Verrassende genade!

Votum/seëngroet:

Die eerste Christene het hulself veral gesien as die mense wat saam met Jesus geëet het nadat Hy opgestaan het. Selfs na sy hemelvaart, was dit nog steeds vir hulle so. By hulle samekomste by iemand se huis, sou hulle altyd eet – en Jesus was nog steeds daar. 

Lank voor enige beskrywings van die regte geloof of wat jy eintlik moet glo, of enige voorskrifte, was dit die anker – die saamwees met Jesus en met mekaar; gemeenskap, liefde, verhoudings terwyl ons leer om Hom en sy koninkryk te verteenwoordig. 

Daarom is die nagmaal so belangrik: dit herinner ons hieraan…

Die geheim van Christenskap is om die konneksie te sien van God met elke liewe ding van jou alledaagse lewe. Ons kan nie vir God vind in abstrakte idees nie, maar in die konkrete detail van ons lewe. Hy is die onsienbare Een wat deur alles sigbaar en voelbaar na ons toe kom

Listen to your life. See it for the fathomless mystery it is. In the boredom and pain of it, no less than in the excitement and gladness: touch, taste, smell your way to the holy and hidden heart of it, because in the last analysis all moments are key moments, and life itself is grace.

Gebed:

Skriflesing:

Luk 15:11-32

Preek:

Daar is geen ander gedeelte in die Bybel waaraan ek kan dink wat die hart van God en die dinamika van ons verhouding met Hom so mooi uitbeeld soos hierdie storie nie. Op elke deel van ons reis in ons lewe en in ons geloof gee hierdie storie vir ons perspektief. Dit wys ons die pad na ons ware geestelike huis. 

Ons het die voorverlede naweek, toe ons as groep na die AMSS toe is, ook hierdie gedeelte gelees. Ek het die jongmense gevra hoe hulle pa sou gereageer het as jy kom vra het vir die helfte van sy goed – en hulle was dit eens met my dat hulle pa nie sou gereageer het soos die Pa in die gelykenis nie. Daar is nie ’n kans nie! En mens sou ’n goeie argument kon uitmaak dat die pa nie ’n baie wyse besluit geneem het nie. As Henri Nouwen in sy klassieke (moetlees!) boek (Return of the Prodigal son) oor hierdie verhaal (en Rembrandt se skildery hieroor) skryf, dan sê hy dat hy reg oor die wêreld in mense wat nog nader aan hulle antieke kulture in stamverband (Sudan, Turkye, Marokko, Indië) leef wat sou gebeur as iemand so ’n versoek in jou village sou maak – en die antwoord is altyd dat dit ondenkbaar is – en dat jou pa jou sou slaan; en die rede is – jou versoek dui daarop dat jy jou Pa doodwens. 

Toe ons dink oor ons eie pa’s se reaksies as ons toe boonop die helfte van sy goed op partytjies en prostitute uitgemors het, was daar ook sprake dat ons terugkeer dalk ook tot fisiese geweld sou aanleiding gee. En weer sou ons dalk kon redeneer dat ’n fermer reaksie van ’n pa dalk ’n goeie ding kon wees. Ja, mens is lief vir jou kind, vergifnis is goed, maar hy sal definitief moet verstaan wat die grense is soos wat die pad vorentoe uitgesit word. Tough love, eers onder begin en vertroue terugwen. 

Die radikale verrassing van die pa se gedrag is natuurlik die hele punt van die storie. En die storie gaan ook meer oor ons geestelike reis as oor ouerskap en hoe om jou kind goed voor te berei vir die regte lewe. So wat beteken dit vir ons geestelike reis?

Jongmense is gewoonlik vol opgewondenheid, drome, begeertes – en dit moet so wees. Jy wil bietjie die grense toets. Jy eet nie alles wat volwassenes vir jou sê vir soetkoek op nie. En jy het geleer van God. Jy kan vertel van sy liefde, van Jesus se kruis, van jou doel en roeping. Maar (en dit geld vir ons almal) – ons hart is nie altyd regtig by die huis nie (by God, ons geestelike huis nie). Ons dink heimlik (onbwustelik) dat ander dinge, ander plekke, ander goed en ervarings eintlik is wat ons hart wil hê – eintlik vervulling, of geluk, waarde of betekenis aan ons lewens sal gee. 

Ons is nie altyd so ekstreem soos die seun in die verhaal nie, maar ons stap ook dikwels op ons lewensreis ons eie pad. As ons weer onsself kom kry is ons ver van die huis, verdwaal, soekend na die pad terug – en ja, in pyn; en snaaks hoe groot die pyn baie keer moet raak voordat ons tot ons sinne kom. 

Een van die temas aan die hart van hierdie storie gaan oor ons waarde, ons status as kinders van God. Ons skuld en ons skaame oorval ons. Ons kan nie glo watter gemors ons gemaak het nie. Watter leuens ons geglo het nie. Die mooiweersvriende is weg. Jy is alleen. Jy dink jy sal moet onderhandel met die Here om jou terug te neem. Jy verwag nie weer die status, die waarde van ’n kind nie. Jy verdien dit nie. Jy sal maar net ’n werker wees, ‘n slaaf – want jou Pa is die tipe persoon – jy weet ten minste dit van Hom: Hy gee om. 

Maar sy liefde is soveel groter as jy kan dink; as wat jou hart al ken. Mens kan nie oor God praat en dink, saam met Hom leef as jy nie praat en dink en leef oor en deur genade nie. God weet…

Die pa in die storie sien sy verlore seun al ver aankom. Sy oë was op die horison. Sy hart altyd buite hom op reis terwyl sy seun nie tuis is nie. Vir al wat hy weet dood. Hy kry hom innig jammer. Hy verloor al sy waardigheid as die patriarg van die familie en hardloop sy seun tegemoet. 

Hy antwoord nie op sy seun se onderhandelinge dat hy nie meer werd is om ’n seun genoem te word nie, maar wys met oorvloedige dade dat hy gesteld is daarop om die kind se waarde te bevestig, om sy status as seun aan hom terug te gee. 

Hy gee opdrag vir nuwe klere en skoene, die beste, die familiering vir sy vinger en die vetgemaakte kalf, net vir die spesiaalste van feeste word geslag en die vieringe begin. Hy was dood, maar hy lewe weer, verlore maar hy is teruggekry. Ons is almal partykeer die verlore seun. 

Maar ons is ook almal partykeer die oudste seun. Want kan ons nie ook sy reaksie baie goed verstaan nie? En dink saam met my oor die geestelike implikasies. Hy bly tuis. Binne die reëls. Altyd voorbeeldig. Doen die regte ding. Doen wat sy pa sê. Maar vir die eerste keer borrel iets in hom oor as hy homself vergelyk met sy broer. Hy het nie vreugde in sy hart nie. Hy voel verontreg. Kwaad. Hy kry nie wat hom toekom nie. Ander word voorgetrek. Hy verwens die pa se genade, terwyl dit niks wegneem van hom nie. 

Kan dit wees dat die Here vir ons deur hierdie seun se reaksie ook iets sê wat maklik in ons geestelike reis gebeur. Ons word in Christelike huise groot. Ons is nie die opstandige tipe nie (dikwels regtig die oudste kinders!). Ons hou binne die grense en die reëls. Ons bly binne die geloof en beoefen ons godsdiens. Ons is by die huis maar nie regtig tuis nie. Ons het verkeerde afleidings gemaak oor ons Vader se hart. Ons dink die verhouding is soos ’n transakie – en doen my deel en hy doen sy deel. Maar dit is vreugdeloos en vol pligbesef (pliggie!). Ek staan diklip buite die fees; ek voel te verontreg; ek kan nie bly wees oor God se liefde vir ander, vir die weglopers nie. 

Maar Hy is ook my Pa – en sy vreugde, sy oorvloed was ook nog altyd myne – ek moet net ingaan en deel in fees. Dit gaan goed vir my wees om myself bietjie ligter op te neem, om meer te lag, bietjie vryer te wees, minder te oordeel, meer lief te hê. Dan sal genade vir my ook deurbreek, en ek sal tuiskom in my Vader se huis waar daar plek is vir almal. 

Want, en dit kan ons so maklik mis, dat seuns ook gewoonlik Vaders word. Kinders moet groei tot volwassenes wat reg is om die beste ouers te wees. Ons Vader is die een wat nie vashou nie, maar vryheid gee om jou eie pad te verken as dit nodig is. Oorheersing en dwang leer niemand van liefde en genade nie. 

Liefde roep, liefde wag, liefde kry innig jammer; liefde neem altyd terug, gee altyd tweede kanse, herstel en bevestig waarde. Ons tree namens die Vader in hierdie wêreld op. Ons grootste roeping om ons ander mense ook die pad huis toe te wys. Amen. 

css.php