Preek - 23 Junie 2019: "Wat is God se wil vir my?"
Verwelkoming:
Ons kyk vanoggend na die dieper dinamika van ons reis saam met die Here; sal aanpas by ons reeks…
Kindertyd
As ons regtig stil word, en fyn luister, dan hoor ons geluide wat ons nie andersins sou hoor nie… wat is daar wat jy hoor? Vertel vir mamma/pappa… Dit is baie hoe dit is om die Here te hoor of te sien; mens moet leer om baie mooi te kyk en en te luister; en dit is ook wat ons vanoggend gaan leer in die storie van Elia, wat ons ook al hierdie jaar in die kategese gedoen het.
Kers aansteek
454:1-3 (Vader ons eer U: daar is plek vir ons in die ewige gemeenskap van die Drie-Enige God)
Votum/seëngroet: Ps 42
2 Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. 3 Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? 4 Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?” 5 As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God, voor ‘n skare uit na sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang – ‘n skare wat feesvier. 6 Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God!
“Die God van A, I en J, die God van Elia, Jesaja en Jeremia, die Vader van ons Here Jesus, kom ontmoet ons weer vanoggend in sy troue liefde, soos Hy nog altyd met ons voorgeslagte gemaak het.”
Gebed
Skriflesing
1 Kon 19:1-15
Preek:
As ons aan profete dink, dink ons aan manne wat die spreekwoordelike bars kon kyk. Ouens wat met beslistheid en dapperheid kon optree in die Naam van die Here, sonder om vir teenstand terug te deins. Mense wat namens die Here kon praat selfs wanneer dit nie die gewilde ding was om te sê nie. Ons sien die woorde, die dade, die wonderwerke.
En miskien het ons ook hierdie ietwat oppervlakkige perspektief wanneer ons dink oor mede-Christene wat ons as geloofsvoorbeelde beskou. Ons sien met hoeveel oortuiging hulle praat, optree en getuig in die naam van die Here. Wat hulle bereid is om op te offer, die vreugde en passie wat hulle uitstraal en die groot dinge wat gebeur. En in ons groei hierdie gewaarwording dat ons nooit die paal sal haal nie. Ons sal nooit tot op “daardie vlak vorder nie.” Ons het te veel bagasie, te veel struggles te veel tekortkominge, te veel geraamtes in die kas. Ons is maar net gewone kinders van die Here wat hoop ons kan eind uit volhou.
Dit is hoekom ons ’n gedeelte soos 1 Kon 19 so nodig het. Hier is die profeet Elia. Een van die heel grootstes, net na wat seker die hoogtepunt van sy hele bediening was. Na die drie jaar van droogte wat die Here se straf was vir die volk se ongehoorsaamheid, onder leiding van die bose koning Agab en sy riller van ’n vrou Isebel, is daar die oomblik van afrekening. Op die berg Karmel word die god Baäl uitgewys as een groot leuen en Elia lei die oomblik waar God Homself duidelik wys as die enigste en ware God. Die volk erken dit, die Baälprofete word doodgemaak en die droogte word gebreek. As dit ’n fliek was het die titels nou gerol.
Maar die lewe is nie ’n fliek nie. En dinge werk nie altyd uit soos wat ’n mens dink dit gaan of moet nie. Nog belangriker; op ons elkeen se reis saam met die lewende God moet ons onsself voorberei vir die onverwagse. Die krag wat aan die werk is, die storie waarvan ons deel is, die kunswerk van God se nuwe skepping wat besig om vorm aan te neem, is groter as ons, groter as ons lewens, groter as ons harte. En ons raak oorweldig.
Ons weet nie presies hoekom die nuus van Isebel se belofte om wraak te neem vir Elia so hard geslaan het nie. Dalk was daar die verwagting dat selfs die koning en sy vrou nie hierdie duidelike bewys van wie God is sou kon ignoreer nie; dat hulle tot bekering sou kom en die volk weer die verbond sou eerbiedig. Dalk het Elia gehoop die ergste is verby, die oorwinning is behaal en dat hy na die intensiteit, emosioneel, geestelik en fisies, nou sou kon uitsien na ’n blaaskansie. Maar ewe skielik maak alles nie meer sin nie. Wat doen God nou?!
Hy raak bang en vlug vir sy lewe. Hy gee basies moed op. Op God, op sy bediening. Hy los sy slaaf agter, wat eintlik ’n bewys is dat hy bedank. ’n Dagreis ver die woestyn in het die depressie en uitbranding hom beet. Hy wens hy gaan dood. Hy sê vir die Here dit is genoeg. Hy sien nie kans vir nog nie. Hy is net so mislukking soos sy voorvaders, voel hy, wat ook nie die las van die verbond met die lewende God kon dra nie.
Van hier af moet ons die storie fyn lees vir tekens van hoe die getroue God na ons toe kom op verskillende plekke in ons geestelike reis. Ons kan die woestynervarings nie vermy nie. Dit kan ongenaakbaar wees, maar dit kan ons ook lei tot nuwe ontmoetings met God, nuwe ontdekkings van wie Hy is, van wie ek is, en van die betekenis van my roeping as sy kind en verteenwoordiger in hierdie wêreld.
Daar onder die besembos kom ’n engel oor sy pad en bring vir hom versterkings, geestelik en fisies vir hierdie deel van sy geestelike reis. Dit is nog nie tyd om die woestyn te verlaat nie. Steeds dieper word hy die woestyn ingelei tot by Horeb, die berg van God. Die beskrywing is swaar met die simboliek. 40 dae en nagte. Net soos sy voorvaders se 40 jaar in die woestyn. Net soos die 40 dae en nagte van onsekerheid in die ark van Noag. Net soos die 40 dae en nagte wat Moses ook op hierdie einste berg van God deurgebring het met die ontvangs van die 10 gebooie, toe die volk besig was om die kalf te aanbid.
En dan kom God se vraag: “Wat soek jy hier, Elia?” Is dit ’n aanklag? Is dit ’n sagter: wat is dit wat jy nodig het? In jou lewe sal jy moet leer om God se bedoeling te lees, wat altyd vloei uit die hart van sy getroue liefde.
Elia voel hy het beter verdien. Hy het meer verwag: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God…” Dit is nou nog nie tyd vir antwoorde nie, dit is tyd vir ’n nuwe ontmoeting met God. Die getroue God is bereid om voor ons verby te gaan. God sál voor jou verby gaan.
Daar is oomblikke van kragdadigheid by hierdie God. Elia het dit self beleef die afgelope tyd. Daar is die spreekwoordelike wind en vuur en aardbewings. Maar die God bly altyd onpeilbaar, verrassend, buite ons begrip en greep. Op ons geestelike reis moet ons ook uitkom by die stilte, by die fluistering, by die stem wat met ons praat as al die ander stemme stilword. (S9) (Dit is nie maklik om die frase te vertaal nie!)
Die fluistering in die windstilte (NAV)
Die geruis van sagte koelte (OAV)
Gentle wisper (NIV)
Still small voice (NKJV)
Gentle en quiet wisper (MSG)
Dan is dit tyd om jou gesig toe te maak sodat jy naak voor God kan wees. Dit is daar, gestroop, desperaat, afhanklik, wat jy weer die konneksie maak; met God, met jouself, met sy dinamika van sy pad met jou, van die waarheid van sy roeping, sy wil vir jou lewe. Want dit is nie ’n staties ding wat ons een keer as ’n stel reëls of opdragte ontvang nie.
Die geestelike skrywer Richard Rohr werk met die beginsel van ’n 1ste en 2de helfte van ons lewe. Dit hang nie noodwendig saam met die presiese helfte van ons leeftyd in jare nie, maar met ons lewensingesteldheid wat die oorgang van ons vra. (Sommige mense beweeg nooit in die tweede helfte in nie.) In die eerste helfte internaliseer ons gewoonlik die stemme van ons ouers en onderwysers wat om verstaanbare redes gehoorsaamheid aan gesag by ons inskerp. Die gevaar is dat ons vir die res van ons lewe die stemme vereenselwig met die stem van God. Soms mag dit die geval wees, maar dikwels ook nie.
Want, die fluistering in die windstilte, die still small voice, mag dieper, ryker, meer persoonlik, meer subtiel, meer kontekstueel, as daardie stemme wees. Die wil van God is meer as ons lotsbestemming, het Thomas Merton geskryf. Dit is ’n kreatiewe dinamika in ons lewe wat telkens iets heeltemal nuut voortbring; iets wat nie ’n logiese voortvloeisel is van die reëls of gevestigde patrone nie. Ons oorgawe aan God se wil (om sy koninkryk eerste te soek) bestaan nie alleen daarin dat ons gehoorsaam is aan die wet nie, maar dat ons onsself gee vir hierdie kreatiewe ontwaking wat nie sonder ons deelname, of buite om ons gebeur nie; dit is nie ’n pakkie wat afgelewer word nie. Dit is ’n soeke na die koninkryk.
Dit lyk asof ons eers in die eerste helfte van ons lewe moet uitbrand op die mite van “performance”. Ons moet eers die begeer en die probeer en die bereik en die selfpromofering en die leer van sukses klim om agter te kom dit is ’n gejaag na wind. Niemand leer klaarblyklik hierdie les uit iemand anders se ervaring nie. Dit is in die 2de helfte van jou lewe wat jy leer die lewe is meer oor wees as oor doen.
Ons is bang om die gebaande weë te verlaat. En dit is hoekom baie mense nooit die vreugde en die vryheid van die 2de helfte beleef nie. Ons is bang om nie die trop te volg nie. Want die liggaam van Christus is anders as ’n trop. Die is die dinamiese eenheid van elkeen wat afsonderlik ’n unieke gawe ontvang om die liggaam en die wêreld mee te dien. (As ons mekaar op daardie vlak kan vind, dan is die liggaam so volmaak en volwasse soos Christus.)
Die dieper stem van die fluistering in die windstilte praat van die eienaarskap van jou eie roeping, van die waagmoed van geloof. En hierdie dieper stem klink altyd na risiko, na vertroue, na oorgawe, na uncommon sense, na bestemming/roeping, na liefde. Dit is die stem van die intieme vreemdeling, ’n stem wat van iewers anders af kom, en tog resoneer en my in konneksie bring met my diepste self; met my ware kern as die beeld van God. Amen.
Tyd van stilte:
– God wil by jou verby gaan… Is jy beskikbaar?
– Luister vir die fluistering in die windstilte: wat hoor jy by die stem van die Intieme Vreemdeling…
– Wat is jou unieke gawe? Wat is jou roeping waarmee Hy jou wegstuur?
– Hoe gaan jy aanhou luister?
Belydenis van geloof:
God nooi jou (soos elkeen van ons), om ons reis met God eerste prioriteit in ons lewe te maak; om eerste die koninkryk te soek… noukeurig te probeer oplet na die inisiatief van God in elke fase, elke oomblik van ons lewe; veral ook wanneer die ons onder die besembos wil inkruip.
Doopherinnering:
Ek herinner jou aan die oomblik toe God, Vader, Seun en Heilige Gees jou gemerk het as sy eiendom en jou ingenooi het in sy ewige gemeenskap wat in sy wese leef.
