HEB. 10: 19 – 25 (4/2/24)

 

#  Vir ons reeks van hierdie kwartaal sluit ons hier en daar aan by ‘n boek van Tom Smith.

  • En in hierdie boek vertel Tom van die keer toe hy ‘n hartaanval gekry het en in die hospitaal beland het.
  • Hy moes dan toe ook geopereer word en ‘n drievoudige hartomleiding ondergaan.
  • En na die operasie moes hy nog ‘n hele paar dae in die hospitaal bly.
  • En dit het alles ver weg gebeur van waar Tom-hulle toe gewoon het.
  • Maar op die tweede dag na die operasie, sê Tom, stap sy vriend Carel by sy hospitaalkamer in.
  • En Tom kon sy oë nie glo nie, want Carel moes meer as 600 km ry om by hom uit te kom.
  • En nadat Carel sowat ‘n uur lank by Tom gekuier het, het hy onmiddellik weer die meer as 600 km huis toe aangepak.
  • En dan sê Tom in sy boek: Ons het almal sulke 1200 km-vriende nodig, en ons moet ook sulke vriende vir ander mense wees.

#  Dis wonderlik wat Carel vir Tom gedoen het!

  • Maar dit is mos wat vriende vir mekaar doen.
  • En daarby verwag ‘n mens seker dat familie dit ook vir mekaar sal doen.
  • Dat familie ook groot moeite sal doen om mekaar by te staan in ‘n krisis of wanneer daar nood is.
  • En van familie gepraat: Is ons dan nie in die kerk ook almal familie van mekaar nie?
  • Is ons nie een groot geestelike familie nie?
  • In 1 Tim. 3: 15 praat Paulus van die “huisgesin van God.”
  • En dan verduidelik hy dadelik dat hierdie huisgesin die gemeente van die Here is.
  • En dit is hoe nóú ons as mede-gelowiges aan mekaar verbind is.
  • Ons vorm saam die huisgesin van God.
  • Ons is geestelik mekaar se broers en susters.
  • En as dit dan kom by ‘n krisis, of een of ander vorm van nood, dan, glo ek, verwag die Here dat ons ook in die gemeente soos goeie familielede teenoor mekaar sal optree.
  • En ek wil ook vanoggend graag baie dankie sê vir hoe die geestelike familie van Paarlberg vir my en ons seuns ondersteun het in die tyd van Mariëtte se siekte en ook na haar dood – en tot vandag toe.
  • Ek wil nie eers probeer dink hoe dit moet wees sonder sulke ondersteuning nie.
  • Hoe dit moet wees om nie deel te wees van die “huisgesin van God” wanneer jy in ‘n krisis is nie.

#  Maar kom ons dink nog ‘n bietjie verder oor hoe dit is om geestelik aan mekaar verbind te wees.

  • Nog ‘n manier waarop die Bybel hieroor praat, is waar die kerk vergelyk word met ‘n mens se liggaam.
  • Waar die Bybel sê die kerk is die liggaam van Christus.
  • En ons weet ons eie liggame vorm ‘n absolute eenheid.
  • Daar is nie ‘n hand of ‘n voet van ons wat los eenkant lê nie.
  • Al die dele van ons liggame is nou aan mekaar verbind.
  • En as dit kom by die liggaam van Christus, by die kerk, dan sê Paulus bv. in 1 Kor. 12: 26: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
  • En so beskryf Paulus baie mooi hoe dit in ‘n gemeente gaan, of behoort te gaan.
  • As een van ons swaarkry of ly, behoort dit almal van ons te raak.
  • En as een van ons iets beleef wat ons bly maak, dan behoort ons almal saam bly te wees.
  • En natuurlik weet ‘n mens in ‘n groter gemeente nie altyd van almal se swaarkry of vreugdes nie.
  • Maar die punt is tog duidelik: Waar ek weet van jou swaarkry, moet ek iets daarvan saam met jou beleef.
  • En waar ek weet van jou vreugde, moet dit my ook bly maak en goed laat voel.
  • Want ons is saam met mekaar die liggaam van Christus.

#  So, dis baie duidelik uit die Bybel: ons wat vanoggend hier saam is, is nóú aan mekaar verbind.

  • Ons is almal lede van die huisgesin van God.
  • Ons is almal deel van die liggaam van Christus.
  • En ons is ook saam met mekaar lidmate van Paarlberg!
  • Maar nou is die vraag: Wat beteken dit prakties dat ons so nóú aan mekaar verbind is?
  • Wat beteken dit vir ons lewe saam met mekaar?
  • Ek het reeds iets gesê oor hoe belangrik dit is om mekaar te ondersteun, en ook oor hoe ons met mekaar moet saam voel, in swaarkry en in blydskap.
  • Maar dalk help dit ons om ook nou iets te sê oor ‘n aantal tekste in die Bybel waarin die woordjie “mekaar” voorkom.
  • Hierdie tekste word dan ook die “mekaar-tekste” genoem.
  • En die eerste een wat ek graag wil onderstreep, kry ons juis in die Skrifgedeelte wat ons vanoggend saam gelees het.
  • Dit is Heb. 10: 24, en daar staan: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.”
  • En hierdie vers is eintlik so belangrik, want dit gebeur tog maar dat ons soms sukkel om liefde te betoon en goed te doen aan ander.
  • Dat ons soms ‘n bietjie moeg kan word om aan te hou liefhê en aan te hou goed doen aan ander.
  • Dalk word dit wat ek vir die ander persoon doen nie waardeer nie.
  • Of dalk moet ek liefde betoon in ‘n moeilike verhouding, by die huis of by die werk of in ‘n vriendekring.
  • Maar nou sê Heb. 10: 24: Ons moet mekaar aanspoor tot liefde en goeie dade.
  • Ons moet mekaar motiveer tot liefde en goeie dade.
  • Ons moet vir mekaar sê: Moenie moeg word om lief te hê en om goed te doen aan ander nie.

#  So, Heb. 10: 24 is ‘n belangrike “mekaar-teks” in die Bybel.

  • Maar ek wil ook nog graag vir u aan ‘n paar ander “mekaar-tekste” herinner, sonder om daaroor uit te wei.
  • In Joh. 15: 12 sê Jesus: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.”
  • 15: 7 sê: “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.”
  • 6:2 sê: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”
  • 3: 13 sê: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”
  • 1 Pet. 4: 9 sê: “Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te kla.”
  • En ‘n laaste een: Hand. 4: 32, waar dit gaan oor hoe die Christene in die eerste Christelike gemeente met mekaar saam geleef het: “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.”

#  Nou as ‘n mens na hierdie “mekaar-tekste” kyk, dan besef jy hoe uiters belangrik ons verhoudinge met mekaar is.

  • Ons kan die opdragte van die “mekaar-tekste” nie uitvoer as ons nie in gesonde en naby verhoudinge met ander in die gemeente staan nie.
  • En die belangrike vraag is dan ook: Hoe kan ons ons verhoudinge met mekaar bevorder in die gemeente?
  • Hoe kan ons die verhoudinge in die huisgesin van God laat groei?
  • En nou is dit natuurlik so dat een mens nie op dieselfde tyd met ‘n honderd ander mense naby verhoudinge kan hê nie.
  • En in ons gemeente is daar tog ook heelwat meer as net ‘n honderd mense.
  • Maar ek dink dis net so belangrik dat ons regtig sal moeite doen met mekaar.
  • Dalk kan ek net met een of twee ander mense in die gemeente ‘n naby verhouding hê, maar dan moet ek moeite doen daarmee.
  • Dan moet ek moeite en tyd en energie daar insit.
  • En wat van die geleenthede in die gemeente waar ek saam met ander kan werk vir die Here?
  • Dit is waar ek nóg mense kan leer ken.
  • En skielik weet ek dan ook sommer wat die persoon se naam is wat ek al so lank in die kerk sien inkom op Sondae maar met wie ek nog nie kon kennis maak nie.
  • Ons twee het so lekker saam gewerk by die basaar en nou weet ek wie dit is, en ons gesels ook sommer lekker as ons mekaar by Checkers kry.

#  Party keer praat ons seker asof die kerk net hierdie gebou is, en asof kerk net ‘n erediens op ‘n Sondag is.

  • Maar dan vergeet ons dat kerk veral verhoudinge is – heel eerste natuurlik ons verhouding met Jesus Christus, ons Verlosser, maar ook ons verhoudinge met mekaar, as mede-gelowiges, as broers en susters van mekaar in die huisgesin van God.
  • Kerk is lewende verhoudinge – met ons lewende Here Jesus, en met ons lewende mede-gelowiges.
  • Ja, dis lewende verhoudinge, nie die dooie bakstene van hierdie gebou nie.

#  Hier is vanoggend, glo ek, baie mense wat in baie goeie verhoudinge staan.

  • In ‘n huwelik, in ‘n gesin, in ‘n breër familie, in ‘n vriendekring.
  • En ek hoop daar is ook baie mense hier wat sal sê: Dit laat my veilig en geborge voel om aan die gemeente te behoort.
  • Ek voel veilig en geborge in die huisgesin van God.
  • Maar ons moet tog ook iets sê oor mense wat dalk voel hulle staan alleen in die wêreld.
  • Soos dit vandag in baie mense se lewens gaan, is jou kinders dalk oorsee, en jou familie is dalk ver, en jou vriende is dalk min, en jy is dalk nie by ‘n gemeente ingeskakel nie.
  • En dit kan beteken dat so iemand ‘n erge eensaamheid beleef.
  • Dat hy of sy voel ek behoort eintlik nêrens nie.
  • Ek is op my eie en dit lyk of niemand ook eintlik omgee dat dit so is nie.
  • En dis verskriklik as dít is hoe iemand voel.
  • Maar dit is tog die werklikheid van baie mense se lewe, en eintlik ook ‘n groot probleem wêreldwyd.
  • Dalk het u dit ookal gehoor, maar dit was vir my so interessant om te hoor dat daar in die Verenigde Koninkryk ‘n minister is met eensaamheid as een van sy portefeuljes.
  • Hy is letterlik hulle minister van eensaamheid.
  • En dit wys dat daar in die VK tot op die hoogste vlak aan hierdie probleem aandag gegee word.
  • Moeder Teresa het ook gesê: “Eensaamheid en die gevoel dat ander jou nie wil hê nie, is die verskriklikste armoede.”
  • En die vraag is: Wat kan elkeen van ons help doen aan ander se eensaamheid en gevoel van verwerping?
  • Hoe kan ons ‘n verskil daaraan maak?
  • Nou, in baie gevalle kan ons dalk niks daaraan doen nie.
  • En daar is sekerlik nie maklike antwoorde nie.
  • Maar waar ons een of ander manier van kontak met ‘n eensame persoon het, daar moet ons met Jesus se liefde en met sy sensitiwiteit vir hulle bystaan.
  • Daar moet ons so ‘n persoon laat besef daar is wel iemand wat omgee.

#  Die klein kenteken van vandag se tema is ‘n broodjie.

  • En om saam te eet, is natuurlik ‘n groot deel van mense se saam wees met mekaar.
  • Gesinne eet saam, vriende eet saam, en hier by die kerk is daar ook geleenthede waar ons saam eet as huisgesin van God.
  • Ons het juis 2 Sondae gelede, na kerk, lekker saam gebraai en saam geëet onder die bome hier langs die kerk.
  • En saam eet versterk beslis ons bande met mekaar.
  • Maar vanoggend het ons ook hier bymekaar gekom om saam die brood van die Nagmaal te kom eet.
  • Hierdie brood kom herinner ons aan hoe Jesus se liggaam gebreek is om vir ons sonde te betaal.
  • Hierdie brood kom herinner ons aan die onbeskryflike groot liefde wat God vir ons het.
  • Maar hierdie brood sê ook vir ons: Ons is saam.
  • Ons is saam lede van die huisgesin van God.
  • Ons is saam deel van die liggaam van Christus.
  • En die Here wil vanoggend deur die Nagmaal ook ons band met mekaar kom versterk, wanneer ons saam die brood van die Nagmaal gaan eet.

#  Kom ons dank die Here dan dat ons nie alleen staan as gelowiges in hierdie wêreld nie, en dat ons ook nie alleen hoef te staan nie.

  • Nee, ons het mekaar.
  • En behalwe dat ons op ‘n Sondagoggend hier kan saam wees in die erediens, kan ons ook die hele week saamstaan en saam werk en saam getuig van die liefde van ons Here.

AMEN

css.php