Preek – 27 Februarie 2022 - Wie is werklik gelukkig? - Mattheus 5:1 - 12
Verwelkoming:
Welkom by ons erediens. Dit is baie lekker om saam met almal hier te wees.
Votum:
Sê vir jouself hardop – Die Here is hier! Ek is geseënd in Sy teenwoordigheid. Amen
Seëngroet:
Liewe vriende die Here groet ons vandag as Hy sê dat Sy genade, Sy liefde en Sy vrede HIER by ons is vandag. Amen
Skriflesing:
Preek:
As jy jou eie Geseënde boodskap moet gee hoe sal dit klink? Wie sal jou lys van “Geseëndes” maak vir wie die koninkryk van die hemel beskore is? “Geseënd is die…”?
Matteus vertel hoe Jesus teen die berg opgegaan en sy bekende bergpreek gelewer het. Die Bergpreek wat ons in die volgende paar Sondae gaan help en gaan leer om “Meer soos Jesus” te wees.
Met hierdie preek in Matt 5 tot 7 wil Jesus 2 groot lewensvrae van Sy tyd kom beantwoord: Die eerste is: Wat is ’n goeie lewe? En tweedens: Wie is werklik ’n goeie persoon?
Die tweede vraag se antwoord is die kern van ons Meer soos Jesus reeks vir die volgende 7 Sondae, want ons gaan sien met Jesus se eenvoudige en praktiese raad, dat Hy ons wil aanmoedig om te leef soos Hy geleef het. Wees egter gewaarsku – Jesus se preek gaan ons uitdaag en dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar soos daardie eerste luisteraars is ons saam op hierdie berg en gaan ons mekaar ook aanspoor en moed inpraat om Meer soos Jesus te begin leef…
Vandag gaan ons stilstaan by hierdie eerste vraag van wat is ’n goeie of in Matt 5 se woorde – ’n Geseënde lewe!
Om hierdie teksgedeelte en die antwoord op die vraag mooi te verstaan moet ons egter bietjie terugblaai en kyk wat voor hierdie bergpreek gebeur het.
Jesus preek sy eerste preek oor die koninkryk van die hemel, Hy roep Sy dissipels en genees ‘n klomp mense. Dit maak dat ’n klomp mense Hom begin volg, ’n klomp gewone, eenvoudige mense, mense wat baie keer in hul samelewing gesien is as die gesigloses, naamloses, die nobodies…Soos in die prentjie…
Dit is dan daar, tussen daardie nobodies waar Jesus sy lering oor ’n goeie lewe en ’n werklike goeie mens begin met uitsprake oor wie die ware geseëndes is.
Die Griekse woord makarios wat ons as “geseend” vertaal beteken om, in die volle sin van die woord, met Goddelike geluk vervul te wees. Dis geluk wat deur die genade van God geskenk en in Hom alleen beleef word. Makarios is nie om weggeruk te word uit jou aardse bestaan en na ‘n bo-wêreldse plek gevoer te word nie.
Makarios is om IN hierdie wêreld, met sy pyn van broosheid, verlies, sy onreg, harteloosheid, geweld en vervolging God se seën en teenwoordigheid te beleef. Die week het ons beelde gesien hoe Ukrainse soldate kerse aansteek in die kerk in Kiev en hoe Priesters in strate voor die vegtende Russe staan om iets te wys van Jesus se teenwoordigheid, Sy koninkryk, HIER en NOU?
Dallas Willard gesels oor die gedeelte en sê: “Blessing is not in the condition, but in the Kingdom. That’s the key. That’s how it works…”
Jesus onttrek Hom nie van die pynlike werklikheid van mense se nood nie, maar midde in die werklikheid daarvan verduidelik Jesus wat dit beteken dat die koninkryk van die hemel nou naby gekom het en hoe dit lyk.
Teen hierdie agtergrond maak Jesus sy aankondiginge van geluk en seën. Die merkwaardige van hierdie seënuitsprake is die feit dat dit toegesê word aan mense van wie ons dit allermins sou verwag – Die “unblessables” word gebless.
Jesus draai die menslike gedagte van ’n goeie lewe om, want daarmee wil Hy vir die mense daar teen die berg uitnooi om te sê – ALMAL is in hierdie koninkryk welkom – ook die wat in menslike oë niks is of het nie…
Ons kan nou maklik dink dat Jesus ons wil voorskryf om soos die armes te wees of die treurendes te wees en dat dit “beter” is om so te wees – nee, Jesus sê dit op so ’n manier sodat ons wat dalk gelukkig is en ryk is aan besittings en God se seën herinner kan word dat die koninkryk van die hemel nie eksklusief vir die elite, en bestes en mooistes is nie – dit is vir almal – veral vir die wat geen hoop in die lewe oor het nie.
Die saligsprekinge kondig die seën van die koninkryk van die hemel aan wat in verhouding met Jesus ’n genadige werklikheid VIR ALMAL geword het. Niemand wat in verhouding met Jesus staan is daarvan uitgesluit nie. Niemand wat vir Jesus liefhet en ken is nou meer buite bereik van God se oorvloedige seën in Jesus Christus nie.
So hoe lyk Jesus se lys van nobodies voor hom? Kom ons kyk gou vinnig daarna: Dit is mense wat arm van gees is, treur, Sagmoedig is, honger en dors na geregtigheid is, wat barmhartig is, wat rein van hart is, wat Vrede maak, mense wat vervolg word omdat ek doen wat reg is
Dit is ’n lang lys wat baie intimiderend is vir ons as ons dit lees. Moet ek ook so wees om gelukkig te wees? Ons kan nog saamgesels oor treur en arm van gees wees en dalk vrede maak, maar ons bly in ’n wêreld waar ek myself moet laat geld Nico. Dit is ook so moeilik om 24/7/365 so te leef dat ek my fokus op Jesus sal hou – ek moet werk om te sorg vir my kinders en maat, ek het so baie hooi op my vurk en hardloop so rond nou vra Jesus nog hierdie dinge wat net nie sin maak nie…
Nee jong, ’n goeie lewe is dan nie vir my beskore dan nie…ek los dit eerder – dit is te moeilik…
As ons so oor die Saligsprekinge dink mis ons die boodskap van die saligsprekinge, want dit is nie instruksies van Jesus oor “hoe” jy te werk moet gaan om deur God geseën te word nie.
So ‘n lewe waarborg nie God se goedkeuring, seën en verlossing nie. Die saligsprekinge verduidelik en illustreer uit die praktiese omstandighede van die mense wat daar voor Jesus sit en vir wie daar geen hoop meer was nie se lewe dat die koninkryk van die hemel met sy verrassende seën, teen alle verwagting in, in hulle lewe aangebreek het deur Jesus as die verwagte Messias.
Hoe sou dit vandag lyk: Geseënd is die wat werkloos is, geseën is die wat alleen is, geseënd is die wat net ’n break kort, wat depressief is, wat kompusielf is, wat twyfel en vrae vra, geseënd is die wat niks meer hoop het nie en nerens in pas nie…
WANT in en deur Jesus is jy deel van hierdie ongelooflike Koninkryk waar daar rus en heling en aanvaarding is, waar jy kan behoort en voel jy is geliefd! Waar jy deur Sy Gees geleer, gevorm en getransformeer word om meer soos Hy die Koning te wees en waar ek en jy as inwoners van die Koninkryk gestuur word om ander in te nooi en te vertel van hierdie koninkryk waar jy geliefd, gevorm en gestuur word…
Esalome en die blomme…eenvoudig maar vreugdevol…perfek vasgevang – ek kan vaskyk in die eenvoud, die plainness, die gebrokenheid – of ek kan die goudraaksien en bly wees en opgewonde wees – oor die goue rand, die kroontjie, die koning Jesus! Want dié koninkryk is ’n werklikheid IN Jesus. JESUS is die koninkryk. JESUS is die Koning. Ons word almal uitgenooi om Jesus te volg en in sy geseënde koninkryk te leef.
Ek sien die week ’n prentjie van die T-shirt – ek dink ek soek ene:
KNOW
JESUS
KNOW
LIFE
Wat wil die T-shirt vir ons sê oor ’n goeie lewe? T-shirts is vrylik beskikbaar, all fits, all sizes all prints…netso is die belofte van ’n goeie, geseënde lewe ook, dis ook oral beskikbaar vir almal en elkeen wat hulle rus in Jesus vind. Die mense wat te midde van hul omstandighede uit Jesus se genade leef en in Sy liefde bly. Hulle is mense wat werklik gelukkig is…
Amen