In of van die wêreld?
Verwelkoming:
Koninkryk van God – vra ’n nuwe verbeelding; ons harte en gedagtes word maklik mislei… dit begin by vertroue…
Votum/seëngroet:
Hoe is ons koning anders as die regeerders van die wêreld?
En wat sê dit oor die mense wat leef in sy koninkryk?
5“Sê vir die dogter van Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe:
Hy is sagmoedig en Hy sit op ‘n donkie,
en op ‘n jong donkie,
die vul van ‘n pakdier. ” (Mat 21)
Skriflesing:
Mat 22:15-22
Preek:
Oral in Jesus se lewe, in sy verkondiging, in die dade en wonderwerke, en uiteindelik op die heel diepste en mees dramatiese manier in sy kruisiging, sien ons die botsing tussen die koninkryk van God en die koninkryk of koninkrye van die wêreld. Hier spesifiek die Romeinse ryk, maar in die Bybel (sedert die toring van Babel) sien ons dat die wêreld koninkryk of Empire altyd dieselfde “dier” is – dieselfde styl en dinamika het. En later sou Paulus dieper hierop ingaan en ons beskryf as burgers van die hemel – vreemdelinge en pelgrims hier op aarde.
Ons is in hierdie wêreld, al is ons nie van hierdie wêreld nie. En hierdie spanning is dikwels moeilik – ons weet nie altyd waar die grense lê nie. Ons kan so maklik meegevoer word deur ons wêreld – sy vorm aanneem, inval by sy waardes en maniere van sien en doen en voel. Of ons kan te wêreldvreemd raak. Bang word vir alles en almal wat anders en nuut is. Onttrek of meerderwaardig wees, of net met “ons mense” (Christene, kerk, taal, ras ens.) meng.
In hierdie relatiewe kort teksgedeelte is daar so baie interessante dinge aan die gebeur en temas wat aangeraak word wat nog so baie vir ons tyd sê – al gee dit ongelukkig nie vir ons finale antwoorde nie. In die eerste plek noem Jesus die mense wat Hom in ’n strik wou vang, skynheilig. Iets wat so deel is van ons menslike aard en ons moderne kultuur. Lank voor ons tyd van sosiale media, soek Jesus se vyande nie ’n antwoord op ’n eerlike vraag of Jesus se mening oor ’n moeilike saak nie, maar net ’n “hetjou” oomblik waar hulle Hom in sy eie woorde verstrik. Hierdie ouens, Fariseërs en Herodiane, het nie eers om dieselfde vuur gesit nie – eg. was teen die Romeinse owerheid en lg. het met hulle saamgewerk.
Maar tussen hulle het hulle gedink hulle het vir Jesus in die perfekte strik betrap. Sê Hy “ja” julle moet belasting aan die Romeine betaal lyk dit of Hy die Romeine ondersteun en nie God se koninkryk eerste stel nie en die prys daarvoor wil betaal nie. En sê Hy “nee” dan is Hy in uitgesproke opstand teen die regering en kan hulle Hom net daar aankla van verraad en sal Hy as rebel deur die Romeine gestraf word. So tipies van politieke speletjies en openlike skynheiligheid wat deur die eeue, en veral in ons tyd net so geldig bly. So dikwels, in openbare gesprekke, politiek, godsdiens, wat ookal, geld een stel reëls vir die eie groep en ’n ander vir die ander groep. Die doel is nie eerlike gesprek nie, maar om die ander uit te vang of in ’n slegte lig te stel.
Jesus sien hulle van ’n myl af aankom. “Wys vir my die munt waarmee julle belasting betaal”. En sonder om enige iets te sê wys Hy hulle daarop dat hulle klaar deelneem aan die stelsel. Hulle gebruik die Romeinse geld. Hulle betaal belasting.
Dit is deel van die wêreld waarin hulle en ons is. En selfs al word ons onderdruk of onregverdig behandel, dit is tans die owerheid – ons is in hierdie wêreld, ons kan nie onsself buite die sisteem sit nie.
En selfs al word al die geld nie vir goeie dinge gebruik nie, word alles ook nie vir slegte dinge gebruik nie – en tans sal ons belasting nie kan vryspring nie, selfs al is dit die beter van slegte opsies en doen ons dit met ’n swaar hart.
En dit alles herinner ons. Ons dink dalk ons is 100% reg en die ander kant is 100% verkeerd, maar almal maak seker kompromieë langs die pad om by hulle keuse en oortuiging uit te kom.
“Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” vra Jesus vir hulle oor die muntstuk wat hulle vir Hom bring. “Die keiser s’n” kan hulle nie anders as om te antwoord nie. Die magtigste man in die destydse wêreld. Die een wat gevrees en geëer moet word. Die gesig van die empire. Met ’n inskripsie wat lees: “Tiberius Caesar, seun van die goddelike Augustus” (Seun van ‘n god en hoëpriester in die keiserkultus).
“Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.”
Wat kom die keiser toe, en wat kom die keiser nie toe nie? En wat kom God toe?
Jesus gee geen finale antwoord nie, maar as Hy dit so teen mekaar opstel, dan dwing Hy ons tog tot diep nadenke. Wat is ons verskuldig aan die wêreldse owerhede, die leiers, gesagsfigure, die stelsels van ons tyd? In die eerste plek, ons belastings/geld. Geen wêreldse sisteem is perfek nie, maar dit is beter as geen sisteem, geen wet en orde nie. En sover ons kan, sover dit moontlik is vir ons om te weet, samewerking en hulp wanneer ons doelwitte deel om van die wêreld ’n beter plek te maak. Selfs erkenning en dank wanneer die goeie gedoen word. Om die heeltyd antagonisties en krities oor alles te wees is ook nie ’n getuienis oor ons diepste lojaliteit aan Christus nie.
Maar wat kom God toe? Wat is ons Hom verskuldig? Die kort antwoord is seker alles. Ons ganse lewe. Jesus bevestig daardie sentrale gebod in die Ou Testament as mense Hom vra oor die grootste gebod. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele verstand en al jou krag. God verdien jou diepste lojaliteit. Ware aanbidding. Tydens ballingskap onder ’n ander keiser in die empire van Babilon, het Daniël aanhou bid, al is dit onwettig verklaar – en hy is in die leeukuil gegooi. Sy drie vriende wou nie voor die keiserlike beeld buig nie, en is in die brandende vuuroond gegooi. Hierdie gesindheid het ook in die vroegste Christene geleef toe hulle deur die owerhede vervolg is, maar steeds aanhou getuig het. Jesus self sou nie van koers gedwing word nie, maar getrou bly tot in die dood aan sy liefde vir God – en self sterf aan ’n Romeinse kruis.
Ons het laasweek oor die bring van ons offers (aanbidding, lojaliteit) aan God gepraat in terme van die koninkryk van God en sy geregtigheid. Dit neem ons ook natuurlik terug na die verbintenis wat Jesus gemaak het tussen die gebod oor liefde aan God en liefde aan die naaste. Ons misken God as ons sy beeld in ander misken. Daarom staan die tweede gebod gelyk met die eerste. Johannes sou dit later so verwoord in sy eerste brief hoofstuk 4: “19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.”
Wat wil God hê vir mense? En wanneer werk ons saam met die owerheid vir vrede en veiligheid, en wanneer en waarvoor moet ons hulle teenstaan? Dit is altyd gevaarlik as mense net ’n issue word. Een voorbeeld. Dink maar aan immigrante.
Ons regering faal ons as ons landsgrense so maklik is om onwettig oor te steek. En ons moet aandring op beter beheer, want misdadigers kom in en doen mense skade aan. Maar, so wys navorsing, immigrasie kan ’n netto positief vir ’n land wees. Elke buitelander is nie ’n misdadiger nie. So, ons as Christene moet ook help om buitelanders te beskerm teen vervolging en geweld. Ook hulle is ons naaste. Dit is nie maklik nie.
Om God te gee wat God toekom, vra ’n kruis, vra jou lewe. Maar die vrug en die seën van koninkryk is selfs groter. Dit is Jesus se belofte. Amen.
