ROM. 14:1-12 (24/9/23)

 

#  Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Soveel hoofde, soveel sinne.”

  • En dit beteken mos: hoe meer mense jy op een plek bymekaar het, hoe meer verskillende menings sal daar ook wees.
  • En dit sal ook waar wees van ons klomp wat vanoggend hier bymekaar is.
  • As ons bv. vir elkeen hier, wat in rugby belangstel, sou vra: Hoe moet die Springbok rugbyspan lyk?
  • Wys vir ons die beste spelers in elke posisie aan!
  • Dan sou ons ’n klomp verskillende menings kry.
  • Almal van ons sal beslis nie presies dieselfde spelers vir hierdie span kies nie.
  • Of as ons vir al ons ouers of grootouers hier sou vra: Wat is jou siening oor kinderopvoeding?, dan sou ons ook verskillende menings kry.
  • Veral as dit by die dissiplinering van kinders kom, sal daar beslis nie ’n 100% eenstemmigheid wees nie.
  • Maar so sal ons altyd onder ons ’n groot klomp verskillende menings hê.
  • En dit maak die lewe sekerlik interessant.
  • Maar dit maak ook die lewe soms baie moeilik!

#  Neem nou maar die gemeente in Rome in die tyd van die Nuwe Testament as voorbeeld.

  • In daardie gemeente het mense se verskillende opvattings veroorsaak dat daar groot verdeeldheid in die gemeente was.
  • En die verdeeldheid was so ’n probleem dat Paulus in sy brief aan hulle spesifiek daaroor skryf.
  • En Paulus noem vir ons hier in Rom. 14 veral twee dinge waaroor daar verskillende opvattings in daardie gemeente was.
  • Die een was oor wat ’n mens mag eet of nie mag eet nie.
  • Die ander was oor hoe jy sekere kerklike feesdae moet deurbring of nie moet deurbring nie.
  • En die situasie was dat lidmate van daardie gemeente wat vroeër die Joodse geloof aangehang het, ander opvattings oor hierdie twee sake gehad het as die ander lidmate.
  • Hulle het as Jode sekere reëls gehad oor wat jy mag eet of nie, omdat hulle sekere dinge as onrein beskou het.
  • En dan was daar ook sekere feesdae wat vir hulle belangrik was om te vier.
  • Maar noudat hulle Christene geword het, wou hulle nog steeds aan hierdie Joodse reëls en gebruike vashou.

#  En nou kan ’n mens seker vra: Maar is dit dan reg dat hulle nog sulke reëls wou nakom?

  • Moes Paulus hulle nie sommer reguit verbied het om dit te doen nie?
  • Paulus het natuurlik self ook vroeër daardie reëls nagekom, want hy was mos eers self ’n baie ernstige onderhouer van die Joodse godsdiens.
  • Maar as ’n mens in Jesus glo en aan Hom behoort, is jy vry van die vroeëre Joodse godsdienstige reëls.
  • In Jesus is jy heeltemal vry daarvan.
  • In Rom. 14:14 sê Paulus dan ook: “Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie.”
  • En Paulus sou daarom kon sê: Dis nie meer vir my as gelowige nodig om party soorte kos as rein en ander as onrein te beskou nie.
  • Niks is vanself onrein nie – nie eers die varkvleis wat die Jode in hulle godsdiens nie toegelaat word om te eet nie.
  • Ek kan maar enigiets eet, sê Paulus, want ek behoort nou aan Jesus.
  • Maar nou doen Paulus ’n baie belangrike ding hier in Rom. 14.
  • En wat is dit?
  • Hy moedig die lidmate van die gemeente in Rome, wat net soos hy geglo het, aan om nie die ander te veroordeel nie.
  • Om nie daardie lidmate te veroordeel wat nog die Joodse reëls oor kos en feesdae wou nakom nie.
  • In die eerste vers wat ons gelees het, sê Paulus: “Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil.”
  • Lidmate van die gemeente van Rome, sê Paulus, aanvaar julle mede-lidmate wie se opvattings van julle s’n verskil.
  • Moet hulle nie veroordeel nie.
  • Nee, aanvaar hulle in liefde!

#  En hoekom wou Paulus hê dat die gelowiges in Rome mekaar só onvoorwaardelik moet aanvaar?

  • Watter redes gee hy daarvoor aan?
  • Ek dink hy noem veral twee redes hier in Rom. 14.
  • In vers 3 sê hy: want God het die ander ook “aangeneem.”
  • Al verskil ander gelowiges se opvattings van julle s’n, sê Paulus, onthou altyd dat God hulle ook aangeneem het as sy kinders.
  • En dit beteken: ál die gelowiges in die gemeente in Rome behoort aan die Here.
  • Ook daardie gelowiges wat nog die vroeëre Joodse reëls wil nakom.
  • So, die eerste rede waarom Paulus vir die lidmate in Rome sê om mekaar te aanvaar, is omdat hulle almal sáám aan die Here behoort.
  • Die Here het hulle almal aangeneem as sy kinders .
  • En hulle vorm nou saam die een liggaam van Christus.
  • En daarom moet hulle mekaar aanvaar.

#  Maar die tweede rede wat Paulus aanvoer vir hierdie aanvaarding van mekaar, kry ons in vers 12.

  • Hy sê daar: “Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”
  • Met ander woorde: Dis God wat oor mense se opvattings sal oordeel.
  • Dis nie vir ons as mense om as ‘t ware God se plek te probeer inneem en ander te beoordeel, of selfs te veroordeel oor hulle opvattings nie.
  • Hulle sal self met hulle opvattings voor God moet staan, sê Paulus.
  • Dis ’n saak van hulle eie gewetes waarmee hulle voor God moet gaan staan.
  • En daarom moet hulle nie veroordeel word nie, maar aanvaar word as mede-lidmate van dieselfde gemeente.

#  Maar wat sê dit alles nou vir ons vandag?

  • Ons sukkel tog nie meer met Joodse reëls oor wat ons mag eet of nie mag eet nie.
  • Ons het ook nie ’n probleem met Joodse feesdae nie.
  • Maar wat wel waar is, is dat daar ook onder ons verskillende opvattings oor ’n hele klomp kerklike of geloofsake is.
  • Vir die een onder ons is dit bv. belangrik dat die kerk gedurig vernuwe moet word, vir ’n ander dat ons eerder by die ou tradisies moet hou.
  • Vir die een moet ons net orrelmusiek in die kerk speel, vir die ander moet daar eerder net ’n orkes wees.
  • Vir die een moet ons die eredienste in die gemeente op ’n sekere manier inrig, vir die ander weer anders.
  • Vir die een is meer formele klere in die kerk die regte ding, vir die ander moet jy informeel aantrek omdat formaliteit hom of haar heeltemal afskrik.
  • Vir die een moet ons meer klem plaas op uitreikwerk en op werk buite die gemeentegrense, vir die ander moet ons weer meer hulp verleen aan mense binne die gemeente
  • Vir die een is die Algemene Sinode se siening oor verhoudings tussen lidmate van dieselfde geslag die regte siening, vir die ander is dit weer onaanvaarbaar.
  • En so kan ons sekerlik nog ander voorbeelde ook opnoem van verskillende opvattings wat onder ons bestaan oor kerklike of geloofsake.
  • En, baie belangrik, dan beteken dit hopelik nie dat ons nie almal glo in Jesus as ons Verlosser nie.
  • Dat ons nie almal glo aan sy kruisdood vir ons en sy opstanding uit die dood nie.
  • Dat ons nie almal glo dat ons God bo alles moet liefhê en ons medemens moet liefhê soos onsself nie.
  • Wat hierdie kernsake van die evangelie betref, stem ons hopelik almal saam.
  • Ons bely hopelik almal saam die Apostoliese Geloofsbelydenis, of Twaalf Artikels, soos dit ook genoem word.
  • Maar dan is daar tog ook hierdie ander opvattings, wat dikwels nie werklik die kern van die evangelie raak nie, maar waaroor ons van mekaar verskil.

#  En hoe nou gemaak?

  • Hoe wil die Here hê moet ons sulke verskillende opvattings onder ons hanteer, ook hier in Paarlberg?
  • Paulus sê in Rom. 14:1: Ons moet mekaar aanvaar, sonder om met mekaar te stry as ons opvattings van mekaar verskil.
  • Nie veroordeling nie, maar aanvaarding is die pad wat Paulus vir ons aanwys.
  • Nie stry en baklei nie, maar begrip en aanvaarding.
  • En ons sou seker ook moet sê dat ons nooit mag dink ons is beter as mede-lidmate met ander opvattings nie.
  • Ons is so gou om te sê iemand is liberaal of konserwatief of outyds of agter-die-tyd of wat ookal.
  • Maar dit moet tog altyd so wees dat ons liefde vir mekaar ons help om nie ander te etiketteer nie.
  • Om nie ander in kassies of boksies te plaas nie.
  • Ons liefde vir mekaar moet ons help om mekaar altyd te kan aanvaar ten spyte van verskillende opvattings.

#  Wyle Ferdinand Deist het dit iewers so mooi gesê.

  • Hy het gesê: Ons moet met “liefdesoë” na mekaar kyk en nie met “speurdersoë” nie.
  • As ons met speurdersoë kyk, beteken dit ons wil mekaar uitvang en mekaar as ’t ware skuldig bevind aan ’n oortreding.
  • Dan loop ons amper soos ’n wafferse Sherlock Holmes of Mike Bolhuis en bekyk mekaar met ’n vergrootglas.
  • En dan wil ons mekaar onder verdenking plaas.
  • Dis nou wanneer ons met speurdersoë na mekaar kyk.
  • Maar as ons met liefdesoë na mekaar kyk, sal ons mekaar kan aanvaar.
  • Dan sal ons bv. vir mekaar in die grootste liefde kan sê: Ek verskil van jou oor die musiek in die kerk, maar gelukkig is ons een in ons liefde vir die Here Jesus en ons liefde vir mekaar.
  • En daarom kan ek jou nie afskryf as Christen net omdat jou opvatting oor die musiek in die kerk van myne verskil nie.

#  Ons hét verskillende opvattings oor ’n hele klomp sake, ook oor sake wat ons geloof en ons gemeente raak.

  • En ons kan ook nie maak asof dit nie so is nie.
  • Maar belangrik: hierdie verskillende opvattings mag nie lei tot verdeeldheid tussen ons nie.
  • Ons moet, soos Jesus in Joh. 17, ook bly bid vir die eenheid tussen ons.
  • In daardie bekende gebed bid Jesus: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
  • Jesus bid hier vir die eenheid van sy kerk, en dit is so ’n belangrike saak, want dit is ’n eenheid wat ander mense kan help om ook in Hom te glo.
  • Sonder hierdie eenheid tussen ons sal ander net sien hoe ons in die kerk met mekaar stry en baklei, en dan nie eers altyd oor die kern van die evangelie nie.
  • Maar as mense ’n verdeelde kerk sien, wat stry en baklei, dan lyk die kerk vir hulle maar net soos die res van die wêreld met al sy konflik en onenigheid.
  • Dan lyk die kerk vir hulle selfs net soos die politieke partye met al hulle binnegevegte.
  • En hoekom sal mense dan belangstel om deel te word of deel te wees van die kerk?
  • Maar ons eenheid met mekaar en ons liefde vir mekaar moet ook in Paarlberg ander mense aantrek na ons toe en nie afstoot nie.

#  So, kom ons vat dan mekaar se hande.

  • Kom ons weier om toe te laat dat verskillende opvattings ons laat wegdryf van mekaar.
  • Kom ons beleef elke dag dat ons een is met Jesus, maar ook een is met mekaar, as lede van die een liggaam van Christus.
  • Kom ons aanvaar mekaar in die grootste liefde.
  • Dít is hoe die Here dit wil hê.
  • En dít is ook wat die mense buite die kerk moet sien wanneer hulle na ons kyk: ons liefde vir mekaar en ons eenheid met mekaar.

AMEN

 

 

css.php