Wie is regtig gelukkig?
Votum/seëngroet:
Ons lewe gaan nie altyd soos wat ons wil hê of wat ons verwag nie – ek ongelukkig gaan dit soms in 2025 ook vir baie van ons so wees – oomblikke waar die lewe jou ’n dwarsklap gee…
Habakuk 3
Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
18nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
19Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok
Skriflesing: Mat 5:1-12
Preek:
Die Bybel sê dat Jesus vir ons presies wys hoe God is; met dit wat Hy sê en doen. Vroeg in Jesus se bediening het Hy teen ’n berg opgegaan – en daar het hy met sy dissipels die belangrikste dinge gedeel oor wie God is en wat die lewe is wat Hy vir ons wil hê. Sy droom vir die goeie, mooi en gelukkige lewe.
Die berg het ’n belangrike betekenis.
Moses was die Jode se belangrikste profeet. Hy het naby aan God geleef en vir God ontmoet op die berg. Daar het hy ook die 10 gebooie ontvang. God se wil vir mense.
Maar nou kom wys Jesus vir ons God se wil soos nog nooit tevore nie. Die woordjie geseënd kan ook beteken die wat regtig gelukkig, of geëerd is. En wie is hierdie mense? Wat is die prentjie wat ons kry?
Armes van gees – mense wat swaarkry omdat hulle anders is – die lewe is nie vir hulle so maklik soos vir baie ander mense.
Die wat huil – hartseer is.
Sagmoedig of saggeaard – hulle gee om en wil nie baas wees oor ander mense nie.
Honger en dors na geregtigheid – wil so graag hê dat almal ’n regverdige kans moet hê
Barmhartig – omgee vir ander en hulle help
Rein van hart – hulle harte is suiwer – hulle is egte mense wat net die goeie wil hê
Vredemakers – sê wat dit is – oral waar mense baklei, maak hulle vrede…
Maar is dit hoe ons wêreld werk? Is dit regtig dié mense wat gelukkig of geëerd is? Is dit nie eintlik die mooi en die sterk mense, die ryk mense, die gewilde mense, die mense wat vir hulleself kan sorg, wat baie talente het nie? Die mense wat min probleme het, wat nie siek is nie. Is dit dan nie die eintlik die gelukkige en geëerde mense nie? Is dit nie die mense wat ons bewonder en wat ons droom om soos te wees nie?
Daarom bring die woorde van Jesus ons voor ’n belangrike keuse. Gaan ons die boodskap van ons wêreld glo oor die wat regtig gelukkig is, of gaan ons vir Jesus glo? Gaan ons glo dat Hy wat ons en ons lewe gemaak en beplan het beter weet? Gaan ons Hom vertrou en ons aan Hom oorgee?
Weet julle wat is een van ons grootste uitdagings? Ons is mense met gevoelens en begeertes. Ons wil dalk vir Jesus glo en graag leef soos Hy vra, maar daar is die heeltyd goed wat speel met ons gevoelens en ons begeertes. Ek weet regte geluk gaan nie oor die nuwe iPhone nie, maar dit lyk so mooi, as ek daaroor streel in die iStore. Regte geluk gaan nie oor ’n kar nie, maar dit lyk vreeslik cool as daai vriende van my uit hulle BMW of Porsche uit klim – en ek voel nogal belangrik in my nuwe Puma sneakers. En dit voel so goed om eerste te staan of first team te speel.
Daar is ’n oorlog vir ons hart. En ons kan besluit wie ons wil hê gaan ons grootste liefde wen – op wie gaan ons ons hart verloor. Ons kan ons harte en ons gedagtes oefen net soos wat ons ons lywe kan oefen vir sport. En dit is verskriklik belangrik dat ons dit doen, wat ons harte kan net rustig en gelukkig wees as ons ons harte verloor op die Goeie en die Mooi God.
Hy is alles wat ons nodig het; Hy is soos Jesus was en vir ons gewys het. In die reeks wat ons volgende Sondag gaan begin, gaan ons leer van God wat goed en betroubaar is, vrygewig en vol liefde, heilig en selfopofferend. En ons gaan ook van sieloefening leer wat ons kan help.
Want ons challenge is om nie van God te vergeet nie. Om ons gedagtes en ons hart naby aan Hom te hou. En daarom moet ons oefen om Hom naby ons te voel en Hom oral in ons gewone, alledaagse, regte lewe raak te sien.
Een van die beste maniere om nuut te voel en nuut te dink is om nuwe gewoontes aan te leer – en die beste manier om dit te doen is om dit te koppel aan die die gewone patrone of ritmes van elke dag – wat is sulke goed; ons gaan slaap en ons staan op, ons eet en ons borsel ons tande (elke dag, hoop ek!).
Tom Smith, in sy boek “Vind God in die gewone”, skryf oor die eenvoudige manier om ’n nuwe gewoonte aan te leer:
Ek wil…(beskryf die nuwe gewoonte wat jy wil inoefen)
Nadat ek… (die gedrag wat jy reeds gevestig het)
Jy kan dit vir enige iets gebruik:
Ek wil 5 push-ups doen, nadat ek opgestaan en badkamer toe gegaan het.
Of Tom het die gewoonte vir homself aangeleer:
Ek wil Ps 118:24 opsê, nadat ek wakker geword het en my voete van die bed tot op die vloer geswaai het:
“Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees.”
Ek en die kinders luister na Lectio 365 se Lectio for Families as ons in die oggend skool toe ry. Jy kan aangebed van die gemeente sit en luister terwyl jy kyk hoe die son sak. Julle kan as ’n gesin so ’n besluit neem: ons wil aangebed luister net nadat ons klaar geëet het.
Ek wil pray as you go luister elke keer as ek gaan draf.
Ek wil die Here dankie sê vir iets elke keer as ek koffie drink.
Die opsies is eindeloos…
Tom Smith sê ons moet Speuders van die Skepper word in elke oomblik van ons lewe.
Jy sal ’n besluit moet neem oor 2025. Wat jy besluit, gaan jou gedagtes, jou gevoelens, jou begeertes en jou liefdes bepaal. Waar gaan jy begin, wat gaan jy doen?
Dit is moontlik om soos Jesus te leef, uit sy woord en in kontak met Hom en deur Hom met ons Goeie en Mooi God, vol liefde, genade en getrouheid. Ons kan die mense word wat regtig gelukkig is, omdat ons deel in Jesus se hart en in Jesus se droom. Amen.
