HAND. 8:26-40 (2/5/21)

#  ’n Mens kan van verskillende kante na die verhaal kyk wat ons nou gelees het.

  • Jy kan dit uit verskillende gesigshoeke bekyk.
  • En ek wil graag hê dat ons net vir ’n oomblik daarna sal kyk deur die oë van elkeen van die drie persone wat rolspelers in hierdie verhaal was.
  • En wie was hulle?
  • Die eerste een was ’n soeker na God, die tweede een ’n medewerker van God, en die derde een die Gees van God.

#  So, kom ons begin by die soeker na God.

  • Wat het ons van hom gelees hier in Hand. 8?
  • Vers 27 beskryf hom as ’n Etiopiër wat ’n hoë pos aan die hof van die koningin van Etiopië beklee het.
  • Hierdie man was met ander woorde nie ’n gebore Jood nie.
  • Hy was ’n man uit Afrika, die vasteland waarop ons ook woon!
  • Maar hy het tog na Jerusalem toe gegaan om die Here te aanbid.
  • So waarskynlik het hy die Joodse geloof aangeneem
  • Maar tog kom ons agter dat hy eintlik nog ’n soeker na God was.
  • Waar hy nou op pad terug is na Etiopië, so lees ons, is hy besig om uit die boek van die profeet Jesaja te lees.
  • Maar wanneer Filippus vir hom vra: “Verstaan u wat u lees?” dan sê hy in vers 31: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”
  • En so kom ons agter dat hierdie man nog ’n soeker na God was.
  • Hy was nog iemand met baie vrae en onsekerheid in sy gemoed.
  • Hy was iemand wat eintlik nog in die duister rondgetas het, soos baie mense in die wêreld ook vandag in die duister rondtas.
  • So, die Etiopiër was nog ’n soeker na God.

#  Maar hoe lyk hierdie verhaal van Hand. 8 deur die oë van ’n medewerker van God?

  • En dit is nou Filippus.
  • Hy is iemand wat reeds die Here gevind het.
  • Of beter gestel: Hy is iemand wat reeds deur die Here gevind is.
  • En daarom kon die Here hom nou as ’n medewerker in sy diens gebruik.
  • Daarom kon die Here hom stuur om ook vir die Etiopiër die regte pad aan te wys.
  • Om die Skrifgedeelte uit Jesaja, wat vir die Etiopiër so duister was, vir hom verstaanbaar te maak.
  • Die Here kon vir Filippus gebruik om aan die Etiopiër te verduidelik dat die skaap of die lam waarvan Jesaja praat, eintlik Jesus was.
  • “Soos ’n skaap is hy gelei om geslag te word,” sê Jesaja, “en soos ’n lam wat stil is as hy geskeer word, het hy nie sy mond oopgemaak nie.”
  • En toe Filippus vir die Etiopiër verduidelik dat Jesaja met hierdie voorspelling na Jesus verwys het, toe gaan daar vir die man uit Afrika ’n lig op.
  • Toe ontmoet hy die Lam wat vir ons sonde geslag is.
  • Toe ontmoet hy vir Jesus self.
  • En so vind ’n soeker na God toe vir God.
  • Of om dit weer beter te stel: So vind en red God nog ’n soekende mens.
  • Maar in die proses gebruik Hy vir Filippus as ’n medewerker in sy diens.

#  So ons het nou gesien hoe Hand. 8 lyk deur die oë van ’n soeker na God, en deur die oë van ’n medewerker van God.

  • Maar kom ons kyk ook nog hoe lyk hierdie verhaal deur die oë van die Gees van God.
  • Dit is die Gees van God wat deur ’n engel vir Filippus aansê om op die stil pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan loop.
  • En toe die wa van die Etiopiër verbykom, is dit ook die Gees wat vir Filippus stuur om saam met die wa te gaan loop.
  • En dan, wanneer Filippus die geleentheid kry om met die man te praat, is dit ook die Heilige Gees wat deur Filippus werk.
  • Wat deur Filippus die man help om Jesus te ontmoet en te leer ken.
  • En so is dit die Gees van God wat nóg iemand vind en hom deel maak van God se koninkryk.
  • So is dit die Gees van God wat nóg ’n wonderwerk laat plaasvind waardeur ’n verlore mens gered word.

#  So, in die verhaal wat ons vanoggend gelees het, was daar ’n soeker na God, ’n medewerker van God, en die Gees van God.

  • En so kry ’n mens dit mos vandag ook nog.
  • Ook vandag is daar mos mense wat na God soek.
  • En God gebruik ook nog steeds gelowiges as sy medewerkers om die soekers na Hom toe te lei.
  • En die hele tyd is dit eintlik die Gees van God wat aan die werk is en wat mense red vir God se koninkryk.
  • Die hele tyd is God self, deur sy Gees, besig om in liefde uit te reik na soekers van alle lande en tale en nasies en kulture.

#  Maar waar kom elkeen van óns nou in die prentjie? sou iemand dalk wou vra.

  • Dit lyk vir my elkeen van ons wat reeds deur die Here gevind en gered is, moet veral mooi kyk na Filippus se optrede hier in Hand. 8.
  • Filippus is eintlik vir ons almal ’n voorbeeld, want hy was oop en sensitief vir wat die Here deur hom wou doen.
  • En toe die opdrag van die Here kom om op die pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan loop, was Filippus gehoorsaam daaraan.
  • En toe die verdere opdrag kom om saam met die Etiopiër se wa te gaan loop, toe is Filippus weer eens gehoorsaam.
  • En hy is só ywerig om vir die Here te werk dat vers 30 sê hy het na die wa van die Etiopiër gehardloop.
  • En toe Filippus saam met die man op die wa is, gebeur die belangrike ding.
  • Filippus verkondig die evangelie oor Jesus aan hom.
  • Hy vertel vir hom die goeie nuus dat Jesus die Lam van God is.
  • Dat Jesus dié Een is wat met sy bloed vir ons sonde betaal het.
  • En dit beteken mos ook dat Filippus self die boodskap van die evangelie goed geken het, en dat hy ook vir Jesus goed geken het.
  • Daarom kon hy hierdie soeker help om by Jesus uit te kom.
  • En in al hierdie dinge wat ons van Filippus lees, is hy dan vir ons almal ’n voorbeeld om na te volg.

#  Die hele boek Handelinge wys duidelik vir ons hoe die Gees van God die evangelie al verder in die wêreld laat uitgaan het.

  • En Jesus het mos ook reg aan die begin van Handelinge, in Hand. 1:8, vir sy dissipels gesê: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
  • Julle sal my getuies wees, het Jesus gesê.
  • Met ander woorde: Julle sal medewerkers in my diens wees wat vir ander van My en my liefde vertel.
  • En dít is presies wat Filippus gedoen het toe hy langs die Etiopiër gaan sit het en hom gehelp het om vir Jesus te leer ken.
  • Hy was ’n getuie en ’n medewerker van God.
  • En dít is waarvoor die Here ons ook vandag nog wil gebruik: as sy getuies en medewerkers.

#  Iemand het gesê: Die evangelie, die blye boodskap van verlossing, is soos ’n aflosstokkie.

  • En dit beteken dat elkeen van ons wat reeds hierdie aflosstokkie ontvang het, dit ook moet aangee vir ’n volgende persoon.
  • Ons mag nie die stokkie net vir onsself hou nie.
  • Ons móét dit aangee.
  • En ons móét ook help dat hierdie aflosstokkie dwarsoor die wêreld aangegee word, ook na soekers in ander lande en kulture.
  • Of soos Jesus gesê het: Tot in die uithoeke van die wêreld.
  • En daarom moet ons ook as gemeente hulp verleen aan hulle wat as sendelinge in ander lande en kulture werk.
  • Ons moet soveel as moontlik hulp aan hierdie sendelinge verleen, en natuurlik ook vir hulle bid.
  • Hulle is juis baie keer in baie moeilike omstandighede besig om die aflosstokkie aan te gee.

#  Maar die vraag is ook: Hoe gee ék die aflosstokkie van die evangelie hier in die Paarl aan?

  • Hoe doen ek dit waar ek woon, of werk, of ontspan, of skoolgaan?
  • Hoe gee ék die stokkie aan?
  • En ek wil graag drie kort opmerkings oor hierdie vraag maak.
  • ’n Mens sou baie meer kon sê, maar kom ons hou dit by drie kort opmerkings.
  • Nommer een: Ek moet goeie verhoudinge bou met ander mense.
  • Die aflosstokkie van die evangelie kan nie so lekker aangegee word waar daar nie ’n verhouding van vertroue tussen my en die ander persoon is nie.
  • Die ander persoon moet weet wat hy of sy aan my het.
  • En die persoon moet ervaar dat ek werklik in hom of haar as mens belangstel, en nie net ’n “produk” aan hulle wil verkoop nie.
  • Ek moet goeie verhoudinge bou waarbinne ek die aflosstokkie kan aangee.
  • En ons weet dat ’n mens tyd en geduld nodig het om goeie verhoudinge te bou.

#  Maar ’n tweede opmerking wat ek wil maak, is dat my woorde en my dade met mekaar moet ooreenstem.

  • Ek kan nie vir iemand anders van die liefde van Jesus vertel as my eie dade en optrede nie ook dieselfde liefde uitstraal nie.
  • My dade praat hier net so hard soos my woorde, en dalk selfs harder!
  • En daarom moet ek weet: My dade en my hele optrede teenoor ander is deel van my getuienis.
  • Soos om te help waar daar materiële nood is.
  • En om te ondersteun waar daar hartseer is.
  • En om bystand te verleen waar daar siekte is.
  • En om dalk ’n besoekie af te lê waar daar eensaamheid is.
  • Daar is vir ons almal soveel geleenthede om die liefde van Jesus in ons dade en optrede teenoor ander uit te leef.

#  En dan my derde, baie kort opmerking.

  • Wanneer die regte oomblik kom, moet ek natuurlik ook praat oor die Here.
  • Soos Filippus met die Etiopiër moes praat oor wat die Skrif sê, moet ons ook op die regte oomblik met ander daaroor praat.
  • En op hierdie punt is ons ook heeltemal afhanklik van die Heilige Gees: om vir ons te wys wanneer dit die regte oomblik is om te praat.
  • Maar dan, dan kan ons die Bybel se boodskap van liefde en genade met die ander persoon deel.
  • Dan kan ons die Here se mondstuk wees en ’n soekende mens help om Hom te vind en te leer ken.
  • En so kan ons dan almal die aflosstokkie van die evangelie help aangee vir mense wat dit nog nie aanvaar het nie.

#  Filippus was ’n medewerker van die Here.

  • En ons moet besef dat dít eintlik ook ons elkeen se roeping is: om medewerkers in die Here se diens te wees.
  • En ek mag nie sê ek is te jonk daarvoor of te oud daarvoor of te onervare nie.
  • ’n Mens is nooit te jonk of te oud of te onervare om deur die Gees van die Here gebruik te word nie.
  • En oral langs ons elkeen se pad deur die lewe is daar soekende mense, mense soos die Etiopiër van Hand. 8.
  • Die vraag is net: Is ons ook só tot beskikking van die Here en só gehoorsaam aan sy stem soos Filippus dit was op daardie dag waarvan Hand. 8 ons vertel het?

AMEN





css.php