Preek – 16 Feb 2020: "Liefde vra alles!" – Rut

Votum/seëngroet/stilte:

Wat bring ek vanoggend? Wat is daar wat die Here wil aanspreek in my lewe?

Die Here is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. Hy maak die bymekaar wat treur

Preek:

Ons het laasweek gesels oor die wonder van liefde. Liefde wat nie so maklik met woorde beskryf kan word nie. Dit maak nie altyd sin nie, want in ’n selfsugtige wêreld dring liefde ons na selfloosheid (julle onthou die stukkie sjokolade!). Intieme kennis van God lei tot liefde en liefde tot kennis van God. Daarom deel ons die evangelie met ons woorde, dade en gesindhede. Dit is nie ’n produk, ’n kaartjie hemel toe wat ons smous nie.  Ons lewe word die bemiddeling van ’n ontmoeting tussen God en die mense wat ons pad kruis. Wanneer ons getuies is van die evangelie, is ons bedienaars van die versoening (’n herstelde verhouding wat lei na ware liefde en ware gemeenskap), draers van die Goeie Nuus; wat lewend en dinamies is en anders “gebore word” in elke tyd, konteks en mens.

Die boek Rut is een van daardie juwele in die Bybel (nie sonder probleme om dit vir vandag te interpreteer nie, maar wonderlik!). Die storie begin by Naomi, haar man en twee seuns in die tyd van die Rigters (maar ’n woeste, tipe wilde weste tyd). Hongersnood dryf hulle uit Israel na Moab. Nie lank daarna nie, sterf Naomi se man. Haar seuns trou met Moabitiese meisies en in tien jaar word hulle goed gevestig in Moab. Maar dan sterf Naomi se twee seuns ook en sy bly “alleen” oor (hoe die Bybel dit stel). En sy besluit om terug te gaan na haar geboorteland waar sy hoor dinge beter gaan.

Ten spyte van haar skoondogters het Naomi in daardie ou kultuur basies niks. Geen agentskap of manier om vir haarself te voorsien nie; net armoede en om in ander se oë te kyk te midde van haar diep hartseer. Jou enigste kans tot ’n beter lewe is om weer te trou. Dit is dan ook die argument hoekom Naomi haar skoondogters Orpa en Rut terugstuur wanneer hulle wil saamgaan op haar na Israel: bly, hier in Moab, tussen julle eie mense het julle ten minste die kans om weer te trou; want in Israel word daar gefrons oor buitelanders.

So voor ons Rut se merkwaardige en bekende belofte aan haar skoonma lees, kom ons herinner eers onsself oor wat in die wet staan oor die Moabiete: “3 Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie. 6 Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie.” Ouch!

Net na Orpa huilend afskeid geneem het, slaan Rut jou asem weg met hierdie woorde:

Lees Rut 1:16-17

Ongehoord. Ongehoord vir eintlik enige iemand teenoor enige iemand anders, die tipe toewyding (het mos ’n huweliksteks geword; seker niks mee verkeerd nie, maar dit gaan nie nou daaroor nie). Maar veral ongehoord vir ’n Moabiet teenoor ’n Israeliet en vir ’n vrou teenoor haar skoonma. Maar liefde dring ’n mens om dinge te doen wat sonder liefde net geen sin maak nie.

Die boek Rut is so ’n skitterende voorbeeld van die voortgaande openbaring van die karakter van die God van liefde in verskillende tye. Die Here voorsien vir Rut en Naomi. As Rut, volgens die voorsiening vir armes in daardie kultuur die are gaan optel wat uit die gerwe uitgeval het, dan beland sy op ’n familielied van Naomi se grond (die manlike held van die storie, Boas). Onthou weereens van die kwesbaarheid van hierdie jong Moabitiese vrou in ’n vreemde land (wat kan nie alles gebeur nie?!). Boas het volgens die wet geen ander verantwoordelikheid teenoor die armes as om hulle net toe te laat op sy grond nie, maar hy laat Rut saam met die werkers eet en water drink. Hy gee ook sy werkers opdrag om ekstra graan te laat val sodat sy meer as genoeg optel (hy het duidelik die skoot hoog deur). En as sy hom uitvra oor sy goedheid, dan antwoord hy: 

Lees Rut 2:10-13

By die huis gekom, is Naomi natuurlik oorstelp oor wat sy hoor: Boas is een van hulle lossers; een van die famililede wat moet instaan om met die weduwee te trou sodat sy versorg kan wees. En oor hulle planne van verleiding en die inkruip by ’n man wat so lekker gekuier het dat hy langs die mied aan die slaap geraak het, het ek nou nie vanoggend vir julle ’n woord van die Here nie. Maar hieroor wil ek wel iets sê: In die Hebreeus is daar ’n pragtige oomblik wanneer Boas in die donker agter kom daar is ’n vrou in sy bed en hy haar vra wie is sy, dan antwoord sy: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.” Letterlik vra sy, neem my nou onder u vleuels…” Verteenwoordig jy die Here se sorg waarvan jy vroeër gepraat het.

En Boas het, hy het die tegniese goed uitgesorteer om vir Naomi en Rut as losser op te tree. Hy het hulle familiegrond vir hulle teruggekry.

Lees Rut 4:13-17

Verstommend: ’n Moabitiese vrou, ’n skoondogter is meer werd as sewe seuns.

En ’n Moabiet se nageslag word deel van die gemeenskap van Israel.

En Rut se seun Obed, by Boas, word die Oupa van groot koning Dawid. En so word Rut deel van die geslagslyn van Jesus self.

En dit is gepas, want sy het vir ons, so lank reeds gelede gewys hoe sy liefde lyk.

En watter wonderlike ontmoetings en gebeure vir ons wag wanneer ons deur die onvoorwaardelike liefde van God gedring word.

Daar is oomblikke van ware gemeenskap, nederigheid, van liefde, van sorg en trou.

Soos die blokkie sjokolade in die konsentrasiekamp.

God wys sy gesig.

En ons kan deel wees daarvan.

God is nie gebonde aan wette nie.

In Jesus breek Hy steeds vooropgestelde idees van waar die grense van sy liefde lê.

Ons is draers van die evangelie, bedienaars van versoening.

Ons bou die brûe sodat God se liefde kan vloei.

Sodat mense nuwe skeppings kan word wat nie meer op uiterlike beoordeel nie en in ware gemeenskap kan leef.

As ons gaan stuit voor verskille in ras, klas, seksuele oriëntasie, geslag of wat ookal, dan is dit nie die selflose liefde van Christus nie.

Dan verteenwoordig ons nie sy koninkryk nie.

En dan ontneem ons onsself en die wêreld die wonder van sy versoening. Amen.

Stilword: refleksie oor die drie punte

  • Wie het ek vandag gesien wat by my deernis wakker gemaak het? (Patos)
  • Hoe kon ek die Goeie Nuus deel? Watter beloftes van God is daar vir hom/haar? (Logos)
  • Hoe kan God se liefde nuwe moontlikhede oopmaak vir hulle? Hoe kan ek God se liefde teenoor hulle leef? (Etos?)

Doop en KR bevestiging:

God wys sy gesig as ons baba’s doop. Ons sien nie ’n afsydige Skepper nie. Ook nie ’n wispelturige heerser nie. Ons sien ’n Vader wat stil tevrede is in sy liefde oor sy kinders. Wat jubel en juig oor die kinders van gelowiges ouers wat deur hulle ouers se geloof ’n band met God het. Wat hulle opeis vir Hom, Hom merk as sy eie. Belowe om hulle nooit te los nie.

Daar is kontinuïteit!

God wys sy gesig as hy bevestig dat hy mense roep. Roep om meer te doen as wat hulle dalk gedink het, om te gaan na plekke wat voorheen vir hulle ondenkbaar was. As Hy hulle in sy genade toelaat om aktief deel te neem aan die koms van sy koninkryk.

css.php