2 KOR. 12:1-10 (29/10/23)

 

#  Daar word vertel dat daar op ’n keer ’n konferensie in Brittanje was waar daar veral gepraat is oor die verskille tussen die Christendom en die ander godsdienste van die wêreld.

  • Die vraag was: Wat maak die Christelike geloof uniek?
  • En verskillende antwoorde het na vore gekom.
  • Party afgevaardigdes het bv. gesê die groot verskil is dat Jesus mens geword het en dat dít die Christelike geloof uniek maak.
  • Ander het toe weer gesê dat daar ook in sekere ander godsdienste sprake is van gode wat in mensegedaante op aarde verskyn het.
  • So, dan is die groot verskil seker dat Jesus opgestaan het uit die dood?
  • Maar ook daaroor was almal nie oortuig nie, omdat daar ook in sekere ander godsdienste verhale van ’n wonderbaarlike terugkeer uit die dood is.
  • En so het die afgevaardigdes by die konferensie heen en weer oor die saak geredeneer.
  • In een stadium het die bekende skrywer C.S. Lewis toe by die saal ingekom, en wou weet waaroor al die gepraat dan gaan.
  • Een van sy kollegas se antwoord was: “Ons soek na die unieke bydrae van die Christendom te midde van en teenoor al die ander godsdienste.”
  • En sonder om twee keer te dink, het Lewis toe geantwoord: “O, dis maklik. Dis die genade.”
  • Die genade van die Here, waarvan die Bybel so baie praat, het Lewis gesê, is die unieke kenmerk van die Christelike geloof.

#  En nou verwys Paulus hier in 2 Kor. 12 ook na die genade van die Here.

  • Hy is juis een van die skrywers in die Bybel wat ons help om die wonder van hierdie genade beter te verstaan.
  • So sê Paulus bv. in Ef. 2 dat ons net uit genade gered word.
  • Ons redding is nie iets wat ons kan verdien nie.
  • Dis nie ons beloning omdat ons so soet is, of so vroom is, of so vas glo nie.
  • Nee, ons redding is net uit genade.
  • In Ef. 2:8 sê Paulus dit só: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.”
  • Ons redding is ’n gawe van God, dis ’n geskenk uit sy hand.
  • Ons redding is net moontlik op grond van dit wat Jesus gedoen het toe Hy aan die kruis op Golgota vir ons sonde gesterf het.
  • En wanneer ons in geloof aanvaar wat Jesus vir ons gedoen het, ontvang ons hierdie onverdiende geskenk van God.
  • Maar dis net genade.

#  En dink nou net vir ’n oomblik hoe anders is dit wanneer mense dink dat hulle hulle eie redding moet verdien!

  • Dan span jy jouself in en probeer jy jou bes om so te lewe dat jy en jou lewe vir die Here aanvaarbaar sal wees.
  • Dan probeer jy dalk om ten minste meer goeie dinge te doen as slegte dinge, sodat die weegskaal darem uiteindelik in die regte rigting sal swaai.
  • Maar dan hang alles net van jou af.
  • Dan hang alles van jóú pogings af.
  • En dan is daar ook altyd die kans, én die vrees, dat jou beste nie goed genoeg sal wees nie.
  • Dat jy, ten spyte van jou beste pogings, dit nie sal maak om in die koninkryk van die Here te kan ingaan nie.
  • Dít is hoe dit is wanneer mense dink dat hulle hulle eie redding moet verdien.
  • Maar dít is nie die goeie nuus van die Bybel nie!
  • Dít strook nie met die boodskap van genade, soos dit in die Bybel aan ons verkondig word nie.
  • Dis eintlik baie slegte nuus om te hoor dat jy jou redding self moet verdien en dat die kans baie groot is dat jy dit nie sal maak nie.

#  Maar gelukkig kan ek u vanoggend daaraan herinner dat ons uit genade gered word!

  • Dat ons gered word deur Jesus se verdienste in ons plek.
  • En dat ons ook nou uit hierdie genade kan gaan leef elke dag.
  • En dat ons maar net altyd weer vir die Here kan dankie sê vir die wonder van sy genade.
  • Soos die pa van die verlore seun in daardie bekende gelykenis van Jesus ontvang ons hemelse Vader ons ook uit genade terug in die vaderhuis.
  • En net soos in die geval van die verlore seun is daar niks wat ons kan doen om te verdien dat ons Vader ons terug ontvang nie.
  • Maar Hy doen dit wel.
  • Ons kan maar net opstaan en teruggaan na waar ons Vader reeds vir ons wag.

#  Dis baie duidelik in die Bybel: Ons redding is net uit genade!

  • En alles wat ons daarby as kinders van die Here mag ervaar, ook spesiale geestelike ervarings, is ook net uit genade.
  • In 2 Kor. 12 skryf Paulus juis ook oor gesigte en openbarings.
  • En hoewel hy hier in die derde persoon praat en verwys na ’n sekere man se baie besondere geestelike ervaring, wil dit tog lyk of hy eintlik na homself verwys.
  • Dat Paulus so om ’n draai vertel van hoe hyself weggeruk is tot in die derde hemel.
  • Die ou Jode het geglo dat daar sewe hemele was en dat die derde een die woonplek van God en die verlostes is.
  • Maar hoe dit ookal sy, Paulus het ’n hemelse ervaring gehad.
  • En as hy die voorbeeld van sekere ander mense gevolg het, sou hy daarmee kon spog.
  • Sou hy daarop kon roem, soos hy dit hier in 2 Kor. 12 stel.
  • Maar dan sou daar ’n probleem wees.
  • ’n Groot probleem, want dan sou dit beteken dat Paulus vergeet het dat alles net genade is.
  • Om so ’n spesiale geestelike ervaring te kon hê, was nie iets wat hy verdien het nie.
  • Dit het nie gebeur omdat hy so ’n wonderlike gelowige was nie.
  • Nee, ook dít was net uit genade.
  • En nie Paulus of enige ander gelowige, ook nie ons wat vanoggend hier saam is, mag dít vergeet nie.
  • As die Here vir ons spesiale dinge laat ervaar, of as Hy ons laat groei in ons geloof, of as Hy ons iewers in sy diens gebruik, is dit nog steeds net uit genade.
  • Dis nie dinge waaroor ons mag spog of waarop ons mag roem nie.

#  En dít bring ons dan by die verse hier in 2 Kor. 12 waar Paulus vertel van ’n doring in sy vlees.

  • Hierdie doring moes een of ander pynlike en moeilike ding in Paulus se lewe gewees het.
  • Wat dit presies was, weet ons nie.
  • Daar word bespiegel dat dit dalk ’n oogprobleem was wat Paulus gehad het.
  • Of dalk iets soos malaria, of epilepsie, of ’n spraakgebrek.
  • Maar dit is maar alles net bespiegeling.
  • Wat duidelik is, is dat dit beslis nie vir Paulus aangenaam was om hierdie ding in sy lewe te hê nie.
  • Soos ’n doring jou bly seermaak terwyl hy in jou voet of in jou hand sit, so het hierdie ding vir Paulus bly seermaak en bly pla.
  • En soos ’n gelowige maar sal doen, het Paulus ook daaroor gebid.
  • Hy sê in vers 8 wat ons gelees het: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my weggeneem moet word.”
  • Amper soos Jesus drie maal in Getsémane gebid het dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan, het Paulus ook drie maal gebid dat die doring van hom weggeneem moet word.
  • Maar die doring het bly sit.
  • Die probleem het voortgeduur.
  • Sy gebede is nie beantwoord soos hy dit wou hê nie.
  • Maar, baie belangrik: daar was wel ’n antwoord van die Here.
  • En die antwoord was: “My genade is vir jou genoeg.”

#  So hier hoor ons dan weer van genade!

  • En hier hoor ons dat ons nie net uit genade gered word nie, maar dat ons ook genade kry om van te leef.
  • Dit was asof die Here vir Paulus wou sê: “Paulus, Ek het jou uit genade gered. Maar weet nou dat my genade ook vir jou genoeg is om van te leef!”
  • “Ek neem nie die doring uit jou vlees weg nie. Maar my genade is vir jou genoeg om van te leef.”
  • En so word die doring in Paulus se vlees vir hom eintlik ’n soort herinnering aan die Here se genade.
  • En as Paulus terugkyk oor sy lewe sê hy selfs in vers 7: “Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.”
  • Die doring in die vlees het verhoed dat Paulus hoogmoedig word.
  • Dit het verhoed dat hy begin spog met sy spesiale geestelike ervarings, of met al sy sendingwerk vir die Here, en begin vergeet dat alles in sy lewe maar net genade was.
  • Die doring in die vlees het vir Paulus sy eie swakheid laat onthou.
  • Dit het hom herinner aan hoe totaal afhanklik hy eintlik van die Here was.
  • En so het dit hom gehelp om in nederigheid sy plek, sy regte plek, voor die Here ons God in te neem.

#  Ons redding is net uit genade!

  • Maar dit is ook waar van ons hele lewe.
  • Alles wat ons is en het en kan doen, is net moontlik deur die genade van die Here.
  • En wanneer ons dít vergeet, kan dit wees dat ons hoogmoedig word.
  • En daarom lyk dit vir my is dit soms nodig dat daar vir ons ook ’n doring in die vlees moet wees.
  • Is dit soms nodig dat ons dalk ook op ’n pynlike manier gehelp moet word om nie hoogmoedig te word nie, maar altyd bewus te bly van hoe groot die Here se genade is en hoe afhanklik ons daarvan is.

#  Wat is dalk vanoggend vir u ’n doring in die vlees?

  • Wat is dalk vir my ’n doring in die vlees?
  • Dit sal nie vir ons almal presies dieselfde ding wees nie.
  • En dit kan van tyd tot tyd seker ook verskillende dinge wees.
  • Vir ons ouer mense hier is dit waarskynlik ook ander dinge as vir die jongmense.
  • In sommige gevalle mag dit iets wees soos ’n plan of ’n ideaal wat nie wil uitwerk nie.
  • Of dalk is dit ’n probleem waarvoor ons maar net nie ’n oplossing kry nie.
  • En dalk het ons ook, soos Paulus, al 3 keer, of selfs nog meer as dit, gebid dat die doring van ons weggeneem moet word.
  • Maar die antwoord was moontlik ook, soos vir Paulus: “My genade is vir jou genoeg.”
  • En die Here het mos ook, net nadat hy dít vir Paulus gesê het, vir hom gesê: “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
  • Op ’n vreemde manier werk die Here dikwels juis wanneer ons swak is.
  • En so laat val die Here dan ’n heeltemal ander lig op ons menslike swakheid.
  • So wys Hy vir ons dat ons vermoëns en ons krag baie keer juis in die pad van sy werk kan staan.
  • Maar wanneer ons in swakheid in sy diens staan, kom sy krag tot volle werking.

#  My eie ondervinding is dat dit my nog altyd nader aan ander mense gebring het as ek my eie swakheid teenoor hulle erken het.

  • As ek bereid was om oop te maak oor die doring in my vlees.
  • Dan was dit vir ander mense ook makliker om oop te maak teenoor my.
  • En so kan ons dan die doring in ons vlees selfs as ’n stuk genade begin sien.
  • Ook daardie pynlike ding in my lewe is dalk iets wat die Here in sy diens kan gebruik.

#  “Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.”

  • Met hierdie woorde begin een van die liedere in ons Liedboek, wat ons ook nou-nou gaan sing.
  • Maar kom ons sing nie net hierdie woorde vanoggend nie.
  • Kom ons neem dit ook met ons saam en onthou elke oomblik van ons lewe dat alles werklik net genade is.
  • Dis genade dat ons deur Jesus van al ons sonde verlos word.
  • En dis genade dat ons elke dag hier op aarde mag lewe.
  • En selfs wanneer ons met moeilike dinge moet worstel, met ’n doring in ons vlees, selfs dan is die genade van die Here vir ons genoeg.

Kom ons sing nou lied 244:1 en 2 (Alles, alles is genade)

 

css.php