Artikel - 'n Blik op die Biermann's

Op 15 Maart lewer Ds Hugo Biermann sy afskeidspreek in n kerkruimte wat swaar behang is met emosie. Hy bestyg die “kansel” met dieselfde elegansie en rustigheid as waarmee jy hom altyd sou raakloop en lewer n boodskap wat, soos altyd, mense se harte roer. Tydens die dankseggingsgeleentheid aan die einde van die diens kan mens n ware, wedersydse liefde tussen die gemeente en die Biermann’s sien – hierdie is  `n gesin wat diep spore in die Paarl getrap het; `n gesin wat swaar gegroet word!

Gelukkig is dit “totsiens” en nie “vaarwel” nie, aangesien Ds Hugo steeds by die gemeente werksaam is en die geliefde pastoriepaar steeds in Paarl woonagtig is. Dit is juis hieraan te danke dat ons nog vinnig op hul knoppie kon druk om `n paar vrae te beantwoord wat die gemeente kan help om hulle selfs beter te leer ken…

Hoe het dit gevoel om aanvanklik die roeping vir voltydse bediening te ontvang?

Hugo: Wat die voltydse bediening betref, het ek so in die ou standerd 8 (graad 10 vandag) die roeping begin ervaar om predikant te word.  Aan die een kant was daar ’n gevoel van onsekerheid by my, want ek het nie regtig geweet wat dit vir my gaan inhou nie.  Aan die ander kant het ek eintlik geen twyfel gehad dat dít die werk was wat ek moes doen en ook wou doen nie.  Mariëtte het toe mos maar eers deur die liefde (en nadat ek reeds amper 3 jaar lank predikant op Saldanha was) by die voltydse bediening betrokke geraak!

Wat is die eerste drie dinge wat julle moes leer as jong leraarspaar?

Wat ons as jong predikantspaar moes leer, was dat ons veral in die kleiner gemeenskap van Saldanha tog ’n bietjie gemeentebesit was en dat daar ook van jou verwag is om by feitlik alle aktiwiteite in die gemeente betrokke te wees.  Die werk vra ook ongereelde werksure van ’n mens en dat jy baie keer buite jou gemaksone moet optree.  Al is jy ’n introvert moet jy dikwels jou ekstrovert-hoed ook opsit!

Wat het julle opgewonde gemaak oor die kerk en bedining? En hartseer?

Een van die dinge wat ’n mens van die begin af opgewonde gemaak het oor die kerk en bediening is dat jy dikwels die geleentheid kry het om by mense betrokke te raak en dat jy hopelik ook soms vir iemand iets kan beteken.  Dis ook lekker om altyd ’n hele aantal mense rondom jou te hê wat lief is vir die gemeente en ook hulle deel in die gemeente met oorgawe doen.  Die hartseer deel van die bediening is weer vir ons wanneer ons mense vir wie ons lief geword het, “verloor.”  Dit is soms deur die dood, maar ander kere weer deurdat mense die familie van die gemeente verlaat om na ander kerke toe oor te gaan.  Die gebrek aan eenheid binne-in die NG Kerk-familie was ook altyd, en is nog steeds, vir ons ’n bron van hartseer.

Wat is vir julle elkeen die beste deel van julle verhouding / huislewe / familie?

In ons verhouding met mekaar in ons huwelik en gesin was dit altyd goed om dinge saam te kon beleef, sowel lief as leed.  Ook dat daar genoeg ruimte was om jou eie ding te kon doen.  En dan veral ook die voorreg om kinders te kon hê en te kon sien hoe hulle groei en ontwikkel en unieke volwassenes word!

Wat is julle grootste drome vir die seuns?

Vir ons kinders sou ons graag wou hê dat hulle vergenoegde mense moet wees.  Ons droom vir hulle is ook dat hulle nie net vir hulleself moet leef nie, maar dat hulle betrokke sal wees by ander mense, veral ook ander wat in een of ander vorm van nood verkeer.

Wat is die lekkerste deel van aftrede? Wat is vir julle totaal nuut in hierdie tyd?

Wat die lekkerste deel van aftrede is, kan ons seker in hierdie vroeë stadium nog nie sê nie.  Ons sien egter uit na ’n bietjie minder roetine.

Watter boodskap sou julle graag aan die gemeente wou oordra?

’n Boodskap vir die gemeente?  Ons sou graag wou hê dat die lidmate van die gemeente aan die gemeente as hulle “huis” sal dink, met die res van die lidmate as hulle “familie.”  Iets hiervan het ons nou self oor baie jare in ons eie Omgeegroep ervaar.  Dit kom seker daarop neer dat ons graag wil hê dat dit wat ons saambind in die Here vir ons belangriker sal wees as die dinge waaroor ons verskil.

Indien julle self kon oor kies, watter ander beroepe sou julle gevolg het?

As ons ander beroepe sou kon kies?  Mariëtte sou dalk ’n joernalis wou word en Hugo ’n sielkundige.

Drome vir die toekoms?

Ons droom vir die toekoms is dat ons nog heelwat tyd saam gegun sal word en om dit gesond te mag geniet.  Ook om af en toe te kan wegbreek uit die Paarl, selfs tot by die kinders in Johannesburg!  Mariëtte wil meer aandag gee aan haar kreatiewe kant, en voortgaan met haar betrokkenheid by Kuhla (’n organisasie wat werk met minder bevoorregte kinders) en by twee crèches.  Hugo wil nog graag lank aanhou tennis speel en meer betrokke raak by Paarl Jeuginisiatief.  Met die deeltydse pos in die gemeente gaan daar hopelik ook nog baie betrokkenheid wees by ouer lidmate en daarby om in berading te kan deel in mense se lewensverhale.

css.php