- Ps. 139 (6/7/25)
# Dawid, die skrywer van Ps. 139, was mos ook die bekende koning van Israel.
- En nou leer die Bybel ons dat Dawid nogal dikwels in sy lewe in groot gevaar en nood verkeer het.
- Dink maar aan hoe koning Saul, Dawid se voorganger, hom probeer doodmaak het.
- Hoe Saul vir Dawid met sy spies teen die muur wou vaspen, soos die Bybel sê.
- En later, toe Dawid al koning van Israel was, wou sy eie seun, Absolom, hom ook doodmaak.
- Daarby was daar natuurlik ook al die vyande van Israel teen wie Dawid moes veg, en daar was sommer baie van hulle.
- So, hoewel Dawid ‘n kind van God was, was hy dikwels in die
- Hoewel hy in die Bybel ‘n man na God se hart genoem word, was hy ook ‘n man met baie probleme.
# Maar baie belangrik dan: in sy nood het Dawid troos en krag by die Here gevind.
- ‘n Mens sien dit juis ook in Ps. 139 raak.
- Jy sien dit in wat Dawid in hierdie psalm bid.
- Hy vind troos en krag by die Here, en by niemand anders nie.
- En daarin is hy natuurlik vir ons almal ‘n voorbeeld.
- Ongelukkig soek ons mos dikwels eers ons troos en krag in ander dinge, of by ander mense.
- En as niks anders dan wil werk nie, dán soek ons eers ons hulp by die Here.
- So asof die Here net ‘n laaste uitweg is, amper soos die spaarwiel van my motor.
- Maar Dawid is vir ons ‘n voorbeeld.
- Hy soek sy troos en krag by die Here.
- En hy vind dit dan ook by die Here.
# En as ons nou sou vra: Maar hoekom kon Dawid wel sy troos en krag by die Here vind?, dan is die antwoord seker eintlik heel eenvoudig:
- Dis omdat die Here so groot is.
- En volgens Ps. 139 was daar veral 3 dinge waarin Dawid die grootheid van die Here gesien het.
- Hy sien dit in die feit dat die Here alles van hom weet.
- En hy sien dit in die feit dat die Here oral by hom is.
- En hy sien dit in die feit dat die Here sy Skepper is.
# Kom ons kyk dan eers wat sê Dawid daaroor dat die Here alles van hom weet.
- In vers 1 en 2 van die psalm sê hy: “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.”
- Vir die Here kan ‘n mens niks wegsteek nie.
- Selfs nie jou diepste gevoelens en jou grootste geheime kan jy vir Hom wegsteek nie.
- Vir mense kan jy wel baie wegsteek.
- Jy kan ‘n front voorhou, of ‘n masker dra.
- Jy kan jouself anders voordoen as wat jy werklik is.
- En jy kan dinge in die geheim of agter toe deure doen sodat ander mense nie daarvan weet nie.
- Maar die Here sien dwarsdeur ons.
- Vir Hom kan ons letterlik niks wegsteek nie.
- En aan die eenkant kan dit ‘n mens amper ‘n bietjie bang maak.
- Want nie alles in jou lewe of in jou gedagtes is dinge waarop jy trots is nie.
- En dit kan jou dalk bang maak dat die Here ook daarvan weet.
- Maar aan die anderkant is dit tog ook weer ‘n troos dat ek niks van Hom kan wegsteek nie, want dit beteken Hy ken my en Hy verstaan my so deur en deur.
- Soos geen mens my kan ken en verstaan nie, so ken en verstaan Hy wel vir my.
- En is dit nie wat almal van ons nodig het nie: iemand wat my werklik ken en verstaan?
- Ek het iemand nodig wat verstaan as ek bly is, of hartseer, of moedeloos, of wat die geval ook al mag wees.
- En so het die Here vir Dawid deur en deur verstaan.
- En Dawid het geweet: ek kan niks vir Hom wegsteek nie.
- Maar dit was ook sy troos: In my nood is daar Iemand wat my werklik ken en verstaan.
- In my nood is daar Iemand wat alles van my weet, en wat daarom ook vir my in alle omstandighede kan bystaan.
- In sy grootheid en kennis van my, kan die Here my bystaan.
# Maar dan is daar ook ‘n tweede ding waarin Dawid die grootheid van die Here gesien het.
- En dit is in die feit dat die Here oral by hom was.
- ‘n Mens kan letterlik aan enige plek of situasie dink en weet: die Here is daar teenwoordig.
- Dawid noem in die psalm verskillende plekke en dinge vir ons op.
- Hy noem die hemel en die doderyk.
- Hy noem ook die ooste en die weste en die donker van die nag.
- Maar nêrens is daar ‘n plek of ‘n situasie waar die Here nie teenwoordig is nie.
- En vir ons as mense is dit natuurlik onbegryplik dat dit so kan wees.
- Maar dit is waar, want deur sy Gees is die Here oral by ons.
- En vir Dawid was dit tot groot troos om dit te weet.
- Hy kon vir homself sê: Selfs in die grootste gevaar is die Here by my.
- Deur sy Gees is Hy oral en altyd by my teenwoordig.
- En daarom is dit nie vir my nodig om bang te wees nie, selfs nie vir my gevaarlikste vyand nie.
- Daarom kan ek sê, soos Dawid in Ps. 18:30 sê: “Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.”
# Ek dink ons weet self wat dit baie keer vir ons beteken om te weet daar is iemand anders by ons.
- Selfs net die nabyheid van ‘n ander mens is gewoonlik vir ons tot troos en versterking.
- En hoeveel te meer kan daar nie vir ons ook troos en krag in die teenwoordigheid van die Here by ons wees nie.
- En wat ons ook moet onthou, is dat ‘n engel reeds voor Jesus se geboorte vir Maria gesê het: “Hulle sal Hom Immanuel noem.”
- Dit beteken: God by ons!
- Jesus was God by ons.
- In Hom was God self by ons teenwoordig en kon ons ook sien hoe lief God ons werklik het.
- Maar ook vandag, in die tyd na Jesus se hemelvaart, is God steeds by ons deur die Heilige Gees.
- Ja, Hy is by ons en woon ook in ons deur sy Gees.
- En watter groter troos en versterking kan daar vir ons wees as dit: dat God oral by ons en in ons is deur sy Gees?
# In Ps. 139 is dit baie duidelik dat Dawid verwonderd gestaan het voor die grootheid van ons God.
- En terselfdertyd het Hy sy troos en krag in die grootheid van God gevind.
- In die feit dat die Here alles van hom weet.
- En ook daarin dat die Here oral by Hom was.
- Maar dan is daar nog iets belangriks wat Dawid vir ons oor die grootheid van God in die psalm onderstreep.
- Hy sê in vers 13 en 14: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike manier geskep.”
- Dawid het besef: die Here is ook sy Skepper.
- Die Here het hom “gevorm en aanmekaargeweef,” soos hy dit stel.
- En Dawid is verwonderd daaroor.
- Maar die Here is mos ook die Skepper van die hele wêreld, en nie net van die mense in die wêreld nie.
- En die grootheid van die skepping vervul ‘n mens met verwondering: die bome, en blomme, en berge, en oseane, en allerhande soorte diere.
- Dink maar aan dit wat ‘n mens in natuurprogramme op TV kan sien.
- Baie dinge in die skepping slaan eenvoudig jou asem weg.
- Maar dan ook die mens, wat na God se beeld geskep is, die mens is so wonderlik geskape.
- En nou is dit ook nog asof God se skeppingswerk voortgaan met elke nuwe baba wat gebore word.
- Dit is alles so ‘n absolute wonderwerk!
- En toe Dawid oor ons Skepper nagedink het, het hy terdeë besef: die Here is wonderlik.
- Ons Skepper is onbegryplik wonderlik!
- En Hy is die Een wat gesorg het dat ek vandag hier is.
- En as Hy alles in die skepping so wonderlik kon skep, dan kan Hy my tog ook help met my probleme!
# Dawid het troos en krag gevind in die grootheid van die Here.
- Sy vyande kon maar weet: Dawid was nie in die eerste plek in hulle hande nie, maar in die hande van die alwetende en alomteenwoordige Skepper van die heelal.
- Dit was Dawid se troos.
- Dit was sy bron van krag.
- My lewe is in die hande van die grote God.
# Maar dit bring ons nou by onsself.
- Ons kan net soos Dawid ons troos en krag in die grootheid van God vind.
- En dit maak nie saak met watter probleme of omstandighede ons dalk sukkel of worstel nie.
- Dalk is dit siekte, of hartseer, of eensaamheid, of probleme in ons verhoudinge met ander mense, of vrees vir die toekoms.
- Dit maak nie saak waarmee ons dalk vandag worstel nie, ons kan, soos Dawid, ook ons troos en krag in die grootheid van die Here vind.
- En die Here se grootheid is natuurlik ook baie duidelik sigbaar in sy liefde vir elke mens.
- Hierdie liefde van Hom was juis so duidelik sigbaar toe die Vader sy enigste Seun in ons plek aan die kruis op Golgota laat sterf het.
- So ook in die grootheid van sy liefde is daar vir ons soveel troos en krag.
- In die feit dat ons sy geliefde skepsels is, is daar vir ons soveel troos en krag.
- Kom ons hou net elke dag styf daaraan vas!
# Maar dan is daar nog ‘n laaste ding in Ps. 139 wat ek graag wil onderstreep.
- En dit gaan oor Dawid se verhouding met die Here.
- Dis baie duidelik in die psalm dat Dawid in die regte verhouding met die Here wou staan.
- Dis baie duidelik dat Hy die wil van die Here wou doen.
- En daarom kry ons so ‘n aangrypende versoek van Dawid, in die laaste twee verse van die psalm.
- Hy vra daar vir die Here: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.”
- Dawid vra die Here om oor sy lewe te oordeel en om dit wat verkeerd is in sy lewe aan hom uit te wys.
- Hy vra ook dat die Here hom op die regte pad, op die “beproefde pad” sal lei.
- En so kan ons ook ons lewens aan die Here oorgee, sodat Hy ons ook op die “beproefde pad” kan lei.
- Deur sy Woord en deur sy Gees wil Hy dit doen.
- Kom ons vertrou Hom dan daarmee en gaan leef met dié troos: Die Here neem my in sy grootheid saam op die regte pad.
- Deur sy Woord en deur sy Gees lei Hy my elke dag.
- En op hierdie pad, saam met Hom, die alwetende en alomteenwoordige Skepper van die wêreld, het ek niks te vrees nie.
AMEN