Blog: Mense van Waarheid in 'n tyd van Fake News

Sogenaamde “Conspiracy Theories” (Samesweringsteorieë is die Afrikaans!) was nog altyd met ons, maar in die tyd van Covid-19 het ’n nuwe vlaag ons getref. Daarmee saam hang natuurlik die begrip wat ook al spreektaal geword het: “Fake News”. Dit is alom bekend dat dit in ’n tyd van sosiale media verskriklik moeilik is om te onderskei tussen die waarheid en ’n leuen, omdat elke Jan Rap en sy maat toegang het tot ’n wêreldwye gehoor.
Sommige van hierdie teorieë is redelik onskadelik (dink maar aan al die slim idee’s oor hoekom die maanlanding nie regtig plaasgevind het nie), maar ander hou werklike gevaar vir ons in. Wanneer mense bv. ophou om hulle kinders in te ent, stel hulle ons almal se kinders in gevaar om voorkombare siektes op te doen. En natuurlik is daar allerhande potensiële gevare oor al die vals informasie oor die huidige pandemie: van mense wat die risiko onderskat en hulself blootstel aan infeksie, belangrike samelewingsinstansies (soos die media, wetenskaplikes en regeringsinstansies) wat hulle kredietwaardigheid verloor, tot mense wat skadelike behandelingsmetodes gebruik; om natuurlik nie te praat oor die paniek en verwarring wat gesaai word nie!
As dit nie so ontstellend was nie, kon dit fassinerend of selfs snaaks gewees het om te sien wat mense als bereid is om te glo. Omdat ek gewonder het oor ons vatbaarheid en ook hoe ons as Christene dienaars van die waarheid (en Waarheid) moet wees in ’n tyd soos hierdie, het ek bietjie gaan nalees oor hierdie fenomeen van Samesweringsteorieë.
Ons wil veilig voel
Die bedrading van ons breine blyk ’n belangrike sleutel te wees. Bedreigings wat ons vrees opjaag beduiwel ons vermoë om logies te dink. Ons het ’n dieper behoefte om veilig te voel as om werklik al die feite tot ons besikking logies teen mekaar op te weeg. Om in samesweringsteorieë te glo, gee ons ten minste ’n mate van beheer. Dit klink ’n bietjie teenstrydig, want hoekom sal, sê maar die oortuiging dat Covid met bose intensies in ’n laboratorium vervaardig is, ons enigsins veiliger laat voel? Want ten minste is dit ’n verduideliking. Ons hou daarvan om te weet iets het ‘n aanduibare oorsprong. Die feit dat iets lukraak uit die natuur uit kan voorkom skep heeltemal te veel vreesaanjaende moontlikhede.
Ons is tropdiere
Al volg ons as mense nie noodwendig altyd die logiese weg nie, is ons breine tog kragtige instrumente met ’n behoefte aan struktuur met die gepaardgaande vermoë om patrone raak te sien. In tye wat ons nader aan die natuur geleef het, was dit natuurlik baie belangrik vir ons oorlewing (’n leeuspoor in die omtrek is nie iets wat ’n mens wil miskyk nie!). Maar in ons tyd van ’n informasie-tsoenami “connect” ons ook die “dots” om patrone te sien wat nie werklik daar is nie.
Boonop is ons sosiale kreature wat hoë waarde heg aan ons aanvaarding deur ons groep en ons status binne daardie groep. In kort, ons is geneig om die kudde te volg. In sosiale media-kringe word hierdie verskynsel “eggo kamers” genoem. Hoe meer ons sosiale groep sekere idee’s herhaal, hoe meer is ons geneig om dit deel te maak van ons wêreldbeskouing. So raak dit deel van ons identiteit en word dit al hoe moeiliker vir ons om sekere oortuigings uit te daag (dink bv. aan al die lelike “-ismes” in ons samelewing).
Wat nou hiermee saamhang, is wat sielkundiges noem “confirmation bias” (seker iets soos “vooroordeel bevestiging”) wat al aangetoon is in verskeie studies. Dit kom daarop neer dat ons gevestigde idee’s soos ’n filter werk, sodat ons fokus op alle feite wat ons huidige oortuigings versterk en alle feite wat dit weerspreek, miskyk. En ons almal ly hieraan. Die persoon in die tv of radiodebat wat jou standpunt weergee, klink net altyd meer oortuigend en logies, of hoe?!
Wat staan Christene te doen?
Veral Johannes skryf oor Jesus wat die Lig en die Waarheid is. God se bedoelings met mense is suiwer en goed en werk mee tot ons (almal!) se beswil. Daar is geen misleiding en verskuilde motiewe in Hom nie. Ons roeping is wyer en dieper as om blote “fact checkers” te wees (terwyl ons natuurlik dit ook moet doen!). Ons is kinders van God met die roeping om Hom in hierdie wêreld te verteenwoordig met ’n alternatiewe lewenswyse. Ons beywer ons vir die Waarheid in al sy gestaltes, m.a.w. ons leef volgens die waardes van die evangelie: deernis, respek, en liefde, selfs vir die vyand.
Die wêreld van sosiale media is nie net vol valshede nie, maar ook vol venyn, haat, wantrou en agterdogmakery. Die gesindheid waarmee ons iets doen, is ten minste net so belangrik soos wat ons doen.
Daarom begin Christene by hullself: Ons laat eers die Lig op ons eie donkerte val. In alle kwesbaarheid nooi ons Jesus na die diepste, donkerste hoekies van ons vrese, vooroordeel en woede. Eers wanneer ons die Waarheid oor onsself ontvang en aanvaar het, kan ons die bevrydende genade daarvan met ander deel. Ons aanvaar dat ons nie in beheer is nie, dat ons nie al die antwoorde het nie, maar dat ons in slegs in vertroue op God en in oorgawe aan Hom met ware vrede en vreugde kan lewe.
Dalk kan jy ook die volgende praktiese voorstelle oorweeg:
- Besluit wanneer dit die moeite werd is om enigsins iemand te antwoord op sosiale media – maak eers seker van jou eie motiewe en wat jy hoop om te bereik (klaarblyklik moet dwase soms geantwoord word en soms nie: “ Spreuke 26: 4 Moenie ‘n dwaas se vraag op net so ‘n dwase manier beantwoord nie; hy sal dink jy is soos hy. 5 Beantwoord ‘n dwaas se vraag op net so ‘n dwase manier, anders dink hy hy het wysheid.)
- Doen jou eie navorsing en dink ’n bietjie wyer. Al hierdie teorieë probeer gewoonlik om jou te laat fokus op tegniese detail waarvan jy min kennis het, bv. die 5G selfoontegnologie wat volgens sommige eintlik die bron van Covid is. Terwyl jy probeer sin maak van golflengtes en selle, vergeet jy om na te dink oor die implikasies van die teorie: wie moet almal deel wees van die sameswering om hierdie teorie te laat sin maak? Sal dit werklik slaag in die doelwitte wat beweerdelik die beweegrede is? As “almal vir ons jok” wat sal hulle motief wees?
- Sielkundiges het gevind dat mense nie oortuig word deur hulle aan te val of ’n bespotting van hulle te maak nie. Selfs ’n konfrontasie met die regte feite het beperkte sukses. Jou beste kans (en natuurlik die Christelike weg) is om mense te respekteer, na hulle te luister en bereid te wees om hulle vriende te word.
- En dan natuurlik: wees verantwoordelik!! Moenie goed aanstuur wat jy nie geverfiëer het nie, al maak dit jou punt so mooi! Kyk na die bronne waarin dit voorkom, gaan datums na en maak seker dit is nie ’n hoax nie (’n eenvoudige “Google” soektog kan dit gewoonlik vinnig vir jou uitwys).
In die sosiale media-realm het ons amper ’n alternatiewe wêreld geskep, maar dit raak ons regte wêreld en regte mense op verskeie baie negatiewe maniere. Ons as Christene het die verantwoordelikheid om ook daar die Lig en die Waarheid van ons Verlosser te bring.
Hier is my bronne as jy my wil “fact check”!
https://www.climatechangecommunication.org/wp-content/uploads/2020/03/ConspiracyTheoryHandbook.pdf
