JOH. 1:1-14 (11/12/22)

 

#  Matteus, Markus, Lukas en Johannes – dis die vier evangelies waarmee die Nuwe Testament begin.

  • En hierdie vier evangelies vertoon baie ooreenkomste.
  • Maar daar is ook sekere belangrike verskille tussen hulle.
  • Matteus en Lukas beskryf byvoorbeeld Jesus se geboorte redelik uitvoerig.
  • Hulle vertel van die engele en die skaapwagters en die sterrekykers en die geboorte in die stal.
  • Markus weer sê aan die begin van sy evangelie absoluut niks van Jesus se geboorte nie en sê net dat Jesus van Nasaret in Galilea gekom het.
  • En Johannes, die skrywer van die vierde evangelie, die man uit wie se boek ons vanoggend gelees het?
  • Hoe beskryf hy Jesus se geboorte?
  • Hy doen dit in een kort sin.
  • Hy sê in vers 14 wat ons gelees het: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.”
  • En wat ’n vreemde beskrywing van Jesus se geboorte is dit nie!
  • Maar kom ons sê sommer reg aan die begin: Ons verstand sukkel maar om Johannes se beskrywing te verstaan.
  • Matteus en Lukas s’n is nog makliker om te verstaan.
  • Maar Johannes s’n is vir ons baie moeilik om te verstaan.
  • Want wat bedoel hy werklik as hy sê: Die Woord het mens geword?

#  Nou, uit alles wat hier in Joh. 1 gesê word, is dit baie duidelik dat dit wel hier gaan oor Jesus se geboorte en sy koms na die aarde toe.

  • Daar kan geen misverstand daaroor wees dat Johannes hier wel van Jesus praat nie.
  • En Johannes noem Hom “die Woord.”
  • Jesus is die Woord van God.
  • Maar wat sê dit vir ons?
  • Ek dink ons het hier met ’n baie groot geheimenis te doen.
  • Maar kom ons probeer tog iets daaroor sê.
  • As Johannes praat van die Woord van God, sê dit een ding baie duidelik: God is nie net een groot stilte nie.
  • God is nie Iemand wat net swyg nie.
  • Nee, God is Iemand wat iets te sê het, wat dinge het wat Hy wil kommunikeer en wat Hy aan ander wil oordra.
  • ’n Woord is mos iets waarmee ons vir iemand iets kan
  • Met ’n woord kan ons sê wat ons dink of voel.
  • Met ’n woord kan ons onsself aan ander bekend stel.
  • En dít is wat die Bybel van God sê: Hy is Iemand wat Homself aan ons as mense wil bekend stel.
  • Deur sy Woord wil Hy vir ons sê wie Hy is en hoe Hy is.

#  Maar kom ons neem dit ’n stappie verder.

  • Ons gebruik mos almal woorde om te kan kommunikeer.
  • En daar is veral twee maniere waarop ons woorde gebruik: dit is wanneer ons praat en wanneer ons skryf.
  • Ons noem dit ook die gesproke woord en die geskrewe woord, ewe deftig!
  • En dit is hoe ons ons gedagtes aan mekaar oordra, en ook hoe ons onsself aan mekaar bekendstel.
  • En deur die loop van die geskiedenis het God ook albei gebruik, die gesproke en die geskrewe woord.
  • Hy het direk met sekere mense gepraat.
  • Ons lees daarvan op verskeie plekke in die Bybel.
  • Dink maar aan hoe Hy met Abraham gepraat het en vir hom gesê het dat Hy ’n verbond met hom wil sluit.
  • En hoe Hy met Moses gepraat het en vir hom die opdrag gegee het om die Israeliete uit Egipte te gaan lei.
  • So God het direk met sekere mense gepraat en Hy kan dit natuurlik ook vandag nog doen wanneer Hy dit nodig vind.
  • Maar dan het God ook sekere dinge laat neerskryf.
  • En so het die Bybel tot stand gekom.
  • So het ’n baie belangrike deel van wat Hy vir ons as mense wil sê op Skrif gekom.
  • En ons kon ’n klein stukkie daarvan vanoggend hier selfs in ons eie taal lees!
  • Maar nou, baie belangrik, God het Homself nie beperk tot die gesproke en geskrewe woord nie.
  • Vers 14 wat ons gelees het, sê: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.”
  • So behalwe God se gesproke en geskrewe Woord is daar ook sy Woord wat mens geword het.
  • En dit is Jesus!
  • Jesus is God self wat met ons praat, God se mensgeworde Woord.
  • In Jesus stel God Homself aan ons bekend.
  • In Jesus wys God vir ons hoe Hy dink en hoe Hy voel en hoe Hy is.
  • In Jesus kan ons selfs in ’n sekere sin sien hoe God “lyk” – as ons hierdie “lyk” maar net in aanhalingstekens verstaan.
  • Maar ons lees mos dat Jesus in Joh. 14:9 sê: “Wie My sien, sien die Vader.”

#  So Johannes beskryf in sy evangelie Jesus se geboorte op ’n unieke manier.

  • Hy sê net, kort en kragtig: Die Woord het mens geword.
  • En dít is waaraan ons in hierdie Kerstyd terugdink, aan die menswording van God se Woord.
  • Hoe onverstaanbaar dit alles ook al vir ons verstand is, die Woord van God het mens geword.
  • Jesus is gebore.
  • En daaroor is ons vandag so dankbaar en so bly!

#  Maar nou is daar nog iets wat ons moet onderstreep.

  • As Johannes sê die Woord het mens geword en onder ons kom woon, beskryf hy daarmee nie net Jesus se geboorte nie.
  • Hy beskryf daarmee op ’n manier ook Jesus se hele lewe op aarde.
  • Johannes sê mos: Jesus het “onder ons kom woon.”
  • En dit beteken dat Hy werklik hier op die aarde kom leef het.
  • Vir ’n bietjie langer as 30 jaar het Hy kom ervaar wat ons ook ervaar.
  • En in dié tyd het Jesus ons aardse lewe met beide sy vreugde én sy hartseer geken.
  • Jesus was nie net kamma-kamma ’n mens nie.
  • En sy lewe hier op aarde was nie net ’n stuk oëverblindery nie.
  • Nee, die Bybel leer duidelik vir ons hoe eg menslik Jesus se lewe was.
  • Dink byvoorbeeld aan hoe Hy gehuil het by die graf van sy vriend Lasarus.
  • En dink aan hoe Hy in die woestyn deur die duiwel versoek is.
  • En dink aan hoe Hy in die tuin van Getsemané vir sy dissipels gesê het dat Hy doodsbenoud voel en dat hulle saam met Hom moet waak.
  • En dit is eintlik vir ons so ’n groot troos om te weet dat Jesus ook dinge soos hartseer en versoekings en benoudheid ervaar het.
  • En dat dit nie net óns is wat met sulke dinge moet sukkel en daardeur moet swaarkry nie.

#  Jesus het regtig onder ons kom woon.

  • Hy was voluit mens.
  • Maar terselfdertyd was Hy dan ook die Woord van God.
  • En wat doen God se Woord?
  • Kom ons sê maar weer:
  • God se Woord sê mos vir ons meer van God self.
  • En daarom kon mense altyd in Jesus sien wie God is en hoe God is, en wat Hy wil doen en wil hê.
  • In Jesus kon mense vir God self leer ken.
  • Waar Jesus siekes gesond gemaak het en dooies opgewek het uit die dood, kon mense sien: ons God is magtig.
  • En waar Jesus sondes vergewe het, kon mense sien: ons God is vergewensgesind en genadig.
  • En waar Jesus aan die kruis sterf, kon mense sien: ons God wil ons red, en Hy wil nie hê dat selfs een mens verlore moet gaan nie.

#  In Jesus is dit God self wat met ons kom praat het.

  • En dan is dit nie sy gesproke Woord of sy geskrewe Woord nie.
  • Dan is dit sy mensgeworde Woord.
  • 1:1 en 2 stel dit só: “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.”
  • God het met ons gepraat deur die Seun, sê hierdie vers.
  • God het met ons gepraat deur Jesus, sy mensgeworde Woord.

 

#  Maar nou is die vraag: Hoe antwoord ons op God se praat met ons?

  • Hoe antwoord ons op sy Woord, en dan ook spesifiek op Jesus, sy mensgeworde Woord?
  • God se Woord vra ’n antwoord van ons.
  • Jesus vra ’n antwoord van ons.
  • En ongelukkig gee baie mense nie ’n positiewe antwoord nie.
  • Johannes sê juis in vers 11 wat ons gelees het: Jesus “het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.”
  • En die Bybel is vol verhale van hoe mense hulle nie aan Jesus wou steur nie.
  • Die Bybel is vol verhale van hoe mense vir Jesus verwerp en gehaat het.
  • Ja, van hoe hulle Hom selfs aan ’n kruis vasgespyker het.
  • Hulle antwoord op die Woord van God was ’n baie duidelike nee.
  • Nee vir Jesus!
  • Maar daarmee dan ook nee vir God.

#  Maar ’n mens kan mos ook positief antwoord op God se Woord!

  • Jy kan mos ook ja sê vir Jesus, vir die mensgeworde Woord van God.
  • En hieroor het Johannes ook iets te sê hier in Joh. 1.
  • Hy sê in vers 12: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
  • Almal wat God se Woord aanneem, almal wat vir Jesus aanneem, almal wat in geloof ja sê vir Hom, kry die reg om kinders van God te word.
  • Hulle kry die reg om deel te word van die familie van God.
  • En dan is God jou Vader en jy sy kind.
  • En dan kan jy Kersfees werklik met groot blydskap vier, want dan weet jy: ek is ’n kind van God.
  • Ek het ja gesê vir Jesus Christus.
  • Ek het positief geantwoord op die Woord van God.

#  Ons God is nie Iemand wat net swyg nie.

  • Soms voel dit dalk vir ons of Hy net stilbly.
  • Maar Hy is Iemand wat praat en kommunikeer.
  • En Hy het altyd iets te sê vir ons as mense.
  • Hy het altyd ’n Woord vir ons – soos dit ook weer vanoggend hier in hierdie kerkgebou die geval is.
  • En as ons dan in hierdie Kerstyd weer op ’n besondere manier voor Jesus staan, kan ons weet: ons staan voor die mensgeworde Woord van God.
  • Jesus is God wat met ons praat.
  • Jesus is God wat sy hart teenoor ons oopmaak en wat sê hoe lief Hy ons het.
  • En op hierdie Woord van God kan ons maar net hard en duidelik ja antwoord.
  • Ja, Here, ek het U ook lief.
  • My antwoord op u Woord is ja.
  • En met my hele lewe wil ek wys hoe ernstig ek my antwoord bedoel.
  • Met my gedagtes en woorde en dade, met alles in my lewe, wil ek wys: My antwoord op u Woord is ja!

AMEN

 

css.php