Preek – 2 Februarie 2020: Vertel! – Hand 1:1-8

TEKS:
Hand 1:1-8 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af (2) tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. (3) Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. (4) Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. (5) Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” (6) Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (7) Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. (8) Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

PREEK:
Ek en Dorette is nog maar ‘n bietjie langer as drie jaar deel van Paarlberg Gemeente maar daar is van julle wat al baie jare lidmate van ons gemeente is. Ek het baie stories gehoor van vroeër jare; toe ds Bert Struwig en van sy opvolgers nog hier was. Mense vertel my van tye toe daar 4 dienste op ‘n Sondagoggend was: 2 in die kerk en een in die kerkie langs die Hoofstraat en een in die skoolsaal. Van hoe mense vroeg moes kerktoe kom om plek te kry en dat sommige mense op die trappies daar op na die gallerye gesit het en stoele hier voor gepak moes word om almal te huisves.

Dis nie meer so nie. Op ons boeke is 2300 name (grootmense en kinders) maar van die 2300 kom gemiddeld op ‘n baie goeie Sondag sowat 650 mense kerk toe. Dis sowat 28% van ons lidmate. En die hoeveelheid lidmate wat eredienste bywoon, het van 2001 tot verlede jaar afgeneem met meer as 60%! En dit het weer ‘n impak op die gemeente se finansies en moet ons die sente omdraai om die begroting te laat klop.

Maar dit gaan nie so net met ons gemeente nie. In die vorige gemeentes wat ek was, gaan dit ook so. Selfs nie net met die NG Kerk nie. Baie ander kerke vertel ook van drasties krimpende getalle. Daar is enkele kerke wat groei, maar die meerderheid gemeentes is aan die kwyn. Oorsee gaan dit nóg erger! Die Chistelike kerke in Nederland verloor meer as 100 000 lidmate per jaar. In Britanje woon minder as 6% van die bevolking eredienste by, en die meeste is ouer mense.

Hoekom is dit so? Ek weet daar is mense wat dink dat besluite van die sinode ‘n oorsaak is, maar die feit dat dit ook so is in ander kerke, wys dat dit nie noodwendig al rede is nie.

Ek dink daar kan seker baie redes voor wees, maar ek wil graag vir julle ‘n storie vertel wat ons dalk sal help om iets daarvan te verstaan wat, ek dink, van die grootste redes is.

Laat ek net eers sien wie is die hengelaars onder julle? Julle sal die storie nog beter verstaan.

Lank, lank gelede was daar ‘n groep mense wat hulself Vissers genoem het. Die see, damme en strome het gekrioel van vis om hulle. En die visse was honger!

En so het dit dan gebeur dat die Vissers week na week en maand na maand bymekaar gekom het om te gesels oor die baie vis wat daar rondom hulle is en hoe hulle te werk kan gaan om die vis te vang. Hulle het gepraat oor wat dit beteken om ‘n visser te wees en dat dit hulle heel belangrikste taak is om vis te vang. En so het hulle nuwe metodes ondersoek om vis te vang, navorsing gedoen oor beter visstokke, katrolle, verskillende soorte aas en skoene vir die rotse.

Hulle het vir hulle slagspreuke saamgestel soos: “’n Vis ‘n dag laat jou gemoed weer lag” en “Visse is vir vissers” en “Visvang is ons lewe” en “Vang ‘n vis of jy het dit mis.”. Hulle het spesiale aanbiedings gehou oor visvang en kongresse met afgevaardigdes waarheen elke klub mense gestuur het.

Gou het hulle besef dat die belangstelling so groot is, dat hulle groter plekke moes bou om vergaderings en simposiums in te hou. Steeds het hulle gesê: “Elkeen is ‘n visser en elke visser moet visvang”.

Maar daar is een ding wat hulle nie gedoen het nie: “Hulle het nie …. vis gevang nie!”

Maar dit het hulle nie afgesit van hierdie roeping om vis te vang nie. Hulle het besef dat nie alle visse gaan vir dieselfde aas nie en het mense aangestel om die saak van die aas te ondersoek. En so is daar rade gevorm om sulke mense aan te stel vir verskillende aspekte van hengel.

Gou het hulle agtergekom dat hulle groter plekke nodig gehad het om mense te leer oor hul bevindings rondom hul navorsing en dit gebou. Maar steeds het hulle vir hulself gesê dat hul primêre taak is om vis te vang. En so het daar na al die navorsing kursusse ontstaan oor verskillende onderwerpe rondom visvang soos: Die behoeftes van visse, visse se reaksies, tegnieke om vis te vang en nog baie meer. Al hoe meer sg vissers het ingeskryf vir die kursusse en jaar-na-jaar ‘n B.Vis “graat” gekry in Visiologie na hul opleiding. Maar een ding het niemand van hulle gedoen nie: Hulle het nie visgevang nie.

Toe gebeur dit dat, na een baie besielende weeklange kongres, een kongresganger sy visstok gevat het en vis gaan vang het! Hy het almal laat weet dat hy twee groot visse gevang het. Dadelik het hulle hom gevra om al die ander groepe se vergaderings by te woon en te vertel van hoe hy die twee visse gevang het. Hy kon nie voorbly om plekke en mense te besoek nie. Omdat hy ook soveel ondervindig opgedoen het, het hulle besluit om hom aan te stel as ‘n professor in Visiologie. Dit het natuurlik beteken dat hy baie besig was en nie by visvang self sou kon uitkom nie.

So het dit aangegaan. Maar op ‘n dag het een jong vrou opgestaan in so ‘n weeklikse byeenkoms en gesê: “Jy is nie ‘n visser as jy nie visvang nie!”

Almal was baie ontsteld en gewonder waar sy aan dié simpel gedagte kom? Hoe kan sy so-iets sê!? Al wat hulle doen is dan juis om te praat oor visvang en vis!?

En dan sluit die storie af met die vraag:

“ Is iemand ‘n visserman as hy/sy, jaar na jaar, nooit ‘n vis vang nie?”

Aan die begin het ek vertel van die dalende getalle rondom lidmate en kerkgang. En ons het gewonder: “Hoekom is dit so?” Natuurlik is ons doel en roeping nie om mense in die kerk te kry of ‘n lidmaat te maak nie. Ons roeping is om Jesus by mense te bring en mense by Jesus. Ek dink dat die dalende syfers juis ‘n simptoom is, ‘n gevolg is, van die feit dat ons (ek) dit nie meer regkry om Jesus by mense te bring en mense by Jesus nie.

In Handelinge lees ons van die belofte van Jesus: ”Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees….” Jesus belowe dat die boodskap verder uitgedra sou word – nie deur ‘n engel of ‘n stem van God nie, maar gewone feilbare mense. Julle sal My getuies wees. Hulle moes net deel wat hulle ervaar het. Hierdie apostels het nie oor hulle kerk getuig nie, maar oor hulle Here wat opgestaan het, wat Hy kon doen, Sy groot liefde, hoe ‘n wonderlike persoon Hy was en wat Hy kon doen vir mense – die lewende Christus. Die wêreld word nou die arbeidsveld, Jerusalem, Judea, Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Die Heilige Gees sou hulle die krag gee. Voordat hulle die onmoontlike moes aandurf, moes hulle eers wag op die krag van die Heilige Gees. Deur die krag sou hulle dinge kon doen waarvoor hulle nie vroeër kans gesien het nie. Ons ken die geskiedenis en weet met watter groot entoesiasme en effektiwiteit hulle die Evangelie verkondig het. Van 7 000 gelowiges in die tyd van Handelinge 2 het die kerk oor 300 jaar gegroei tot omtrent 33 miljoen (Rodney Stark – The rise of Christianity). Getalle was nooit die mikpunt nie maar wel die gevolg.

Hoekom sukkel ons daarmee om Jesus se liefde by mense uit te bring? Natuurlik kan ek en jy nooit Jesus se liefde deel as ons dit self nie beleef nie. Daarom moet elkeen van ons ook seker maak of ek besig is met goeie gewoontes of om te groei in die liefde van Jesus. Maar ek weet dat baie van ons Jesus wil volg en van sy liefde kan getuig. Maar steeds sukkel ons om dit te deel met ander mense. Hoekom sukkel ons om vis te vang? Daar kan seker baie redes voor wees, maar die visse van vandag eet ander aas as jare terug. Hulle swem in ander water as vroeër. Tye en mense het verander, al het Jesus se liefde deur al die jare dieselfde gebly. En ons weet nie meer hoe om Jesus by mense en mense by Jesus uit te bring nie. Geen wonder dat ons gemeente nie groei en meer en meer mense op die pad agter Jesus begin loop nie.

Dit was een van die hoofsake waaroor ons Sinode by verlede jaar Mei se sinodesitting by Goudini gepraat het. As kerk en gemeente is ons juis daaroor bekommerd. Daar is daaroor gebid en gesels en ons het besef dat ons nuwe aas en stokke sal moet gebruik. Ons sal ons nette op ‘n ander manier moet span om Jesus se liefde te bring aan mense wat smag daarna. Ons kan nie meer ‘n boekie met 4 reëls vir mense gee en bid vir ‘n oorgawe en aangaan nie. Ons sal moet verstaan wat die Goeie Nuus alles beteken. Dis nie net dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het nie, maar ‘n nuwe lewe wat Hy vir my hier en nou en hierna kom gee. Ons sal moet verstaan wie ek is? My eie persoonlikheid en gawes en waar die Here my kan en wil gebruik. Ons sal ons naaste, die visse rondom ons, nie net beter moet leer ken nie, maar leer liefkry met Sy liefde. Dit, en nog baie meer is waaroor dit gaan in die volgende paar weke in die reeks: Vertel, dra die Goeie Nuus.

Die vraag is of ons die boodskap van God se liefde en genade oordra en uitleef? Liefde is ons besigheid. As ons nie werklik liefde begin leef nie, misluk ons. Dit beteken dat ons meer sensitief moet wees vir die wat seer het, probleme ervaar, krisisse beleef. Dat ons moeite moet doen, ander belangriker as onsself sal sien. Ons sal meer moeite moet doen, veral vir mense buite ons vriendekring, buite ons voorkeure. Liefde moet ‘n uitstaande kenmerk wees van ons gemeente. Liefde is te kosbaar om dit vir onsself te hou.

Die een enkele rede hoekom God sy Seun Jesus, na ons gestuur het, is om vir ons te kom wys hoe lief Hy ons het. So lief, dat Hy aan die kruis gehang het vir elke liewe mens op die aarde. God was gewillig om Sy Seun te stuur om in ons wêreld te leef. Is ons bereid om ook te gaan? God het die wêreld so lief gehad en ons sukkel daarmee. Ons sal moet seker maak dat ons op dieselfde pad loop as Jesus. Brian Medway skryf: ”Ons het kerke vol mense wat Jesus liefhet, maar wat nie liefhet wat Jesus liefgehad het nie.”

Ons moet ‘n gemeenskap van genade, deernis, hoop en liefde wees. Mense wat vergewe omdat ons weet ons vergewe is. Doen ons moeite om mense met liefde te bereik? Of dink ons ander mense sal dit doen?

Daar is ‘n ou legende wat vertel van ‘n gesprek wat plaasgevind het tussen Jesus en die engel Gabriël na die hemelvaart. Gabriël vra die Meester watter plan hy gemaak het om almal van God se liefde te vertel. Jesus het geantwoord: “Ek het Petrus, Jakobus en Johannes en van die ander van hulle gevra om dit aan ander te vertel.

Gabriël het kwaai gefrons omdat hy die dissipels goed geken het. Toe sê hy: “Ja, maar Meester, veronderstel dat Petrus na ‘n rukkie vergeet en Johannes sy entoesiasme verloor. En wat as hul opvolgers in die twintigste eeu so besig raak of so bang is dat hulle nie die tyd of die moed het om ander te vertel nie? Wat dan? ‘

Toe antwoord Jesus hom: “Ek het geen ander plan nie. Ek maak staat op hulle.”

Leonard Sweet vertel dat hy op’n dag tydens middagete ‘n restaurant gesoek het en ‘n advertensiebord “Cabana Café” gesien het. Toe hy by die deur kom, was dit gesluit en met ‘n handgeskrewe kennisgewing: “Uit vir ete, sal 13:30 terug wees”. Hy kon sy oë nie glo nie en het weer by die venster ingeloer. Toe sien hy ‘n bordjie “Restaurant te koop, goeie besigheid, goeie ligging en ‘n goeie geleentheid.” ‘n Restaurant wat toe is vir middagete? Dit maak nie sin nie. Dit lyk of die eienaar meer besorgd was oor sy maag as om honger mense van buite wat ‘n plek gesoek het om te eet, te bedien. Dit was ‘n restaurant wat nie besef het wat sy besigheid was nie. Geen wonder dat hy die plek wou verkoop nie.

Hoe lyk dit? Is ons hier – reg om mense met die liefde van Jesus te bedien, of is ons uit vir ete?

Amen

 
css.php