Preek – 19 April: Goeie Vrydag – Mat 27:30-45

Teks en Tema:

Mat 27:30-45 

Die revolusie begin!

Preek

Ek was in graad 8 (standerd 6) toe ons ‘n CSV-kamp by Waterval-Bo by Tulbach gehad het. Ek onthou baie goed hoe die vraag juis toe in my kop gedraai het: “Hoekom moes Jesus aan die kruis gesterf het?” Dat Jesus opgestaan het uit die dood, het vir my meer sin gemaak as dat Hy gekruisig is. Kon God dan nie maar net sy hand oor ons as mense uitgesteek het en gesê het dat hy almal wat in Hom glo, sal vergewe nie? Hoekom moes Jesus kom sterf? Hoekom is daar ‘n dag soos Goeie Vrydag? Het jy al die vraag vir jouself gevra oor hoekom Jesus aan die kruis moes sterf op daardie Vrydag?

Natuurlik is daar baie antwoorde wat ons kan gee. Ons kan sê, soos die Hallelujalied, Bring my die Ou-ou tyding, dit sê:

Bring my die tyding duid’lik, dat ek dit kan verstaan

Vertel my hoe die Heiland, my van die vloek ontslaan.

Sy dood het my sondes, my vloek, weggeneem. En dis waar. Ons kan dit glo. Daar is baie tekste wat ons ook sal kan aanhaal, soos Romeine 3:

Rom 3:24  …maar hulle (ons) word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Maar steeds bly die vraag: Hoekom moes dit op só ‘n manier geskied? Hoekom moes Jesus daardie Vrydag sterf? Is dit net sodat ons na ons dood nie meer verlore sou gaan en hemel toe kan gaan? Natuurlik is dit waar, maar dit is nie net dit nie. As ons kyk na hoe die eerste Christene oor Jesus na sy dood gepraat het, dan het dit min gegaan oor die lewe na die dood maar juis oor die lewe op hierdie aarde. Hulle het ook eintlik meer gepraat oor die gevolg van sy dood as oor die Vrydag van sy dood. So praat Paulus daaroor:

Gal 2:19-20  Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig,  (20)  en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

Hier praat hy nog nie eers oor die opstanding van Jesus nie, maar die effek wat Jesus se dood op sy lewe gehad het.

Ons as mense sal die kant van die graf nog bittermin begryp van wat op daardie Vrydag gebeur het in die donkerte van Jesus se lyding en sterwe aan die kruis. Wat ons wel weet, is dat dit ‘n stryd was waarin Jesus gewikkel was teen die bose en die donkerte van die mens en die wêreld. En dit alles ter wille van ons as mense en alleen uit suiwer liefde.

Daarom sê Paulus:

1 Kor 15:57  Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Heb 2:14  Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig…

Open 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

Ons lees van ‘n oorwinning en van losgekoop wat beteken dat daar op daardie Vrydag, toe Jesus dood is, nie vir 3 dae niks gebeur het nie. In daardie donkerte was daar ‘n stryd tot die dood, ‘n geveg teen die die bose en die mag van sonde en het Jesus uiteindelik na drie dae die oorwinning behaal juis vir ons. Ons het nie ‘n idee wat juis in dae drie dae van stryd en donkerte gebeur het nie. Ook oor hoekom dit nodig was, begryp ons maar min van. Wat ons wel hoor, is dat dit juis nodig was vir Jesus om daardeur te gaan sodat ons die oorwinning oor die magte van die duisternis kon kry deur Jesus se dood. Maar wat daar in daardie stryd gebeur het, weet en verstaan ons min – daarom lees ons ook maar min daarvan.

Maar oor die gevolge van Jesus se dood, nie net sy opstanding nie, van die donker stryd, praat die mense van die Bybel baie. Dit het, soos die bekende teoloog, NT Wright dit stel, ‘n revolusie begin. Mense se lewens het handomkeer verander, soos bv Petrus. Hy wat so bang was dat hy Jesus verloën het, staan na Jesus se dood voor die magtige Joodse Raad en hulle verbied hom om oor Jesus verder te praat. En dan antwoord Petrus hulle:

Hand 4:19-20  Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God.  (20)  Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Dan verander hulle lewens nadat Jesus die mag van die bose en eie-ek oorwin het en hulle begin die nuwe lewe, die ewige lewe lei. Dit alles was ook die gevolg van Jesus se dood. Jesus Self wys daarop vooruit as Hy sê:

Joh 3:16  God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Dis juis die dood van Jesus op Goeie Vrydag wat die revolusie, ook in my en jou lewe begin het. Die revolusie wat maak dat ons al meer as dissipels van Jesus begin lewe.

Hoe gebeur dit dat Jesus se dood ook ons lewens aanraak en verander? Ons glo dat dit in die eerste plek nie ek en jy is wat ons lewens omdraai nie, maar wanneer Jesus aan ons raak, ook deur sy dood, en ons nuwe mense kom maak. Hoe gebeur dit? Eintlik is dit onverklaarbaar. Hoe gebeur dit dat ek en jy besluit om ons lewens aan die Here oor te gee en dat Hy dit dan ook doen? Soms met oppe affe en soms oor ‘n lang tyd, maar Hy doen dit! Hoe gebeur dit? Daar is iets onverklaarbaars aan maar nie minder werklik nie. Al wat dit van ons vra is dat ons voor Hom moet kom staan en ons oopstel dat Hy aan ons kan kom raak. Dit doen Hy dan een maal maar ook deurgaans deur ons lewe omdat Hy nou die Here is en deur sy dood die nuwe lewe in jou en my begin.

Dieselfde NT Wright vertel die (blykbaar ware) verhaal van die Katolieke Aartsbiskop wat vertel van die drie kwajongens wat mekaar aangepor het om kamtig hul sondes voor die priester te gaan bely en dan die verskriklikste sondes uit te dink om te kyk wat sy reaksie sou wees. Die eerste twee het vinnig weggehardloop na hul belydenisse, maar die priester het hulle speletjie agtergekom en die 3de een gekeer. Hy sê toe vir hom hy moet na die agterkant van die kerk gaan waar daar ‘n beeld van Jesus aan die kruis hang. En dan moet hy drie maal sê: “Jy het dit alles vir my gedoen en ek gee nie soveel om daarvoor nie” terwyl hy sy vingers klap. Die seun het toe gegaan en dit twee maal gesê. Maar toe hy by die derde keer kom, bars hy in trane uit en verlaat die kerk as iemand wat verander is, iemand met ‘n nuwe hart. En toe sê die Aartsbiskop: “En die rede hoekom ek die storie ken, is omdat ek daardie seun was.”

Jesus het deur sy dood ons nie net die ewige lewe na ons dood kom gee nie, maar ‘n nuwe lewe voor ons dood. Kom ons stel onsself vanoggend ook oop dat die Here aan ons kan raak as ons daardie dag weer oproep in ons herinneringe en die nagmaal gebruik.

Amen.

css.php