MATT. 24:36-44 (27/11/22)

 

 

#  Ek glo almal van ons hier, wat oud genoeg is, sal seker onthou waar ons was toe die jaar 2000 aangebreek het!

  • Toe ons oorgegaan het van 1999 na 2000 – of soos party mense toe nog af en toe per ongeluk gesê het: na 19-2000!
  • Ek onthou dat ons gesin daardie aand by my ma en stiefpa op Swellendam was.
  • En ons het op die televisie gekyk na hoe mense in allerhande verskillende wêrelddele die aanbreek van die nuwe jaar en die nuwe millennium gevier het.
  • Maar ek onthou ook hoe daar voor die tyd voorspellings was dat die einde van die wêreld op daardie oomblik sou aanbreek.
  • Daar was ook allerhande voorspooksels oor hoe die rekenaarstelsels van die wêreld in duie sou stort.
  • Maar al daardie voorspellings en voorspooksels was toe pure bog.
  • Dit het nie waar geword het nie.
  • En hier sit ons vandag, amper 23 jaar later, en die einde van die wêreld het nog steeds nie aangebreek nie.
  • Die lewe gaan nog elke dag sy gewone gang.
  • En dit lyk ook of dit maar vir altyd so sal aangaan, jaar na jaar, en eeu na eeu.

 

#  En tog leer die Bybel baie duidelik vir ons dat daar ’n einde aan die wêreld soos ons hom vandag ken, gaan kom.

  • Paulus sê in 1 Kor. 7:31: “hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.”
  • Op ’n dag sal die uurglas leegloop.
  • En iemand onder ons sal op daardie dag dalk nog haar gunstelinggereg sit en eet.
  • Iemand anders onder ons sal dalk besig wees om ’n koppie koffie saam met vriende te drink.
  • En nog iemand onder ons sal dalk besig wees om te trou in ’n pragtige kerkie met gebrandskilderde ruite.
  • Maar skielik sal die oomblik daar wees dat die uurglas leeg geloop het, en dat Jesus weer gekom het.
  • En ek stel my voor dat iemand dan sal uitroep: Die Seun van die mens is hier!
  • Jesus het gekom soos Hy gesê het!
  • En dit sal dan beteken: Hy het gekom terwyl mense nog met doodgewone dinge besig was.
  • Amper soos in Noag se tyd, toe die mense, volgens Matt. 24:38, “soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou” het.
  • Maar meteens is hulle deur die baie groot watervloed oorval.
  • Onverwags oorval.

 

#  En nou sê die Bybel baie duidelik: Jesus se wederkoms sal ook onverwags plaasvind. 

  • Soos ’n dief in die nag.
  • Soos ’n dief wat nie vir die huisbewoners ’n boodskap gaan stuur om te sê wanneer hy gaan kom nie.
  • En daarom is dit nie vir enigiemand moontlik om ’n akkurate voorspelling van die dag van Jesus se wederkoms te maak nie.
  • Groepe en individue wat in die verlede sulke voorspellings gewaag het, het nog almal bedroë daarvan afgekom.
  • En ook mense wat in ons eie tyd voorspellings waag, sal dit sonder sukses doen.
  • Want Jesus se wederkoms sal onverwags plaasvind.
  • En daarom is Jesus se opdrag aan sy volgelinge hier in Matt. 24: Bly waaksaam.
  • En: Wees altyd gereed.
  • Ons self moet dan ook altyd gereed wees vir Jesus se onverwagse wederkoms.
  • Altyd besig om sy wil te doen.
  • Altyd besig om sy medewerkers hier op aarde te wees.
  • Altyd besig om sy liefde met ander te deel.
  • Waaksaam en gereed – dít is hoe ons op Jesus se wederkoms moet wag.

 

#  En nou is daar vir seker maniere waarop ’n mens nié op Jesus se wederkoms behoort te wag nie.

  • Om bv. met ’n valse soort gerustheid te wag, sou verkeerd wees: om te lewe asof Jesus nooit weer sal kom en asof niks ooit in ons wêreld sal verander nie.
  • Dit sou ook verkeerd wees om, terwyl ons wag, die dinge van ons aardse lewe as ’n doel in hulleself te beskou: ons huwelik of ons beroep of ons sport of wat ookal.
  • Al hierdie dinge waarmee ons elke dag besig is, is natuurlik belangrik.
  • Maar hulle mag nie vir ons te belangrik wees nie.
  • Hulle mag nie vir ons ’n doel in hulleself wees nie.
  • Nee, ons hoogste doel moet tog altyd wees om vir die Here te lewe.
  • Om in die regte verhouding met Hom te staan, en om in alles in ons lewe vir Hom te lewe.
  • Paulus sê mos in 1 Kor. 10:31: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

 

#  So, kom ons vra maar weer: Hoe moet ons dan wel wag op Jesus se wederkoms? 

  • Dit lyk vir my ons moet dit doen met ’n soort verwagting of afwagting.
  • En ons behoort ook uit te sien na die nuwe bedeling wat met Jesus se wederkoms sal aanbreek.
  • Ja, ons kán reeds daarna uitsien.
  • Na die nuwe hemel en aarde, waarvan die Bybel ook praat.
  • Maar, belangrik, ons mag nie die verantwoordelikhede wat ons as gelowiges hier en nou het verwaarloos nie.
  • Terwyl ons wag, moet ons steeds elke oomblik hier leef as God se verteenwoordigers.
  • Moet ons elke oomblik hier in sy diens staan en ander mense help waar ons kan.
  • En ons weet tog almal hoe groot die nood van mense in ons eie tyd is.
  • Veral waar armoede mense se lewe so moeilik maak, of waar misdaad en geweld en trauma soveel verwoesting saai.
  • Of waar mense net voel die lewe is nie die moeite werd nie.
  • Ons leef ook in ’n tyd waarin geloof in die Here blykbaar vir baie mense irrelevant geword het.
  • Hulle dink eenvoudig dat hulle die Here nie nodig het nie.
  • En dis belangrik dat ons as gelowiges dan so sal leef dat dit mense sal aantrek na die Here toe en nie afstoot nie.
  • Daar is soveel uitdagings waarmee ons nog elke dag besig moet wees, terwyl ons wag op Jesus se wederkoms.
  • En selfs al sou ons geweet het dat Jesus se wederkoms môre gaan plaasvind, moet ons vandag nog voluit sy verteenwoordigers en medewerkers in die wêreld wees.
  • Ek dink dit was Martin Luther, die groot kerkhervormer, wat gesê het dat as hy geweet het Jesus kom môre weer, dan plant hy vandag nog ’n appelboom.
  • Vandag is nog steeds van die grootste belang!

 

#  Die wederkoms van Jesus sal wel onverwags wees, maar as gelowiges hoef ons gelukkig nie daarvoor bang te wees nie. 

  • In vers 42 van Matt. 24 kry ons iets baie interessant.
  • Jesus verwys daar na Homself as “julle Here.”
  • En hierdie woorde herinner ons aan die band wat reeds tussen ons en Hom bestaan.
  • Hierdie band is gelê deur Jesus self, Hy wat vir elkeen van ons kom ly het en in ons plek aan ’n kruishout kom sterf het.
  • Ons kan sê: Hierdie band tussen ons en Jesus is met sy bloed beseël.
  • En daarom hoef ons as sy kinders en volgelinge nie bang te wees vir sy onverwagse koms nie.
  • Want Hy wat weer kom, is óns
  • Ons behoort aan Hom.
  • En niks en niemand kan ons uit sy hand ruk nie!

 

#  Advent is vir ons ’n tyd om spesiaal na te dink oor hoe Jesus lank gelede na die aarde toe gekom het. 

  • En ook hierdie jaar tydens Advent gaan ons gereeld nadink oor wat dit beteken dat Jesus wel na die aarde toe gekom het.
  • En ons gaan Hom in hierdie tyd weer loof en prys vir wat sy koms vir ons beteken.
  • Vir die verlossing en bevryding en nuwe lewe wat Hy vir ons gebring het.
  • Maar, belangrik, Advent moet ook ons oë rig op Jesus se tweede koms, sy wederkoms, sy terugkom na sy eiendom toe.
  • En dit moet ons motiveer om op die regte manier besig te wees.
  • Ons moet leef asof Jesus enige oomblik weer kan
  • Ons moet leef asof vandag die laaste dag of een van die laaste dae van hierdie wêreld kan wees.
  • En as ons met so ’n ingesteldheid leef: Watter dinge sal ons dan anders doen?
  • Of glad nie doen nie?
  • Of vir die eerste keer doen omdat ons dit nog altyd uitgestel het?
  • As vandag die een van die laaste dae van ons wêreld sou wees, sou ons nie minder omgee en bekommerd wees oor materiële goed nie?
  • En sou ons nie baie meer tyd en aandag gee aan die belangrike mense in ons lewens nie?
  • En ook aan al die belangrike dinge wat die Here ons roep om in sy koninkryk te doen nie?

 

#  Ons weet nie wanneer Jesus weer gaan kom nie. 

  • Maar in ’n sekere sin kom Hy ook elke dag na ons toe.
  • Hy kom bv. na ons toe waar twee of drie in sy Naam bymekaar is, soos op ’n Sondag hier in die kerk, of in ons Omgeegroep of Bybelstudiegroep, of waar ons sommer in ’n gewone gesprek oor Hom begin praat.
  • Hy kom na ons toe waar ons die brood en wyn van die Nagmaal eet en drink, soos ons dit vanoggend ook gaan doen.
  • Hy kom na ons toe waar ons met kinders of siekes of ander weerloses te doen het, en waar behoeftiges ons pad kruis.
  • Die vraag is net: Gebruik ons hierdie geleenthede wat elke dag oor ons pad kom?
  • Sien ons dit raak as Jesus elke dag, amper onopsigtelik, na ons toe kom?

 

#  Dit is so dat Jesus se wederkoms ná omtrent twintig eeue nog nie plaas gevind het nie. 

  • En die mense het in die Bybelse tyd al gedink dat hulle nie meer lank daarvoor sou wag nie.
  • En nou wag ons nog steeds.
  • Maar hierdie feit moet ons nie verlei om ons waaksaamheid te verslap of te laat vaar nie.
  • Jesus sál weer kom.
  • En dit wat sy Woord daaroor sê, sál vervul word.
  • Kom ons maak net seker ons is elke oomblik gereed vir daardie dag.

 

AMEN 

 

css.php