Jesus en sy skape
Moedersdag:
Ons sien ook die beeld van God in vroue – man en vrou gemaak na sy beeld; Mag ons vandag onthou die wonder en waarde van Moederlike liefde…
Jes 42: 14: “Ek het lank stilgebly,
My stil gehou, My bedwing.
Soos ‘n vrou wat geboorte gee, kreun Ek;
Ek hyg en snak tegelyk na asem.”
Jes 49:15 “Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet,
haar nie ontferm
oor die seun van haar
moederskoot nie?”
Jes 66:13 “Soos iemand se moeder hom troos,
so sal Ek self julle troos;
in Jerusalem sal julle getroos word.”
Votum/seëngroet:
Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. (Joh 10:14-15)
Skriflesing:
Joh 10:22-32
Preek:
In Johannes is daar so ’n patroon dat ons telkens iets nuut van Jesus leer teen die agtergrond van ’n spesifieke Joodse fees. Toe ons laas met mekaar uit Joh gesels het (op Goeie Vrydag) was dit die tyd van die Pasga (Paasfees) waar Jesus eers die brood vermeerder het en toe Homself beskryf het as die Brood van die Lewe. Hy is die Een wat verlos (soos destyds uit Egipte) en Hy is die een wat ons innerlike voed en versorg met geestelike voedsel.
Nou is dit die fees van die tempelwyding. Die Fees wat Jode nou nog vier (in Desember) as die Hannuka, die fees van die ligte, omdat lanterns as deel van hierdie fees aangesteek word. Die tempelwydingsfees vier die gebeure van 164vC toe die Makabeërs die tempel weer gereinig het nadat Antiogius die IV dit onteer het deur van sy eie gode by die altaar te plaas.
As die Joodse leiers dan vir Jesus druk oor sy identiteit, dan wonder hulle of Hy ook soos die helde van weleer Israel weer sal vernuwe en bevry van hulle onderdrukkers? Hulle wil weet of Jesus die Christus (Messias) is en as Hy is moet Hy dit reguit vir hulle sê.
Jesus antwoord hulle dat Hy dit reeds vir hulle gesê het, maar dat hulle dit nie wil glo nie. Want hulle is nie van sy skape nie, “My skape luister na my stem en Ek ken hulle en hulle volg My.” Jesus sluit hier aan by sy woorde aan die begin van Joh 10, die bekende gedeelte van Jesus as die Goeie Herder. Jesus bou natuurlik met hierdie beeld op ’n ryk tradisie in die Ou Testament waar God as sy volk se herder uitgebeeld word. Die bekendste is natuurlik Ps 23. Maar Jesus sinspeel ook veral hier op ’n gedeelte uit Eseg 34 waar die Here Eseg roep om te profeteer teen die volk se herders, oftewel die leiers. Hulle verskaf aan hullself weiding eerder as om dit aan die kleinvee te verskaf (en ek dink die beeld is vir ons duidelik).
“Die vet eet julle, en met die wol klee julle julleself; die vetstes slag julle, maar die kleinvee laat julle nie wei nie. 4Dié wat swak is, het julle nie laat sterk word nie, en die siekes het julle nie gesond gemaak nie; dié met gebreekte bene het julle nie verbind nie; dié wat verstrooi is, het julle nie teruggebring nie, en dié wat weggeraak het, het julle nie gesoek nie, maar met mag en geweld het julle oor hulle regeer. Hulle is verstrooi, sonder ‘n herder. Hulle het die prooi geword van al die wilde diere. Hulle is verstrooi; 6my kleinvee dwaal rond op al die berge en op elke hoë heuwel. Oor die hele oppervlakte van die aarde is my kleinvee verstrooi, en niemand sien na hulle om of soek na hulle nie.” (Eseg 34)
Sien julle hoe mooi is dit? Hierdie Herders is nie soos die Herder van Ps 23 nie, maar Jesus is net mooi alles wat hierdie Herders nie is nie (soos God ook belowe Hy vir sy volk ’n Herder sal wees deur juis hierdie dinge te doen). Jesus maak gesond, Jesus gaan soek en kry die wat wegraak. Hy ontferm Hom oor die wat ander se prooi geword het, die wat deur ander onderdruk word. In Joh 10 praat Jesus van die diewe en die rowers – die wat “steel en slag en uitroei” maar Hy het gekom sodat hulle die lewe kan hê in oorvloed.
Behalwe dat Jesus hulle soos in Ps 23 sal bewaar en sal lei na goeie weiding, is daar een van die dinge wat ’n goeie herder vir sy eie skape sal doen waarop Jesus die hele tyd klem lê: Hy sal sy lewe aflê vir sy skape – ’n huurarbeider sal dit nie doen nie; hy heg nie dieselfde waarde aan die skape nie, en as die wolf kom, sal hy hulle in die steek laat sodat hulle gevang en verjaag kan word. Maar Jesus het ’n spesiale band met sy skape – hulle ken Hom en Hy ken hulle. Hulle ken sy stem, en hulle luister daarna en volg Hom — want hulle ken sy bedoelings met hulle en weet dat sy pad na die ewige lewe lei (in Joh, veral ’n ander kwaliteit van lewe reeds hier en nou). Jesus se skape sal nooit verlore gaan nie want niemand kan hulle uit sy hand ruk nie.
En dit is Jesus se argument as dit kom by hoekom wie Hy is vir mense duidelik behoort te wees. Hy doen konsekwent goed, want God is goed. “Hy en die Vader is Een”. Dit behoort duidelik te wees, maar soos die gesegde sê, niemand is so blind soos die een wat nie wil sien nie. Hoe kan dit wees, dat mense na dieselfde persoon kyk en sommige sê Hy is van God, en ander noem Hom ’n godslasteraar en ’n demoon. As Christene sukkel ons nog steeds met hierdie ding…
Dink maar aan Pous Franciskus wat onlangs oorlede is – vir sommige ’n mooi voorbeeld van ’n navolger van Jesus – vir ander ongered, want Hy bid vir Maria. Sommige is vir Trump – hy is namens God gestuur; ander sê hy lyk glad nie soos Jesus nie… Wat soek ons as Christene in ons leiers, in ons samelewing; hoe lyk ons visie van God se koninkryk? En aan die hart van al hierdie dinge, hoe sien ons vir Jesus?
Want een ding staan vas julle: die ou gesegde sê mos elke ketter het sy letter. Mens kan omtrent enige iets regverdig met ’n geïsoleerde stukkie of versie van die Bybel. Selfs die duiwel het Jesus met die Bybel versoek.
Wat in jou kop aangaan is nie so belangrik soos wat in jou hart aangaan nie. En as ons as Christene regtig glo wat ons oor Jesus bely, moet ons mos die res van die Bybel lees vanuit wie Hy was en wat Hy geleer het. Hy is die toets vir waarheid – Hy is die bril waarmee ons kyk. Ons erken Hom as ons Herder. Hy wat God self in ons midde is.
En as Hy ons Herder is, is ons sy skape. Skape weet hulle is nie wolwe of leeus nie. Skape weet hulle is kwesbaar en weerloos; hulle weet hulle het ’n Herder nodig; ’n Leidsman na die weiding, iemand om hulle te beskerm, te bewaar en te versorg. “Ek is die Goeie Herder, en Ek ken my eie en my eie ken My.” Daar is ’n intieme verhouding tussen die Herder en sy skape. Hulle kan sy stem uitken tussen die vreemde en verleidelike stemme – die stemme van die wolwe in skaapsklere; die leiers, of dit nou polities, of godsdienstig of in besigheid of waar ookal is, wat voorgee dat hulle mense se belange op die hart het, maar eintlik net hulle eie belange dien.
Want ons het hierdie voorbeeld van ons Jesus; die een aan wie God alle gesag in die hemel en op aarde toevertrou het, oor Hy sagmoedig en nederig van hart is; oor Hy nie mag gegryp het of vir sy eie belange toegeëien het nie. Omdat Hy die Herder is wat sy lewe aflê vir sy skape. Dit gaan alles oor sy liefde vir hulle. Hy is deur en deur goed. En dit is hoekom Hy ook geleer het dat nie almal wat Hom “Here, Here” sê sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar die wat die wil doen van sy Vader. Sy Vader wat nie onderskeid maak nie en wat almal ewe liefhet. Sy Vader wat Hom gestuur het om te soek en te red die wat verlore is – om nie die wêreld te veroordeel nie, maar die wêreld te red; om nie gedien te word nie, maar om te dien.
Die Goeie Herder kom vir die wat swak is, wat gebreek en verlore is, siek en arm, die wat verstrooi is en wat ander se prooi geword het nie. Hy regeer nie met mag en geweld nie, maar met nederigheid en sagmoedigheid; en Hy roep sy skape wat aan Hom behoort en wat sy stem ken om Hom hierin te volg.
Sy koninkryk, God se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie en dit lyk nie soos hierdie wêreld se koninkryke nie, maar dit is die koninkryk wat uiteindelik oor al hierdie koninkryke sal triomfeer en reeds besig is om soos suurdeeg deur te werk, van onder af; daar waar die Herder se skape die versoekings en kortpaaie van mag en geweld, van eenvoudige oplossings, van blamering en haat en oordeel, van “my regte” en “my belange” vermy en ook hulle lewens gee in selfopofferende liefde – omdat hulle glo in die belofte van hulle deelname in die lewe in oorvloed, die ewige lewe. Amen.