MARK. 15:33-41 (24/3/24)

 

#  Ons nader nou vinnig die einde van nog ’n jaar se Lydenstyd.

  • En Lydenstyd is elke jaar vir ons ’n tyd om te luister na wat die Bybel ons leer oor Jesus se lyding ter wille van ons.
  • En Jesus het mos op baie maniere gely en verskillende mense mense was daarvoor verantwoordelik en het ’n aandeel aan sy lyding gehad.
  • Maar die diepste punt van sy lyding was natuurlik sy dood aan die kruis op Golgota.
  • Die gedeelte wat ons uit Mark. 15 gelees het, sê twee keer dat Jesus hard uitgeroep het daar aan die kruis.
  • Die ou Afrikaanse vertaling het gesê: Jesus het met ’n groot stem uitgeroep.
  • En dít wys sekerlik vir ons iets van die verskriklike pyn wat Jesus moes verduur: liggaamlike pyn, maar ook emosionele en geestelike pyn.
  • Hy het hard uitgeroep in sy verskriklike lyding aan die kruis – met ’n groot stem.

 

#  Maar die gedeelte wat ons gelees het, gee ook vir ons heelwat ander besonderhede oor wat gebeur het terwyl Jesus aan die kruis gehang het.

  • So sê vers 33 van hierdie gedeelte bv. dat daar duisternis oor die hele land gekom het.
  • In die middel van die dag was dit skielik drie uur lank donker, van twaalfuur die middag tot drie-uur.
  • En wat sou dit beteken?
  • Duisternis of donkerte is soms in die Bybel ’n teken van God se oordeel en straf.
  • In Eks. 10 lees ons bv. dat duisternis die negende plaag was wat oor die Egiptenare gekom het.
  • En in Matt. 24 sien ons dat daar by die Wederkoms van Jesus ook ’n tyd lank donkerte sal wees.
  • So donkerte gaan in die Bybel soms saam met God se oordeel en straf.
  • En op Golgota was daar ook donkerte: die laaste drie uur voor Jesus se dood.
  • En dit was donker omdat God ook daar besig was om iets te veroordeel en te straf.
  • En wat was dit?
  • Dit was die sonde van die wêreld – ook u en my sonde.
  • En die Een wat daarvoor gestraf is, was Jesus.
  • Hy was die Een oor wie die donkerte swaar gehang het.
  • Hoewel Hy heeltemal onskuldig was, is Hy die Een oor wie die donkerte gehang het, en op wie die oordeel en straf van die Vader neergekom het.

 

#  Maar om drie-uur die middag het die donkerte op Golgota opgehou.

  • In daardie stadium het Jesus hard uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
  • En hierdie woorde is ’n aanhaling uit Ps. 22.
  • En dis woorde wat wys watter verskriklike wanhoop en eensaamheid Jesus ervaar het.
  • Gewoonlik het Jesus in sy gesprekke, wat in die Bybel vir ons opgeskryf is, van God as sy Vader gepraat en Hom ook so aangespreek wanneer Hy gebid het.
  • Maar in hierdie oomblikke aan die kruis roep Hy: “My God, my God …”
  • Dit was asof sy Vader Hom verlaat het.
  • Dit was amper soos met ’n klein kindjie wat altyd sy pa se hand kan vashou wanneer hy in die donker gang na sy kamer toe moet stap.
  • Maar nou skielik is sy pa nie daar nie, en moet hy alleen in die gang afstap.
  • En aan die kruis het Jesus seker ook gevoel: Nou moet Ek alleen deur hierdie verskriklike donker gang van die dood stap.
  • Selfs my Vader het My nou verlaat.

 

#  Maar dít is hoe ontsettend swaar Jesus vir ons gely het.

  • Dít is hoe Hy ontsettend swaar Hy aan die straf vir ons sonde gedra het.
  • En dit was so erg dat dit selfs vir Hom gevoel het asof sy Vader Hom ook verlaat het.
  • Maar dit wat Jesus vir ons gedoen het, is juis die blye boodskap van die Bybel.
  • Dat Hy alleen en met die uiterste swaarkry en lyding, tot die dood toe, die straf vir ons sonde gedra het, dít is die blye boodskap van die Bybel.
  • Want deur sy lyding en dood het daar vir ons verlossing gekom!
  • En daarvoor kan ons Hom maar net loof en prys!

 

#  Nou, Mark. 15:37 vertel vir ons iets van die heel laaste oomblikke van Jesus se lewe.

  • Daar staan: “Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.”
  • En op daardie oomblik toe Jesus sterf, het verskillende dinge gebeur.
  • ’n Gordyn in die tempel, wat die voorhangsel genoem is, het middeldeur geskeur.
  • En volgens Matt. 27 het die aarde ook op daardie oomblik geskud, en het dooie mense uit hulle grafte gekom.
  • ’n Hele klomp wonderwerke vind plaas.
  • En so kon almal op daardie dag sien dat God self aan die werk was.
  • Die soldate wat vroeër so met Jesus gespot het, en Hom aangerand het, en aan die kruis vasgespyker het, het bang geword en hulle offisier het gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
  • En dis mos eintlik ’n geloofsbelydenis uit die mond van hierdie Romeinse offisier as hy sê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
  • Dit was nie maar net ’n gewone mens wat hier gesterf het nie.
  • Dit was die Seun van God, want kyk net watter wonderlike dinge het nou hier gebeur.

 

#  Maar wat sou dit beteken dat die voorhangsel in die tempel geskeur het toe Jesus sterf?

  • Die voorhangsel was ’n gordyn wat tussen twee dele van die Joodse tempel gehang het.
  • En dié twee dele is die Heiligste en die Allerheiligste genoem.
  • En niemand is toegelaat om by die Allerheiligste in te gaan nie.
  • Net die hoëpriester kon dit een keer per jaar doen, wanneer hy moes gaan offer vir die sonde van die volk.
  • Daar in die Allerheiligste deel van die tempel was God op ’n besondere manier teenwoordig.
  • Dit was die woonplek van die lewende en heilige God.
  • En daarom mag ’n sondige mens nie daar ingegaan het nie.
  • Maar toe Jesus sterf, skeur die gordyn voor hierdie plek.
  • En wat beteken dit?
  • Dit beteken dat die groot gaping tussen ons en God op ’n manier oorbrug en weggeneem is.
  • Die groot afstand tussen sondige mense en ons heilige God is op ’n manier weggeneem.
  • En dis Jesus se dood wat dit bewerk het.
  • En daarom kan ons nou met vrymoedigheid na God toe gaan.
  • Kan ons met vrymoedigheid voor Hom gaan staan, sonder om bang te wees.
  • Want Jesus se dood het die voorhangsel vir ons laat skeur.

 

#  Wonderlike dinge het gebeur toe Jesus sterf!

  • Die voorhangsel skeur, die aarde skud, en dooies word lewendig.
  • En dit klink dalk vir ons vandag onmoontlik dat dooies op daardie dag weer lewendig geword het.
  • Maar dit wys maar net hoe groot die krag van God is.
  • Terwyl Jesus sterf, word mense wat reeds dood was, weer lewendig gemaak deur die krag van God.
  • En net enkele dae later sou Jesus self ook opstaan uit die dood, opgewek deur dieselfde krag van God.
  • So selfs op Golgota, waar Jesus gesterf het, selfs daar het die dood nie die laaste sê gehad nie.
  • Nee, dit was God wat die laaste sê gehad het, want Hy laat dooies weer leef.
  • Hy trek vir ’n oomblik ’n streep deur die dood en laat dooies weer leef.

 

#  Maar kom ons gaan net weer terug na die donkerte wat daar was terwyl Jesus aan die kruis gehang het.

 

  • In die middel van die dag was dit skielik drie uur lank donker.
  • Maar miskien is daar vanoggend mense hier vir wie dit ook sommer in die middel van die dag donker is in hulle lewens.
  • Persoonlike probleme of huislike probleme maak dinge dalk vir u moeilik.
  • Dalk stry u self of ’n familielid of vriend teen ’n ernstige siekte.
  • Dalk worstel u met ’n verlies wat u moes ly toe iemand naby aan u deur die dood weggeneem is.
  • En dan is daar mos ook elke dag al die slegte berigte in die nuus, oor geweld en misdaad, en ongelukke, en politieke probleme, en korrupsie en bedrog.
  • So, miskien lyk baie dinge in ons eie lewe en in die wêreld rondom ons vanoggend vir ons net donker.
  • Maar selfs in die donkerste oomblikke van ons eie lewe kan ons terugdink en onthou: Jesus het self drie uur lank in die donkerte op Golgota gehang.
  • En dit was om te betaal vir ons sonde en probleme.
  • Dit was om lig in ons donker wêreld te bring.
  • In Joh. 8:12 sê Jesus juis: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
  • En Jesus is ook vandag vir ons die lig vir die wêreld.
  • Maar eers moes Hy in die donkerte aan die kruis op Golgota hang.

 

#  Dit wat Jesus gedoen het, het Hy vir ons gedoen.

  • Sy lyding was om ons te red.
  • En al is die wêreld in so baie opsigte nog steeds ’n donker plek, het daar vir ons nuwe hoop gekom.
  • Daar het vir ons hoop en lig gekom.
  • Want selfs in die grootste donker skyn daar ’n helder lig.
  • Bokant al die probleme van die wêreld en van ons eie lewens skyn die helder lig van Jesus se liefde en verlossing.
  • En Hy wil ons ook elkeen help in ons swaarkry.
  • Daarom kan ons elke dag in ons gebede al ons laste en probleme na Hom toe neem.
  • Daarom kan ons al daardie dinge wat ons so wil oorweldig, aan Hom oorgee en ook glo dat Hy weet wat om daarmee te maak.

 

#  En kom ons herinner onsself maar nog ’n keer dat die voorhangsel in die tempel geskeur het toe Jesus sterf.

  • Ja, dat Jesus se dood vir ons die pad na ons hemelse Vader kom oopmaak het.
  • Die voorhangsel staan nie meer in ons pad nie.
  • Niks staan in ons pad nie.
  • Ons het nou vrye toegang tot die Vader.

 

#  Vrydag is dit Goeie Vrydag.

  • Dan herdenk ons weer die dag waarop Jesus gesterf het.
  • En ons herdenk dit ook elke jaar in ons gemeente met die viering van die Nagmaal.
  • Die brood en wyn herinner ons dan aan al die gebeure van daardie dag: die donkerte, Jesus se harde uitroepe, die uitblaas van sy laaste asem, die voorhangsel wat skeur.
  • Die brood en wyn herinner ons dan dat Jesus se liggaam ter wille van ons gebreek is en dat sy bloed ter wille van ons gevloei het.
  • Kom ons kom dan op Goeie Vrydag weer hier saam om die Nagmaal met groot dankbaarheid te kom vier.
  • En kom ons kom dink wel aan die donkerte wat drie uur lank op Golgota geheers het, maar ook aan die Lig van die wêreld wat die donkerte kom oorwin het.
  • Soos Joh. 1:5 sê: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
  • Mag hierdie Lig, wat Jesus self is, mag hierdie Lig ook elke dag u en my lewe bly verlig, al probeer die donker hoe hard om dit uit te doof!

AMEN

css.php