MARK. 10:35-45 (20/10/24)
# In ons samelewing word daar mos gereeld ’n ophef van sekere mense gemaak.
- Dink maar aan sporthelde.
- Of filmsterre.
- Of sangers en musiekgroepe.
- Of bekende ryk mense, soos Bill Gates en Elon Musk byvoorbeeld.
- Hierdie mense is mense wat gewoonlik deur baie ander as belangrike mense beskou word.
- En ek glo hulle word ook deur baie bewonder en dalk ook beny.
# Maar nou is dit seker ook so dat daar uiteindelik nogal heelwat mense is wat graag belangrik wil wees.
- En miskien sal ons ook vanoggend moet erken dat ons self ook iets daarvan in onsself het.
- Dalk wil ek darem ook graag ’n effens hoër pos as iemand anders beklee, of so ’n bietjie meer geld verdien as my buurman, of so ’n bietjie meer gewild wees as my kollega.
- Ek wil hê mense moet op ’n manier tog beïndruk wees as hulle na my kyk.
- Ek wil nie maar net nog een van die meer as 8 biljoen mense op aarde wees nie.
- Nee, ek wil darem ook gereken word.
# En nou lyk dit vir my of dít ook die gesindheid was waarmee die twee dissipels van Jesus, Johannes en Jakobus, na Jesus toe gekom het.
- Hulle wou ook belangrik wees.
- Hulle was nie tevrede daarmee om maar net doodgewoon twee van Jesus se twaalf dissipels te wees nie.
- Nee, hulle wou die belangrikste van Jesus se dissipels wees.
- Ons het mos in Mark. 10 gelees hoe hierdie twee manne vir Jesus gevra het dat hulle aan sy regter- en linkerhand mag sit wanneer Hy as koning gaan heers.
- En dit is terloops baie interessant dat dit volgens Matt. 20 (wat van hierdie selfde voorval vertel), nie Johannes en Jakobus is wat hierdie vraag aan Jesus stel nie, maar hulle moeder!
- Sy wil graag haar twee seuns aan Jesus se regter- en linkerhand sien sit.
- Maar hoe dit ook al sy, Johannes en Jakobus wou belangrik wees.
- Hulle wou graag uitstyg bo die ander 10 dissipels van Jesus.
- En daarom doen hulle as ‘t ware aansoek vir die twee sleutelposte in Jesus se koninkryk, die poste aan sy linker- en regterhand.
# Maar ongelukkig het Johannes en Jakobus, en dan seker ook hulle moeder, onder ’n groot misverstand verkeer.
- Hulle het nie besef dat daar in God se koninkryk dikwels ander reëls geld as in ons sondige wêreld nie.
- Ten spyte van alles wat Jesus tot in daardie stadium al vir hulle geleer het van nederigheid en om ander te dien, het hierdie twee manne nog nie Jesus se boodskap gesnap nie.
- Hulle het nog steeds gedink dat ’n mens ook in God se koninkryk daarna moet streef om belangrik te wees.
- Jy moet ook in God se koninkryk skiet vir die hoogste poste.
- En jy moet selfs kyk of jy nie kan uitstyg bo die ander gelowiges rondom jou nie.
- Dít was blykbaar die misverstand wat daar by Johannes en Jakobus bestaan het.
# En wat was Jesus se reaksie op die vraag van die twee broers, om aan sy regter- en linkerhand te mag sit?
- Jesus het sommer reguit vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie.”
- En buitendien, sê Jesus ook vir hulle, is dit net God die Vader wat oor so-iets sal besluit.
- So, die antwoord wat Jesus die twee broers gegee het, was duidelik ’n baie negatiewe antwoord.
- Dit was ’n antwoord wat wou sê: Julle verkeer hier onder ’n baie groot misverstand.
- Julle dink nog glad nie reg oor die koninkryk van God nie, want in hierdie koninkryk gaan dit oor ander dinge as belangrikheid en mag en aansien en hoë poste.
- Julle weet nie wat julle vra nie, Johannes en Jakobus.
# Maar nou is daar iets in hierdie gedeelte wat ons gelees het, wat ons nie moet miskyk nie.
- En dit is dat dit blykbaar nie net twee van Jesus se twaalf dissipels was wat graag belangrik wou wees nie.
- Dit lyk of die ander tien maar net so graag aan Jesus se regter- en linkerhand sou wou sit.
- Vers 41 sê: “Toe die tien ander dit hoor (m.a.w. toe hulle hoor wat Johannes en Jakobus vir Jesus gevra het), was hulle verontwaardig oor Johannes en Jakobus.”
- So dit lyk asof al twaalf die dissipels eintlik maar belangrik wou wees.
- Nie een wou terugstaan vir die ander nie.
- Nie een wou agterbly as die ander dalk bevorder sou word tot ’n plek aan Jesus se regter- of linkerhand nie.
# En vir Jesus was dit seker ’n baie hartseer oomblik hierdie!
- Na alles wat sy dissipels reeds by Hom kon leer oor nederigheid en om ander te dien, lyk dit of elkeen van die twaalf nog steeds net homself wou handhaaf.
- Lyk dit of elkeen van hulle nog steeds hulle eie belange bo die belange van ander wou stel.
- En wat doen Jesus nou?
- Ons het gelees dat Hy die ander tien dissipels nader geroep het sodat Hy met al twaalf gelyk kon praat.
- En wat sê Hy vir hulle?
- In die laaste vier verse wat ons gelees het, is Jesus se woorde vir ons opgeteken.
- En as ’n mens dit in een of twee sinne kan probeer opsom, sê Jesus vir sy dissipels: Moenie daarna streef om belangrik te wees nie, maar dien mekaar in nederigheid.
- Moenie belangrikheid najaag nie, maar nederigheid en diensbaarheid.
- Julle is nie hier op aarde om op mekaar te trap nie, maar om mekaar te help en te ondersteun.
- En dít is een van die grondreëls van die koninkryk van God: dat ek nie sal streef na belangrikheid nie, maar na nederige diens aan ander.
- Ek het iewers ’n baie treffende aanhaling raakgeloop wat aan die bekende Rooms-Katolieke non, moeder Theresa, toegeskryf word.
- Sy het gesê: “Daar is ’n hoër ideaal as om ’n hoë posisie in die wêreld te beklee. Dit is om neer te buig en dié wat teen die grond lê ’n bietjie hoër op te lig.”
- En ons weet dat dít presies is wat moeder Theresa self gedoen het, toe sy daar in Indië onder die armste van arm mense gewerk het.
# Nou, vir ons almal is dit seker maar moeiliker om eerder na nederige diens as na belangrikheid te streef.
- Ons is in ons samelewing net so gewoond daaraan dat baie mense graag belangrik wil wees.
- Dit is nou maar een maal hoe dit gedoen word in die wêreld waarin ons leef: baie mense streef na belangrikheid en na die mag wat dalk daarmee saamgaan.
- Jesus het ook hierna verwys in vers 42 wat ons saam gelees het.
- Hy sê daar: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik.”
- En wat Jesus hier gesê het, sien ons mos self ook in ons eie tyd gebeur.
- Mense wat oor belangrikheid of mag beskik, is in die versoeking om hulle posisie of invloed te misbruik.
- En die geskiedenis wemel van voorbeelde van die misbruik van mag, waar mense met mag hulle mag misbruik ten koste van magtelose en weerlose mense.
- Ook in ons eie land se geskiedenis is daar ongelukkig baie sulke voorbeelde – voor 1994 én ná 1994, tydens apartheid, maar ook ná apartheid.
- Maar in vers 43 wat ons gelees het, sê Jesus vir sy dissipels: “Maar by julle moet dit nie so wees nie.”
- Julle moenie oor ander baasspeel nie.
- En dan gaan Jesus verder en Hy sê: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees.”
- Wat vir ons as gelowiges belangrik is, is om mekaar en ander in nederigheid te dien.
- Wat vir óns belangrik is, is om nie meer net vir onsself te leef nie, maar vir die Here en vir ons medemens.
- In God se koninkryk leef jy om Hom te dien en om ander te dien, veral ander wat in nood verkeer.
- En in die oë van die Here is dít juis ware grootheid, want Jesus sê mos: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees.”
- Die eintlike belangrike mens, sê Jesus, is daardie persoon wat besig is om ander te dien.
# So, ons moenie belangrikheid najaag nie, maar nederigheid en diensbaarheid.
- Dít was die duidelike boodskap wat Jesus in Mark. 10 vir sy dissipels gehad het.
- En nou is dit ook belangrik om in die Bybel raak te sien dat Jesus hierdie boodskap nie net met sy mond verkondig het nie.
- Dit was by Hom nie net lippetaal nie.
- Nee, Hy het dit ook uitgeleef!
- Dink maar net aan hoe Jesus op ’n keer sy dissipels se voete gewas het – iets wat in daardie tyd eintlik die werk van ’n nederige slaaf was.
- En toe Jesus aan die kruis gehang en gesterf het, was dít ook om ons te dien.
- Jesus sê self in die laaste vers wat ons vanoggend gelees het dat Hy nie gekom het “om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
- Sy bereidheid om te dien, was ’n bereidheid tot die dood toe – tot die dood aan die kruis.
- En so het Hy dit vir elkeen van ons kom moontlik maak om van ons sonde verlos te word: deurdat Hy ons tot die dood toe kom dien het.
# Maar kom ons kom nou nader aan onsself.
- En kom ons vra: Wil ons nie dalk ook, soos Johannes en Jakobus, belangrike mense wees nie, mense met mag en invloed en aansien?
- Wil ons nie ook hê ander mense moet beïndruk wees met ons nie?
- Of is ons bereid om maar net mense te wees wat dien, mense wat ander dien volgens die voorbeeld wat Jesus self vir ons gestel het?
- Jesus roep ons tot diens aan mekaar en aan ander.
- Daarom lyk dit vir my mag my gesindheid nooit wees: Ek is die belangrike een hier en al die ander mense moet rondhardloop om my tevrede te stel nie.
- Nee, ek word juis geroep om vir ander iets te beteken.
- Ek word juis geroep om ander se belange hoër te ag as my eie belange.
- En daarom is die eerste vraag wat ons moet vra ook nie: Watter diens kan ek in hierdie gemeente of gemeenskap ontvang nie?, maar eerder: Watter diens kan ek hier lewer?
- Nie: Wat kan ek hier kry nie?, maar: Wat kan ek hier gee?
- Wat kan ek hier vir iemand anders beteken, veral vir ander wat in nood verkeer?
# Die Here roep ons om mekaar en ander te dien, om mense te wees wat dien.
- En dis verbasend om te sien hoeveel geleenthede daar dan ook vir ons is om ander te dien!
- Daar is geleenthede in die kerk en gemeente, maar ook in die werkplek en breër gemeenskap waarin ons woon.
- Daar is ook geleenthede on te dien in ons huwelike en ons gesinne en families.
- En dink maar aan behoeftiges en siekes, en aan eensames en bedroefdes.
- Ons het soveel geleenthede om mekaar en ander te dien.
- Maar dan moet ons gesindheid reg wees.
- Dan mag die wêreld nie maar net rondom myself draai nie.
- Dan mag ek nie soos Johannes en Jakobus na belangrikheid strewe nie.
- Nee, dan moet ek agter Jesus aangaan en sy voorbeeld van nederigheid volg.
- Dan moet my groot rolmodel Jesus wees, Hy wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien.
- En mag sy Gees ons dan almal help om werklik nederige en diensbare volgelinge van Jesus te kan wees!
- Mag sy Gees ons lewens al meer na dié van Jesus laat lyk!
AMEN
