Tyd vir grootword!
Verwelkoming:
Koninkrykstyd: een van die belangrikste konsepte in die Nuwe Testament. Daar waar God se heerskappy ’n werklikheid word. Dit is groter as die kerk en gebeur oral – maar ons en ons roeping daarin is baie belangrik.
Votum/seëngroet:
Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!
7Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.
Skriflesing:
Gal 3:19-29
Preek:
Gedurende Pinkster het ons uit Hand 10 en 15 gelees oor die agtergrond van hierdie teksgedeelte. Die kerk is op ’n pad gelei om God en sy genade teenoor alle mense op ’n nuwe manier te ontdek. Daar was baie dinge in die wet (Woord!) wat vir hulle baie duidelik en vas was. Maar die Heilige Gees het hulle op nuwe avonture en ontdekkings gelei wat net moontlik was as hulle bereid was om luister en te sien en oor te gee.
Met ’n redelik radikale droom (’n doek met onrein diere volgens die wet van Moses) moes die Here vir Petrus wys dat hy “geen mense as besoedel of onrein” mag beskou nie. Toe Cornelius (die Romeinse soldaat) hom laat kom soos die Here hom gewys het, moes Hy vir die eerste keer sy voete in ’n heiden se huis sit en saam met heidene eet – nadat hy sy hele lewe geleer het dat dit hom onrein maak. En toe hy die evangelie van Jesus aan hulle verkondig het, was hy en die ander Jode by hom verbaas dat mense wat nie besny is nie, ook die Heilige Gees ontvang.
Hierdie en ook Paulus se getuienis oor die Here se werk deur hom onder die heidennasies, het die kerk oortuig om heeltemal anders te dink oor “regverdiging” (hoe mens versoen word met God) en die rol van die wet, in die verlede en ook nou. En dit kon net gebeur deur die werk van die Heilige Gees en deur ’n proses van geestelike onderskeiding.
Die gemeente moes saam luister, deur die konflik werk, getuienisse van God se werk ontvang – en oop wees vir oortuiging. Die lewende Woord (deur die Heilige Gees) het hulle nuwe dinge en ander perspektiewe in die Bybel laat raaksien. En uiteindelik het hulle besef, dat nie onderhouding aan die wet nie, maar net geloof in Jesus Christus jou ’n kind van God maak – en hulle het die boodskap so aan die gemeentes deurgegee.
Maar dit was nie die einde van die stryd nie – ’n stryd wat tot vandag toe nog aangaan: wat het ek nodig om in die regte verhouding met God te wees; en nog steeds wil mense ekstra’s bysit – want geloof in Jesus (veral as jy net ’n idee daarvan maak) lyk vir mense nog steeds te min, te vaag.
So in Galasië se gemeente het daar Joodse gelowiges aangekom wat weer die heidense gelowiges wou oortuig dat hulle wel die Joodse gebruike soos die kosgebruike en besnydenis moes nakom. En kyk net hoe kragtig kan die skuldgevoelens wees wat sulke genade-diewe by mense kan veroorsaak wees. Selfs Petrus en Barnabas swig onder die druk – en ewe skielik wil hulle nie meer saam met die heidense gelowiges eet nie.
Maar vir Paulus is hierdie ’n verloëning van die evangelie self. (Gal 1) Dit is ’n ander evangelie wat in stryd is met die ware evangelie – dat ons net deur geloof; deur Jesus Christus se verdienste namens ons, gered word. Hy is ons geregtigheid, die vervulling van die hele wet.
Ons lei ook af, en dit steeds ’n argument wat deur genade-diewe vandag gebruik word – dat hierdie mense gesê het Paulus soek maar net die guns van mense. Maar, iets wat ek nou nie myself sal veroorloof nie, Paulus vervloek sommer hierdie mense. En vir Petrus vat hy sommer voor die gemeente aan oor sy skynheiligheid – want die evangelie self is op die spel.
In die eerste deel van hoofstuk 3 verduidelik Paulus hoe dit werk. Hy herinner die Gal dat hulle die Gees ontvang het deur in Jesus te glo en nie deur die wet te onderhou nie. “Julle het die Gees begin, wil julle nou met die vlees (eie krag/ sondige natuur) eindig?”
Die wet was net ’n tydelike matreël (en ons sal nou by die funksie daarvan kom). Hy wys daarop dat Abraham reeds deur God regverdig verklaar is op grond van sy geloof, en dat die wet eers 430 jaar later gekom het. Die wet was soos ’n tydelik oppasser wat ons op die pad moes hou voordat die era van volwasse geloof in Jesus aangebreek het.
Paulus verwys hier met “oppasser” na die slawe wat in die destydse Griekse kultuur gebruik is om die kinders op te pas, veilig te hou, te dissiplineer en te leer (paidagogos). Die wet moes ons riglyne vir die lewe leer én ons eintlik wys op ons sondigheid – ons moes leer en raaksien dat ons eintlik nie uit eie krag (sondige natuur/vlees) in staat is om die Here se wil te doen of onsself regverdig (versoen, in regte verhouding met God ) te maak nie.
Dit het Hy nou deur Jesus kom doen. En ons kry deur geloof/vertroue in en op Hom daarin deel. Dit is nou tyd vir grootword – ons staan nie meer onder toesig van die oppasser nie.
Hoe werk ons ontwikkeling as mense? Hoe leer en ontwikkel ons om volwasse te word – emosioneel, moreel, geestelik? Ons het eers konkrete reëls en riglyne nodig – in die huis, by die skool – uiterlike goed. Maar as ’n mens volwasse word, dan internaliseer jy die waardes, die groter doel en visie van die reëls – en jy kan ook fyner onderskei; wat is in die situasie op die spel, en wanneer is die beter om selfs die reëls juis nie te gehoorsaam nie.
Maar as ’n samelewing en mensdom bereik ons nooit almal daardie vlak van volwassenheid nie – en daarom moet daar ook wette wees; dinge wat ons beste konsensus is oor hoe ons mekaar moet hanteer en veilig hou; maar dit bly maar altyd tweede beste, stomp instrumente om ’n goeie samelewing te verseker.
’n Ander beeld wat Paulus gebruik is om ook te sê dat die wet ons slawe maak – maar ook ons tyd vir slaafwees is verby – die tyd van vrye kind wees, het aangebreek:
Gal 4
“4maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur,
gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
5sodat Hy dié onder die wet kon loskoop,
sodat ons as sy kinders aangeneem kon word.
6 En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun
uitgestuur tot in ons harte, die Gees wat roep: “Abba, Vader!”
7Jy is dus nie meer slaaf nie, maar seun;
en as jy seun is, is jy ook erfgenaam deur God.”
God het vir ons soveel meer in gedagte as ’n onvolwasse lewe onder die wakende oog van ’n oppasser, of ’n slawelewe sonder vryheid of ons erfporsie as kinders van God.
Maar dit vra ook meer. Dit vra lewende navolging van Jesus Christus deur geloof, vertroue en oorgawe. Om Jesus Christus jou identiteit te maak.
Om Jesus aan te trek, kan so uiterlik voel, maar dit gaan oor jou geloof (doop) wat nou jou identiteit definiëer. En weereens, dit vra dat jy grootword. As jy regtig hierdie evangelie van Jesus glo en aanneem in die volle wonder en reikwydte daarvan, dan kan jy nie meer die wêreld sien met al die skeidings en onderskeidings nie – dit was die kinderagtige oppasserdae. Ons bly wonderlik divers as mense, maar daar is een identiteit wat nou al die ander identiteite troef – ons identeit in Christus as kinders van God.
In die bekende Gal 3:28 sien ons die visie van die einddoel wat God vir ons in gedagte het en wat sy kerk nou al ’n voorsmaak en teken moet wees:
28Daar is nou nie meer Jood of Griek,
nie meer slaaf of vryman,
nie meer manlik en vroulik nie;
want julle almal is één
in Christus Jesus!
Dit is tyd vir grootword. Ons spandeer so baie tyd oor die letter van die wet – wie is reg en wie is verkeerd. Oor menslike onderskeide wat nie saakmaak nie: Hoe moet ’n man wees, hoe moet ’n vrou wees – wie is in wie is uit, wie het reg op wat.
Om ‘n volwasse navolger van Jesus, kind van God te wees, beteken ons dra die boodskap van die evangelie. Ons onderskei die dinge wat regtig belangrik is. Ons leer mense van die vryheid wat kom met geloof en oorgawe aan die Gees – die enigste een wat die menslike hart kan verander, en wie die vrug bring, van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22). Amen.