Preek – 6 Oktober 2019: Wie is ek? - 1 Kor 3 en 4

Skriflesing:

1 Kor 3:21-23  Daarom moet niemand op mense roem nie. Alles behoort aan julle:  (22)  of dit Paulus of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of hede of toekoms is, alles behoort aan julle,  (23)  maar julle behoort aan Christus en Christus aan God.

1 Kor 4:1-7  So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is.  (2)  Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees.  (3)  Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie.  (4)  Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel.  (5)  Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.  (6)  In hierdie uiteensetting, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik om julle te leer wat die gesegde beteken: “Hou jou binne die perke wat God gestel het.” Dan sal niemand hom belangriker as ‘n ander beskou oor sy leermeester nie.  (7)  Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?

Preek:

Met die vreeslike geweld en misdade en aanvalle op vrouens en kinders en geweld in arm woonbeurte tussen bendes en plaasaanvalle en binne huwelike die afgelope tyd, het ek gewonder hoekom doen mense sulke verskriklike dinge? Ek het dit ge-Google en op ‘n hele paar antwoorde gekom. Daar word gepraat van armoede, drugs en alkohol. Maar een van die grootste redes (wat seker saam met ander gaan), is ‘n swak selfbeeld. Hoe jy oor jouself dink en voel en dan optree.

 

In baie kulture word gewaarsku teen ‘n oordrewe selfbeeld. Wanneer mense te veel van hulself dink en neersien op ander en dink hulle kan maak net wat hulle wil met hulle. Ons praat ook van mense wat meerwaardig is soos toe daar nog slawe was. So sal ons dan sê dat iemand dink die son straal uit hom/haar uit. As ons soms iets gesê het wat geklink het na spog in die familie, dan het my skoonma altyd gesê: “Bragger, Bragger, daar skiet jou cracker.” Mense wat as’t ware uit die hoogte afkyk na ander.

 

Ander kulture, veral die Westerse kulture, dink dat geweld dikwels ontstaan uit ‘n swak selfbeeld. Jy dink niks van jouself nie en daarom moet jy jouself op ‘n manier probeer bewys. Ons sien dit in sommige handboeke oor hoe om kinders groot te maak: Jy moet net vir jou kinders sê: “Jy kan! Is is ‘n wenner! Go for it!” En dan dink sommiges dat jy nie misdade sal pleeg as jy goed dink en voel oor jouself nie. Dan het jy mos gewys jy is beter as die ander.

 

Ons praat dan gewoonlik van mense wat minderwaardig of meerderwaardig voel. En eintlik is die 2 baie na aan mekaar want as jy minderwaardig voel, vergelyk jy jouself met ander en voel altyd hulle is beter. As jy meerderwaardig voel, vergelyk jy ook jouself met ander en dink jy is beter as ander. Maar in albei gevalle is ander mense se optredes en menswees die maatstaf oor hoe jy oor jouself voel.

 

So, dit lyk my dat die manier van hoe jy oor jouself voel en dink baie belangrik is omdat dit soveel gevolge het vir myself en ander. Hoe moet ek dan oor myself dink? Hoe moet ek as iemand wat aan Jesus behoort en die Gees van God in my lewe het, na myself kyk en optree? Ek dink die woorde van Paulus aan die gemeente van Korintië help ons daarmee.

 

Kom ons kyk na die teks en die saak waaroor dit hier gaan. Korinte was ‘n gemeente wat deur Paulus gestig is en later ook deur ‘n ander leiers in die kerk, waaronder Apollos, besoek is. En nou hoor Paulus dat daar verdeeldheid in die gemeente is. Sommige sê:”Ek is ‘n Paulus-man! Hy is die stigter van die gemeente en ek volg hom.” Ander hou weer meer van Apollos en so speel hulle die 2 teen mekaar af en kom daar verdeeltheid in die gemeente. En dan raas Paulus met hulle as hy sê hulle is kinderagtig en tree op soos wêreldse mense. Nie soos mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie (3:1).

 

As ons nou mooi kyk, dan sien ons dat die eintlik probleem wat die verdeeltheid veroorsaak, in 4:6 aangespreek word:

 

1 Kor 4:6  … Dan sal niemand hom belangriker as ‘n ander beskou oor sy leermeester nie.

 

Dit gaan oor hoogmoed. Die woord wat Paulus hier gebruik, is ‘n woord wat net hy gebruik in die hele NT en hy gebruik dit 6 keer en een keer in Kolossense, waarby ons ook gaan kom. Die woord, wat hier vertaal word met “belangriker as ‘n ander beskou” (een woord in Grieks!) klink amper soos iemand wat ‘n ballon opblaas en dan weer afblaas: Foosioo! Die vorige vertaling vertaal die vers dan juis so:

 

1 Kor 4:6  … sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

 

En dis presies wat hoogmoed en die woord beteken: Om opgeblase te wees, soos ‘n ballon wat te styf opgeblaas is en op die punt staan om te bars. So gee kommentare die betekenis weer: Over inflated, swollen.

 

Paulus praat hier oor ons ego, die ek. Hoe ek dink en voel oor myself. En dan raas hy met hulle omdat hulle ego’s opgeblaas is en net vol van hulself is.

 

Maar dit, sê Paulus, is nie soos God ons bedoel het om te wees nie. Ons natuurlike neiging is om myself in die middel van my ego te sit, maar dit is nie soos die Here dit bedoel het nie. En as ons lewe anders is as wat God dit bedoel het, bring dit pyn – vir myself maar ook vir ander. Want, jy sien, as ek in die middel van my ego is, sal ek myself altyd vergelyk (en dis wat die mense van Korinte gedoen het) met ander. En dan sal ek nooit goed genoeg wees nie. CS Lewis, die bekende Engelse skrywer, sê dat hoogmoed altyd kompeterend is. Altyd in ‘n wedstryd is. As daar dus mense om my is wat ryker is, mooier as ek is, slimmer as ek is, meer gewild is as ek, meer suksesvol is, sal my ego altyd ongelukkig bly, selfs al doen ek niks daaraan nie. Dis hoekom so baie mense so baie doen om goed te lyk in die oë van ander mense:

 

  • Ons is gedurig op ‘n dieët om so skraal soos ander te lyk
  • Ons doen dinge sodat ons ‘n goeie CV kan hê – goed kan lyk teenoor ander moontlike aansoekers.
  • Ons koop in die nuutste modes klere om in tel te bly.
  • Of soos Stephan Joubert sê: “Ons aanbid die onheilige 3-eenheid, die 3 Y’s. Waar bly jy? Wat kry jy? En waarmee ry jy?”
  • En ons probeer die belangrike of bekende mense te ken – namedropping.
  • Ons wil uitstaan, erkenning kry.

 

Hoekom? Om die leegheid wat in ons binneste is te probeer vul maar dit nooit sal regkry nie.

 

Wanneer ons dan nie die vrede in ons binneste kry deur onsself as’t ware op te blaas nie, wat gebeur dan? Óf ons loop soos opgeblaasde ballonne rond wat amper wil bars (hoogmoed) óf ons bars en sit is selfbejammering oordat ek ‘n mislukking is. Dan loop ons altyd en spog en doen dinge om die aandag op myself te vestig en praat ook net oor onsself. Of ons kla gedurig oor my mislukkings en hoe sleg en swak ek is. Maar steeds is die ek, in die middel van my ego. Dis wat in Korinte gebeur het ook.

 

Meeste van ons het al gehoor van Madonna, bekende en skatryk (haar rykdom word geskat op R12 000 mil) en hoogs suksesvolle sangeres en aktrise. Met soveel roem en sukses en geld behoort sy goed te voel oor haarself en baie vrede te hê omdat sy mos kan doen eintlik net wat sy wil. In ‘n onderhoud wat die tydskrif Vanity Fair met haar gevoer het, is sy baie eerlik oor haarself. Sy sê:

 

“My drive in life is from this horrible fear of being mediocre. And that’s always pushing me, pushing me. Because even though I’ve become Somebody. I still have to prove that Somebody. My struggle has never ended and it probably never will.”

 

En as ons eerlik met onsself is, is ons almal so van nature. Ons hoef nie eers so ryk en beroemd soos Madonna te wees nie. Nes ons dink ons is nou gelukkig, moet ons dit weer op een of ander manier bewys, aan onsself of ander. Soms trek ons net ‘n geestelike jassie aan vir die passie om altyd beter en anders as ander te wees. So skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse:

 

Kol 2:18  Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink….

 

En hier is die ander plek waar Paulus die woord van hoogmoed gebruik, eiewaan (Ou Vertaling: “opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid”).

 

Dan brag ons eintlik met ons “geestelike rykdom” en kyk af op ander wat nog nie is waar ek al is nie. In die middel is maar weer my eie ek.

 

Laat ons maar soos Madonna eerlik wees oor ons eie ego’s: Dit kan nooit tevrede gestel word nie.

 

Miskien voel jy nou om te sê: “OK, Paulus, as jy dan nou so alles weet, hoe moet ek leef met my ego? Hoe moet ek dan oor myself dink en optree? Hoor wat sê hy is verse 3 + 4:

 

1 Kor 4: (3)  Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie.  (4)  Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. 

 

Hy sê, en dis in werklikheid wat hier staan, dat hy eintlik vere voel wat mense dink of sê oor hom. Hoe mense oor hom praat en hy selfs voel oor homself, is nie wat bepalend is in wie hy is nie – sy ego bepaal nie wie hy is nie.

 

Op ‘n manier kan ons dit nog glo want ons sê soms vir mense en ook onsself: “Moet jou nie steur aan die skinderbekke of wat so-en-so oor jou sê nie. Glo net in jouself en jy weet mos wie jy is! Jy is mos self in beheer van jou lewe!”

 

Maar, weet julle, selfs dit is nie wat Paulus sê oor sy ego en selfbeeld nie! Hy sê sy selfbeeld is ook nie eers afhanklik van hoe hy oor homself dink nie!”

 

Nou kan ons maklik vir Paulus sê: “Komaan Paulus! Jy speel seker! Hoe kan dit nie eers jou raak oor hoe jy oor jouself voel nie?”

 

As Paulus dit sê, dan bedoel hy dat wie hy is, wat sy identiteit bepaal, nie afhanklik is van wat ander en selfs hyself daaroor sê of dink nie. Maar ons moenie dink dat Paulus dink die son straal uit hom en dat hy hoogmoedig is nie. Hoor hoe sê hy:

 

“…maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie.”

 

Hyself is nie volmaak nie. Op ‘n ander plek sê hy:

 

1 Korintiërs 15:9  Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het.

 

Hy dink nie hy is ‘n geskenk aan die wêreld nie. Maar wat hy besef is dat hy nooit goed genoeg sal kan voel oor hoe ander of hyself oor homself dink of praat of voel nie. Daar sal altyd ‘n rede wees om ontevrede te voel oor jouself. Nee, Paulus is op ‘n heel ander bladsy as dit kom by sy ego of selfbeeld. Sy selfbeeld is nie opgeblaas of afgeblaas nie, maar volgemaak! En nie deur sy eie optrede en eienskappe nie, maar deur die Gees van Jesus. Wat Paulus regkry en ons wil aanmoedig om na te streef, is om te oefen om onsself uit die middelpunt van ons lewens te skuif! Nie niks te dink van jouself nie, maar met ander oë na jouself te kyk. Om na myself te kyk soos God my sien deur die genadige oë van Jesus aan die kruis. En dit is ware nederigheid! Om te besef dat ek vrygespreek is tsv al my sonde alleen ogv Jesus wat in my plek my en jou saak met God kom regmaak het aan die kruis. En daarmee saam is dit ook ware vryheid omdat jy nie meer afhanklik is van die goedkeuring van ander mense of jouself nie.

 

So lees ons:

 

Romeine 8:1  Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.

 

Hoe lyk so ‘n nederigheid in die praktyk? Dis dan wanneer ek nie meer afhanklik is van wat ander van my dink en hoe ek vergelyk met ander nie. Dis dan wanneer ek begin om eintlik te vergeet van myself en ander belangriker word as ekself in my eie ego. Jy kry mos mense wat byna net oor hulself kan praat. So lees ek van ‘n skrywer wat met ‘n vriend praat oor homself by sy eie jongste boek se bekendstelling. En die hele tyd praat hy net oor homself en hoe hy die boek geskryf het. Tot hy later sê: “Sjoe! Nou praat ek net oor myself. Kom ons praat bietjie oor jou. Want dink jy van my boek?!” Weer maar net oor homself.

 

Ek dink ons almal het al ‘n paar mense in gedagte wat so met hulself opgeskeep lewe. Maar laat ons maar begin by die moeilikste een – ekself.

 

As ons dit regkry om vry te word van onsself, dan kan ons die lewe begin geniet sonder dat “ek” al-ewig in die pad staan. Kan ek dinge begin sien vir wat hulle is, regtig egtig mense waardeer en geniet, liefwees, omgee en oorgee en ontspan.

 

Om so van jouself te begin vergeet en op andere gefokus te begin lewe, vra ook oefening. Ons val almal van nature weer terug in ons eie ego se behoefte aan erkenning en goedkeuring, maar hoe meer ek myself herinner aan wie ek is, hoe meer sal ek in die vryheid begin leef. Om myself gedurig te herinner as iemand wat uit genade gered is en iemand wat vry is van die behoefte aan selferkenning. Maar as ek my ego’tjie los soos hy/sy is, dan sal ek my lewe rondloop soos ‘n opgeblaasde of gebarsde ballon.

 

So wys Paulus vir ons vanoggend die pad agter Jesus aan:

 

Galàsiërs 2:19-20  Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig,  (20)  en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

 

Wie van ons wil nie so vry wees nie?

Amen

css.php