ROM. 13:8 – 14 (10/9/23)

 

#  Iets wat ons almal baie goed ken, is hoe dag en nag mekaar afwissel.

  • Hoe daar ’n ritme van dag en nag in ons wêreld is.
  • Kom ons sê maar dis nou eers dag en die son skyn helder.
  • En ons doen allerhande dinge in die daglig.
  • Ons werk en ons eet en ons beoefen ons sport.
  • Maar dan gaan die son stadig onder en die nag breek aan.
  • En dan is dit weer tyd vir ons om tot rus te kom en te slaap.
  • En sekere dinge wat jy in die dag kan doen, kan jy dan in elk geval nie in die nag en in die donker doen nie.
  • Dit is dinge waarvoor jy die lig van die son nodig het.
  • Maar so wissel dag en nag mekaar dan af in ons lewens.
  • Ons ken dit baie goed.

#  En nou sluit Paulus hier in Rom. 13: 11 en 12 by ons ritme van dag en nag aan.

  • Hy sê: “En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.  Die nag is byna verby; dit is amper dag.”
  • So wat doen Paulus hier?
  • Hy vergelyk die tyd en die wêreld waarin ons leef met die nag.
  • Dis amper soos wanneer dit met ons baie sleg gaan en ons dalk sommer in die middel van die dag vir iemand sal sê: Dit is nag!
  • En net so vergelyk Paulus dan die tyd en die wêreld waarin ons leef met die nag.
  • En dit is sekerlik ook nie toevallig dat hy dit doen nie.
  • Want daar word soveel verkeerde en donker dinge in ons wêreld gedoen.
  • Dink maar net aan die statistiek wat onlangs oor misdaad in ons land bekend gemaak is.
  • Die een skokkende syfer was dat daar meer as 6000 moorde in 3 maande gepleeg is, amper ’n gemiddeld van 70 per dag.
  • Dis verskriklik!
  • Maar daarmee saam gebeur daar ook nog soveel ander verkeerde en donker dinge in die wêreld.
  • Ook helderoordag vind allerhande verkeerde en donker dinge plaas.
  • Paulus noem juis hier in Rom. 13 ook ’n paar van hierdie dinge vir ons op.
  • Hy praat van drinkery, uitspattigheid, ontug, onsedelikheid, rusie en jaloesie.
  • En ’n mens hoef seker nie eers op Paulus se lysie van donker dinge uit te brei nie: jy kry die boodskap: Die tyd en die wêreld waarin ons leef is op ’n manier soos die nag.
  • En al skyn die son helder, baie van die dinge wat gebeur, en baie van die dinge wat ons as mense aan mekaar doen, maak dat dit eintlik nag is rondom ons.

#  So Paulus vergelyk dan die tyd en die wêreld waarin ons leef met die nag.

  • Maar, baie belangrik, hy sê die nag is amper verby.
  • a.w. die tyd en die wêreld waarin ons leef, is amper op ’n einde.
  • Paulus sê: Die nag is amper verby, en dit is amper dag.
  • En wanneer hy dít sê, dink hy heel waarskynlik aan Jesus se wederkoms.
  • Wanneer Jesus se wederkoms aanbreek, sal die nag en die donker van ons tyd en wêreld eindig.
  • En die nuwe dag sal aanbreek, die nuwe dag van die nuwe hemel en aarde, waarvan Op. 21 ons reeds vertel.
  • Wanneer dít gebeur, sal alle donkerte en alle donker dinge iets van die verlede wees.
  • Maar ons is natuurlik nog nie daar nie.
  • Die nag is nog nie vir ons heeltemal verby nie.
  • En nou praat Paulus hier in Rom. 13 met ’n soort dringendheid wanneer hy sê dat die nag amper verby is.
  • En, volgens hom, is daar veral 2 baie belangrike dinge wat moet gebeur voordat die nuwe dag vir ons gaan breek.
  • En die eerste daarvan is dat elkeen wat geestelik aan die slaap is, moet wakker word uit die slaap.
  • Ons kan sê Paulus laat vir ons ’n wekker lui.
  • En hierdie wekker sê vir ons, in Rom. 13: 11 en 12: “Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word. Die nag is byna verby, dit is amper dag.”
  • En nou is die vraag: Is ek dalk geestelik aan die slaap op hierdie oomblik?
  • Is ek dalk nie in die regte verhouding met die Here nie?
  • Ja, is dit dalk ook vir my spesifiek wat Paulus vanoggend sê dis tyd om wakker te word?
  • As dit wel so is, dan is dit so belangrik dat ek met die Here daaroor sal praat.
  • Dan moet ek eintlik onmiddellik vir Hom vra om my geestelik behoorlik wakker te maak, al moet Hy my dalk wakker skud.
  • Ek móét geestelik wakker word, sê Paulus.
  • En dis baie belangrik, want die nag is amper verby.
  • En dis amper dag.

#  Maar die ander baie belangrike ding wat moet gebeur, sê Paulus, is dat ons moet leef soos dit in die daglig hoort.

  • Hier kort voor die nuwe dag vir ons aanbreek, moet ons reeds leef soos dit in die daglig hoort.
  • Paulus sê in vers 12 en 13 wat ons gelees het: “Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.”
  • En wat Paulus hier sê, bring ons by die belangrikheid van ons getuienis as gelowiges.
  • Dit is juis in die donker van ons tyd en ons wêreld dat ander moet kan sien dat ons mense van die lig is.
  • Hulle moet kan sien dat ons nie die wêreld donkerder help maak nie, maar juis die wêreld help verlig.
  • Dat ons dinge doen en sê wat van die wêreld ’n beter plek help maak.
  • En hier moet ons sekerlik ook nou dink aan wat Jesus van Homself gesê het.
  • Hy het gesê, in Joh. 8:12: “Ek is die lig vir die wêreld.”
  • En ons weet dat Jesus se liefde ons wêreld helder kom verlig het.
  • Sy liefde vir elke mens wat sy pad gekruis het, het ons wêreld helder kom verlig.
  • En ons lees in die Bybel van die groot verskeidenheid van mense wat Jesus se pad gekruis het: tollenaars, melaatses, blindes, ook mense wat bekend was vir hulle onsedelike lewe, ja, so ’n verskeidenheid van mense, maar Jesus se liefde het hulle almal se lewens kom verlig.
  • En nou moet ons nie vergeet nie dat Jesus in Matt. 5:14 ook vir sy volgelinge gesê het: “Julle is die lig vir die wêreld.”
  • En Hy kon seker daarop uitgebrei het en gesê het: Julle moet so gaan leef dat julle iets van my lig in die wêreld weerkaats en versprei.
  • Julle moet so gaan leef dat julle help keer dat die donker oorvat in die wêreld.
  • En dit is waarop ons getuienis in die wêreld onder andere neerkom.
  • Ons moet iets van Jesus se lig weerkaats en versprei.
  • Met ons woorde, en ons dade, en ons gesindheid, en ons talente en gawes, en ons besittings, met alles in ons lewe moet ons Jesus se lig weerkaats en versprei.
  • Oral waar ons iets donker sien of iets donker beleef, moet ons met Jesus se lig ’n verskil probeer maak.

#  En op hierdie punt, dink ek, moet ons ook mooi kyk na wat Paulus in die eerste deel van vanoggend se Skrifgedeelte gesê het.

  • Hy praat daar oor die liefde en hoe die liefde die volle uitvoering van die wet is.
  • En ons kan ook maar sê hy praat daar oor hoe ons liefde ’n teenvoeter moet wees vir die donker van ons tyd en wêreld.
  • Oor hoe ons liefde teen die donker van die wêreld moet ingaan.
  • En die belangrikheid van die liefde word vir ons juis treffend onderstreep waar Paulus in vers 10 sê: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie.”
  • En positief gestel, beteken dit: Liefde soek die voordeel van ons naaste.
  • Liefde bevorder die belange van ons naaste en stel dit bo ons eie belange.
  • Dit wil nie ander seermaak of krenk nie.
  • Dit wil altyd die beste hê vir die ander persoon of persone, en nie net vir myself of vir die mense van my eie groep nie.
  • En so help liefde dan ook om ons donker wêreld te verlig.
  • Die liefde van Jesus – dít is terselfdertyd die lig wat ons donker wêreld help verlig.
  • En dis ons roeping en opdrag as gelowiges en as volgelinge van Jesus om sy liefde met ander te deel.
  • Ons mag dit nie vir onsself hou nie – ons moet dit met ander deel.

#  In vers 8 wat ons gelees het, stel Paulus dit eintlik baie sterk.

  • Hy sê daar: “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.”
  • En in die 2020-vertaling word dit só vertaal: “Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe die verpligting om mekaar lief te hê.”
  • So op ons as gelowiges rus daar eintlik ’n verpligting om ander lief te hê en hulle lewens te help verlig.
  • Dis nie vir ons om te besluit of ons dit wil doen of nie.
  • Die Here verwag dit eenvoudig van ons.
  • Hy sê, in Paulus se woorde, ons is dit verskuldig aan ander, om hulle lief te hê.
  • Ons is by hulle in die skuld daaroor.
  • En dis ’n verpligting waarvan ons nie kan loskom nie.
  • Omdat die Here ons so oneindig lief het, bly ons ook liefde aan mekaar verskuldig.

#  Ons wonder seker almal soms hoekom die wêreld dan baie keer so donker is.

  • Hoekom die nuus en die koerante so vol is van donker berigte en artikels.
  • En natuurlik is daar baie mooi en goeie dinge in ons wêreld.
  • Daar is ook baie vreugde en geluk.
  • Daar is baie om oor opgewonde te wees en voor dankbaar te wees.
  • En mense doen dikwels ook wonderlike dinge om ander te help en te ondersteun.
  • En soms haal sulke positiewe verhale gelukkig ook die nuus!
  • Maar dan is daar ook al daardie dinge wat gemaak het dat Paulus ons tyd en wêreld met die nag vergelyk het.
  • En ons weet seker nie en verstaan seker nie regtig hoekom dit so moet wees nie.
  • Maar een ding weet ons vir seker: Waar die liefde ontbreek, is enigiets ongelukkig moontlik.
  • Waar die liefde ontbreek, is enige donker ding en donker daad moontlik.
  • Daar doen ons as mense die slegste en donkerste dinge aan mekaar.

#  Maar ons moenie moed verloor nie.

  • En ons moet ook nie dink die donker is sterker as die lig nie.
  • Dit is nie so nie.
  • Soos Joh. 1 sê: die donker kan nie Jesus se lig oorweldig of uitdoof nie.
  • En die Here ons wil ons elke dag gebruik as sy ligdraers, waar ons woon en werk en oral.
  • Hy wil ons gebruik as instrumente in sy hand.
  • En daarom kan ons ook maar net bid soos Franciskus van Assisi reeds in die dertiende eeu in sy bekende gebed gebid het.
  • Hy het gebid: “Here, maak my ’n instrument van u vrede.
  • Waar daar haat is, laat my liefde saai;
  • waar mense seergekry het, help my om vergifnis te bewerk;
  • waar daar twyfel is, laat my sekerheid bring;
  • waar daar wanhoop is, hoop;
  • waar daar donkerte is, lig;
  • waar daar hartseer is, vreugde.”
  • Mag die Here ons almal help om sulke instrumente in sy hande te wees.
  • Ja, om lig te help bring waar daar donkerte is.

AMEN

 

css.php