Vry van bekommernis!

 

Verwelkoming:

Wie is U, Here – so vra Paulus op die Damaskus pad? Ons bely Hom. Hy is sagmoedige en nederig van hart – juk is sag en las is lig – ons sal rus kry vir ons gemoed. Hy vra baie, maar dit is sodat ons vry kan wees; vry van dinge wat ons wurg, vry om uit die grootste rykdom, die grootste skat te leef…
Hy nooi jou – nie vir jou boodskap vir die week nie, maar vir ’n ontmoeting met Hom!

Votum/stilword:

Hoor Jesus sê: 25“…Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Seëngroet:

Jy is meer werd as baie mossies – jou Vader sorg vir jou!

Skriflesing:

Mat 6:19-34

Preek:

Waar ons skat is, daar sal ons hart ook wees, sê Jesus. In Bybelse terme is ons hart ook baie nou verbind aan ons wil en ons gees; mens sou kon sê dit is die sentrum van ons wese waaruit ons lewe vloei. Dit is wat ons oriënteer in alles wat ons doen.
As ons hart gerig is op die regte dinge, dan bring dit ’n gesonde heelheid en integrasie na jou hele menswees. Anders gestel: ons liefde rig ons, vorm ons. Ons raak beelde van die dinge wat ons liefhet. Waar ons skat is daar sal ons hart ook wees. Ons hele lewe neem vorm aan rondom ons hart.

So Jesus vra eintlik eenvoudig: waarin gaan jy jou grootste belegging maak? Wat gaan jy treasure? Waarop gaan jy jou hart verloor? Want jy kan of vir jou skatte op aarde bymekaar maak, of in die hemel.

Dit is uit hierdie skat van God se rykdom waarin Hy nou al voorsien in my daaglikse behoeftes, om dit nou fisies, geestelik of emsioneel is. Die vraag is net waarop gaan ek reken, waarop gaan ek vertrou, waarvoor gaan ek my hart, my liefde gee? Waarin gaan ek my belegging maak vir die toekoms? In aardse skatte of die hemelse skatte.

Ons is ’n kultuur wat sukkel met vrees – wat sukkel met bekommernis. Reeds in die verlede het koerante en tv-nuus die gesegde gehad, “if is bleeds it leads”. Vrees trek ons aandag. En deesdae – vrees laat ons kliek. Ons brein is net nie vir hierdie wêreld gemaak nie, sê ’n psigiater eendag vir my. Ons eie gemeenskap se vreugde en pyn is al waarvoor ons brein kapasiteit het. Nou weet ons en sien ons, oorlog en dood en hartseer van die hele wêreld soos dit gebeur. En ons weet – ons het die vermoë as mense om onsself en ons planeet uit te wis.

Ons moet omgee – ons moet kan versigtig wees, besorg wees oor dinge. “Worry” is dit wat ons doen nadat ons alles wat ons kon doen om te beplan en voor te berei.

“Worry is the disproportionate level of concern based on an inappropriate measure of fear”.

En hierdie tipe bekommernis lei tot angs. So hoekom as dit ons verhouding met God seermaak, as dit vir ons fisiese pyn veroorsaak en ons vreugde steel – en dit ons niks in die sak bring nie, doen ons dit? JBS sê dit gaan oor ’n vals narratief wat sê dat as ons genoeg worry oor goed, dan kan ons verhoed dat slegte goed in die toekoms gebeur. As ons mooi voorsorg getref het, en iets gaan verkeerd, dink ons dit is omdat ons nie bekommerd genoeg was nie – en as niks gebeur nie en ons het ge-worry, dink ons dit werk! En so bly hierdie bygeloof met onsself in die middel van ons klein wêreldjie voortbestaan.

As Jesus ons vra om kommer te laat gaan, vra Hy ons om beheer oor te gee – en dit is juis waar die krisis lê…

Hy sê dat as ons “onsself allereers beywer vir die koninkryk van God en vir die wil van God” dan betree ons die ekonomie van God waar Hy vir ons sorg uit sy oorvloed en sy voorsiening. Dit klink dalk so bietjie onseker om jou lewe en geluk te waag op ’n skat/rykdom wat jy nie kan sien nie. Maar is die nie die moeite werd om die alternatief te oorweeg nie? Want as jy tot hierdie gekom het deur vir mammon te dien, het jy dalk al agtergekom: jou lot is bepaal – angstigheid is onvermydelik!

Watter leidrade gee Jesus ons nog oor hierdie skuif wat in ons lewens moet plaasvind? “Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?”
Die geldgod verteenwoordig hierdie wêreld waar ons alles volgens die uiterlike meet. Waar bly jy wat ry jy en wat kry jy? Watter name pronk op jou klere? Waar koop jy jou gourmet kos? Is jy lank en maar; gebruik jy die regte roompies en inspuitings, om die tekens van die jare te verdryf?
Daar is geen plek vir dit wat regtig saakmaak nie – wat is die vorm van jou karakter, die toestand van jou hart en siel – jou roeping as mens; die ware vreugdes daarvan om net mens te wees, om die skepping te kan bewonder, jou verhoudinge te kan geniet, die gras onder jou voete te kan voel?

Kyk, sê Jesus, let op. Leef weer nader aan die fisiese wêreld van God se wonderskone skepping. Die voëltjies hoef nie te beplan en op te gaar vir die toekoms nie. Elke dag gee die Here vir hulle elke dag se kos. Kyk na die veldlelies. Sonder enige moeite troef hulle ons skoonheid – ons wat ons elke dag so bekommer oor en moeite doen met ons fisiese voorkoms. Ons is baie meer werd, sê Jesus, hoeveel te meer sal ons Vader nie vir ons sorg nie?

Hoe vreemd dit ookal mag klink, mense wat in die koninkryk van God leef, vind alreeds hierdie lewe, hierdie wêreld, ’n volkome veilige plek om in te wees. Dallas Willard skrywe dat dit sekerlik is wat Jesus en die ganse Bybel vir ons wil sê: Moenie bang wees nie, jy is veilig. Ek weet – die allerlaaste ding wat ons die huidige toestand van ons wêreld sal noem, is veilig. Ons is so gewoond daaraan om hierdie sigbare aardse realiteit as die enigste realiteit te beleef wat daar is.

JBS sê dat as hy mense op ’n dissipelskappad lei, hy altyd twee vrae aan hulle vrae:
“Wie is jy en waar is jy?” – en die antwoord:
“Ek is ’n geliefde kind van God in wie Christus leef en ek leef in die onvernietigbare koninkryk van God.”
God en sy koninkryk is ewig en onvernietigbaar en so ook is ek en jy. Jy kan siek word, jy kan jou werk verloor, selfs doodgaan – maar niks kan ons vernietig of ons skei van die liefde van God nie. Ons leef in sy eindelose krag, liefde en genade. Ek kom niks kort nie. Ek is veilig. Ek is tuis.

Leef in die oomblik. Leef vandag, voluit en met vreugde in God se ekonomie, waar daar genoeg is vir almal – waar daar ’n tuiste is vir almal. En leer vertrou – God is reeds in môre, daarom hoef jy nie daar te leef nie. Amen.

css.php