Wat begeer jy regtig?

Votum en seëngroet:

Karl Barth skryf die volgende (jy kan aan mense se vrug sien in watter God hulle glo):

“Any idea of God, in which He is not yet gracious, or not yet essentially decisively and comprehensively known as gracious, is really, whether it is affirmed or denied, a theology of the gods and idols of this world, not of the living and true God.”

Kom ons neem dit in….
Kom ons raak nou bewus van die God wat by ons teenwoordig is. Hy is in sy diepste wese, die genadige…

Maak jou hart wyd oop en ontvang alles wat God vir jou gee!!

Skriflesing:

Mat 6:1-8

Preek:

As jy fyn oplet, gebeur daar iets baie interessant in hierdie stukkie; iets eintlik heeltemal anders, vermoed ek as wat ons sou verwag. Probeer gou eerlik wees saam met my oor hoe ons dink. Ons dink oor onsself as ’n “ek”. ’n Ek/individu wat sekere begeertes het. Sommige goed en sommige sleg, maar dit is my begeertes. En wat ek moet doen, is om “nee” te sê vir die slegte begeertes (stem julle nog saam?). En ek kan, want ek is “my eie mens”. Ander mense sukkel wel so ’n bietjie hiermee (selfs ek maak so af en toe ’n foutjie). Daar is baie van hulle wat duidelik patologies en verslaaf. Maar ek is tog ’n nugter en gebalanseerde persoon. Ek is in staat om netjiese en rasionele besluit te neem oor wat vir my goed is.

Maar hier is die probleem. Dit lyk nie asof Jesus daardie netjies verpakte evangelie van individualisme glo nie. (Al glo die meeste van ons dit wel). Want as Hy dit geglo het, dan moes hy dalk iets meer in die lyn van die volgende gesê het: “Julle behoort nie op soek te wees na belonings nie. Dit is darem vreeslik onvolwasse. Raak groot en word die selfaangewese en selfgedrewe persoon wat Ek jou gemaak het om te wees en doen die regte ding!” Maar snaaks genoeg lyk dit asof Jesus aanvaar dat ons ’n behoefte het aan aanvaarding, bevestiging en beloning. Wat Hy wel vir ons begeer is dat ons dit op die regte plek moet kry. By die regte “Iemand”.

Die waarheid oor onsself is dat ons nie sulke selfaangewese mense is soos wat ons dink of graag sou wees nie. Ons is sosiale wesens. Ons wil (en moet!) voel dat ons behoort. En daarom begeer ons n.a.v. die begeertes van ander. Ons word nie net beïnvloed deur die begeertes van ander nie. Ons raak daardie begeertes. My “Ek” is nie eintlik ’n vaste ding nie. Dit is meer soos ’n oomblik in tyd wat wys in watter verhoudings ek op die oomblik is en hoe daardie mense my beïnvloed (algoritmes van sosiale media!!).

Hopelik maak dit die punt baie aktueel: Ons kan nie sonder God nie. Hy is die ander Ander. Hy is die enigste Persoon wat buite hierdie sosiale kontrak staan; hierdie wedersydse gee en neem en beïnvloeding. God se koninkryk is die Bybelse beskrywing van daardie ander werklikheid. En eintlik is dit ons diepste begeerte, maar ons leef in hierdie spanning, tussen God se patroon vir ons begeertes, en die wêreld s’n.

Jesus self het dit so goed verstaan en uitgeleef. Op verskeie plekke word daar vir ons beskryf hoe Hy Homself afgesonder het om te bid; gewoonlik net nadat Hy intensief met ’n skare mense besig was om wonderwerke te verrig. Want die risiko wat enige leier loop, veral een wat ’n redelike mate van sukses geniet, is om geïnfekteer te raak deur die begeertes van sy volgelinge; m.a.w. om oor hulleself te glo wat die volgelinge glo en om dan gevlei te word om hierdie projeksies uit te leef. En so word die leier die marionet van die skare se begeertes. (Staan so bietjie stil en dink aan leiers in ons samelewing en wat dit beteken!)

Soos altyd verstaan Jesus ook ons beter as wat ons onsself verstaan. Hy neem dit as vanselfsprekend dat ons goedkeuring, beloning, nodig het. Die vraag is net: wie se goedkeuring gaan ons beheer? Want die gevaar daarvan om die goedkeuring van ander te soek, is dat ons dit gaan kry. En dan is ons verslaaf daaraan. En dit sal letterlik bepaal wie jy gaan word. Jy gaan die patroon van begeerte uitleef wat “ander” (wie hulle ookal mag wees) aan jou gegee het. Jy gaan so optree dat jy nog goedkeuring kan kry. Dat jy nog sterker gevoelens van “behoort” kan hê.
En jy gaan deel word van die stille ooreenkoms om nie krities te wees op hierdie groep nie, om sekere goed mis te kyk, sodat die groep hulle reputasie kan behou.

En dan gaan jy soveel minder wees as wat jy gemaak is om te wees. Jy gaan soveel minder begeer as wat jy veronderstel was om te begeer. Jy gaan ’n skadu wees van die self wat jy sou wees as jy toegelaat het dat jou Vader (Skepper!) jou self in die lewe roep.

En hoe kragtig is dit nie dat Jesus dan dieselfde beginsel toepas op gebed as op diensbaarheid nie. Selfs wanneer ons bid, wanneer ons ons Vader se naam op ons lippe neem, loop ons die gevaar om uitverkoop te wees aan die goedkeuring van die ander. Wat Jesus voorleef en voorstel vir ons lewe, ook en veral ons lewe van gebed, is dat ons doelbewus in detox ingaan. Ons moet gestroop word van die identiteit wat ander aan ons wil voorskryf, sodat ons Vader, die enigste Een wat buite die invloed van al dié goed staan, ons ware identiteit in die lewe kan roep.

Die heidene se stortvloed van woorde is hulle poging om God te verander; hulle besef nie dat gebed ten doel het om hulle te verander nie.

Klaarblyklik verwys die woord wat ons gewoonlik net vertaal met “kamer” (wat ons laat dink aan ons slaapkamer) eintlik na ’n vetrek wat in die middel van die ou Midde-Oosterse huise was wat as pakkamer of spens gebruik is. Dit was heeltemal toegebou in die middel van die huis om dit koel te hou; geen vensters na buite. So wat Jesus voorstel is die idee van radikale isolasie.

Maar hier is die probleem van stilte: Geleidelik begin jy te verloor “wie jy is”. Jy beweeg in daardie tussen-in plek in. Die plek waar die ander stemme (wat jy so mooi geïnternaliseer het) begin stil word. En iewers kom jy in kontak met die vergete stemmetjie, diep binne in jou, van jou eie ware en diepste begeertes (wat almal nog in ’n warboel is). En dit is ook die spasie waar jy vir God sal vind. Die maskers, die persona, begin af te kom, en dit is vreesaanjaend aanvanklik; ek wil so graag vasklou aan daardie illusie dat ek iemand is wat my strepe verdien; dat ek iemand is wat “tel”.

Ons het nou al so ’n paar keer van begeertes gepraat, en dit is nodig dat ons nou ’n bietjie daarby stilstaan, want ek vermoed dat ons ontkenning van ons eie begeertes ’n groot struikelblok is in ons verhouding met onsself en met God (wat mos maar altyd saamloop).

Pappa kom sit vir klein Jannie in die bed.
“Jannie, het jy onthou om jou gebedjie op te sê?”
“Ja, Pappa.”
“Dis mooi, Jannie, waarvoor het jy gebid?”
“Ek het gevra dat ons môre see toe kan gaan en dat die Springbokke sal wen.”
“Jannie, my seun, ons bid nie vir sulke dinge nie; Ons bid vir herlewing en vrede in die wêreld en vir die sendelinge in Oekraïne.”

En Jannie sal dit sy eie maak. En hy sal nie ’n beter Christen wees as gevolg daarvan nie; hy sal godsdienstig kan voorkom (of skynheilige). Wat hy sal leer is dat daar lekker maar stoute goed is wat ons eintlik begeer, maar ons mag nie so sê nie, en dan is daar goeie goed wat boring is, wat jy nie eintlik begeer nie, maar jy moet sê dat jy doen.

As ons Vader weet wat ons nodig het, hoekom sal ons nog dan die moeite doen om met Hom te praat? Mag dit wees (en ek glo dit is!!) dat Hy ons uitnooi om met Hom eerlik te wees. Brutaal eerlik. Dat ons vir Hom moet begin beskryf wat ons regtig wil hê; en dat ons alles moet noem; al die dinge wat ons as goed en sleg sal etiketteer. Is dit nie die enigste plek waar ek al hierdie begeertes van my, in die regte volgorde en in die regte plekke kan begin kry nie? Ek bring my begeertes na my Vader sodat Hy my kan heroriënteer. Ons Vader sien nie neer op al ons begeertes nie, want Hy weet in elk geval daarvan. Hy weet ook watter agter al ons oppervlakkige begeertes lê.

En deur tyd saam met Hom deur te bring, soos wat ons leer om ons begeertes onder woorde te bring, so vind ons oor tyd, dat ons meer wil hê as daardie oppervlakkige begeertes; ons kom in kontak met ons heel diepste begeertes, wat ook ons Vader se begeertes vir ons is en ons word vrygemaak om ons eie waarheid te leef. En dit is die geboorte van ware passie. Passie selfs vir vrede(versoening, vergifnis, liefde vir die vyand) en herlewing en om sendingwerk te gaan doen in Oekraïne.

Daar is nie ’n kortpad tussen ‘Ontvang ware lewe’ en ‘Leef ware lewe’ nie. Skuld en “moet” en probeer vat ons net sover, want ons verdwaal in ons verslawing daaraan om die goedkeuring op die verkeerde plekke te kry. Dit is in die tye van afsondering, voor ons Vader wat sien in die verborgene, waar die ware verandering gebore word. Want daar ontvang ons ons ware identiteit en die vervulling van ons diepste begeertes. En so word ons mense wat deelneem aan die koms van God se koninkryk in die regte wêreld.
En dit is ook wat ons vir julle begeer, liewe Matrieks, doopouers, gemeente…
Amen.

Gebed:

Kom ons haal diep asem. Ons kom sit met alles voor die Here. En ons bid hierdie saam in ons harte:
Ons Vader wat in die hemel is.
Laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid.
Amen.

Nagmaal:

In hierdie tekens vind ons onsself, die rede vir ons bestaan, ons diepste identiteit en die roeping van wie ons moet wees. Ons verloor ons lewe om ons ware lewe te vind.
Brood: In hierdie brood vind ons Jesus en Jesus in ons…
Wyn

Doop: Die stem wat sê jy is geliefd, ek sal jou vorm en ek stuur jou, sal altyd in jou leef – jy moet net jou hart oopmaak en luister!!

Matrieks:

Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue -
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie
En as daar ‘n oorlog kom
Word die mense wat ek lief het
‘n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepantser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self:
Ek met my menskombersie

Jy gaan eksamen in – en ’n nuwe lewe. “Verlaat die huis…”

“Wie” vat jy saam en wat beteken hulle vir jou?
Familie en vriende en geloofsfamilie…
God self…
Die kombersie wil jou help onthou – sit daarmee as jy alleen of hartseer voel. 

css.php