Preek – 24 Februarie 2019: “Ingeprop om tekens van God in die wêreld te wees...” – Ef. 1:3-10
Votum/seëngroet:
13 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God… toe julle… die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14 Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. (Ef 1) “Ons sien uit na die dag, ons bid vir die dag, Heilige Gees, waarop U ons almal, volkome gaan verlos!”
Skriflesing: Ef. 1:3-10
Preek:
Een van die belangrikste vrae waarmee ons onsself bewustelik of onbewustelik besig hou, is: Wat is die betekenis (significance) van my lewe? Waarvoor leef ek? Watter verskil maak ek? In ons kultuur hang die significance van iemand se lewe af van of hulle gewild is, of hulle mag en geld het, of hulle geleerd is en of hulle slim entrepeneurs of wetenskaplikes is wat planne kan maak om van ons wêreld ’n beter plek te maak.
In die lig van die destydse Romeinse ryk, het die lewe van Jesus nie eintlik vreeslik significance gehad nie. Die magtige en ryk Romeinse ryk was voor Jesus daar en hulle sou na Hom nog daar wees. In hulle geskiedenisboeke sou jy nêrens sy Naam sien nie. Maar tog het Hy mense se verbeelding aangegryp juis omdat Hy hulle iets anders aangebied het; omdat Hy die betekenis van significance heeltemal verander het; en vandag en oor die eeue tel sy volgelinge in die miljoene. Vir Jesus is betekenis ’n waarheid wat jy dra, ’n getuienis wat jy leef, ’n lewe wat geleef word voor God; die begeerte om ’n teken te wees wat wys op die teenwoordigheid van God in hierdie wêreld.
(Ons wil basies weet: ek is nie alleen nie en alles is nie sinneloos nie!)
Ons begeer dat ons lewens betekenis sal hê, maar ons vra dalk nie genoeg wat daardie betekenis sal gee nie; waarna wil ek hê moet my lewe wys?
Uiteindelik gaan dit daaroor om regtig in kontak te kom met die genade en liefde in die hart van God om daar die unieke gawes en betekenis van jou menswees te ontdek en te ontvang. En daarom is een van die belangrikste ritmes in ons lewe, padlangs agter Jesus aan, om te leer om by Hom in te prop. En dit is dan ook die tweede keer wat ons oor hierdie tema gesels in ons reeks wat gebaseer is op die boek van Tom Smith: “Raw Spirituality: The Rhythms of the Jesus life”’n Reis waarop ons wil leer hoe om ’n eerlike en lewensveranderende lewe saam met Jesus te leef.
Ons het laasweek gesê dat ons by ’n klomp goed ingeprop is, verskillende netwerke, wat ons kan energie gee of leegsuig, waarby ons soms doelbewus moet uitprop sodat ons seker kan maak ons bly afhanklik van die regte kragbron. Selfs Jesus, moes in dol tye waar mense hulle eie agenda op Hom wou afforseer, onttrek vir tye waar Hy weer sy Vader se stem kon hoor wat sy diepste identiteit as God se geliefde bevestig.
My en jou diepste menswees, ons ware self, wat uitgedruk word in ons unieke gawe aan die wêreld, in vrye liefde en gemeenskap met ander mense, word gebore in die hart van God en ons kan dit net kry as ons by Hom ingeprop is. Voor die wêreld geskep is, is jy al hiervoor uitverkies. Hy het jou daarvoor bestem om ’n baie spesifieke draer en teken van sy teenwoordigheid in ons wêreld te wees. En dit gebeur “In Christus” wat so terloops ons tema vir hierdie jaar is.
Trevor Hudson en Jerry Paas het ’n wonderlike boek geskryf “The Cycle of grace”. Dit is gebaseer oor navorsing wat ’n psigiater gedoen het oor uitbranding onder sendelinge in Indië. En hulle het ontdek dat die sendelinge in die benadering van hulle werk nie die logika en voorbeeld van Jesus volg nie.
Jesus se lewe het begin by die aanvaarding wat Hy by sy Vader ontvang. Ons sukkel om te glo dat ons liefde verdien, maar Jesus het sy diepste indentiteit gevind in die onvoorwaardelike liefde van sy Vader en voluit daaruit geleef. Dit is die allerbelangrike beginpunt van die siklus van genade en ’n plek waarna ons deur ons hele lewe telkens moet terugkeer; ons ware tuiste!
Die tweede beweging, gaan dan oor die tema van sustenance (ondersteuning, onderhouding, voed). Weereens, waar en hoe kry jy jou padkos? Ons weet ons bron is God, Hy sorg vir ons, maar Hy doen dit deur die sg. “means of grace”. Rimtes/gewoontes wat ons in ons lewens vestig sodat Hy die volle aanvaarding in sy liefde en genade met ons kan deel. Ons het laasweek na een van hierdie sustaining practices in Jesus se lewe gekyk; behalwe die tyd in afsondering en gebed, sou ’n mens aan ’n klomp ander dinge kon dink; tye wat Hy geloop en gesels het met sy dissipels, kuiers by sy goeie vriende Lasarus-hulle in Betanië, aanbidding en Skriflesing, tye by kinders en randfigure. Watter ritmes moet jy in jou lewe vestig? Kom ons onthou weer ons SMART plan.
En dan eers volg die aspek van significance. Jy kan net jouself as God se unieke gawe aan die wêreld gee, as jy diep gewortel is in jou aanvaarding en versorging deur die Drie enige God self. En dan eers kom ons by die vrug; die druiwe wat die Godgegewe resultaat is van ons vaswees aan die Ware Wynstok, die “in Christus” wees.
Dan raak die betekenis van jou lewe baie prakties. En as ons dink aan die lewe van Jesus en aan wat Hy gedoen het, sal jou unieke bydrae iewers onder die volgende temas val: versoening, heling, hoop, profetiese uitwysing van magsmisbruik en valsheid, vrymaak, vergifnis, wysheid/onderskeiding en veral ook, die skep van ware gemeenskap.
En in hierdie laaste prentjie sien ons watter vernietigende gevolge daar is as ons die sirkel van genade probeer omkeer. Dan begin ons, soos eintlik maar ons default is, by die vrug, by ons eie produktiwiteit en by wat ons kan doen; en daaruit probeer ons ’n gevoel kry dat ons lewe saakmaak, ons soek erkenning en hoop dit sal ons ’n gevoel van significance gee. En as ons sukesvol is hiermee, hoop ons dat die sukses ons sal dra, vir ons die nodige sustenance sal gee wat ons nodig het en dat ons daardeur die nodige aanvaarding by mense sal verdien. Daarom is die uitbranding waaraan so baie van ons lei, ook ’n geestelike saak. Ons leef dikwels soos funksionele ateïste vir wie die fisiese werklikheid die oorheersende faktor is.
Ons hoef nie onsself uit te brand in die siklus van werke nie. Ons moet inprop by God. Ons Vader se fluisterstem herinner ons gereeld daaraan dat ons sy geliefdes is. Ons moet net leer om na Hom te luister. Ons Vader se arms is altyd oop met genoeg liefde en genade om ons te onderhou, ons moet net in sy arms inhardloop. En dan sal ons lewens die vrug dra van die betekenisvolle, unieke gawe wat ons elkeen aan ons Vader se wêreld is. Amen.
Stilword:
Fokus op God.
Vra Heilige Gees se leiding.
Waar soek jy erkenning en aanvaarding?
Ontvang God se onvoorwaardelike liefde: jy is gebore in sy hart voor die wêreld tot stand gekom het!
Bevestiging:
Om ’n geestelike leier te wees, Cobus, is nie ’n tegniese takie om toe te sien dat alles vlot hier by die kerk verloop nie. Dit is om deel te wees van ’n span wat namens die gemeente gaan soek na die Here se wil vir ons. En daarvoor moet ons by Hom ingeprop wees; nie net om sy stem te hoor en sy wil te onderskei nie, maar selfs nog dieper, om nuut gebore te word uit Hom, om deur die Heilige Gees al hoe meer verander te word om soos Jesus te wees; ’n lewende teken van wie Hy is tussen ander mense…
Doopbevestiging:
Jy moet diep gewortel wees in jou diepste identiteit: Jy is ’n geliefde, unieke kind van God wat Hy geroep het om met jou unieke menswees en gawes ’n verskil in sy kerk en sy wêreld te maak…
Gebed:
(Ons bid vir Cobus, ons bid vir ons en ons gemeente… ons hou ons hande oop voor ons… Gebed uit Ef 1) Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
