Vind jou ritme
Verwelkoming:
Baie onstabiele wêreld. Ons soek ons waarborge nie in mensgemaakte stelsels nie (alhoewel ons geensins onttrek nie!). Ons sekerheid lê veel dieper – in die getrouheid van God in ons lewe.
Votum/seëngroet:
25In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. 26Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. 27Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.
Ook in ons lyding, maak Jesus die Vader aan ons bekend. Die Paasgeheim is dat nuwe lewe in lyding gebore word.
Watter kante van God het jy in jou lyding ontdek?
Kom ons wag op Hom.
Klaagliedere 3:
Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons
nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie.
Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.
My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.
Skriflesing:
Mat 11: 28-30 (Ook uit the Message)
“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”
Preek:
Ons as mense is diere van gewoonte. Tot 95% van die besluite wat ons neem is onbewustelik. Wanneer laas het jy gedink hoe om jou tande te borsel of watter skoen jy eerste aantrek – let maar op, jy sal dit elke keer dieselfde doen. Mens kan eintlik baie van jouself leer as jy ’n slag ‘n inventaris van jou gewoontes doen. Daar is natuurlik baie daaglikse gewoontes. Hoe laat staan jy op? Hoe lyk jou ritueel; eers ontbyt, eers aantrek – dalk eers jou foon gryp? Oefen? Wanneer staan jy op van jou werk om koffie of tee te maak? Weekliks? Steek jy elke Vrydagaand ’n braaivleisvuurtjie aan? Is daar ooit ’n vuurtjie sonder ’n drankie? Nooi jy vriende oor? Watter dag is wasgoeddag? Een naweek ’n maand weg? Jaarlikse seevakansie?
Gewoontes, ritmes, gee vir ons die nodige vorm en struktuur sodat ons ’n basis het om van te lewe. Maar dit is baie meer as net ’n funksionele ding. Gewoontes vorm ons. Toe ons hierdie reeks oor ons beheerstelsel/regula/wiel begin het, het ons ook oor Jesus se uitnodiging gepraat om rus te kry deur sy juk op te neem – om volgens sy leringe of sy ritmes te leef. Ons het ook na hierdie aanhaling verwys: (S8)“It is easier to act yourself into a new way of thinking/feeling than to think/feel yourself into a new way of acting.”
’n Wonderlike Christen denker, Jamie Smith skryf in sy boek “You are what you love” dat ons gewoontes die liturgie van ons lewe is. (Liturgie is mos die ritme hier in die erediens wat ons ’n ritme van lewe saam met God wil leer/ laat inoefen – in pas, soos met ’n dans!). Hy sê ’n analise van die liturgie van jou lewe sal vir jou aandui wie/wat jy die liefste het.
Jamie Smith sê ook dat ons moet onthou wie ons as mense is – nie ’n brein op ’n stok nie, maar “embodied creatures and desiring animals”. Dallas Willard het weer gesê: “You do not drift into discipleship”. En dit is die rede. Hierdie lewe, hierdie liggaam van ons word gevorm deur gewoontes en getrek deur begeertes. Ons gaan nie volgelinge/dissipels (wat soos Hy lyk en leef) kan word as ons net “go with the flow” nie. Ons gaan dit doelbewus/intensioneel moet doen.
Die ou Kerkvaders het die onderskeiding gehad om hierdie wysheid te snap, en daarop het hulle ’n rule of life of ’n regula ontwikkel. ’n Regula verwys basies na ’n liniaal, maar dit laat dit baie rigied klink. Dink eerder aan ’n patroon, ’n model, ’n voorbeeld; miskien eerder iets soos ’n reëling waaraan jy kan vashou. Iets wat my ondersteun in my soeke na ’n lewe saam met God. ’n Sagte gids (juk!) wat my die patrone/ritmes van genade laat inoefen.
Kom ons herinner onsself net weer hier, vriende, dat daar ’n verskil tussen dissipline en werke/prestasie is. Daar is ’n verskil tussen die houer en die inhoud. Ons neem Jesus se juk op ons, maar dit is ’n sagte juk. Dit klink vreemd, maar ons kan nie rus daarsonder nie. “Werk aan julle verlossing”, het Hugo laasweek uit Fil 2 vir ons aangehaal. Die gewoontes wat ons kies en kweek raak die maniere hoe ons God se genade en vernuwing ontvang. Ons probeer nie onsself verander nie, ons plaas onsself in ’n posisie waar God dit kan doen. Ons probeer nie al hoe harder nie, ons gee al hoe meer beheer oor.
Gaan “Google” gerus “Rule of life” en lees ’n bietjie daaroor. Dit is wat ons saam probeer doen met hierdie wiel van ons. Dit is ons ankerpunte, ons gids, wat ons moet help met en herinner aan die belangrikste aspekte van die lewe saam met Jesus. ’n Rule of life is eintlik ’n formele aksie waar ons gaan sit en biddend ons lewe evalueer en saam met Jesus ’n plan uitwerk en neerskryf. Dit moet spesifiek wees, maar realisties en nie rigied nie. Dit is nie ’n stok nie, maar ’n strewe – ’n wedstrydplan.
Hoe sal dit kan lyk as ons ons regula vat? (Terloops, is dit al op jou yskas?)
- Ons moet onthou om by die hartjie in die middel te begin. Ons hart moet op die regte plek wees. Ons lote moet styf vas wees aan die Wingerdstok – sonder Hom kan ons niks doen nie. Het jy daaglikse, weeklikse, maandelikse gewoontes wat jy help om te reconnect met jou siel en met God?
- Wees saam: Die broodjie wil ons herinner dat Jesus op ’n besonderse manier tussen ons is as ons saam is. Hy het ons as verhoudingswesens gemaak vir verhoudings van wedersydse liefde. Daar gebeur iets as ons fisies saam is, mekaar in die oë kyk, ’n handskud, ’n drukkie, ’n woord van bemoediging. As ek val is jy daar op my op te help. Die eenvoudigste ritme vir navolgers van Jesus is om een keer per week hier te wees vir ons gesamentlike aanbidding – in die vlees! Maar jy kan ook dieper kyk of gewoontes in jou lewe lei tot vervreemding van ander of vyandigheid teenoor hulle. Kan jy liefde ontvang en gee – en watter gewoontes kan dit kweek?
- Heelword: Die mediese tassie herinner aan ons almal se behoefte aan genesing van ons fisiese en emosionele seer – al die ontwrigting, die hartseer, die onreg en die sinneloosheid. Jesus se genesings in die evangelies herinner ons dat hy ons holisties sien – ons hele geintegreerde menswees en ons deelwees van ’n gemeenskap. Het ons ritmes van net wees? Watter gewoontes maak ons siek? Is ek iemand wat ander toelaat om asem te haal?
- My unieke gawe: Die Gees gee aan elkeen ’n unieke gawe om tot voordeel van die hele liggaam van Christus en die wêreld te gebruik. Paulus sê vir Timoteus hy moet daardie gawe telkens weer soos ’n vuur aanblaas. Wat moet ons meer doen, wat moet ons oefen om sonder enige ego maar met groot agting vir ons eie menswees en waarde, my outentieke self, met al my gawes, vrymoedig te kan gee sodat my legkaartstukkie nie wegval nie?
- Waar ons dien: Ons moet die vrug van die evangelie dra in die gemeenskap waar ons Vader ons geplant het. Ons moet diep wortel skiet en onsself in nederige diens gee sodat God se koninkryk kan kom. Ons oefen gewoontes wat ons help met Jesus se gesindheid – Hy wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien – wat deur selfopoffering gedeel het in God se heerlikheid. Klein eerste tree kan wondere doen. Een mens een ding wat ek kan doen om jou lewe beter te maak?
- Ons oorbrug verskille: Ons bou brûe van versoening na ander mense; veral dié wat die wêreld met allerhande maniere van ons skei. Ons gaan buite ons gemaksone. Ons skuif ons lyf. Ons leer om diversiteit as ’n gawe te sien. Ons sien God is baie groter as die stukkie wat ons uit ons klein hoekie van die wêreld kan beleef.
- God in my werk: Die horlosie herinner ons dat ons ganse lewe aan God behoort. Daar is geen skeiding tussen my geestelike en “regte” lewe nie. Wat moet ek doen om te oefen om God in die sukses, die pyn, die verveling van my dagtake te sien en te beleef; en om dit uit sy genade en tot sy eer te doen?
Mens kan nie alles op een slag doen nie. Jy bid oor dit wat nou vir jou prioriteit moet wees, of waar God jou uitdaag; of wat vir jou ’n volgorde is wat sin maak. Jy begin met klein treetjies – en as sekere dinge eers gevestig is, kan jy aanbeweeg. Jy vrees geen mislukking nie, want dan verstaan jy nog nie hoe genade werk nie. Die ritmes van genade is ongeforseerd en dit gee lewe. Dit is nie swaar nie – dit skaaf nie. Dit maak vry en gee lewe. Maar dit is tog doelbewus en ferm.
En dit is wat ons as gemeente wil saamoefen, hierdie jaar en ek glo, baie verder as dit. Want dit is al hoe ons werklik in pas sal kom met die lewende God. Amen.
