KOL. 1:12-23 (21/7/19)
# Iemand het glo op ’n keer aan Karl Barth, die bekende Switserse teoloog van die vorige eeu, gevra wat hy van die duiwel dink.
- En nadat Barth so ’n rukkie stil nagedink het, het hy geantwoord: “Christus het hom oorwin! Christus is die Heer, die enigste Heer, óns Heer! Ons hoef die duiwel nie te vrees nie.”
- Dis asof Barth wou sê: Oor die duiwel hoef ons eintlik net een ding te sê en dit is dat Christus hom oorwin het.
- En ek dink Paulus, die skrywer van die brief aan die Kolossense, sou ’n 100% met hierdie siening saamgestem het.
- Jesus Christus het die duiwel oorwin.
- Hy is die Heer.
- Die Bybel noem Hom mos ook “Here.”
- Jesus is die Here!
- En dit beteken: Hy heers en Hy regeer oor alles en almal.
- En daarom hoef ons selfs nie eers vir die duiwel bang te wees nie.
- In Kol. 1:13 stel Paulus dit só: “God het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.”
- Met ander woorde: Ons is weggeruk uit die mag van die duiwel en geplaas onder die heerskappy van Jesus.
- Dít is hoe Paulus die gelowige se lewe beskryf.
- Ek leef as gelowige onder die heerskappy van Jesus.
- Nie meer onder die heerskappy van die duiwel nie, maar onder die heerskappy van Jesus.
- Hy is my Here en Hy alleen.
- Hy regeer oor my lewe en Hy alleen.
# Nou, u sou dalk agtergekom het dat ’n groot deel van ons Skriflesing van vanoggend eintlik niks anders as ’n loflied oor Jesus is nie.
- As ons die regte musieknote daarvoor gehad het, sou ons dit kon sing!
- En wat is dit waaroor hierdie lied sing?
- Veral oor twee dinge.
- En die eerste ding waaroor dit sing, is die grootheid van Jesus in die skepping.
- In vers 16 staan daar: “God het deur Hom (m.a.w. deur Jesus) alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, ook die engele om sy troon en al die geestelike magte. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.”
- Hoe alles in die skepping presies tot stand gekom het, weet ons natuurlik nie.
- Ons verstand is te klein daarvoor.
- Ons insig is te min.
- En selfs ons beste wetenskaplikes kan nog nie vir ons presies verklaar hoe alles in die skepping tot stand gekom het nie.
- Hulle kom seker al baie naby daaraan, maar daar bly maar nog steeds dinge wat die wetenskap nie heeltemal kan verklaar nie.
- Maar wat ons wel weet, is dat Jesus ’n besondere rol gespeel het in die skepping van alles.
- Deur Hom het God alles so wonderlik geskep.
- En deur Hom word die hele skepping ook nog steeds in stand gehou.
- Daarom sing Paulus se lied in Kol. 1 oor die grootheid van Jesus in die skepping.
- En ons kan ook maar net vanoggend daarby aansluit en vir Jesus loof en prys daarvoor, want deur Hom, sê Paulus, het God alles geskep wat in die hemel en op die aarde is.
- Ons prys sy Naam!
# Maar die ander saak waaroor hierdie lied van Paulus sing, is die grootheid van Jesus in die verlossing van die wêreld.
- Op ’n manier wat ons as mense seker nie werklik kan verstaan nie het daar ’n fout gekom in God se goeie skepping.
- Daarom vind Paulus dit ook nodig om in Kol. 1 woorde te gebruik soos “sonde” en “die mag van die duisternis.”
- En daarom het dit gebeur dat mense ver van God af begin leef het, as vyande van God en in onvrede met Hom.
- En daarom doen mense ook soveel slegte dinge aan mekaar, daardie dinge waarvan ons ook elke dag op die voorblaaie van die koerante lees.
- Ja, iets het drasties verkeerd geloop in ons wêreld.
- Maar die goeie nuus is: Jesus het kom ingryp!(
- Deur aan ’n kruis te kom sterf, het Hy vir ons verlossing gebring.
- En so het Hy die vrede tussen ons en God kom herstel, en het Hy ons met God kom versoen.
- 1:20 sê dit só: “Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het God die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”
- En dis darem aangrypende woorde hierdie!
- Woorde wat praat van vrede met God en versoening met God – dít wat Jesus vir ons kom doen het.
- En deur vir ons vrede en versoening te bring, het Jesus die mag van die duisternis kom oorwin.
- Het Hy die duiwel kom oorwin.
- En so het Jesus kom bevestig en kom bewys dat Hy wel die Here is, die enigste Here.
- En daarom sing Paulus se lied hier in Kol. 1 dan ook oor Jesus se oorwinning en oor sy heerskappy.
- Ons prys sy Naam!
# Jesus Christus is die Here.
- Dít is die baie duidelik boodskap van Kol. 1.
- Dít is ook wat ons glo en wat ons bely as kerk van Jesus.
- En die feit dat Jesus die Here is, is vir ons veral om twee redes baie belangrik.
- In die eerste plek lê daar vir ons ’n belangrike uitnodiging in hierdie feit.
- En waartoe word ons uitgenooi?
- Ons word uitgenooi om net vir Jesus as ons Here te erken.
- Geen ander persoon of mag of saak, mag sy plek in ons lewe inneem nie.
- En, belangrik om te onthou: Dis nie vir ons nodig om vir Jesus die Here te maak in hierdie wêreld nie.
- Hy is dit reeds!
- Dis mos waaroor Paulus se loflied in Kol. 1 sing: Jesus is reeds die Here.
- Ons sien dit in die skepping, wat Hy so wonderlik gemaak het.
- En ons sien dit ook in die verlossing van die wêreld, waarvoor Hy so swaar moes ly.
- Jesus is reeds die Here.
- Sy heerskappy is reeds ’n werklikheid.
- Maar ons moet sy heerskappy erken en aanvaar.
- Ons kan ook sê: Ons moet Hom die Here van ons lewens laat wees.
- Omdat Jesus die Here is oor alle magte, mag ek as gelowige geen ander mag as die baas van my lewe erken nie.
- Omdat Hy die Here is, mag ek geen ander lojaliteit bó Hom hê nie.
- Dit moet vir my ook wees soos die Nederlander Abraham Kuyper gesê het: “Oor elke duimbreedte van die aarde moet Christus se heerskappy verkondig word.”
- Of dit die ekonomie is, of die wetenskap, of kuns, of sport, of politiek – oral moet daar erken word: Jesus is die Here en Hy alleen.
- Oral moet Jesus die eer kry wat Hom alleen toekom.
# Nou is dit ongelukkig so dat ons maar dikwels sukkel om Jesus op alle terreine van ons lewe die Here te laat wees.
- Ons bely dit dalk met oorgawe hier in die erediens op ’n Sondag: Jesus is die Here.
- En ons sing lofliedere daaroor hier in die kerk.
- Maar leef ons ook volgens hierdie belydenis en lofliedere as dit kom by hoe ek die hele week lank lewe?
- Is Jesus werklik die hele week lank die Here en Koning van my lewe?
- Nie net op Sondae hier in die kerk, of wanneer ek alleen stil word voor Hom by die huis nie, maar die hele week?
- Is Hy die Here en Koning van my tyd?
- En van my werk?
- En van my geldsake?
- En van my huwelikslewe en my gesinslewe?
- En van hoe ek oor politieke sake en oor die toekoms dink en praat?
- Is Jesus die hele week lank die Here en Koning van my lewe?
- Ons mag nie sy heerskappy en sy koningskap in ons lewens probeer beperk nie.
- Ons mag nie só lewe dat Hy net oor sekere aspekte van ons lewe en op sekere dae van ons lewe Here en Koning is nie.
- Nee, Hy moet oor my hele lewe Here en Koning wees.
# Jesus is die Here.
- In hierdie feit lê daar dan eerstens vir ons ’n uitnodiging, die uitnodiging om Hom werklik die Here van ons hele lewe te laat wees.
- Maar daarmee saam is daar ook vir ons groot troos in hierdie feit.
- Dat Jesus die Here is, dít is die grootste troos wat ek ooit kan besit.
- Dat Hy in beheer van die wêreld is, en ook van my eie klein lewetjie, dít is die grootste troos wat ek kan besit.
- Dis soos die bekende ou liedjie dit uitsing: “He’s got the whole world in his hands… He’s got you and me, brother, in his hands … He’s got the whole world in his hands…”
# Ja, omdat Jesus die hele wêreld in sy hand hou, hoef ons eintlik niks in hierdie lewe te vrees nie.
- Omdat Hy oor alles en almal regeer, hoef ons vrese en ons bekommernisse ons nie te oorweldig nie.
- En kom ons wees maar eerlik: Ons het mos maar almal ons vrese en bekommernisse.
- Dalk is dit die een of ander siektetoestand of operasie waarvoor ons bang is, of finansiële probleme, of die ouderdom, of die dood.
- Dalk is ek bang dat ek in my werk of in die skool of op universiteit gaan misluk, of dat ek sommer van my hele lewe ’n mislukking gaan maak.
- Dalk gaan dit oor probleme in ’n verhouding of ’n huwelik, of oor kinders wat op ’n verkeerde pad is.
- Dalk is dit die onsekerheid van die toekoms.
- En die toekoms is mos maar altyd onseker, vir alle mense van alle tye, en nie net vir ons wat vandag in ’n baie onstuimige Suid-Afrika leef nie.
- Maar wat ons ookal mag vrees, en waaroor ons ookal bekommerd mag wees, dít moet ons onthou: Jesus is ook in beheer dáárvan.
- Sy heerskappy strek hom ook daaroor uit.
- “He’s got the whole world in his hands…”
- En dit sluit ook vir my met al my klein vrese en bekommernisse in.
# Jesus is die Here.
- Hy regeer as Here en Koning oor die hele wêreld.
- En dit is ons troos in hierdie lewe, waar baie ander dinge en magte en selfs mense gedurig probeer om oor ons lewens baas te speel.
- Ons troos is dat Jesus die eintlike regeerder is.
- En Paulus roep ons dan ook hier in Kol. 1 op om in geloof aan Jesus, ons Here, te bly vashou.
- Paulus sê in vers 23 wat ons gelees het: “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie.”
- Ons moet vas en sterk bly staan in die geloof, sê Paulus.
- En selfs wanneer dit dan gebeur dat ons struikel en val in die geloof, of sukkel om te kan glo, dan kan ons steeds weet: Jesus ís én bly die Here.
- Ook in my grootste swakheid bly Hy steeds dié Een wat die hele wêreld in sy hand hou.
AMEN
Preek – Datum: Tema – Teksvers
Verwelkoming:
Teks hier
Votum:
Teks hier
Seëngroet:
Teks hier
Skriflesing:
Teks hier
Preek:
Teks hier
Gebed:
Teks hier
