1 TIM. 1:12-17 (21/9/25)

 

#  Die woord “genade” is ’n woord wat ’n mens kort-kort in die Bybel raakloop.

  • Ons gebruik dit seker ook almal as deel van ons eie woordeskat.
  • Maar wat beteken “genade” nou eintlik?
  • Dalk help dit ons as ons sommer net eers dink aan ’n doodgewone spreekwoord, soos wanneer ons sou sê: Ons ou hond by die huis eet nou genadebrood.
  • En dit beteken mos die hond kan nie meer iets nuttigs vir ons doen nie, soos om ons te beskerm teen inbrekers nie.
  • Hy het te oud geword om te doen waarvoor ons hom dalk ook oorspronklik gekry het.
  • Maar ons gee hom nog sy kos, en ons noem dit genadebrood.
  • En so is genade dan iets wat ons nie kan verdien nie, amper soos ’n ou hond.
  • Genade is iets wat ons net kan ontvang.
  • Eintlik ’n geskenk.
  • En Paulus praat dan ook hier in 1 Tim. 1 oor God se geskenk van genade aan ons.
  • Die Here, sê Paulus, het hom uit genade gered.
  • Hy het dit glad nie verdien nie.
  • Sy verlossing is ’n geskenk wat hy uit die hand van die Here ontvang het.

#  Maar voor ek meer sê oor genade, wil ek tog ook iets sê oor ongenade.

  • Ek het gewonder of daar wel so ’n woord in die woordeboek is.
  • Maar hy is wel daar.
  • En saam met die woord in die woordeboek is daar ongelukkig ook ’n werklikheid soos on
  • En hoekom sê ek so?
  • Omdat daar in ons wêreld en samelewing bitter min dinge is wat ons verniet kry.
  • Genadebrood is baie skaars in ons samelewing.
  • Omtrent oral en altyd moet jy dinge verdien.
  • Moet jy jou kant bring.
  • Moet jy goed presteer.
  • Die skrywer Philip Yancey het vroeër in een van sy boeke vertel van ’n motormaatskappy in die VSA wat op ’n tyd al sy werknemers op ’n skaal van 1 tot 27 gegradeer het.
  • Dit het begin by sekere klerke en sekretaresses wat by graad 1 lê, en dan loop dit op tot by die voorsitter van die maatskappy se raad, wat by graad 27 lê.
  • En om bv. vir ’n sekere soort parkeerplek te kwalifiseer, moes jy eers vorder tot by graad 9.
  • By graad 13 kry jy ’n interkom in jou kantoor.
  • En by graad 16 het jou kantoor ook ’n privaat badkamer.
  • Maar die hele tyd weet jy presies waar jy op hierdie leer van 1 tot 27 staan, en die ander werknemers weet ook hoe goed of hoe sleg jy al gevorder het.
  • In so ’n ongenadige organisasie is daar niks verniet te kry nie, geen genade nie.
  • Alles moet verdien word.

#  En so sou ons vanoggend nog ander voorbeelde ook kon opnoem van die ongenadige samelewing waarin ons leef.

  • Dink ook maar aan die verskriklike hoë waarde wat in ons samelewing aan mense se fisiese voorkoms gegee word, veral vroue s’n.
  • En ’n baie ongenadige ideaal word dikwels aan vroue voorgehou.
  • Soos bv. die modelle wat in ons tydskrifte verskyn of die aktrises van Hollywood.
  • En hierdie ongenadige ideaal kan soms meisies en vroue daartoe dryf om so verkeerd en so min te eet dat hulle siek word daarvan.
  • Maar daar is in ons samelewing ’n ongenadige standaard van hoe jy moet lyk, en veral dan van hoe vroue moet lyk.
  • En dan word daar vergeet dat daar soveel ander dinge is wat belangriker is as ’n mens se fisiese voorkoms, dinge soos jou geaardheid, en jou menseverhoudinge en jou geloof.

#  Maar ek dink ek het eers genoeg gesê oor die ongenadige samelewing waarin ons leef.

  • Behalwe dat die ongenade van die samelewing ook kan deurslaan in die kerk!
  • En dan kan mense ook die kerk as ’n ongenadige plek beleef.
  • ’n Plek waar ’n mens ook moet presteer of uitblink om raakgesien en aanvaar te word.
  • En dit sal bitter jammer wees as mense die kerk, of ’n sekere gemeente, so ervaar.
  • Maar dit kan ongelukkig wel so gebeur.
  • En daarby dink ek dat daar dan ook nog die verdere gevaar is dat ons aan God kan dink as ’n ongenadige God.
  • Dan word God vir ons Iemand by wie ons ook net die hele tyd moet presteer, amper soos vir die baas by die werk.
  • Dan word God vir ons Iemand by wie ons nie vir een oomblik kan ontspan nie.
  • Iemand wat die hele tyd oor ons skouer loer om te kyk waar Hy ons kan uitvang en waar ons te kort skiet.
  • Dan word God vir ons ’n ongenadige God, net soos ons samelewing in so baie opsigte ’n ongenadige samelewing is.

#  Maar nou, baie belangrik, wat sê Paulus vanoggend vir ons van ons God?

  • Dat Hy ‘n genadige God is!
  • Paulus sê in vers 13 wat ons gelees het dat God hom genadig was.
  • En in vers 14 sê hy: “Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.”
  • ’n Mens sien amper voor jou die prentjie van iemand wat so baie geskenke ontvang dat hy of sy dit nie alles gelyk kan vashou nie.
  • En so, sê Paulus, het die Here hom met sy genade oorlaai.
  • En dan, in vers 15 en 16 vertel Paulus van die grootste bewys van God se genade.
  • Hy vertel van Jesus.
  • En hy sê: “Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.  Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon …”

#  Die goeie nuus vanoggend is: Ons het ’n genadige God!

  • Ons het ’n God wat heeltemal anders is as die koue ongenade wat ons so dikwels in ons samelewing aantref.
  • Ons het nie ’n God wat ons die hele tyd evalueer en gradeer, en dan laat voel ons maak dit tog nie regtig nie.
  • Nee, ons het nie so ’n God nie.
  • Selfs vir iemand soos Paulus was daar in die genade van God ’n plek, Paulus wat mos in vers 13 erken dat hy vroeër die Here “belaster” en “vervolg” en “beledig” het.
  • Hy het vroeër vir Jesus verwerp, en sy volgelinge in die tronk laat gooi.
  • Maar daar was selfs vir hom ook plek in die genade van God.
  • En daarom sê ek maar weer: Ons het ’n genadige God, en ons mag nie toelaat dat iets of iemand ons anders oor Hom laat dink nie.

#  Nou, ek het vroeër reeds die naam van die skrywer Philip Yancey genoem.

  • En die manier waarop hy die genade van die Here beskryf, is seker die mooiste beskrywing daarvan wat ek nog ooit raakgeloop het!
  • Hy gebruik eintlik twee stellings om die Here se genade te beskryf.
  • Eers sê hy: Daar is niks wat ons kan doen wat kan maak dat God ons méér sal liefhê as wat Hy ons reeds het nie.
  • Maar daarmee saam sê Yancey dan: Daar is ook niks wat ons kan doen wat kan maak dat God ons minder sal liefhê as wat Hy ons reeds liefhet nie.
  • Wat beteken dit prakties?
  • Dit beteken my optrede kan niks verander aan die Here se genade nie.
  • Nie my goeie dade, of my toewyding, of die krag van my geloof, niks kan maak dat die Here my meer liefhet as wat Hy my reeds liefhet nie.
  • Maar net so kan bv. my verkeerde gedagtes of woorde of dade, m.a.w. al my sondes en mislukkings, ook nie maak dat die Here my minder liefhet as nou nie.
  • Letterlik niks wat ek kan doen, positief of negatief, kan God se genade vir my verander nie.
  • Dink maar vir ’n oomblik aan enige goeie ding wat ons vandag kan doen, of aan die slegste ding wat ons al in ons lewe aangevang het – nie een van hierdie dinge kan God se genade vir ons laat verander nie.
  • Dit bly onveranderd, net soos die kruis waaraan Jesus vir ons sonde gesterf het onveranderd in die geskiedenis op Golgota bly staan.

#  Die Bybel is vol van die boodskap van God se genade, sy genade juis ook vir mense wat baie ernstig teenoor Hom oortree het, en Hom diep teleur gestel het.

  • Dink maar uit die Ou Testament aan die voorbeeld van Jakob.
  • Hy was die man wat sy broer Esau en ook sy blinde pa Isak bedrieg het.
  • Sy naam beteken mos ook “bedrieër.”
  • Maar deur die genade van God word Jakob een van die aartsvaders van Israel.
  • En dink aan koning Dawid.
  • Hy pleeg owerspel met Batseba, die vrou van sy onderdaan Uria.
  • En vir Uria stuur Dawid na die gevaarlikste deel van die gevegsfront sodat Uria daar kan sterf en Dawid vir Batseba as vrou kan kry.
  • Maar deur die genade van God bly Dawid koning van Israel.
  • En later word Jesus uit sy nageslag gebore.
  • En as ons aan die Nuwe Testament dink, is daar die voorbeeld van Paulus, wat so oorlaai is deur die genade van God.
  • Paulus wat so ’n groot vervolger van die kerk was, hy word deur die genade van God seker die grootste sendeling wat die kerk ooit gehad het.
  • En ook die skrywer van ’n hele aantal briewe wat in die Bybel opgeneem is.
  • En dink aan Petrus.
  • Hy het op ’n keer gesweer dat hy Jesus nie ken nie.
  • Hy het Jesus in die openbaar verloën.
  • Maar deur die genade van God kon Petrus later teenoor Jesus bely en sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

#  Die erge dinge wat mense soos Jakob en Dawid en Paulus en Petrus aangevang het in hulle lewens, kon nie maak dat die Here hulle minder liefhet nie.

  • Maar dít is hoe sy genade werk!
  • En daarom is ek so bly dat ek vanoggend hier kan staan as ’n boodskapper van die genadige God.
  • En dat ek in ’n ongenadige wêreld en samelewing aan die genade van God kan vashou.
  • Dit is so ’n verligting om te weet: Daar is niks wat ek dan doen wat God se genade vir my sal laat verander nie.
  • En daarom kan ek rus in sy genade.
  • Kan ek my daaraan oorgee.
  • En kan ek my daarin verbly.

#  Maar nou is daar nóg iets wat ek dink oor God se genade gesê moet word.

  • En dit is dat ons tog ook nie net daarin moet rus nie!
  • Hoe belangrik dit ookal is dat sy genade ons heeltemal tot rus moet bring, is dit nie al wat sy genade met ons moet doen nie.
  • Dit moet ons ook laat oorgaan tot aksie!
  • Soos 1 Pet. 4:10 dit stel: Ons moet “goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God” wees.
  • Bedienaars van die genade – dit is wat ons nou moet wees.
  • Ons kan maar sê: “kelners” van God se genade, wat hierdie genade gedurig loop en uitdeel in ’n ongenadige samelewing.
  • En natuurlik is dit so dat ons as gelowiges baie dinge in die samelewing en in ons wêreld nie drasties sal kan laat verander nie.
  • Veral seker nie in die sakewêreld of in die politiek wat so verskriklik hard en kompeterend kan wees nie.
  • Maar ons kan tog as gelowiges die genade van God help indra in baie ongenadige plekke en situasies.
  • In ongenadige huise en skole en kantore en fabrieke en verhoudings.
  • En ons kan dit doen deur werklik met die liefde van ons Here teenoor ander op te tree.
  • Met sy liefde, al behandel die ander ons ook koud en ongevoelig.
  • Ons kan deur óns liefdevolle optrede en gesindheid mense help om te beleef dat ons werklik ’n genadige God het.
  • En om te weet dat hulle ook maar in sy genade kan rus.

#  “Ons Here het my oorlaai met sy genade.”

  • So het Paulus gesê in vers 14 wat ons vanoggend gelees het.
  • En ek glo elkeen van ons wat hier saam is, kan dit beaam.
  • Die Here oorlaai ons werklik met sy genade!
  • Kom ons prys Hom dan ook nou daarvoor in die woorde van die lied wat so bekend is reg oor die wêreld.
  • Ons sing “Genade, onbeskryflik groot” – al 4 die verse, van Liedboek nr. 510.
  • Ek lees net die eerste vers: …

 

css.php