Die Groter Werklikheid

Verwelkoming:

Paastyd: die opgestane Jesus kan enige oomblik aan ons verskyn – Hy sit sy bediening deur ons voort…
Wat doen God nou?

Pinksterreeks (17 Mei):

Wie is ons as kerk – hoe kan ons seker maak ons bly by ons bron – leef ons roeping?
Soveel tye, soveel kontekste, kulture, mense en stylte…
Niceense kenmerke: een, heilig, algemeen, Christelik — deur die eeue het dit die toets van tyd deurstaan as die vier dinge wat ons identiteit bepaal as Jesus se liggaam op aarde – maar wat beteken dit in 2026 vir PB?
Wou nog altyd van my PhD ook met julle deel – Koffeman vertaal dit in kwaliteitsmerkers – inklusief, integriteit, outentiek..
Ook missionale kerkwees…

Votum/seëngroet:

2By U, Here, skuil ek.
Laat my tog nooit teleurgestel staan nie!
Bevry my, want U is getrou.
3Luister na my, red my tog gou.
Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug,
‘n bergvesting om my te red.
4Ja, U is my rots en my bergvesting,
ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.
5Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het,
want U is my toevlug.
6In u hande gee ek my lewe oor,
want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
(Ps 31)

Skriflesing:

Hand 7:54-60

Preek:

Dit is ontstellend – hierdie storie van die eerste Christen martelaar. Die teenstand teen die boodskappers van die opgestane Jesus was geweldig en gewelddadig. En soos Handelinge se storie verder ontvou, sal ons vertrel word hoe die getal van die gelowiges, die kerk, aanhou groei het, ten spyte van, selfs eintlik as gevolg van, die vervolging.

Wat mooi en hoopvol is in die storie van Stefanus, is om te sien hoe naby Hy aan sy Here is (“vaste geloof en vol van die Heilige Gees”) – en hoe spesifiek Lukas (die skrywer) daarin is om vir ons die parallelle tussen Jesus en Stefanus se pad vir ons uit te wys:
Albei bots met die godsdienstige leiers, albei word gegryp en voor die Joodse raad gebring, teen albei word mense opgesweep, teen albei word vals getuienis ingebring, van albei word gesê dat hulle lasterlike dinge teen die tempel en die wet van Moses gesê het. Albei word uiteindelik onskuldig om die lewe gebring. Albei word buite die stad tereg gestel.

Maar tydens sy verhoor, anders as Jesus, bly Stefanus nie stil nie – dit is nou die tyd soos wat Jesus gesê het om die boodskap van die dakke af te skree. In die langste preek wat eerstehands vir ons in die Bybel opgeteken is (langer as Petrus s’n op Pinksterdag), sê Stefanus basies vir die Joodse godsdienstige leiers dat hulle (die volk Israel) altyd in hierdie bevoorregte posisie was om die beloftes en die woord van God eerstehands te ontvang deur die profete – maar net soos hulle voorvaders keer op keer gedemonstreer het, wou hulle nooit hoor nie.

Hulle het die profete eerder doodgemaak – selfs die wat eeue vantevore die koms van Jesus (die Regverdige) verkondig het – en toe die grootste profeet van alle tye kom, het hulle selfs Hom doodgemaak: “Julle is heidens in julle harte – julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees.” Dit moes seker vir die Joodse raad soos déjà-vu gevul het. Hulle het gedink hulle probleme met Jesus is iets van die verlede, maar hier kom dit weer…

Wat jou eerste opval van hierdie storie is die geweldige woede van die Joodse raad. Daar staan meer letterlik, hulle het in hulle harte woedend geword. Op Pinksterdag is die mense in hulle harte diep getref is deur die evangelie. Hulle het dieselfde boodskap gehoor: “julle het hierdie Jesus gekruisig…”.
Dieselfde waarheid, dieselfde aanklag, maar een groep weerstaan nie die werk van die Heilige Gees nie, en kom tot geloof – hulle word gered.
Ander wil nie die ongemaklike waarheid oor hulleself hoor nie – hulle trots staan vierkantig in die pad en hulle harte raak al hoe harder en donkerder. Die ironie: hulle gaan voort met die proses om profete dood te maak – net soos Stefanus hulle pas beskuldig het.

Maar Stefanus is vol van die Heilige Gees en by hom is daar ’n ander-wêreldse vrede en perspektief -vol moed, vol hoop, vol liefde. Die werkwoord vir “opgekyk” in die Grieks gaan oor meer as fisiese sien, dit gaan oor ’n dieper perpepsie – ’n bewustheid van dit wat regtig saak maak. Dit is ’n intensionele fokus op Jesus in die gesagsposisie aan die regterhand van God.
Almal rondom hom is onsteld, almal is opgevang in die drama, woedend, maar sy oë sien iets verder en dieper en meer werklik as al die geraas: Hy sien die realiteit van Immannuel, God met ons…

Dit was nog altyd die wekroep van die profete: maak julle oë en julle ore oop vir dit waarmee God doen en sê en belowe! Dit is wat Jesus so daadwerklik kom demonstreer het – die daaglikse, helende, verlossende, teenwoordigheid van God in ons wêreld en in ons lewens! Dit is wat die opstandingsverhale ons wil leer: Jesus het opgestaan – Hy is as’t ware los onder ons – Hy kan enige tyd, enige plek, by enige iemand verskyn. Dink maar aan die Emmausgangers, Lukas se pragtige verhaal aan die einde van sy evangelie: Hy is daar – by sy mense as hulle broos is, bedreig word – jy moet net op die uitkyk wees vir Hom!

Ons gaan die Heilige Gees moet vra vir hierdie perspektief, hierdie manier van sien van Stefanus. Om ons is daar baie drama. Om ons is daar baie bedreiging. Baie woede. Baie selfregverdiging. Die opinies en die beskuldigings vlieg rond. Die een kant se absolute waarheid is die anderkant se nonsens en “fake news”. Selfs Christene baklei. Godsdiens raak haatlik. Sosiale media is die megafoon wat alles opblaas en ons alle en almal laat wantrou. En ons word meegesleur en ons word verwar en ons gee ons oor aan die hardste stem en die mees gemene boelie.

Vir Stefanus was die hemel geopen. Hy kon Jesus se heerlikheid en gesag sien. Hy was nog steeds binne in die werklikheid – hy het presies geweet wat aangaan – maar hy as anders binne in die werklikheid. As sy fokus op sy aanvallers was was hy bes moontlik verlam deur woede, of hartseer of vrees, maar hy sien die koninkryk van God en hy sien die ewigheid.

En daarom kry die Joodse raad nie die Kollig (centre stage) nie – maar die deurbreek van God se koninkryk hier en nou, soos wat hy sy lewe gee vir die koms daarvan net soos Jesus – hy kyk met Jesus se oë en daarom kan hy bid net soos Hy: “Here Jesus ontvang my gees” en “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie.”

Daar is ’n uitnodiging vir ons: kan ons ontsnap van die geraas, die drama, die magspeletjies – en ons vreesvolle en onverdraagsame reaksies op die bedreigings en die beskuldigings? Die swartsmeer van almal met wie ons verskil. Die behoefte om altyd te wen, altyd te wys ons is reg – om onsself te alle koste te bevoordeel en te beveilig. Wil jy al jou aandag, al jou tyd en energie hieraan gee en die Kollig (center stage) hierop laat val?

Of wil jy eerder Bevry en bemagtig word deur die grootste werklikheid wat daar is? Wil jy eerder nuuskierig wees oor waar God is en waarmee Hy besig is te midde en selfs deur al hierdie dinge? As ons intensioneel kyk na Jesus in hierdie omstandighede, wat sal ons sien, wat sal ons leer, wat sal met ons gebeur? As ons ons verbeelding oefen om ’n meer uitgebreide visie van God se reddende teenwoordigheid te hê, hoe sal ons verander?

Oral om ons skitter daar hierdie tekens van dit wat moontlik is as die opgestane Jesus se heerlikheid deurbreek en as mense na Hom kyk, eerder as Menslike dramas. Daardie dag was daar ’n jong man Saulus teenwoordig wat dit alles goedgekeur het. Min sou hy weet wat nog vir hom sou voorlê en watter wending sy lewe sou neem daardie dag toe die hemel ook vir hom sou oopgaan en hy die verheerlikte Jesus se ontmoet…Amen.

Gebed:

Watter stemme, watter drama, moet stil word? Waarmee is God besig? Hoe lyk sy wêreld?

css.php