HAND. 16:11-40 (15/6/25)

 

#  Die Bybel is, op een manier gesien, die boek oor die groot dade van God.

  • Dit vertel vir ons van die wonderlike skepping, wat God daar gestel het.
  • Dit vertel ook van die klein volkie Israel wat die Here vir Hom as volk gekies het, en van die groot dinge wat Hy in Israel se geskiedenis gedoen het.
  • Die Bybel vertel ook van Jesus Christus, ons Verlosser, wat uit hierdie klein volkie Israel gebore is, en van Jesus se dood en opstanding waardeur ons gered is.
  • En so is die Bybel die boek oor die groot dade van God.

#  Maar baie belangrik: ons sien in die Bybel ook hoe die groot dade van God in die lewens van gewone mense afspeel.

  • Ons sien hoe gewone mense se lewens totaal verander word deur die werk van die Here.
  • Wanneer Paulus en sy medewerkers in Filippi besoek aflê, word ten minste twee vroue en een man se lewens totaal verander.
  • Lidia is die eerste inwoner van Filippi van wie ons vanoggend gelees het.
  • Sy het in daardie stadium reeds die Joodse geloof aangeneem.
  • Maar wat gebeur wanneer Paulus vir haar van Jesus vertel?
  • Vers 14 wat ons gelees het, sê: “Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak.”
  • So, die Here het deur sy Gees in Lidia se hart gewerk om haar oop en ontvanklik te maak vir wat Paulus sou sê.
  • En so het dit gebeur dat Lidia die goeie nuus oor Jesus se verlossingswerk aanvaar het.
  • Sy kom tot bekering.
  • Sy kom tot geloof, en word gedoop, en word die eerste persoon op Europese bodem wat ’n Christen word.
  • Alles deur die werking van die Here self in haar binneste.
  • ’n Groot daad van God verander Lidia se lewe vir altyd.

#  Die tweede vrou van wie ons gelees het, was ’n slavin wat ’n waarsêersgees gehad het.

  • En ons lees dat haar eienaars geld gemaak het uit haar probleem.
  • Hulle het haar gebruik om die toekoms vir hulle kliënte te voorspel.
  • Maar ook hierdie vrou se lewe word totaal verander terwyl Paulus en sy medewerkers daar in Filippi is.
  • Want Paulus beveel die gees in haar om uit haar uit te gaan.
  • Hy sê vir die gees: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”
  • En onmiddellik is sy bevry van die gees.
  • Deur die kragtige werking van die Here self word sy bevry.
  • En sy ontvang eintlik haar lewe weer terug.
  • Sy kan nou weer mens wees – ’n gewone, gesonde, normale mens.
  • ’n Groot daad van God het dit vir haar moontlik gemaak.

#  En dit bring ons by die derde persoon wie se lewe totaal verander het tydens Paulus-hulle se besoek aan Filippi.

  • En dit is die tronkbewaarder.
  • Toe die aardbewing plaasvind, en die tronkdeure oopgaan, was hierdie man skielik in ’n groot krisis.
  • Vers 27 wat ons gelees het, sê: “Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap.”
  • Hier was nou ’n man in ’n groot krisis.
  • Ek weet nie of hy veronderstel was om die hele tyd wakker te wees nie.
  • Maar hy skrik wakker en wil sy eie lewe neem, omdat hy verantwoordelik was vir die veilige bewaking van Paulus en Silas.
  • En hier lyk dit dan nou of sy gevangenes ontsnap het.
  • Maar ons ken die res van die verhaal.
  • In die tronkbewaarder se krisis gebruik die Here vir Paulus om hom na Jesus toe te lei.
  • Paulus kry die geleentheid om vir die man te kan sê: Om gered te word, moet jy in Jesus glo.
  • Om by God uit te kom, en sy kind te word, moet jy in Jesus glo.
  • En sonder twyfel sou Paulus vir hom verduidelik het hoe Jesus na die aarde toe gekom het, en kom ly het, en aan ’n kruis kom sterf het om ons sonde op Hom te neem.
  • En toe hierdie man die evangelie in geloof aanvaar, is hy en al sy huismense gedoop.
  • Die Here het sy krisis gebruik om hom nader te trek.
  • Die Here het sy krisis gebruik om sy lewe totaal te verander.

#  En so vertel Hand. 16 vir ons, binne die bestek van net twintig of dertig verse, van ’n klomp groot dade van God in Filippi.

  • En dis gewone mense wie se lewens die Here daar heeltemal laat omdraai het.
  • Lidia s’n, en die slavin s’n, en die tronkbewaarder s’n.
  • Deur die werking van die Gees van God word hulle almal se lewens nuut.
  • En as Paulus later ’n brief skryf aan die gemeente daar in Filippi het hy sekerlik hierdie mense se gesigte voor hom gesien, en onthou hoe die Here in hulle lewens gewerk het.

#  Maar nou, wat van die groot dade van God in ons eie lewens?

  • Sy groot dade het nie opgehou na die tyd van die Bybel nie.
  • Dit gaan nog elke dag voort.
  • En daarom is dit so belangrik dat ons dit ook in ons eie lewens moet raaksien.
  • So maak die Here mos ook vir ons ontvanklik vir sy woorde, soos Hy dit in Lidia se geval gedoen het.
  • Dit gebeur bv. dat Hy ons hart oopmaak om ’n sekere boodskap uit sy Woord te kan ontvang.
  • Jy sit dalk alleen by die huis met die Bybel, of jy sit hier in die kerk en luister na die verkondiging van die Woord, en skielik maak iets net vir jou sin.
  • Skielik besef jy net dat dit die Here self is wat met jou praat.
  • En jy word dalk oorweldig deur sy liefde, of deur ’n besef van jou sonde, of jy word oortuig van iets wat jy moet doen.
  • Soos dat jy jou lewe vir die Here moet gee, of dat die Here jou wil gebruik om iets vir Hom te doen.
  • Deur sy Gees berei die Here jou self voor om ontvanklik te wees vir sy Woord.

#  En dan, dan is daar ook nog die krisisse waarin ons soms in ons lewe beland.

  • Soos in die tronkbewaarder se geval kan ons ons ook baie skielik in ’n krisis bevind.
  • Dalk is dit ’n ernstige siekte wat jou tref, of iemand naby aan jou wat sterf.
  • Dalk is dit finansiële probleme, of probleme by die werk, of dalk ’n verhoudingskrisis – met jou man of vrou, of met ’n kind of met ’n ouer van jou.
  • Maar krisisse is deel van ons lewe.
  • En dit kom baie keer skielik op ons af.
  • Maar die wonderlike ding is dat die Here ons krisisse kan gebruik!
  • Dat Hy deur ons krisisse kan werk en vir ons dinge kan leer wat ons andersins nooit sou geleer het nie.
  • Daarom dat mense soms na ’n krisis sal sê: Dit was sleg en dit was moeilik, maar ek dank die Here vir wat ek deur hierdie krisis geleer het.
  • Ek dank Hom vir hoe Hy hierdie krisis gebruik het om my te verander.

#  Die Here doen groot dade in ons lewens.

  • En Hy doen dit elke dag.
  • En ons kan Hom maar net daarvoor loof en prys en dank.
  • En vir ander daarvan vertel.
  • Ons moet tog getuies wees van sy groot dade in ons lewens en hierdie getuienis van ons met ander deel.
  • En nou dink ek vanoggend ver terug aan die getuienis van ’n oud-bendeleier, wat ek op ’n keer by ’n Sinode-sitting gehoor het.
  • Hierdie man se naam was Denzil Moses.
  • En hy het by die Sinode vertel van sy lewe in ’n bende op die Kaapse Vlakte en van hoe hy op ’n dag deur sy eie broer, wat in ’n ander bende was, in die kop geskiet is.
  • Hy het juis vir die Sinodegangers gewys waar die koeël aan die een kant van sy kop ingegaan het en aan die ander kant weer uitgegaan het.
  • Maar Denzil het oorleef, en voortgegaan met sy bendebedrywighede.
  • En ’n tyd later, toe hy by ’n verkeerslig ’n motor wou kaap, het sy lewe begin verander.
  • Toe hy die motor se deur oopruk en inspring en sy vuurwapen teen die bestuurder van die motor se kop druk, het hy aanvaar dat die man doodbang vir hom sou wees.
  • Maar dit was toe glad nie die geval nie.
  • In plaas van bang wees vir Denzil en vir die feit dat Denzil hom kon doodmaak, sê die man toe vir hom dat hy glad nie bang is nie omdat hy ’n kind van God is.
  • En hy vertel verder vir Denzil van die liefde wat die Here ook vir hom, vir Denzil, het.
  • En hierdie gebeurtenis lei toe tot Denzil se bekering.
  • En daarna was hy ’n belydende Christen wat ander bendelede help om ook by die Here uit te kom.
  • Daarna was hy ’n getuie van die groot dade van God, wat ook vandag nog plaasvind.

#  Maar kom ons gaan net weer terug na wat die Here in Filippi gedoen het.

  • Paulus het Filippi besoek, en hy was daar toe Lidia en die tronkbewaarder tot bekering gekom het, en die slavin van die waarsêersgees bevry is.
  • Maar Paulus kon nie lank daar vertoef nie, en het weer verder gereis.
  • Maar dit het nie beteken dat die werk van die Here in Filippi tot stilstand gekom het nie.
  • Nee, daar het ’n klein gemeente in Filippi ontstaan.
  • En later het Paulus ’n brief aan hierdie gemeente geskryf, wat behoue gebly het en in die Bybel opgeneem is: die brief aan die Filippense.
  • En met hierdie brief het Paulus die gelowiges daar in Filippi bemoedig, en geleer, en gehelp om te kan groei in hulle verhouding met die Here.
  • So die werk van die Here het op verskillende maniere daar in Filippi voortgegaan.
  • En selfs vandag gebruik die Here nog steeds die brief aan die Filippense om mense se lewens te verander, ook om ons lewens te verander.

#  Die wêreld waarin ons leef, is vol probleme.

  • En vir baie mense loop dinge sleg skeef.
  • Ook kinders van die Here ervaar lyding en swaarkry in ons wêreld en in ons omgewing.
  • Want dinge soos geweld en misdaad en armoede en siekte en nog baie ander slegte dinge is aan die orde van die dag.
  • Maar die Here wil ons vanoggend daaraan kom herinner dat Hy groot dinge gedoen het in die verlede en ook dat Hy nog elke dag groot dinge doen.
  • Ons lees daarvan in die Bybel, maar ons sien dit ook in ons eie lewens en in die lewens van ander mense.
  • Mag die Here ons oë steeds hiervoor oopmaak.
  • Mag Hy ons steeds help om sy kragtige werking te kan raaksien.
  • En al werk Hy nie altyd soos ons dink Hy behoort te werk nie, mag Hy ons die vaste geloof en vertroue gee dat Hy weet wat Hy doen – en dat Hy besig is om, soos Paulus dit in Rom. 8 stel, alles ten goede te laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.
  • Deur sy groot dade is die Here besig om alles vir sy kinders ten goede te laat meewerk.
  • Aan Hom al die lof en al die eer!

AMEN

css.php