Preek – 9 Feb 2020 : "Draers van Goeie Nuus!" – 2 Kor 5:11-21

Votum/seëngroet/stilword:

So bietjie meer as 2000 jaar terug was daar mense wat bevoorreg was om Jesus in lewende lywe te sien. Ons kan nie. Ek kan sy stem hoor soos hulle nie. Maar volgens die Bybel kan ons Hom nog steeds leer ken soos ’n Vriend.

Dit gebeur deur die Heilige Gees.

Jesus is nou hier en daar is niemand soos Hy nie.

Kom ons raak stil en dink aan Hom, wag vir Hom, soek Hom…

Vir almal wat voel hulle het moed nodig…

2 Kor 1:3 “Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus kom al die lof toe. Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee!”

Kindertyd:

In vandag se Bybelstorie gaan ons hoor hoe Jesus sy eerste vier dissipels, 2 pare broers, Petrus en Andreas, en Jakobus en Johannes geroep het. Hulle was almal vissermanne, besig met hulle dag se werk daar langs die see.

Dit het vir hulle die geld ingebring waarvan hulle moes lewe.

Hulle het dit saam met hulle familie gedoen.

Dit is iets wat hulle oor jare geleer het en geweet het hoe om dit te doen; hoe om die nette te weef, waar om te soek vir vis, en hoe om die weer en die see te lees.

Verbeel jou dit: een dag stap Jesus daar op die strand. En Hy sê eenvoudig vir hulle: “Volg My!”

En hulle los alles net so en gaan saam met Hom!

Hoekom sou hulle dit doen? Wat aan Jesus het hulle laat voel dat hulle Hom ten volle kan vertrou?

Hy sê Hy gaan hulle vissers van mense maak. Hulle gaan iets nuuts leer, maar Hy sluit aan by wat hulle klaar ken.

Soos hulle moes leer om goeie vissermanne te wees, so moet hulle leer om Jesus te volg en soos Hy te wees en sy werk saam met Hom te doen.

Net soos hulle dag vir dag moes oplet wat hulle pa hulle leer en dit oefen, net so gaan Jesus met hulle maak.

Jesus roep my en jou ook:
Wat moet ons los?

Wat kan ons doen, wat het ons, wat Hy kan gebruik? (Hy ken jou persoonlikheid en jou gawes, Hy het jou so gemaak, en Hy sal jou so gebruik.)

Maar Hy wil werk aan jou gesindheid en jou vaardighede: jy moet leer om soos Hy te doel, te dink en te doen.

En soos enige vaardigheid (viool, rugby, hokkie) neem dit ’n mens se hele lewe en bly jy aanhou leer…

Kerkraadsbevestiging:

Dink jy Jesus was ’n leier? En is vandag se leiers soos Jesus?

Ons dink leiers moet baie dink van hulleself, en hulle moet kan baas speel oor mense.

By Jesus en sy leiers werk dit nie so nie. Jesus se leiers moet help dat dinge beter raak vir alle mense, want dit is wat Hy wil hê.

Hier by die kerk is ons Kerkraad ons gemeenteleiers.

Hulle moet besluite neem oor wat die kerk moet doen sodat ons aan Jesus gehoorsaam kan wees.

Ons is vandag bevoorreg om vir Heini en Christelle te bevestig as KR-lede…

Skriflesing: 2 Kor 5:11-21

Preek:

Ons praat moeilik oor ons geloof. Ons voel ongemaklik. Ons weet nie regtig wat om te sê nie. Ons tydsgees sê ons moet vir mense ruimte gee om self te kies wat hulle wil glo en wat hulle oortuigings en waardes is. En as ons oor ons geloof moet praat, wat is daar wat ons moet vertel? Hoe mense in die hemel moet kom? En is ons gemotiveerd genoeg? Is ons opgewonde genoeg oor wat die Here in ons lewe doen om te wil vertel?

Ons kom vandag by die versie wat ons jaartema inspireer het; 2 Kor 5:14 “Die liefde van Christus dring ons…” Die evangelie is uitdagend. Dit werk mos so met liefde: as jy dit probeer beskryf vir wat dit regtig is, dan is dit asof dit deur jou vingers glip. En as dit kom by beskrywings van die liefde, dan kan niemand seker beter doen as Paulus se wonderlike gedig in 1 Kor 13 nie. Maar selfs dan is dit asof hy vir ons sê dat liefde so groot en wonderlik is dat ons dit nie met woorde kan beskryf nie. Maar tog ken ons liefde. Ons weet as ons dit sien. Ons weet as ons dit beleef. Ons weet as ons dit gee en as ons dit ontvang. Liefde is onverganklik, sê Paulus.  Alles sal vergaan, selfs geloof en hoop sal oorbodig raak, maar Liefde is ewig net soos God, want God is liefde.

Ware Christelike liefde dring ons om dinge te doen, om iemand te wees, wat irrasioneel is; wat volgens menslike logika net nie sin maak nie. Kom ons staan vir ’n paar oomblikke stil by hierdie storie van liefde. (In haar eie taal…)

Video: #Human – Francine Christophe

Sodra jy hierdie storie probeer verduidelik, dan steel jy die wonder daarvan; en so is liefde. Om jou enigste stukkie kos op te offer ter wille van die welsyn van ’n swanger vrou. Irrasioneel, maar jy weet jy het God se gesig gesien.

God se liefde dring ons heel eerste tot by daardie besef dat “een vir almal gesterwe het en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe sodat die wat lewe nie meer vir hulleself moet lewe nie maar vir Hom wat vir hulle gesterf het…” Jesus se liefdevolle oorgawe, die vrywillige opoffering van sy lewe vir ons, leer ons wat die hart van die liefde en die hart van die lewe is; dit is om jou lewe te vind deur jou lewe te verloor. Jy leef nie meer vir jouself nie, jy leef vir Hom.  “Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens (skepping), die oue is verby, die nuwe het gekom, dit is alles die werk van God.” Iets in jou diepste binneste word beweeg om God eerder as jouself te vertrou en om die geloofsprong te gee. Jy hou op om vir jouself te lewe en jy vind die standvastige vrede, vryheid en vreugde in volle oorgawe aan Jesus.

’n Ander Bybelse manier om op te som wat met ons gebeur het, is “versoening”. Ons kan hierdie nuwe mens word, nuut geskep word, omdat ons versoen is; omdat God ons in ’n herstelde verhouding met Hom plaas; nou kan die nuwe lewe vloei omdat die gemeenskap herstel is. En deel van hierdie radikale transformasie is dat ons nie net ontvangers van hierdie versoening word nie, maar draers, bedienaars daarvan. Vriende, ons moet getuienis (of dan nou evangelisasie) herontdek as sentraal tot ons roeping as Christene. Ons boekie se titel is “Vertel – dra die goeie nuus.”  Ons is nie verkoopsmense wat ’n kaartjie hemel toe smous nie. Ons is gesante (ambassadeurs) van Christus.

Dit bring soveel meer vryheid en moontlikhede, maar dit is ook ’n soveel groter verantwoordelikheid. Ons getuig met ons gesindhede, ons dade én ons woorde; ons beliggaam God se nuwe wêreld. Die evangelie is iets nie ’n produk nie. Dit is ’n ontmoeting, ’n gebeurtenis. Die Gees werk (die wind waai!) waar en hoe en Hy wil. Dit gebeur nie elke keer en met elke mens ooit op dieselfde manier nie. Daar is nie ’n resep nie; dit is nie voorspelbaar nie.

As ek vir Paulus in hierdie gedeelte reg verstaan, dan lyk dit vir my een van die sentrale veranderinge wat die evangelie in Christene bring en wat ons in die wêreld moet verteenwoordig is die beginsel dat ons mense nie meer volgens uiterlike maatstawwe beoordeel nie. Paulus bring die punt tuis dat die mense wat Jesus self volgens hierdie wêreldse logika beoordeel het, Hom afgeskryf het. Ons meet nie meer sukses aan rykdom en magsvertoon nie; ons kyk nie meer na mense deur bril van ras, klas, geslag en seksuele oriëntasie nie. Bedienaars van die versoening help meewerk aan ’n wêreld waar ons mense help ontdek dat Christus ons vrygemaak het van hierdie onderskeidings sodat ons kan leef in ware, egte en liefdevolle gemeenskap.

En vir die wat hoop dat die dominee dat iets konkreets vir hulle sal gee om te gaan doen, hier is julle oomblik…

Ons kan die ontmoeting, die gebeurtenis van die evangelie nie fabriseer nie. Ons wag daarop. Maar ons wag aktief daarop. Met sekere dissiplines/oefeninge/gewoontes/praktyke posisioneer ons onsself om die evangelie te ontvang en te deel. God se liefde ontvang ons deur dit te deel (soos Lukas Maree gesing het, dit is soos die weduwee se kruik wat vol bly selfs al sou jy dit gebruik).

En hier is hoe ons gaan oefening in die volgende paar weke om draers/ambassadeurs van die evangelie te wees:

Patos: Ons gaan oefen om anders na mense te kyk (nie volgens die uiterlike te oordeel nie). Ons oordeel nie meer nie, maar kyk met deernis. Ons leer luister.

Logos: In daardie liefde, wag jy op die God se Woord; jy soek saam met daardie persoon na God se onvoorwardelike, spesifieke belofte aan hulle. Jy getuig van God se onvoorwaardelike liefde en trou.

Etos: En dan gaan ons een stappie verder. Ons pluis saam met die persoon uit hoe ons God se beloftes kan uitleef as nuwe, florerende lewe!

Christus het, by wyse van spreke, sy laaste sjokoladetjie vir jou gegee. Gaan gee joune vir ander, en ervaar die vreugde van sy liefde wat jou dring. Amen.

Stilword: refleksie oor die drie punte:

  • Wie het ek vandag gesien wat by my deernis wakker gemaak het? (Patos)
  • Hoe kon ek die Goeie Nuus deel? Watter beloftes van God is daar vir hulle?
  • Hoe kan God se liefde nuwe moontlikhede oopmaak vir hulle? Hoe kan ek God se liefde teenoor hulle leef? (Etos?)

Seën:

herinner jouself aan die gawe van nuwe lewe/skepping as jy uitstap…

css.php