God is liefde
Verwelkoming:
Hierdie is ’n ruimte vry van oordeel, prestasie en verdienste – in God se teenwoordigheid is daar genade en liefde in oorvloed.
Votum/seëngroet:
“Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie, maar wel die siekes. 13Gaan leer wat beteken, ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.’ Ek het immers nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.”
Geseënd is elkeen wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
Skriflesing:
Mat 9:9-13
Preek:
Kom ons herinner net weer onsself waarmee ons besig is. Ons behandel die boek van James Bryan Smith, The Good and beautiful God, met die subtitel: Falling in love with the God Jesus knows. Ons word herinner dat God goed is, of in vandag se tema se woord, Liefde. En hierdie liefde herken ons nêrens beter as in die lewe, woorde en kruis van Jesus nie. As ons maar net almal hierdie radikale liefde regtig kon besef, ontvang en toelaat dat ons harte en gedagtes daarvan vol word, dan sal die radikale vryheid en vreugde van Jesus ook ons s’n wees.
Maar ons het ook geleer dat daar ongelukkig weerstand in ons sit teen hierdie liefde. Ons het elke keer ook gesels oor hierdie kultuur van prestasie en verdienste wat so diep ons ons samelewing, lewe en weefsel kom sit het. Dit voel vir ons dat ander mense se liefde en aanvaarding altyd voorwaardelik is; net as ons goed is, net as ons uitstyg beleef ons bevestiging en erkenning. Dit raak so deel van ons perspektief en denke, dat ons dit ook op God projekteer.
God het my lief as ek goed is en Hy straf my as ek sleg is. God se liefde is nie konstant nie. Jim verwys na die gevoel dat God op ’n draaistoel sit. As ek goed is draai Hy na my, glimlag vir my en hou my vas – maar as ek sleg is, draai Hy sy rug op my en sal net weer terugdraai as ek weer die regte pad vind.
En weet julle wat is die ander aspek wat ons ook hier in gedagte moet hou. Ons ego se behoefte aan beheer. Dit is so baie keer vir ons ’n struikelblok in ons geloofslewe. Die belwenis van’n God wie se liefde wipplank ry is natuurlik nie goed nie, maar ons kry iets daaruit. Die geleentheid om God se liefde te beheer (en om so ’n bietjie verhewe bo ander mense te voel). Ons kan beheer hoe God oor ons voel deur die goeie dinge te doen en die slegte te vermy.
Dit noem ons wettitisme of moralisme. Dit is daardie bo blink onder stink tipe van uiterlike godsdiens. En op die ou end, so wys Jim ook uit is dit bygelowigheid, net soos spieëls wat breek of onder die leer stap. Dit gee vir ons ’n gevoel van beheer in ’n andersins chaotiese wêreld.
Maar God se onvaarwaardelike liefde is regtig goeie nuus vir almal, maar net as ons glo dat dit goeie nuus is vir álmal. Ons het laasweek geleer van ons afgunstigheid as ons dink ander ontvang meer genade as ons (Die werkers in die wingerd wat op verskillende tye gehuur is). Ons sien dit ook in die hart van die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun (as hy net nie oor homself kan kom en bly kan wees oor sy broer wat veilig terug is nie).
Ons moet in die vreugde kan deel van een persoon wat gered word tot ’n nuwe lewe in Jesus. Dit lyk asof ons net in die liefde kan deel as ons ook die liefde deel. As ons dit nie vir ander gun en met hulle deel nie, bly ons eie hart ook daarvoor toe. En ons siel raak donker.
Nog altyd, tot vandag toe, sukkel ons as Christene met die Fariseër houding in onsself. Ons verkies eintlik ook ’n Jesus met beter geselskap.
Jesus roep vir Matteus die Tollenaar. Die ouens wat namens die onderdrukkende Romeine die belastings moes insamel en gewoonlik nog hulself verryk het in die proses. ’n Verraaier en ’n skelm. Nie die beste kombinasie nie.
Maar Jesus roep Hom om een van sy dissipels te wees. En as hy dan saam met Matteus gaan eet, is dit asof mense uit Matteus se whatsappgroep ook welkom voel en “onverwags” saam met Jesus en sy dissipels kom eet.
Baie soos met Saggeus ook – Ek moet vandag by jou kom eet.
Onthou, Jesus gebruik dieselfde model as ander Joodse Rabbi’s – dissipels/leerlinge word geroep om hulle te volg om by hulle hulle “juk” op te neem, hulle leringe en gehoorsaamheid aan God kom leer. Met net een groot verskil. Die ander Rabbi’s het die sg. beste van die beste gekies – dié wat as besonders godsdienstig en intelligent gesien is – waardige protege’s van die Rabbi.
Maar Jesus roep die onwaardiges. En Hy sit sy vertroue, die voortsetting van die Jesusbeweging in hulle hande. G’n wonder dat Jesus se keuse van volgelinge én geselskap vir die Fariseërs onverstaanbaar en skreiend is nie!!
Vir die Fariseërs is dit elke keer as hulle Jesus sien eet saam met “tollenaars en sondaars” ’n “gotcha” oomblik. Jip, net soos ons gedink het, die ou is ’n vals profeet, ’n gevaarlike misleier.
Jesus het mos in die bergrede elke keer gesê – “julle het gehoor dat daar gesê is, maar Ek sê vir julle…” Dan verwys Hy na die wet en gangbare interpretasie daarvan, en gee dan sy eie interpretasie van God se wil (die God wat Jesus as sy Vader ken!). Julle het gehoor dat daar gesê is jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat, maar ek sê vir julle julle moet julle vyande liefhê…
En elke keer as Jesus ’n konfrontasie het met die Fariseërs, sien ons eintlik hierdie selfde dinamika in praktyk. As die F’s met verontwaardiging vir die dissipels vra hoekom hulle Rabbi dan saam met Tollenaars en Sondaars eet, verduidelik Hy weer iets van die implikasie van die liefde van die goeie God en Vader. Jesus het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Nie vir die gesondes nie (of eerder die wat dink hulle is gesond nie – dink maar aan die tollenaars vs die Fariseër se gebed – Dankie dat ek nie soos die Tollenaars is nie, vs wees my ’n sondaar genadig); maar die wat siek is – of erken dat hulle siek is.
En dan gaan Jesus na die hart van die storie, na die hart van sy Vader: Gaan leer wat dit beteken (soos Hy uit die Ou Testament aanhaal), dat Ek barmhartigheid wil hê en nie offerhande nie.
Die mense van Jesus se tyd – wie is hulle vandag; en hulle wat by Jesus tuis gevoel het, voel hulle by ons tuis? En indien nie, hoekom nie? Is ons liefde dalk nog te vol oordeel en voorwaardes? Hulle wil nie werk nie – hulle wil sleg wees (en dikwels is dit ook maar net ons vooroordeel wat praat).
Wie verdien dit regtig om gehelp te word. Jesus se antwoord is niemand nie – nie ek of jy nie en niemand anders wat ons teëkom nie. Dit is waarheid van die Evangelie en as jy dit verwerp vir ander verwerp jy dit ook vir jouself.
Ietsie oor sieloefeninge: Lectio Divina
Daar is verskillende tipe’s oefeninge vir verskillende mense.
Sien dit as opsies – vind jou weg.
Die doel is dieselfde as gewone oefening; jy streef na ’n gesonde liggaam (siel).
Almal kan nie alles doen nie.
Alles is nie gepas vir almal se lewe of seisoen nie.
Dalk het jy afwisseling nodig – dit kan ook goed wees.
Beginsels: stilword, afsondering, verwonderinge, aanbidding, God se teenwoordigheid, ontvang, vorming.
Lectio oefening
(lees, oordink, bid)
4Liefde bly geduldig,
liefde gee om,
liefde is nie jaloers nie,
spog nie,
en is nie verwaand nie.
5Liefde tree nie onbehoorlik op nie,
jaag nie eiebelang na nie,
is nie liggeraak nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,
6 is nie bly oor onreg nie,
maar is saam bly oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verduur alles.