LUK. 12:13-20 (5/5/19)

 

#  Verlede week se boodskap het begin met ’n aanhaling van Tom Smith, waarin hy sê: “Ons kultuur het ’n obsessie met opgradering.”

  • En al dink ons dalk dat hy dit darem so ’n bietjie te sterk stel, is dit tog waar dat ons gedurig besig is om dinge op te gradeer in ons lewe.
  • Dalk ons huis, of motor, of TV-stel, of rekenaar, of selfoon.
  • En hoekom wil ons graag al hierdie dinge opgradeer?
  • Wat is ons motivering daarvoor?
  • Wat is ons rede of redes?
  • En daar kan natuurlik verskillende redes wees.
  • Met opgradering maak ons dinge baie keer vir onsself makliker, of beter, of lekkerder.
  • Dit is dalk ook noodsaaklik om iets op te gradeer, soos bv. ’n rekenaar wat heeltemal te stadig geword het vir die werk wat daarop gedoen moet word.
  • Maar dit kan ook wees dat ons met opgradering by ander wil spog of ander wil beïndruk.
  • Dat ons die bure wil oortref.
  • En daarom behoort ons maar altyd te vra: Wat is my motivering vir opgradering?
  • Hoekom wil ek dit doen?

 

#  En dit bring ons by die gelykenis van Jesus wat ons vanoggend saam gelees het.

  • Hoekom wou die man in hierdie storietjie sy skure groter bou?
  • Hoekom wou hy sy skure opgradeer, kan ons ook maar vra?
  • Wat was sy motivering daarvoor?
  • En die sleutelwoord wat Jesus gebruik, net voor Hy hierdie storietjie vertel, is die woord “gierigheid.”
  • Jesus vertel die storietjie juis om daarmee te waarsku teen “elke vorm van gierigheid,” sê Luk. 12:15.
  • En daarom kan ons sê: die ryk boer van die gelykenis se motivering om sy skure groter te bou, was gierigheid.
  • Sy beplande opgradering was op gierigheid gebaseer.
  • En natuurlik beteken dit nie dat ons boere nie hulle boerdery mag uitbrei en hulle fasiliteite vergroot en verbeter nie.
  • Jy mag mos groter en beter boer, en ook ’n megaboer wees!
  • En so help verskaf jy dan ook sommer baie meer werk in ons land met sy miljoene werkloses.
  • Maar die punt en die vraag bly steeds: Wat is my motivering wanneer ek wil opgradeer?
  • En as dit gierigheid is, dan sê Jesus hard en duidelik: Nee!
  • “Pas op” sê Hy, “en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

 

#  Gierigheid is iets wat ’n mens net altyd hoër en hoër teen die trappies wil laat opklim.

  • En dit maak ook dat jy nooit hoog genoeg kan klim nie.
  • En daarom moet ons as gelowiges vanoggend vir onsself vra: Hoe kan ons gierigheid teenstaan in ons lewens?
  • Hoe kan ons die versoeking om gierig te wees, oorwin?
  • En kom ons begin by ’n stukkie praktiese raad uit die Bybel.
  • Heel eerste kan dit ons baie help om Paulus se raad in 1 Tim. 6:18 te volg, waar hy sê dat ons “vrygewig en mededeelsaam” moet wees.
  • Wanneer gierigheid in ons lewe wen, wil ons mos dinge hê en inpalm en behou.
  • Maar as ons kan leer om vrygewig en mededeelsaam te wees, dan is die beweging in die teenoorgestelde rigting.
  • Dan gee ons mos weg en deel ons met ander, in plaas van om net te probeer inpalm vir onsself.
  • Dan is ons hande oop, in plaas van vasgeklem rondom ons besittings en dalk ook besig om te gryp na nog meer.

 

#  Richard Foster sê iewers dat ons as Christene eintlik die gewoonte moet ontwikkel om goed weg te gee.

  • Dat ons amper op ’n gereelde basis na ons besittings moet kyk en weggee wat ons nie nodig het nie of nie gebruik nie.
  • En hier kom ons gemeente se Wit Olifante-projek natuurlik ook handig te pas!
  • As ons nie weet wat om met ’n sekere item in ons huis te maak nie, kan ons dit vir ons Wit Olifante skenk, waarmee ons ons Uitreikprojekte finansier.
  • Maar om goed weg te gee, en om vrygewig en mededeelsaam te wees, dít is dinge wat ons kan help om gierigheid te oorwin.

 

#  Maar wat is daar nog wat vir ons hiermee kan help?

  • Tom Smith, van wie se boek ons in ons reeks gebruik maak, noem ’n hele paar baie bruikbare dinge, wat ek ook graag wil onderstreep.
  • Hy stel bv. voor dat ’n mens ten minste een keer per jaar behoort te besin oor wat jy nodig het, aan die eenkant, teenoor wat jy graag wil hê, aan die anderkant.
  • Ons kan seker sê dit gaan oor ons werklike behoeftes teenoor daardie dinge wat eintlik net vir ons lekker sal wees om te hê.
  • En nou weet ons dat dit nie vandag so maklik is om tussen hierdie dinge te onderskei nie.
  • En dat daar ’n groot grys area is tussen wat noodsaaklik is en wat dalk selfs as luuks bestempel kan word.
  • Dit is ook so dat wat vir een persoon, in sy of haar omstandighede, noodsaaklik is, dalk nie vir ’n ander een noodsaaklik is nie.
  • Maar die punt is: dit kan ons baie help in ons stryd teen gierigheid as ons van sekere dinge kan sê: ek het hulle nodig, maar dat ek van ander dinge kan sê: dít is dinge wat ek eintlik net graag wil hê maar nie werklik nodig het nie.
  • En daarom gaan ek ook daarsonder bly!

 

#  Maar daar is nog ’n paar ander gedagtes van Tom Smith wat ek graag vir u wil noem, dinge wat ons kan help om gierigheid te oorwin.

  • Hy sê ook dat ons versigtig wees om nie ongesonde begeertes te ontwikkel nie.
  • En ons kan baie maklik ongesonde begeertes ontwikkel!
  • Dink maar net aan al die advertensies waaraan ons blootgestel is.
  • As jy jou aan die advertensies moet steur, sal jy met omtrent alles in jou lewe kan foutvind.
  • Van die huis waarin jy bly en die motor waarmee jy ry, tot die klere wat jy dra en die kos wat jy op jou tafel sit.
  • Daar kan so maklik ongesonde begeertes by ons ontwikkel, wat ons ontevrede en onvergenoegd kan maak met dit wat ons het.
  • En daarom moet ons regtig versigtig wees dat dinge soos advertensies of ons bure se leefstyl nie ongesonde begeertes by ons laat ontstaan nie.

 

#  ’n Volgende gedagte van Tom Smith is dat ons ons eie begroting moet gebruik om gierigheid teen te staan.

  • Hy noem dan ook ’n voorbeeld van mense wat hy ken, wat baie mooi na hulle begroting gaan kyk het – na hulle inkomste en al hulle uitgawes.
  • En wat toe gebeur het, was dat hierdie mense (sekerlik baie welgestelde mense), maar dat hierdie mense besef het dat hulle met net 20% van hulle inkomste kan leef.
  • En die res kon hulle dan gebruik om verdienstelike sake te ondersteun en so ’n verskil in ander se lewens te maak.
  • Met 80% van hulle inkomste kon hulle ander help.
  • En dalk is daar niemand van ons hier vanoggend wat ooit so ’n groot deel van ons inkomste sal kan weggee nie.
  • Maar die punt is: ons behoort biddend, onder leiding van die Heilige Gees, ons begrotings op te stel.
  • En ons behoort doelbewus in ons begrotings gierigheid teen te staan met dit wat ons kan weggee om ander te help.

 

#  En van begrotings gepraat, Tom Smith waarsku ook teen die gebruik van krediet.

  • Ons moet tog uiters versigtig wees om die krediet te gebruik wat baie instansies bereid is om vir ’n mens te gee.
  • Ek kry self seker ook omtrent elke week ’n uitnodiging om ’n groot persoonlike lening by een of ander instansie aan te gaan.
  • Maar ons weet dat mense baie keer so diep in die skuld raak deur die krediet wat hulle van sulke instansies aanvaar dat hulle net nie weer daar kan uitkom nie.
  • Krediet kan ’n moeras word waarin jy vir altyd bly vassit.
  • En ons kan nie anders as om dit met die grootste versigtigheid te hanteer nie.

 

#  Op ’n ligter noot, as dit kom by die gebruik van krediet, wil ek darem net gou vertel van ’n kollega wat ek destyds gehad het hier in die Ring van die Paarl.

  • Op ’n dag koop hy vir hom ’n sekere soort voertuig wat hy baie graag wou gehad het.
  • Maar die voertuig was eintlik so ’n bietjie te duur vir sy sak en hy moes toe skuld maak om dit te kan koop.
  • Maar die man sê toe vir my: Ek het maar besluit om daardie gesegde “koop nou, en betaal later” so ’n bietjie aan te pas.
  • En ek sê: Ja?
  • Hy sê: Ja, ek het besluit: Ry nou, en loop later!

 

#  Maar daar is nog ’n laaste gedagte van Tom Smith wat ek vir u wil noem.

  • In ons poging om gierigheid te oorwin, sê Tom, moet ons nooit vergeet in watter land ons woon nie.
  • En daarmee bedoel hy dat ons in ’n land woon met geweldige armoede.
  • Daar is natuurlik ook baie rykdom in ons land.
  • Maar die armoede, en die omvang daarvan, oorweldig ’n mens eintlik.
  • En ons kan nie ons oë daarvoor sluit nie.
  • Dink maar net aan hoe dit lyk op dié dae waarop ons munisipale vullis verwyder word.
  • Om te dink mense moet in my vullisdrom kom krap om aan die lewe te bly!
  • Nie dat daar ’n maklike manier is om arm mense te help, en die hele probleem van armoede te help verlig of te help oplos nie, maar dít is ons konteks.
  • Ons leef in ’n land waarin so baie mense onder die broodlyn leef en net maar moet sukkel om te kan oorleef.
  • En dít alleen behoort my al van al my gierigheid te genees en ook te motiveer om oral waar ek kan armoede te help bestry!

 

#  Maar kom ons dink dan ook vir ’n oomblik aan hoe ons kan help waar daar nood is.

  • As die Here my finansieel so seën dat ek iets, of dalk baie, het om met ander te kan deel, vir wie kan ek dan uit my oorvloed gee?
  • Waar kan ek help en vir wie kan ek help?
  • En ons moet seker dadelik sê dat dít ook iets is waaroor ons moet bid en die Here se leiding moet vra.
  • Maar ons kan ook mekaar daarmee help.
  • Want ek glo daar is baie mense hier vanoggend wat by baie verdienstelike sake betrokke is.
  • En daarom kan ons mekaar daarvan vertel, en kan ons ook saamspan om te help.
  • En ek het sommer vinnig by die huis ’n lysie gemaak van instansies hier naby ons wat ons finansieel of dalk op ’n ander manier kan ondersteun.
  • En hierdie is maar net my eie vinnige lysie.
  • So, daar is natuurlik nog baie ander instansies wat ’n mens sou kon ondersteun.
  • Maar my lysie lyk só:
  • Paarl Jeuginisiatief, Huis Carissa, ons sopkombuis, die ACVV in Langstraat, die Oase-dienssentrum, Rusoord-ouetehuis, Rusthof-ouetehuis, die Nagskuiling, Hospice, Arbeidsbediening.
  • Dan is daar ook Uitreikprojekte buite ons grense waarby ons gemeente betrokke is, soos hulp aan die gemeente in Msinga, en hulp aan die werk van Sam Selva Raj in Indië.
  • En natuurlik het mense soms familie of vriende wat regtig swaarkry en vir wie hulle finansieel kan ondersteun.
  • Willem Nicol het weer bv. in een van sy boeke vertel hoe hy en sy vrou hulle huishulp destyds ondersteun het.
  • In plaas van om hier ’n bietjie te help en daar ’n bietjie te help, het hulle besluit om hulle huishulp ordentlik te help.
  • Soos met haar huis se dak wat gelek het, en haar kind se skoolskoene wat gedaan was en die skoolgeld wat betaal moet word, en al sulke dinge.
  • As ons maar net ’n bietjie moeite wil doen om daaroor uit te vind, is daar so baie verdienstelike sake waarby ons betrokke kan wees en mense vir wie ons kan ondersteun.

 

#  Maar ek wil afsluit.

  • Die Here wil ons elkeen leer om nie gierig te wees.
  • Om nie soos die man in Jesus se gelykenis te wees wat sy skure uit gierigheid groter wou bou nie.
  • En daarby wil die Here ons leer om nie selfsugtig en suinig vas te klou aan wat ons het nie.
  • Daarom kan ons gerus ook luister na Corrie ten Boom, waar sy sê: “Hou dit wat jy in jou hande hou net liggies vas. Anders maak dit seer wanneer die Here dalk iewers jou vingers sal moet oopforseer.”

 

AMEN

css.php