Preek – 19 Jan 2020: "Vuil werk: – Joh 4

Inleiding

Gedurende die Desembervakansie het ds Schalk gepreek oor Jesus se wederkoms en hy gebruik toe die volgende beeld: wanneer Jesus weer kom wil hy ons nie met ons tasse gepak hier kry nie; Hy wil ons kry met ons overalls aan. Hierdie beeld het by my vasgesteek in hierdie spesiale tyd van my lewe waarin ek op die drumpel van die bediening staan.

Ek het verskeie herinneringe aan overalls: my lewe deur het ek `n familie van ambagsmanne geken – mense wat nie anders kan as om in overalls te werk nie. Later het ek twee maal die geleentheid gekry om self `n overall aan te trek – hierdie helder oranje een.

Die jeug van Jeffreysbaai gaan jaarliks op `n uitreik en word vriendelik verplig om hierdie oranje pakkies aan te trek as spandrag – nou vir tieners (en studente) het so `n helder pakkie `n hele paar uitdagings:

1 Dit staan uit soos `n seer oog, wat beteken dit is vreeslik embarrassing terwyl jy eintlik net probeer in pas.

2 Dit word gemaak vir mans se lywe, so vir enige iemand met kurwes is dit vreeslik ongemaklik.

3 Daar is net geen manier onder die son om `n oranje overall mooi te laat lyk nie.

Hierdie uitreik is 10 dae lank. Teen dag 3 verander mens se perspektief oor die overall:

1 Jy is dankbaar dat onsekere, klein kindertjies weet daar is `n groep oranje pakke wat gereed staan om hulle te bedien, jy pas in op die enigste manier wat saak maak.

2 Hierdie overall is ongemaklik vir `n mode parade, maar die lekkerste ding om in te speel en te werk, wat eintlik al is wat tel.

  1. Hierdie overall raak vuil van taai handjies en modder, maar dit beteken meer as die nuutste brands wat jy onder dit wegsteek.

Die overall het my baie oor bediening geleer, dit het my geleer wat dit beteken om die vuilwerk van Christen-wees te doen.

Jesus het overall-werk gedoen. Tydens sy lewe op aarde het Jesus homself in plekke gesit waar mens vuil, ongemaklik en dikwels geoordeel sou word – en die hele punt aan ons hier-wees is dat ons voor die wêreld bely dat ons dieselfde wil doen.

Jesus het baie overall werk gedoen; ek wil vandag maar net `n paar geleenthede uitlig:

Jesus gaan oor grense

Die eerste tipe vuilwerk wat Jesus gedoen het, is om oor verskeie mensgemaakte grense te beweeg.

In Johannes 4 is Jesus en sy dissipels op pad Galilea toe en die pad wat hulle volg loop deur Samaria. Aangesien hulle stap, is dit net natuurlik dat hulle honger en dors word en Jesus, in sy menslike liggaam, gaan sit by die fontein van Jakob in die dorpie Sirag. Dan gebeur die volgende:

Teksgedeelte Johannes 4:8-10

Deur te gaan sit by hierdie lewensbron van ‘n Samaritaanse dorpie, te praat met een van hulle, en boonop nog `n vrou ook, breek Jesus grense af waaraan beide Jood en Samaritaan vir honderde jare vasgeklou het.

Vir die vrou is die grens nog duidelik daar, maar Jesus probeer iets anders by haar tuisbring: sy kyk so vas in die oppervlakkige verskil tussen hulle, terwyl sy eintlik `n ontmoeting met die Messias het. `n Mensgemaakte grens tussen Hom en haar, maak dat sy amper die lewende water, wat God gee, heeltemal mis.

Jesus word vuil

Jesus se vuilwerk behels, tweedens, dat Hy werklik vuil raak. In Lukas 8 kom Jesus terug oor die see van Galilea nadat Hy aan die oorkant gaan bedien het, en loop Hy in `n skare van mense in. Wanneer Hy dan eintlik op pad is om Jaïrus se dogtertjie te gaan gesondmaak, gebeur die volgende:

Teksgedeelte Lukas 8:42-44

In die Joodse reinheidskultuur is hierdie gebeurtenis skandelik – `n vrou wat bloei raak aan Jesus, `n man en Rabbi. Die teks gaan verder en vertel hoe die vrou dan, wanneer Jesus vra wie dit was, daar voor almal praat oor haar siekte – sy steek vir Jesus direk in die skande en maak Hom fisies onrein. Jesus draai om en in plaas daarvan om haar te verjaag of te vervloek, maak Hy `n voorbeeld van haar – haar geloof word geprys, daar voor almal.

By die dood van Sy vriend Lasarus gaan Jesus selfs verder oor die reinheidslyn:

Teksgedeelte Johannes 11:38-40

Hier word Jesus deur mense gewaarsku oor die die reuk van die graf, die vuilheid van `n liggaam wat al vier dae lank ontbind. In plaas daarvan om terug te staan, tree Hy oor die lyn en word vuil ter wille van iemand anders se lewe.

Jesus roep sondaars

`n Laaste, bekende voorbeeld van Jesus se “overall” menswees sien ons wanneer Hy doelbewus `n tollenaar kies om Hom te volg.

Teksgedeelte Matteus 9:9-10

Gasvryheid was vir antieke Jode amper net so belangrik soos reinheid in Jesus se tyd; maar selfs die mees gasvrye Jood het nie sommer enigiemand in sy huis ontvang nie. In hierdie gedeelte word Jesus in die huis van `n sondaar ontvang en geniet Hy sy ete sommer saam met nog ander sondaars ook.

Wanneer die Fariseërs Hom hieroor uitdaag, antwoord Jesus dat Hy gekom het vir sondaars en nie vir die wat reeds op die regte pad is nie. Die Fariseërs se vraag spreek eintlik van hul oordeel oor ander; dit getuig daarvan dat hulle glo hulle is minder sondig as iemand anders. Matteus volg Jesus met vrymoedigheid, maar vir die Fariseërs staan hul oordeel oor ander in die pad van `n ware reis saam met God.

Hierdie teksgedeeltes getuig vir my van Jesus se diepste karakter: Hy steur Hom nie aan grense nie; Hy is nie bang om vuil te word nie en Hy is nie te goed om met sondaars te meng nie.

Inteendeel, waar Jesus homself in hierdie situasies plaas, openbaar Hy God aan mense. Hy word op hierdie oomblikke in die geskiedenis `n heiligdom vir Samaritane, vir `n vrou wat bloei, vir iemand in die greep van die dood en vir `n sondaar wat ander se inkomste steel.

Jesus bring in hierdie oomblikke die teenwoordigheid van God na die mense toe wat dit, na menslike standaarde, die minste verdien het.

Wat is ons werk?

Wanneer ons inkoop op iets, soos `n nuwe werk, `n vriendskap of gym-lidmaatskap, dan dink ons dikwels eerste: wat is in dit vir my? Op watter byvoordele kan ek reken? Ons benader kerkwees ook so: wat is in dit vir my? Wat kan ek ontvang by Sondag se erediens?

Christen-wees is nie so skoon en gemaklik soos ons dink nie. Christen-wees is vuilwerk. Christen-wees gebeur oor die grense van ras, taal, kultuur en selfs geloof. Christen-wees gebeur daar waar ek vuil word wanneer ek in die township bedien; wanneer ek die hand skud van `n hawelose persoon en hom of haar in die oë kyk en erken dat dit `n mens is. Christen-wees gebeur wanneer ek ander sondaars, soos myself, aan die hand vat en sê: “Kom, ons probeer Hom saam volg” in plaas daarvan om sondes op te weeg en beter te voel oor die bietjie wat ek doen. Ons daag by kerke op omdat ons vir die wêreld probeer sê ons koop in op Christen-wees – dit behoort ons hoofmotivering te wees – ons is hier omdat ons nie langer daarin glo om te vra “Wat is in dit vir my?” nie, maar om te vra: “Waar kan ek vuil word vir die koninkryk van God?”.

Dankoffers

Wanneer jy vanoggend jou dankoffer gee, vra jouself hoe jy meer as net jou geld kan gee. Vra jouself: wie is vir jou die Samaritaan, die vrou wat bloei, waar is die oop graf, watter sondaars kan jy nooi vir ete?

css.php