1 KON. 19:1-18 (11/8/24)
# In elke gelowige se lewe is daar hoogtepunte en laagtepunte, oorwinnings in die geloof, maar ook nederlae en teleurstellings in die geloof.
- So sien ons dit ook in die lewe van die bekende profeet Elia.
- Ons sien beide hoogtepunte en laagtepunte in sy lewe.
- Die gedeelte wat ons nou uit 1 Kon. 19 gelees het, het bv. vir ons vertel hoe moedeloos Elia op ‘n dag was.
- En dit gaan dan ook oor ‘n laagtepunt in sy lewe, ’n absolute laagtepunt.
- Maar net in die vorige hoofstuk, 1 Kon. 18, lees ons weer van ‘n groot hoogtepunt in Elia se geloofslewe.
- Man alleen het hy teen die 450 profete van die afgod Baäl en die 400 profete van die afgod Asjera gestaan.
- En die Here het vir Elia gehelp om met al hierdie valse profete af te reken.
- Ons lees ook in 1 Kon. 18 hoe Elia gebid het en geglo het dat die Here reën op die aarde sal laat val.
- En ook toe is Elia nie teleurgestel nie.
- Die Here het reën gegee.
- En ook dit moes vir Elia ‘n groot hoogtepunt gewees het, ‘n hoogtepunt op sy pad saam met die Here.
# Maar in teenstelling met hierdie hoogtepunte van 1 Kon. 18 vertel 1 Kon. 19 dan nou vir ons van ‘n “ander” Elia, ‘n moedelose Elia, ‘n man wat onder ‘n besembos gaan lê het van moedeloosheid.
- Die Bybel sê vir ons Elia was so moedeloos dat hy gewens het hy gaan dood.
- En ons hoor in Elia se woorde sy absolute moedeloosheid, as hy sê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”
- Elia sien net nie meer kans om voort te gaan met sy lewe nie.
- Hy wil net daar onder die besembos bly lê totdat die Here ‘n einde aan sy lewe maak.
# Maar kom ons vra sommer dadelik: Het u en ek nie dalk ook al so gevoel nie – of amper so gevoel nie?
- Het ons nie ook al in ’n mindere of meerdere mate gevoel dat ons net nie meer kans sien om voort te gaan met ons lewe nie?
- As dit wel so is, dan is ons vandag in goeie geselskap, in die geselskap van die profeet Elia, maar ook in die geselskap van baie ander gelowiges deur die eeue.
- Daar word bv. vertel dat die bekende Hervormer Martin Luther ook dikwels in sy lewe baie vertwyfeld en moedeloos en neerslagtig was.
- So ons hoef nie te dink dat dit net ons is wat soms vertwyfeld of moedeloos of neerslagtig is nie.
- Die stryd teen hierdie dinge is iets wat blykbaar in baie gelowiges se lewe voorkom.
# Maar kom ons kyk dan net eers gou hoekom Elia so moedeloos geraak het.
- Wat het hom so moedeloos laat voel?
- Die eerste rede was sekerlik dat Isebel, die vrou van koning Agab, gedreig het om vir Elia te laat doodmaak.
- Isebel het vir Elia ‘n boodskap gestuur wat enige mens se hare sou laat rys.
- Sy het vir Elia laat weet: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”
- Sy wou Elia terugkry, omdat hy die profete van Baäl laat doodmaak het.
- En natuurlik het Isebel die mag gehad om Elia uit die weg te ruim.
- Sy kon haar man se soldate daarvoor gebruik.
- En met hierdie swaard oor sy kop is dit seker nie snaaks dat Elia moedeloos gevoel het nie.
- Sy lewe was immers in baie groot gevaar.
# Maar ek dink daar was nog ‘n rede waarom Elia moedeloos gevoel het.
- En hierdie tweede rede is dat Elia gedink het die Here het hom in die steek gelaat.
- En ons sien dat Elia baie reguit en eerlik met die Here hieroor gepraat het.
- In vers 10 bid Elia en hy sê: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”
- Dis asof Elia vir die Here sê: Wat help dit dat ek so hard vir U gewerk het?
- Al die dinge wat ek in u Naam gedoen het, beteken blykbaar niks.
- Elia is moedeloos, want dit voel vir hom asof die Here hom in die steek gelaat het.
- Dit lyk vir hom ook asof die Here gaan toelaat dat al sy eie profete en ook al sy kinders in Israel doodgemaak gaan word.
- En Elia kan net nie meer die sin van dit alles insien nie.
- Daarom lyk dit nou vir hom na die enigste uitweg om onder die besembos te bly lê en te bid dat die einde tog maar gou moet kom.
# Maar weer eens: Dalk het u en ek ook al in ’n mindere of meerdere mate soos Elia gevoel.
- Gevoel om maar net te bly lê van moedeloosheid.
- Onder ons eie besembos.
- En daar is baie redes waarom ons dalk so kon gevoel het, of nou op hierdie oomblik so voel.
- Een belangrike voorbeeld, dink ek, is probleme by jou werk, en kollegas of base by die werk wat jou baie moedeloos kan laat voel.
- Maar dan is daar ook finansiële probleme of onsekerheid.
- Of die misdaad en geweld in ons land en wêreld.
- Of ‘n siekte wat nie wil wyk nie.
- Of die moeilike taak van kinders groot maak in vandag se tyd.
- Of verhoudingsprobleme.
- En so kan ons aangaan en aangaan …
- Maar nou wil ek beslis nie vanoggend ‘n loflied oor moedeloosheid sing nie.
- Ek wil ook nie sê dat ons beter weet as die Here hoe hierdie wêreld bestuur moet word nie, want dit is natuurlik ook nie waar nie.
- Maar wat ek wel wil sê, is dat daar baie dinge in ons wêreld en ook in ons eie lewens is wat vir ons soos Elia kan laat voel.
- Moedeloos en selfs mismoedig of neerslagtig.
- Maar die Woord van God, glo ek, het vandag vir ons ‘n boodskap, ‘n boodskap van troos vir die moedeloses.
- En wat is hierdie boodskap?
- Ek dink as ’n mens net mooi gaan kyk hoe die Here met Elia in sy moedeloosheid gewerk het, dan kom jy ook agter wat die Bybel se boodskap vir ons vandag is.
- En hoe het die Here met Elia gewerk?
- Hoe het Hy hom in sy moedeloosheid hanteer?
- Die eerste ding wat die Here gedoen het, was om vir Elia te gaan opsoek.
- Daar waar Elia op sy moedeloosste was, dáár het die Here by hom kom staan.
- En dit beteken die Here laat hom nie maar net aan homself oor nie.
- Hy ontferm Hom oor sy moedelose profeet en kom staan by hom.
- En dis interessant dat daar blykbaar nie baie gepraat is daar by die besembos nie.
- Die engel het maar net vir Elia wakker gemaak en hom aangesê om te eet van die roosterkoek wat hy vir hom gebring het.
- Roosterkoek en water – dis die eerste hulpmiddels wat die Here gebruik om die moedelose Elia weer aan die gang te kry.
- So die Here kom staan by Elia en begin by Elia se maag – om sy liggaam te versterk.
- En so gee die Here vir Elia die krag om baie ver te kan loop, tot by Horeb, die berg van God.
# En daar by Horeb, dáár werk die Here dan verder met Elia.
- Eers laat beleef Hy vir Elia ‘n geweldige wind, toe ‘n aardbewing en toe ‘n vuur.
- Elia beleef al hierdie buitengewone dinge wat die Here in die natuur kan doen.
- En so word hy aan die grootheid en almag van die Here herinner.
- En ek glo dit het ook vir Elia versterk om hieraan herinner te word: aan die grootheid van die Here.
- Maar na hierdie indrukwekkende dinge, na die wind en die aardbewing en die vuur, is daar ‘n “fluistering in die windstilte,” sê die Bybel.
- En toe praat die Here met Elia.
- “Wat maak jy hier, Elia?” vra die Here vir hom.
- En dan gebeur ’n baie belangrike ding: Elia kry kans om sy hart uit te praat.
- Hy kry die geleentheid om te sê wat hom hinder en wat hom dan so vreeslik moedeloos maak.
- En die Here luister na Elia.
- En so help Hy vir Elia, want dit help mos om jou hart so by die Here uit te praat.
- Dit help ook om met mense te praat oor wat jou pla, maar dit help veral om met die Here daaroor te praat.
- Dit help vir die moedeloosheid, want die Here verstaan mos ons probleme.
- Hy verstaan dit beter as wat ons dit self verstaan!
# Maar dan, nadat die Here na Elia geluister het, doen die Here nog ’n belangrike ding.
- Hy gee vir Elia ‘n opdrag.
- Hy help m.a.w. vir Elia nog verder deur vir hom te sê: Maar Ek het werk vir jou.
- Jy kan nie maar net bly lê nie, Elia – Ek het werk vir jou.
- Ek wil jou gebruik!
- En die Here gee dan vir Elia opdrag om twee nuwe konings en ‘n nuwe profeet te gaan salf.
- En die Bybel sê vir ons dat Elia toe vertrek het om sy opdrag te gaan uitvoer.
# En so het die Here dan ingegryp in die lewe van ‘n moedelose Elia.
- Op verskillende maniere en met verskillende metodes het die Here ingegryp om hom te help.
- En deur die Here se ingryping lê Elia nie meer onder die besembos nie.
- Nee, hy kon weer opstaan, en hy is selfs nou besig om ‘n opdrag van die Here uit te voer.
- En die laaste woorde van die Here aan Elia het seker ook vir Elia baie beteken.
- Ons lees dit in vers 18, waar die Here vir Elia sê: “Maar Ek sal in Israel die 7000 laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”
- Ek sal 7000 gelowiges laat oorbly, sê die Here.
- Elia was mos bang dat die Here se werk heeltemal tot niet sou gaan.
- Toe al die profete rondom hom doodgemaak is en sy eie lewe ook bedreig is, het hy gedink: die Here se werk sal nou heeltemal tot niet gaan.
- Maar die Here sê: Nee, Ek sal 7000 gelowiges laat oorbly.
- En Elia het sekerlik besef: Ek hoef nie moedeloos te wees nie.
- Ek hoef nie onder ‘n besembos te bly lê nie, want die Here is tog in beheer van sake.
- Al het dit vir my gelyk of Hy my in die steek gelaat het en of Hy nie meer omgee vir sy kinders in Israel nie, Hy is tog in beheer van sake.
# En met hierdie boodskap uit die lewe van Elia, glo ek, wil die Here ons ook vanoggend vertroos en versterk.
- Al gebeur daar baie dinge in die wêreld en in ons eie lewe wat ons moedeloos maak, die Here is tog in beheer van sake.
- En selfs al verstaan ons dikwels nie hóé die Here in beheer van sake is nie, Hy is dit wel.
- Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het dit mos ook gelyk asof alles totaal verkeerd loop.
- Maar die Vader het vir Jesus laat opstaan uit die dood.
- En boonop het Hy juis die kruisdood van Jesus gebruik om ons van al ons sonde te verlos.
- So, al lyk dit nie altyd vir ons so nie: die Here is en bly ook in beheer van sake.
# Kom ons hou dan in ons eie moedeloosheid altyd hieraan vas: aan die feit dat die Here in beheer is.
- En kom ons bid dat die Here ook vir ons, soos vir Elia, sal help om ons moedeloosheid te oorwin.
- Om op te staan van waar ons dalk vanoggend onder ons eie besembos lê.
- En om voort te gaan met ons lewe en ons werk vir die Here.
- Hy het vir ons elkeen ’n opdrag in hierdie wêreld, die opdrag om sy liefde te gaan uitleef.
- Om op baie plekke en baie maniere sy liefde met ander te gaan deel.
- Kom ons staan dan op en gaan doen dit!
AMEN