LUK. 14:15-24 (15/3/20)

#  Mense vier graag fees oor allerhande dinge!

  • Dink maar net aan die vrolike fees wanneer 2 jongmense in die huwelik bevestig word.
  • Of die viering van ’n belangrike verjaarsdag.
  • Of wanneer jou rugbyspan ’n belangrike wedstryd of beker gewen het.
  • Om by sulke geleenthede fees te vier, dít is vir ons ’n aangename ervaring.
  • En nou is die wonderlike dat die Here ons in sy Woord ook nooi om saam met Hom fees te vier!
  • Ons lees op ’n hele paar plekke in die Bybel dat die Here ons uitnooi na ’n groot ete, of maaltyd.
  • In Luk. 14 het ons so pas dieselfde uitnodiging raakgeloop.
  • Die Here nooi ons na ’n groot feesmaal.
  • En nou is dit natuurlik beeldspraak wat gebruik word, want die maaltyd waarheen ons uitgenooi word, is nie ’n gewone ete of selfs ’n spoggerige ete in ’n vyfster-hotel nie.
  • Nee, die maaltyd waarvan die Bybel praat, is veral ’n beeld vir ons verhouding met die Here en ons gemeenskap met Hom.
  • Kom ons sê dit eenvoudig: Die Here nooi ons om naby Hom te lewe, so naby soos wanneer jy saam met iemand aan tafel is.
  • Dít is die maaltyd waarheen Hy ons uitnooi: na ’n lewe saam met Hom, ’n lewe in noue gemeenskap met Hom.
  • En die Here nooi ons dan ook soos die man in die gelykenis sy gaste genooi het.

#  Maar nou moet ons die Bybelgedeelte wat ons gelees het ook nog so ’n bietjie van nader bekyk.

  • En een van die dinge wat ons in hierdie gedeelte sien, is dat die gasheer baie mense na sy maaltyd genooi het.
  • Hy beplan sommer ’n groot fees.
  • En ons sien ook dat die gasheer sy slaaf weer ’n keer uitstuur wanneer die maaltyd gereed is.
  • Dit was blykbaar in daardie tyd die gebruik om so ’n dubbele uitnodiging te rig: Jy nooi jou gaste ’n eerste maal, en net voor die ete aanbreek, herinner jy hulle weer daaraan met ’n tweede uitnodiging.
  • En nou is dit mos so dat ’n mens net een van twee antwoorde op so ’n uitnodiging kan gee.
  • Jy kan ja sê of jy kan nee sê.
  • As ons bv. self ’n uitnodiging na ’n verjaarsdagviering van iemand ontvang, dan kan ons mos ook net sê: Ja, ons kan kom, of: Nee, ons kan nie kom nie.
  • En dit is dan ook waar van die uitnodiging wat ons van die Here ontvang.
  • Ook dít is iets waarop ons met ’n duidelike ja of nee moet antwoord.
  • Die Here nooi ons na ’n lewe saam met Hom, en ons moet duidelik sê of ons hierdie uitnodiging aanvaar of nie.
  • Ons kan nie hieroor op die draad bly sit nie.
  • Ons moet besluit en ons moet kies.
  • Ons kan nie anders nie.

#  So, in die gelykenis wat ons gelees het, is baie mense na die maaltyd van die gasheer genooi.

  • Maar dan kom die groot teleurstelling vir hierdie gasheer: Al die genooide gaste se antwoord was nee.
  • Van hierdie eerste groep mense wat genooi is, het nie eers een ja gesê nie.
  • Almal het verskonings gehad.
  • En drie van hierdie mense se verskonings word ook vir ons genoem: die een ou het ’n stuk grond gekoop, ’n ander het vyf paar osse gekoop, en ’n derde persoon is intussen getroud.
  • Niemand wou na die maaltyd toe kom nie.
  • En hoekom nie?
  • Omdat daar ander dinge was wat vir hulle belangriker was as die maaltyd.
  • En wat ’n teleurstelling moes dit nie vir die gasheer gewees het nie!
  • Hy het die ete kant en klaar laat gereed maak, maar nou sê al die genooides dat hulle nie kan kom nie.
  • Dis asof hulle vir hom wou sê: Ons stel nie werklik in jou maaltyd belang nie.
  • Jy en jou maaltyd is nie vir ons belangrik genoeg nie.
  • Daar is ander dinge wat vir ons belangriker is.
  • En dít is waarmee ons gaan besig wees, terwyl jy met jou ete besig is.

#  Maar, vriende, is dít nie wat ons ook maar so maklik met die Here se uitnodiging aan ons maak nie?

  • Hy nooi ons om naby Hom te leef en om in sy fees te deel.
  • Hy nooi ons om in die regte verhouding met Hom te leef en gemeenskap met Hom te geniet.
  • En wat kies ons?
  • Dalk kies ons om liewer op ons eie manier van die lewe ’n fees te probeer maak.
  • Om maar net met ons eie maaltye en ons eie gesellighede van die lewe iets aangenaams te probeer maak.
  • Om ons vreugde liewer te soek in dinge wat ons self beplan of self doen of self besit.
  • En intussen? – intussen lê die Here se uitnodigingskaartjie aan ons dalk daar eenkant vergete.
  • Ek mag miskien juis op hierdie oomblik ook besig wees om nee te sê vir die Here se uitnodiging aan my.
  • Nee, Here, daar is vir my belangriker dinge as U!?
  • Ek stel nie belang in u maaltyd nie.
  • Ek reël liewer my eie feeste in hierdie lewe.

#  Die eerste klomp gaste van ons gelykenis het almal nee gesê vir die uitnodiging.

  • En dit moes vir die gasheer ’n groot teleurstelling gewees het.
  • En as ons nee sê vir die Here se uitnodiging aan ons, is dit sekerlik ook vir Hom ’n groot teleurstelling.
  • ’n Hartseer saak.
  • Maar die Here se liefde vir ons as mense is so groot dat ons dit nie eers naastenby kan begryp nie!
  • Sy liefde is so groot dat Hy nie ophou om mense na Hom toe te nooi nie.
  • En as ék dan nee sê vir Hom, dan nooi Hy iemand anders.
  • Die gasheer wil nie hê dat daar enige oop sitplekke by sy gedekte tafels moet wees nie.
  • En daarom stuur hy sy slaaf om ’n ander klomp mense te gaan nooi.
  • En nou moet ons mooi oplet wie die nuwe gaste is wat genooi word: Dis die armes en kreupeles en blindes en verlamdes.
  • Dit is met ander woorde daardie mense in die samelewing wat sukkel om vir hulleself te kan sorg, en wat maklik deur ander eenkant toe gestoot word omdat hulle so weerloos en magteloos is.
  • Maar die gasheer wil sy tafels vol maak.
  • En nou nooi hy enige persoon wat bereid is om te kom, al woon daardie persoon ook in die strate en gangetjies van die stad.
  • Die vraag is nou glad nie of iemand in die goeie woonbuurt van die dorp woon of in die agterbuurte en die plakkerskampe nie.
  • Die vraag is nou net of die persoon wil kom om te deel in die gasvryheid van die gasheer.
  • Elkeen wat ja sê, is welkom by die maaltyd.
  • Elkeen wat ja sê, is welkom by die fees!
  • En dít is dan ook die goeie nuus wat ons met ander kan deel, en waaroor ons vandag en elke dag kan feesvier: dat elkeen en enigeen welkom is by God se fees!

#  So, toe die eerste gaste nee sê vir die gasheer se uitnodiging het hy ander gaste laat nooi.

  • En dit is ook presies wat in die geskiedenis met die volk Israel gebeur het.
  • In die tyd van die Ou Testament was Israel mos die volk van God.
  • En toe God sy Seun as Verlosser na die aarde toe gestuur het, vir Jesus, toe was dit veral om die mense van Israel na God toe te nooi.
  • In Matt. 15 sê Jesus dan ook vir ’n Kanaänitiese vrou dat Hy eintlik net gestuur is na die verlore skape van Israel toe.
  • Maar dan lees ons in die Bybel hoe die mense van Israel vir Jesus verwerp het, die meeste van hulle.
  • Hoe hulle Hom selfs aan ’n kruis vasgespyker het.
  • En so het hulle met groot beslistheid nee gesê vir die Here se uitnodiging aan hulle, en selfs met geweld nee gesê, want hulle kruisig vir Jesus.
  • En wat was die uiteinde van die saak?
  • Jesus het in Matt. 21 vir die Jode gesê: “Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer.” (Matt. 21:43)
  • En hierdie woorde van Jesus klink sommer baie soos die laaste vers van ons gelykenis, waar die gasheer vir die eerste klomp genooides sê: “Dit verseker Ek julle: nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.” (Luk. 14:24)
  • Vir genooides wat nee gesê het, was daar nie weer ’n kans nie.
  • Die gasheer sou nie ’n paar borde kos uithou vir mense wat dalk later besluit om ja te sê nie.
  • En so wil ons Hemelse Gasheer ook nóú weet wat my antwoord is: Neem ek sy uitnodiging aan – ja of nee?
  • En die antwoord op hierdie uitnodiging is ’n baie dringende saak.
  • Dis dalk nou of nooit.
  • Soos iemand dit gestel het: “Wie later wil kom, sal té laat wees.”

#  Die Here nooi nog elke dag mense na Hom toe.

  • In sy groot, groot liefde bly nooi Hy ons.
  • Die vraag is net: Wat keer dalk vir my persoonlik om die Here se uitnodiging aan te neem?
  • Wat maak dalk dat ek nie regtig naby Hom leef nie?
  • Dat ek nog nie saam met Hom by die feestafel sit nie?
  • In die gelykenis was mense se verskonings ’n stuk grond en ’n klompie osse en ’n huwelik wat pas begin het.
  • Ons kan seker sê: Dit was veral hulle liefde vir hulle besittings en hulle baie besige lewens wat hierdie mense van die maaltyd af weggehou het.
  • En as ons eerlik is, is dit dalk ook soortgelyke dinge wat vandag tussen ons en die Here staan: dinge soos ons eie liefde vir geld en ander materiële dinge, en ook vir die lewenstandaard wat ons so graag wil handhaaf.
  • Of dinge soos ons oorvol programme en ons gejaag na sukses.
  • Dít kan alles dinge wees wat tussen ons en die Here staan.
  • Maar wat dit ookal is, enigiets wat vir my belangriker is as die Here self, en om naby Hom te leef, is ’n lewensgevaarlike ding.
  • En ons kan maar net bid dat die Here self vir ons daarvan sal verlos.

#  Ek wil afsluit.

  • In Op. 3:20 lees ons daardie baie bekende woorde van Jesus, waar Hy sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.”
  • Die Here wíl saam met ons sy feesmaal hou.
  • Hy wíl hierdie naby verhouding met elkeen van ons hê.
  • En om saam met Hom feesmaal te hou, dit bring vir seker vir ons die grootste geluk van alle geluk.

AMEN

css.php