JAK. 3:1-12 (2/7/23)

 

#  Dit gebeur mos baie maklik dat ons iets sê wat ons nooit moes gesê het nie!

  • Dat iets net uitglip by ons mond voordat ons dit kon keer: ’n lelike woord of ’n skinderstorie of wat ookal.
  • En dan wil ’n mens agterna jou tong afbyt, want jy besef: Ek het nou ’n fout gemaak.
  • Maar die probleem is: Wat kan ek nou eintlik doen nadat ek die verkeerde ding klaar gesê het?
  • Ek kan dit mos nie terugtrek, of uitvee, of kanselleer nie.
  • Ek kan wel sê ek is jammer, maar dan is die skade dalk al klaar gedoen.

#  Daar word ’n verhaaltjie vertel van ’n vrou wat ook iets baie verkeerds gesê het.

  • Sy het toe later spyt gekry daaroor en wou baie graag iets aan die saak doen.
  • Sy gaan klop toe by ’n wyse man aan om sy raad te vra.
  • En sy raad aan haar was: “Neem ’n sak hoendervere, strooi dit uit in die wind, en kom dan terug na my toe.”
  • Die vrou het toe gemaak net soos die man gesê het en die vere uitgegooi.
  • En die ligte windjie wat daar was, het die vere oral begin rondwaai.
  • Die vrou gaan toe terug na die wyse man toe.
  • En sy volgende opdrag aan haar was: “Gaan haal nou weer ál die vere wat jy uitgegooi het, en sit hulle terug in die sak, en bring die sak vir my.”
  • “Maar dis tog onmoontlik,” het die vrou dadelik gesê.
  • En die wyse man se kommentaar was: “Net so onmoontlik is dit om die gevolge van ons woorde terug te trek.”

#  Nou, Jakobus gebruik in die gedeelte wat ons gelees het verskillende beelde uit die gewone lewe as hy oor ons tong praat.

  • Een daarvan is om die tong te vergelyk met ’n klein vuurtjie.
  • En ons weet almal dat enige vuur op ’n amper onsigbare manier begin – amper soos wanneer ’n mens ’n vuurhoutjie trek.
  • ’n Vuurhoutjie se vlammetjie is so klein, maar dít is hoe ’n baie groot brand kan begin.
  • Dis soos Jakobus in vers 5 sê: “’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.”
  • En net daarna sê hy dan in vers 6: “Die tong is ook ’n vuur.”
  • a.w. ons tong kan ook ’n groot klomp moeilikheid maak, amper soos ’n klein vuurtjie wat ’n groot veldbrand kan veroorsaak.
  • Wanneer ons ons tonge verkeerd gebruik, kan dit ’n groot gemors afgee.

# En nou wil ek hê dat ons op hierdie punt so ’n bietjie moet nadink oor verkeerde maniere waarop elkeen van ons ons tonge kan gebruik.

  • En daar is soveel sulke verkeerde maniere dat ons eintlik ’n hele lys daarvan kan maak!
  • En op my lys staan vanoggend die volgende dinge:
  • Nommer 1: Ons kan ons tonge verkeerd gebruik deur leuens te vertel.
  • Ek kan onwaarhede versprei, of selfs net sulke halwe waarhede die wêreld instuur.
  • Om myself in ’n goeie lig te stel, of om ander in ’n slegte lig te stel, kan ek leuens inspan om my doel te probeer bereik.
  • En iets wat baie nou hiermee saamgaan, is dat ek kan kwaadpraat van ander.
  • Ek hang hulle swakhede en skandes aan die groot klok.
  • Soms praat mense mos van “karaktermoord.”
  • Dit is wanneer jy iemand anders as ‘t ware met jou woorde vermoor, met die slegte dinge wat jy van hom of haar sê.
  • En Jesus waarsku ons hierteen.
  • Hy sê in Matt. 5: “… elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is al strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot is strafbaar met die helse vuur.”
  • Jesus sê dis ’n oortreding van die sesde gebod, van die moord-gebod, as ek iemand ’n gek of idioot of ’n ander naam noem om hom of haar daarmee sleg te maak.

#  Maar hoe kan ek nog my tong verkeerd gebruik?

  • Iets wat baie naby aan kwaadpraat lê, is om van ander te skinder.
  • Soms sê ons mos: “Ek wil nou nie skinder nie, maar …”
  • En dan kom die hele skinderstorie tog uit.
  • Dan kom die hele sappige verhaal tog na vore.
  • En die bedoeling is om iemand anders in ’n slegte lig te stel.

#  Maar my lys is nog nie op sy einde nie!

  • Ons kan ook ons tonge verkeerd gebruik deur ander mense af te kraak.
  • Soos wanneer ’n man dalk sy vrou in ’n huwelik afkraak, of andersom.
  • Of wanneer ouers hulle kinders afkraak asof hulle nooit enigiets kan reg doen nie.
  • Ons kan hier ook die woord “verkleineer” gebruik.
  • Dalk praat ek op so ’n manier van mense van ’n ander bevolkingsgroep of ras dat ek hulle daarmee verkleineer.
  • Of as man praat ek verkleinerend van vroue.

#  Ek wil nog 2 dinge noem wat op my lys staan.

  • Ons kan ook ons tonge verkeerd gebruik deur te vloek.
  • Dit gebeur wanneer ons die Here se Naam misbruik of wanneer ons vuil of onwelvoeglike taal gebruik.
  • Ons vloek dalk die Here – verskriklik!
  • Of ons vervloek ’n medemens wat saam met ons na die beeld van God geskape is.
  • En dan laastens, op my lys: Ons kan ons tonge verkeerd gebruik deur negatiewe gesprekke te voer.
  • Dis gesprekke waarin ons net donker voor ons sien, net probleme – geen goeie toekoms en geen hoop nie.
  • En met sulke negatiewe gesprekke trek ons dan sommer ook ander mense saam met ons af in ’n gat van negatiwiteit.
  • En natuurlik is daar vandag geweldig baie dinge om oor negatief te wees, in ons land én in die wêreld.
  • Maar ons gesprekke oor hierdie dinge moet wys dat ons as gelowiges nog steeds glo dat die Here in beheer is en dat daar hoop is.

#  My tong kan ’n uiters gevaarlike ding wees as ek hom nie kan beheer nie.

  • En nou kan ’n mens ook nie dink: Omdat ek ’n Christen is, sal ek nooit iets verkeerds sê nie.
  • Dit werk ongelukkig nie so nie.
  • Jakobus het dit ook geweet, en daarom sê hy in vers 9 en 10 wat ons gelees het: “Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek.”
  • Selfs gelowiges, sê Jakobus, kry dit nie altyd reg om hulle tong te beheer nie.
  • Hy sê ’n mens is soos ’n fontein wat vars én brak water laat opborrel.
  • En dis tog iets wat nie in die natuur só gebeur nie.
  • Maar ons tong maak dat ons soos ’n fontein is wat twee heel verskillende soorte water laat opborrel.
  • En so is dit dan vir ons baie keer erg moeilik om ons tong te beheer, al is ons kinders van die Here.
  • Ons loof Hom, ja, maar net daarna gebruik ons dalk dieselfde tong om ander seer te maak of af te breek.

#  So, hoe kan ons ons tonge reg gebruik?

  • Hoe kan ons ons tonge positief gebruik?
  • Ek het hier ook aan ’n paar dinge gedink wat ons kan doen.
  • En net soos ons vroeër ’n hele lys kon maak van verkeerde dinge wat ons met ons tonge kan doen, kan ons gelukkig ook ’n lys met goeie dinge maak!
  • En kom ons begin hierdie lys met iets wat ons vanoggend reeds hier in die kerk gedoen het.
  • Ons het tot lof van die Here gesing.
  • Ons het sy Naam groot gemaak en Hom geprys oor sy wonderlike liefde en genade vir ons.
  • En dis mos ’n baie positiewe manier om ons tonge te gebruik: om te sing tot lof van die Here.
  • Maar verder moet ons ook met ander praat oor die liefde en genade van die Here.
  • Die Bybel noem dit “getuig.”
  • Ons moet getuig en vir ander vertel hoe ons die liefde en genade van die Here in ons lewens beleef.
  • Hoe Jesus, wat sy lewe vir ons aan ’n kruis afgelê het, ons ook elke dag oorlaai met goedheid.

#  Maar hoe kan ons nog ons tonge reg gebruik?

  • Ons kan besluit dat ons nie dinge agter mense se rug sal sê as dit nie positiewe dinge is nie.
  • ’n Man het my eenkeer vertel dat hy en sy vrou besluit het: “As iemand voor ons iets negatief sê oor iemand wat ons ken, gaan ons dadelik iets positief oor dieselfde persoon sê.”
  • En hy sê hierdie plan werk soos ’n bom!
  • En so kan óns ook gerus probeer om nie dinge agter ander se rug te sê as dit nie positief is nie.

#  Maar nog ’n belangrike ding op my lys is om ander mense op te bou met wat ek sê.

  • Dit gebeur byvoorbeeld as ek hulle bedank vir wat hulle vir my beteken, of komplimenteer wanneer hulle iets goed gedoen het.
  • In plaas van afkraak of verkleineer moet ek ander eerder probeer opbou met wat ek vír hulle en ván hulle sê.

#  Maar daar is nog ’n paar goed op my lys.

  • Ons kan ook ons tonge reg gebruik deur te bid.
  • In ons gebede aanbid ons mos die Here en kan ons ook bid vir ander mense se behoeftes.
  • Deur gebed gebruik ek my tong in die belangrikste gesprek van elke dag, my gesprek met die Here.

#  En nou is daar nog net 2 dinge op my lys oor:

  • Ons kan ons tonge gebruik om die waarheid te praat.
  • Ons moet die versoeking weerstaan om leuens of halwe waarhede oor mense die wêreld in te stuur.
  • Die waarheid moet vir ons ’n baie kosbare saak wees, so kosbaar dat ons dit nie met ’n los tong gaan verongeluk nie.
  • En nou wil ek my lys afsluit:
  • Dis ook belangrik dat ons as gelowiges nie sal stilbly oor onreg of ongeregtigheid nie.
  • a.w. waar ek weet of sien dat mense onbillik behandel of dalk uitgebuit of misbruik word, moet ek daaroor praat.
  • Soos die Here se profete in die Bybel moet ek ook nie stilbly oor dinge wat gebeur waardeur die Here se skepsels veronreg word nie.
  • Dan is dit tyd om te protesteer.
  • Dan is dit tyd om my mond oop te maak en my tong te gebruik om te protesteer.

 

#  Ons tonge is iets wonderliks wat die Here vir ons gegee het.

  • Daarmee kan ons Hom loof en prys, en ook mooi dinge vir of van ander mense sê.
  • Maar ons tonge is terselfdertyd ook baie gevaarlik en op ’n manier ontembaar.
  • Jakobus sê in vers 8 wat ons gelees het: “… geen mens kan die tong tem nie.”
  • En dit beteken ons tong en ons woorde is eintlik sterker as onsself.
  • Dit het meer mag as wat ons
  • En dit kan dalk ook meer skade aanrig as wat ons met ons vuiste of ons spiere kan aanrig.
  • “Geen mens kan die tong tem nie,” sê Jakobus
  • Maar gelukkig word die Here nie by hierdie stelling van Jakobus ingesluit nie.
  • Die Here is wel in staat om ons tonge te beheer.
  • En Hy kan ook vir ons die nodige selfbeheersing daarvoor gee.
  • Die Bybel sê mos dat selfbeheersing deel is van die vrug van die Gees.
  • En daarom moet ons bid en vra dat die Heilige Gees ons vervul.
  • Die Heilige Gees kan vir ons doen wat die digter van Ps. 141 van die Here gevra het.
  • Hy het gevra: “Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.”
  • Die Heilige Gees kan en wil die wag voor elkeen van ons se mond wees – as ons Hom maar net vra.

AMEN

 

css.php