Preek – 29 Maart 2020: 'n Nuwe natuur – Rom 8
Paarlberg gemeente
Erediens 29 Maart 2020
Lees Rom 8
Groet
Genade en Vrede vir jou, waar jy ookal is, van God ons Vader, van Jesus Christus en van die Heilige Gees.
Boodskap Inhoud
Indien jy nog nie `n tydjie geneem het om die volle hoofstuk 8 van Paulus se brief aan die Romeine te lees nie, stop eers met hierdie deel van die liturgie waarmee jy dalk nou besig is, en neem `n oomblik om die hele gedeelte te lees. As daar kinders in jou midde is, maak seker julle lees `n weergawe wat hulle ook maklik sal verstaan en indien nodig, neem `n oomblik langer om eers vir hulle (en mekaar) te verduidelik wat julle gelees het.
Hierdie gedeelte in Romeine vertel vir ons iets oor waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is – dit is `n bewegende, lewendige reis waarop ons is. Dit vertel van `n ou tipe mens wat verby is en `n nuwe een wat gekom het. In hierdie unieke Lydenstyd waarin die wêreld haarself bevind, is ons ook op pad – ons beweeg en ons verander. Oraloor raak ons gewoond aan maniere van doen wat nou drasties moet aanpas.
Wat `n voorreg! Om te kan beweeg en verander en aanpas beteken ons is nog hier, ons is nog lewendig!
Ons verhouding met die lewende God is ook aanhoudend aan die verander – hierdie teks in Romeine is maar een deeltjie in die Bybel wat daarvan getuig. Elkeen van ons word uitgenooi om saam met God te beweeg vanuit sonde en dood, na `n plek van lewe, vrede en bevryding. Daar was `n tyd in mense se bestaan toe ons net een natuur gehad het – `n sondige natuur. Ons was so magteloos teenoor hierdie natuur van ons dat ons eenvoudig nie die wet van God kon nakom nie – ons kon eenvoudig nie die basiese reëls volg nie, want ons natuur was om besig te bly met sonde.
Wat is hierdie “dinge van die sondige natuur” waarvan Paulus praat? Galasiërs 5, soos ander plekke in die Bybel, noem `n paar voorbeelde: vyandskap, haat, afguns, afgodery ens., ens. Romeine praat van hierdie sondige natuur as “vyandskap met God”, omdat dit nie die wet van God nakom nie. Ons natuur getuig dus van uiterste selfsug en nie van liefde nie.
Om God in die eerste plek te leer ken, vra `n beweging weg van hierdie natuur af, na `n onderdanigheid aan God.
In die dae van die OT was mense slegs onderdanig aan God, soveel so dat hulle die wet slaafs nagevolg het. Wanneer Jesus kom, verander Hy `n paar dinge; Hy kom dwing mense om aan te pas, om te beweeg in plaas daarvan om die wet net op `n dooie manier te volg. Jesus kom maak nie die Wet tot niet nie, maar Hy som dit op in terme van twee verhoudings: `n liefdesverhouding met God en `n liefdesverhouding met mense.
Om God te leer ken, vra `n beweging vanaf blote onderdanigheid en “ja-meneer”, na `n vriendskap met Jesus Christus.
Jesus kom maak ons inderdaad vry daarvan dat ons sondige natuur ons heers, aangesien Hy die sonde eens en vir altyd oorwin het. Romeine 8 maak dit duidelik dat ons “egter nie deur ons sondige natuur beheers word nie, maar deur die Gees wat in ons is” – ons is vrygemaak daarvan om net doodgelowig en doodeenvoudig en dodelik sondig te wees, want deur die Gees kan ons uiteindelik die wet van God nakom: om Hom lief te hê en om ander lief te hê soos onsself. Nou staan ons onder `n nuwe verpligting, soos Paulus skrywe: om ons besig te hou met die dinge van die Gees en weereens in Galasiërs 5 sien ons `n beskrywing hiervan – liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid ens., ens. Ons is vrygemaak om te getuig van `n lewende God wat alles kom verander het, en nie van ons eie selfsug nie.
Die wet het in baie gevalle gehelp dat mense hul eie heiligheid en meriete teenoor ander kan afmeet, verhouding met God laat dit nie toe nie. Ons beweeg so ver van `n sondige natuur af, dat ons uiteindelik “Abba” kan sê – ons word vrygemaak om kinders van God te wees, erfgename van lewe, vrede en vryheid. Hierdie bewegings in ons verhouding met God kan hoegenaamd nie gesien word as vlakke van heiligheid nie, aangesien dit nie ons is wat die uitnodigings stuur nie. Nee, dit is eerder bewegings van `n lewende God hierheen, na ons toe.
Mag hierdie tyd van verandering, beweging en aanpassing jou nie los met net angs en vrees nie, maar mag dit jou eerder troos dat God ons ook roep om te beweeg en te verander.
Die Here sal julle seën en julle beskerm;
Die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen
