dood lei.

Net die ware God bring vrede en vryheid. Ons kan Hom net aanbid as ons aanvaar dat ons Hom nie kan vasvat in ons voorstellings nie. Ons kan Hom maar die beheer gee en ophou stres.

Want ons is baie beter af as die Israeliete van ouds. Ons het ’n nuwe Leidsman en Tussenganger in ons woestyn. Johannes skryf in sy eerste brief oor Hom: “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is Woord, die Lewe…”

Ons staan nie meer van ver af en kyk, aan die voet van die berg met vrees om te nader nie. God het ’n gesig Gekry – ’n betroubare gesig wat die ewebeeld is van God. Hy tree ook, soos Moses, vir ons in – Hy bevestig sy Vader is ons Vader en ons kan met vrymoedigheid nader kom.

As ons na Hom bly kyk, vashou aan sy gekruisigde hande en aanbid by sy gekruisigde voete, as ons in Hom kan wees, en sy liefde, deernis en diens leef, sal ons in en by die Waarheid bly. Amen.

Doop:

Dit is ’n diep behoefte van ons as mense om te weet dat ons behoort – en die Here skep ruim geleentheid daarvoor binne ons samelewing: ons gesin/familie, ons buurt, skoolgemeenskap, jou dorp, burger van ’n land, ondersteuner van ’n sportspan, jou herkoms en kultuur.

Maar die Here maak dit ook duidelik – dit is goed wat ons liggies vashou want dit is nie ewig nie – en dit kan daai ons-hullle ding voed.

Omtrent al hierdie beelde word ook vir die geloofsgemeenskap gebruik (kerk):

God se familie -broers en susters van mekaar én van Jesus

God se nuwe volk

Burgers van die hemelse koninkryk

Die doop laat ons behoort daar waar dit die meeste saakmaak – al die ander goed verdwyn nie, maar dit is net dof in belangrikheid teenoor uitverkore kind van God wees…

Hier leer ons om mekaar lief te hê ten spyte van ons verskille – dit is die enigste pad na ware vrede en vryheid.

Seën: 

Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En God wat vrede gee, sal by julle wees.