MATT. 28:16-20 (31/5/26)
# Dit was reg teen die einde van Jesus se tyd hier op aarde.
- Redelik kort na sy kruisiging en sy opstanding uit die dood.
- En net voor sy hemelvaart.
- En nou lees ons in Matt. 28:16 dat die elf dissipels na Galilea toe gegaan het, na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.
- Elf dissipels.
- Dít vertel ook al ’n verhaal van sy eie.
- Een lid van die oorspronklike groep van twaalf dissipels van Jesus was nie meer by hulle nie.
- Dis Judas – hy het Jesus verraai en die groep verlaat.
- Maar die ander elf het ook hulle swak oomblikke gehad.
- Dink maar aan Petrus en hoe hy Jesus verloën het.
- Hoe hy selfs gesê het hy ken die Man nie.
- En dink maar aan Johannes en Jakobus, die twee broers wat op ’n keer baie selfsugtig vir Jesus gevra het of hulle maar aan sy linker- en regterkant kan sit in sy koninkryk.
- En so was Jesus se dissipels maar net doodgewone mense met foute en swakhede.
- Nie volmaakte wesens of supergelowiges nie.
- Maar hulle gaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.
# En nou is hulle daar by Jesus, teen die berg.
- En die plek waar hulle is, is belangrik.
- Dis belangrik want dit was ook teen ’n berg waar Jesus vroeër sy bergpreek gelewer het.
- Daar waar Hy so duidelik vir sy volgelinge geleer het hoe Hy wil hê dat hulle moet lewe.
- En net so was dit ook teen ’n berg waar drie van die dissipels die verheerliking van Jesus kon beleef.
- Waar hulle kon hoor hoe die Vader sê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”
- Teen daardie berg is die drie dissipels toegelaat om Jesus so ’n bietjie beter te leer ken, en om beter te verstaan wie Hy werklik was: die Seun van God.
- En so is ’n berg in die Bybel dikwels die plek waar God sy wil aan die mense bekend maak en waar hulle Hom op ’n beslissende manier ontmoet.
# En hier in Matt. 28 was Jesus en die elf dissipels nou saam teen ’n berg.
- En vers 17 sê: Toe die dissipels vir Jesus sien, “het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”
- Hulle aanbid Hom want hulle weet: Hier staan ons nou voor die Seun van God.
- Hier staan ons nou voor die Verlosser van die wêreld – die Een wat gekruisig is maar ook opgestaan het uit die dood.
- En die enigste werklik gepaste reaksie vir hulle was om Jesus te aanbid.
- En tog, sê vers 17, het party getwyfel.
- Ná al die wonderlike dinge wat hulle gesien en beleef het saam met Jesus, twyfel party sowaar nog steeds.
- Maar nou ontmoet hulle die opgestane Jesus.
- Nou hoef hulle nie meer te twyfel nie: Jesus hét opgestaan en Hy leef.
- En nou is hulle saam met Hom teen die berg.
# Maar wat wil Jesus met die elf dissipels doen, daar teen die berg?
- Hoekom het Hy hulle daarheen ontbied?
- Die antwoord is dat Hy iets baie belangrik het om vir hulle te sê.
- Dat Hy ’n opdrag het om vir hulle te gee – die groot opdrag, soos dit baie keer genoem word.
- En so gee Jesus dan vir sy dissipels ’n opdrag wat hulle sou moes uitvoer ook nadat Hy reeds opgevaar het na die hemel.
- Hy gee vir hulle die groot opdrag.
- En dis ’n vierdubbele opdrag
- Dis die opdrag wat sê: gaan, maak dissipels, doop hulle, en leer hulle.
- En met hierdie opdrag, sê Johan Cilliers, gee Jesus sy werkprogram vir hierdie wêreld oor in ons hande. (x2)
- Hy maak daarmee van ons sy medewerkers en gee vir ons ’n taak waarmee ons besig moet wees tot op die dag van sy Wederkoms.
- En as ’n mens dink aan hoe swak Jesus se eerste dissipels was, en hoe swak ons ook maar vandag is, dan wonder jy: Hoekom het Jesus mense gekies om hierdie opdrag uit te voer?
- Hoekom nie engele nie?
- L. de Villiers het in ’n klein gediggie oor hierdie selfde vraag gewonder, en gesê:
- “Hoe vreemd die proklamasie van Gods plan!
Die engele wat dit met groot élan (m.a.w. met groot ywer)
kon doen, moet eenkant staan vir sy
metode van die waarheid plus ’n man.”
- Ja, as ons dink aan hoe swak ons as mense is, dan is dit nogal ’n vreemde plan van Jesus hierdie, die plan dat sy dissipels na ander mense toe moet gaan en dissipels van hulle maak, én hulle doop en leer.
- Maar presies dít was Jesus se opdrag.
# En kom ons dink nou ook ’n bietjie ná oor wat hierdie opdrag, wat so lank gelede al gegee is, vir ons vandag beteken.
- En kom ons kyk stukkie vir stukkie daarna.
- Om mee te begin, sê Jesus vir sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe. (x2)
- En so stuur Hy sy kerk om oor grense na ander mense toe uit te beweeg.
- Die elf dissipels moes daarmee begin.
- Maar die gelowiges ná hulle moes dit voortsit.
- En tot vandag toe bly dit ’n belangrike opdrag, ook vir ons.
- Want ook ons moet bereid wees om oor grense te beweeg met Jesus se liefde, soos oor die grense van ons eie groepies en vriendekringe en familiegroepe en gemeentes – én selfs oor die grense van ons eie land.
- En natuurlik is dit nie vir ons almal moontlik om bv. alles hier te los en by ’n bediening in die buiteland te gaan inskakel nie.
- Die Here roep ons ook nie almal om ver weg van ons huis vir Hom te gaan werk nie.
- Maar dit lyk vir my die beweging by ons moet altyd weg wees van onsself.
- Ons moet altyd ander in die oog hê, en hoe ons hulle kan help.
- En so het ons in die afgelope tyd bv. juis weer bewus geraak van die nood wat daar in die gemeente in Msinga, in KwaZulu Natal is.
- En ons eie Getuienisbediening is oortuig daarvan dat ons as gemeente beslis weer sterker by Msinga betrokke kan wees, soos dit in die verlede by tye al was.
- So die vraag is nie net hoe ons die Here se werk hier by ons en naby ons kan doen en bevorder nie, maar ook so ver weg as in Msinga?
- En natuurlik kan ons finansiële bydraes daar ’n verskil maak.
- Maar ook net ons belangstelling en gebede en kontak met hulle.
- Maar ons móét vra: Hoe kan ons die Here se werk ook daar help bevorder?
# Maar so is daar sekerlik ook nog baie ander grense wat die Here wil hê dat ons moet oorsteek met sy liefde.
- En daarom moet ons bv. ook vra: Hoe kan ons die grense tussen ryk en arm in ons land oorsteek?
- En die grense tussen gelowiges en ongelowiges?
- En die grense wat daar dalk sommer tussen my en my buurman en buurvrou is, of tussen my en ’n lid van my gesin of familie?
- En dit is ’n baie uitdagende saak hierdie, maar Jesus stuur ons om oor grense te beweeg met sy liefde.
- Gaan dan na al die nasies toe, is sy opdrag.
- Beweeg oor grense heen na ander mense toe.
- Reik oor grense uit na ander.
# Maar dan is die vraag: wat moet ons dan oorkant die grense gaan maak?
- Wel, daar is baie wat ons as gelowiges kan doen wanneer ons grense na ander mense toe oorsteek, maar die tweede deel van Jesus se opdrag is: Maak die mense my dissipels. (x2)
- En wat is dissipels?
- Dit is mense wat die voorbeeld van ’n leermeester volg.
- Hulle is iemand se volgelinge en leer ook die hele tyd by die leermeester.
- Ons kan ook sê dissipels is soos vakleerlinge wat by ’n ervare vakman moet leer hoe om hulle vak te beoefen.
- En so moet ons self in Jesus se voetspore volg en sy dissipels of vakleerlinge wees.
- Ons moet self die hele tyd by Jesus leer.
- Maar daarmee saam moet ons ook help dat ander mense dieselfde doen.
- Dat hulle ook as Jesus se dissipels leer leef.
- Nie net dat hulle kinders van die Here word, en gered word van hulle sonde nie, maar ook dat hulle as sy dissipels leer leef.
- Maak die mense my dissipels, sê Jesus.
- Help hulle om as my volgelinge in hierdie wêreld te kan leef.
- En ons moet ook mekaar hiermee help, want ons is tog saam met mekaar Jesus se dissipels in hierdie wêreld.
# Maar Jesus se opdrag aan sy dissipels gaan nog verder.
- Hy sê ook vir hulle: Waar julle van mense my dissipels maak, moet julle hulle ook doop.
- Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, sê Jesus.
- Doop hulle in die Naam van die Drie-Enige God.
- En so moet elke dissipel van Jesus die teken van die doop dra.
- ’n Teken wat ons herinner aan Jesus se kruisdood ter wille van ons.
- ’n Teken wat ons herinner aan sy lyding om ons van ons sonde te verlos en ons deel te maak van sy koninkryk.
- Deur die doop word ons herinner dat die Here ons klaar kom red het en dat ons nou nie meer aan onsself behoort nie maar aan die Koning van alle konings.
- Ja, dat ons nou burgers van sy koninkryk geword het.
- Doop hulle, sê Jesus, in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
- Doop hulle in die Naam van die Drie-enige God, want hulle behoort nou aan Hom!
# Maar dan, die vierde en laaste deel van Jesus se opdrag aan sy dissipels.
- Hy sê: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
- Jesus se dissipels moet nuwe dissipels leer om ook aan Hom gehoorsaam te wees.
- Om ook sy wil te ken en te doen.
- En die Bybel is mos vol van dit wat Jesus wil hê ons moet doen, en veral van dit wat ons in liefde moet doen.
- Johan Cilliers sê hierdie vierde deel van Jesus se opdrag beteken dat ons mense moet leer “om te leef met ’n gesindheid wat by die liefde pas, of hulle nou hulle kinders grootmaak, of werk toe gaan, of eksamen skryf, of hulle kruisies op stemdag trek.”
- Ons moet mense leer om elke oomblik van hulle lewe te leef met ’n gesindheid wat by die liefde pas.
- Om elke oomblik te leef met Jesus se gesindheid van liefde.
- En natuurlik moet ons vir nuwe dissipels kan wys hoe ons self met hierdie gesindheid leef.
- Ons voorbeeld is hier absoluut deurslaggewend.
- En ek dink nou ook sommer aan hoe belangrik ons voorbeeld vir ons kinders is.
- As nuwe dissipels, of jong dissipels, moet hulle by ons kan leer hoe om met ’n gesindheid te leef wat by die liefde pas.
# So, Jesus se opdrag hier in Matt. 28 is: Gaan, maak dissipels, doop hulle en leer hulle.
- Maar dalk is ons op hierdie punt nou weer lus om te vra: Maar hoe is dit moontlik dat ons hierdie opdrag kan uitvoer?
- Ons is dan so swak?
- Die antwoord op hierdie vraag is: Ja, ons is swak.
- En ons sukkel vir seker om Jesus se opdrag behoorlik uit te voer.
- Maar wat ons moet raaksien, is dat Jesus se opdrag tussen vers 18 en vers 20 van Matt. 28 staan.
- Dat sy opdrag deur vers 18 en vers 20 omraam word.
- Eers sê Hy in vers 18: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.”
- En dan volg sy opdrag in vers 19 en die begin van vers 20.
- En dan sê Hy in die res van vers 20: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
- En omdat alle mag aan Jesus behoort, en Hy elke oomblik by ons is deur die Heilige Gees, kan ons wel sy opdrag uitvoer.
- Die mag en krag van ons Here, en sy teenwoordigheid by ons elke oomblik, is ook óns krag.
- Dít stel ons in staat om wel die groot opdrag van Jesus uit te voer, al sukkel ons ook baie keer in ons swakheid om dit behoorlik te doen.
- David Livingstone, die bekende Skotse sendeling-dokter en ontdekkingsreisiger uit die negentiende eeu, wat baie bekend is vir sy werk in Afrika, het dit só gestel: “Moet ek vertel wat my versterk het gedurende al die jare van ballingskap onder mense wie se taal ek nie kon verstaan nie en wie se houding teenoor my dikwels vyandig was? Dit was hierdie woorde: ‘En onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.’ Op hierdie woorde het ek alles gewaag, en dit het my nooit in die steek gelaat nie.”
- Mag ons ook alles waag op hierdie woorde en belofte van Jesus, sodat ons as sy kerk sy groot opdrag kan bly uitvoer!
AMEN
