Word heel!
Musiek vooraf: Klankpersoon
Votum/seëngroet:
“In die tyd toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het in ‘n sigbare vorm soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar het ook ‘n stem uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”
Ook jy is God se geliefde…
Skriflesing:
Luk 4:14-21
Preek:
Wat probeer ons doen met hiedie nuwe reeks van ons? Ons wil vir ons gemeente ’n operating system bou. Julle weet mos hoe werk dit met jou rekenaar – die OS sorg dat al die programme mooi loop en die hele sisteem in harmonie is. In die ou Christelike taal is dit ’n regula, iets wat jou hele lewe reguleer. Hierdie “wiel” van ons moet ons as gemeente help dat die evangelie regtig ons lewe reguleer. Dit kan werk op persoonlike vlak, sowel as vir ons as gemeente. Ons het iets eenvoudig genoeg nodig sodat almal dit kan verstaan en onthou – maar ons het ook iets nodig wat omvattend genoeg is dat ons nie belangrike dele van die evangelie afskeep in ons pad van navolging van Jesus nie. Én ons moet lank genoeg daarmee besig bly dat dit by ons inslag vind.
So, die derde tema waarby ons stilstaan gaan oor “heelword”. Wat bedoel ons by heelword/gesondword? Hoe belangrik is dit, en wat sê die Bybel daaroor?
Ons kan natuurlik begin deur te sê dat ons diep onder die indruk is van ons en ons wêreld se behoefte aan heelword. Baie van ons ly onder ons, of ons geliefdes se liggame wat fisiese siektes of gebreke het. Ons sien verhoudings wat nie heel is nie, harte en siele wat nie heel is nie, regerings, en organisasies, leierskap, die sisteme van ons ekonomie en politiek wat nie gesond is nie. In baie opsigte is ons nie heel nie; nie gesond nie…
En as ’n mens ’n bietjie dieper kyk, dan sien jy soms goed wat jou laat dink oor hierdie ding van ons geloof en heelword of genesing. As ’n Christen siekword, dan bid ons vir daardie persoon. Sommige word gesond en ander nie (soms selfs as mense kom sê het hulle het Skrif ontvang om te bevestig dat daardie persoon gesond sal word.) As mens nog dieper kyk, sien jy dat sommige mense dalk fisies siek is, maar op alle ander maniere soveel gesonder as die res van ons wat so stoei om net aan die gang te bly en liggaam en siel bymekaar te hou.
Hoe maak Jesus ons heel en wat kan ons van Hom verwag?
Die eerste ding waarby ons moet stilstaan as ons hierdie vraag wil beantwoord is die volgende. In die Bybelse tye het mense ’n perspektief op gesondheid gehad wat ons dalk vandag “holisties” sou noem.
(Ons moet ook hier noem dat dit ook negatiewe kante gehad het met bv. eenvoudige verklaring dat fisiese siekte altyd die gevolg van sonde moet wees – onthou julle die dissipels se vraag oor die rede vir die blinde man se blindheid?)
Holisties: Iets wat ons dalk tog in ons dag herontdek. Ons as mense kan nie in kompartemente opgedeel word nie; as beliggaamde skepsels is ons een interafhanklike geheel van verskillende sisteme wat inwerk op mekaar. As daar iets met jou skildklier, of jou hormone, of die oordragstowwe in jou brein skeefloop, kan dit ernstige gevolge hê vir jou gemoed, jou denke, jou uitkyk op die lewe en derhalwe op jou selfbeeld, jou verhouding ens. Ons weet watter fisiese tol volgehoue stres (kortisol!) op ons liggame kan hê.
Gesondwees vir die mense in Jesus se tyd was dat alles in jou lewe op die regte plek is, daar is harmonie – al die dele is in die regte verhouding met mekaar.
Wat is hierdie oomblik in Jesus se bediening waarvan ons vanoggend gelees het? Jesus is pas gedoop, en is daarna die woestyn in gelei om 40 dae deur die duiwel versoek te word. Albei hierdie oomblikke het sy identiteit bevestig. Hy is God se geliefde Seun, maar Hy is nie hier vir sy eie behoeftes vir die shine (mense se eer) en vir “die koninkryke van die wêreld” (aardse vorme van mag) nie. Waarvoor is Hy wel hier? Dit is wat Hy aankondig daardie eerste Sabbatdag wat Hy amptelik sy bediening begin.
En Hy gebruik daarvoor die bekende teksgedeelte uit Jesaja, wat gaan oor die Jubilee, die genadejaar van die Here. Elke sewende jaar moes die lande rus, maar die 7X7de jaar moes mense se skuld afgeskryf word en moes familegrond wat deur skuld verloor is weer teruggegee word. Die grootste van groot Jubilee’s het nou aangebreek – en hoor hoe word aspekte soos sosiale geregtigheid en fisiese genesing soomloos gemeng:
“Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het
om die goeie boodskap
aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word,
en vir blindes dat hulle weer sal sien,
om onderdruktes te bevry,
en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
En die tweede ding wat ons moet weet sluit nou hierby aan. Jesus, so weet ons, het baie mense gesond gemaak van fisiese kwale. Ons weet nie hoe dit vandag gediagnoseer sou gewees het deur ons moderne dokters nie. Maar ons weet wel dit was baie meer as fisiese genesing. Hy het dikwels vir hulle gesê hulle sondes is vergewe. Hulle is bevry van die skuldlas, of die mag van die bose. Hy sê vir die melaatse man, gaan wys jou vir die priesters. Hulle moes hom rein verklaar sodat hy weer deel van die gemeenskap kon word.
Jesus maak gesond, vriende. Vandag nog, en ons almal wat na Hom toe kom. Net nie altyd soos ons dink of soos wat ons wil hê nie. Jesus het genesings gewyer as mense dit ’n voorwaarde gemaak het om in Hom te glo. Hy was nie ’n towenaar nie. En as ons na die regte resep soek om Jesus se arm te draai vir die genesing wát en wánneer óns dit soek, dan maak ons Hom en sy werk én gebed goedkoop. Die wow faktor van bv. die blinde wat weer kan sien was nooit die ware doel van Jesus se genesings nie.
Ons raak heel as ons die pad stap saam met Jesus. Gebed is nie net ’n paar versoeke op ons wenslysie nie, dit is die hele proses (wat afsondering en stilte insluit) van leer om met ons hele lewe, en elke oomblik, in die teenwoordigheid en onder die gesag van Jesus te lewe. In sy teenwoordigheid en onder sy gesag is daar genesing, maar dit is nie oppervlakkig nie en dit neem nie alle pyn weg nie.
Dit is ’n proses wat ons inlei in die ewige lewe. Onthou, die ewige lewe is nie net ’n tydperk nie, dit is ook ’n sekere kwaliteit, intensiteit, diepte. Dit is vrede en harmonie. Dit is waar alles in my lewe in die regte verhouding is- en dit kan ook waar wees in iemand se lewe met ’n terminale siekte.
En gesonde mense, maak ook ander gesond. Hulle bring heelheid en vrede met hulle teenwoordigheid – in hulle verhoudinge, daar waar hulle werk. Hulle gee vervulling aan die genadejaar van die Here. En dit is hoekom heelword deel is van OS, ons wiel. Want dit is deel van ons heel diepste roeping en getuienis in hierdie wêreld.
In Trevor Hudson se boek, “Compassionate Caring” vertel hy hoe die idee van ‘n “Pilgrimage of Pain and Hope” in Augustus 1982 gebore is. Hy het teruggery van Soweto af en teruggedink aan die gesigte en stories van mense met gestremdhede en hulle gesinne… Die gedagte was skielik so duidelik: Neem mense in jou gewone, middelklas gemeente in Johannesburg na daar waar hulle broers en susters swaarkry.
Die vriende en kollegas na wie hy uitgereik het in Soweto soos hy die pelgrimstog beplan het, het eerlik hulle bekommernis en voorstelle gedeel:
“Come as pilgrims, not as tourists; as learners, receivers and listeners, not as teachers, givers or talkers. The most healing gift that you can give to someone in pain, is the awareness that you are honestly trying to understand what they are going through, even if you get it wrong. We were not about to visit sacred shrines or religious venues of historical interest, but rather tip-toe upon the holy ground of other people’s suffering.”